Oor ons erfenis (met die afgelope Erfenismaand in die agterkop)

deur Carel Boshoff

In ’n veelvolkige land soos Suid-Afrika is een van die eerste en ooglopendste vereistes waaraan enige suksesvolle regering moet voldoen, die erkenning en hantering van uiteenlopende identiteite, kulture en erfenisse. Om daarvan blyke te gee dat Suid-Afrika sedert 1994 aan dié vereiste voldoen, is die dag waarop Zoeloes dekades lank al hulle volksvader, Sjaka, herdenk, tot Erfenisdag gemaak.

Dit ook net danksy die IFP se protes teen die uitlating daarvan uit die nasionale kalender, vergelykbaar met die verwydering van 6 April of 10 Oktober uit ’n Afrikaneroogpunt. En wat vir die Zoeloes die ontstaan van hulle volkskap verteenwoordig (Sjaka se hardhandige samevoeging van en heerskappy oor die verwante stamme as een volk), het die dag geword waarop almal hulle erfenis op hulle eie manier kan vier – deur te braai, byvoorbeeld. Hier kan mens weer aan die omskepping van Geloftedag in Versoeningsdag dink, dis eintlik net die datum wat dieselfde gebly het.

Nietemin, die klem op erfenis eerder as die identiteit/e wat daaruit voortvloei, op Suid-Afrikaners se kulturele verlede eerder as op hulle kulturele toekoms, staan in die teken van nasiebou en transformasie. En hoewel die meeste Afrikaners nog simpatiek gestaan het jeens nasiebou, het die vernietigende gevolge van transformasie ons onherroeplik vervreem. As transformasie uitgeloop het op wat ons die afgelope jare in Eskom, Transnet, SAL, talle staatsdepartemente, ens. aanskou het, en as transformasie dan onmisbaar is vir nasiebou, dan is die prys daarvan vir die meeste van ons te hoog. Emigrasie en isolasie is maar twee maniere om daarvoor nee te sê, beide tot nadeel van wat Suid-Afrika kon wees as hy ’n tuiste vir al sy mense was.

Die gevolg is egter dat al die lippediens wat vir een maand van elke jaar deur regeringslui aan “verskeidenheid” en “erfenis” gelewer word, ’n hol klank kry as ons voor die werklikheid van die huidige orde se voorkeur vir sentralisme, sosialisme en kulturele inlywing te staan kom. Dit maak die waardering van en besinning oor ons eie erfenis en herkoms egter nie minder belangrik nie, maar meer. Teen die agtergrond van sulke vervreemding besef mens te méér dat jou identiteit nie bloot uit eienaardighede soos tradisionele drag, unieke eetgewoontes en snaakse wêreldbeskouings bestaan nie, maar gevoed word uit dieper bronne waarvan jyself nie altyd bewus is nie. Wie ons is, het baie te make met hoe ons dink, en dit is die vrug van ‘n eeue-oue kultuurerfenis.

Sonder om in ‘n paar sinne reg te laat geskied aan die ryk erfenis waaruit ons put en wat as ‘t ware saampraat in ons beoordeling van die situasie waarin ons tans verkeer, kan twee denklyne uit ons geskiedenis aangewys en kortliks toegelig word. Aan die hand daarvan kan ons by ‘n herontdekking uitkom van iets wat tegelyk baie ver én baie naby in ons verlede lê en waarvan ons die waarde net tot ons eie nadeel onderskat of vergeet.

Die eerste lyn het met ons oudste en oorspronklike bronne te make en kan, om dit maklik te maak, aan die drie stede van ons Christelik Westerse tradisie verbind word. (In ‘n artikel van Daniel Goosen wat ook in hierdie uitgawe van Perspektief verskyn, word ook na hierdie motief verwys.) Dit is natuurlik Jerusalem, Athene en Rome – en dan kan mens dalk byvoeg Amsterdam, want die hele grote erfenis het ons Afrikaners deur en danksy Amsterdam bereik. In kort verteenwoordig Jerusalem natuurlik ons Joods-Christelike erfenis, oftelwel die geloofselement. Athene, die stad van filosowe soos Plato, Sokrates en Aristoteles, verteenwoordig kritiese denke, wetenskap en filosofie – aspekte waarsonder ons erfenis ondenkbaar sou wees. En Rome verwys na die wet, orde en dissipline wat in soveel opsigte die grondslag van die Weste se kenmerkende prestasies sou wees.

Die belangrikste is natuurlik dat daar, juis danksy die verspreiding van die Christelike geloof en kerk ’n samehang tussen die drie potensieel uiteenlopende tradisies ontstaan het. En hierdie samehang het, soos dit soms gebeur, ’n resultaat gelewer waarvan die geheel veel groter as die som van die dele is. Wat hier so kortliks opgesom word, het in werklikheid eeue in beslag geneem, en het soms oënskynlik aan ‘n draadjie gehang. Byvoorbeeld, as dit nie vir kloosters was waar kennis en manuskripte gedurende groot volksverhuisings en politieke onstabiliteit van die opwindende Middeleeue bewaar is nie, sou baie van wat ons vandag as vanselfsprekend ervaar, eenvoudig verlore gegaan het.

Maar die tweede denklyn, wat onlangs deur die Israelse skrywer, Yoram Hazony in sy boek The Virtue of Nationalism (2018), ontwikkel is, bring ons op ’n verrassende manier by die eerste een terug. Ek verwys in besonder na ’n bepaalde perspektief op die staatkundige wêreldgeskiedenis, naamlik die verdeling tussen twee kompeterende beelde van hoe die orde van die mensdom ingerig behoort te word. Aan die een kant is daar die imperialisme, die benadering dat daar een stel reëls is, een stelsel, een regering, een resep wat almal pas omdat dit veiligheid en voorspoed bevorder, al moet vryheid daarvoor opgeoffer word.

Daarteenoor staan die nasionalisme, die gedagte dat verskillende volke op verskillende maniere aan hulle bestaan beslag gee, aan die hand van verskillende tradisies en prioriteite optree en in hulle onafhanklikheid ’n bepaalde ervaring van vryheid beleef. En die verskil is dat, waar die imperialisme met ’n abstrakte politieke idee werk en met ’n aanspraak op of namens “die mensdom”, werk nasionalisme inderdaad ook met groot en talryke eenhede, maar met iets veel meer konkreet, met ’n verband wat deur onderlinge lojaliteit, deelname en mede-eienaarskap werk. Omdat dit in die lyn van gesin-familie-stam-volk (family-clan-tribe-nation) lê en nie tot almal of die mensdom probeer spreek nie, huisves die orde van nasionalisme ook ruimte vir betekenisvolle verskil, terwyl die orde van imperialisme die konkrete verskille tussen mense ondergeskik probeer stel aan die imperiale idee, die abstrakte eenheid.

Die verrassende deel van Hazony se behandeling van nasionalisme, is dat hy dit nie, soos die meeste ander denkers oor die onderwerp, as ‘n uitsluitlik moderne en moderniserende ideologie beskou nie, maar as deel van ons oudste erfenis, as deel van “Jerusalem.” En hy illustreer dit eenvoudig met sy beskrywing van Israel, ‘n volk wat uit gesinne, families en stamme bestaan en wat hulle aan die imperiale orde van Egipte ontworstel om ’n eie, aparte bestaan te voer waar grense gerespekteer en gebruike gehandhaaf word. Die orde van volke wat oor hulleself regeer eerder as van ’n enkele mensdom oor wie daar geregeer word, is vir hom deel van ons Ou Testamentiese erfenis.

Nou is dit nie moeilik om ’n verband te trek nie tussen wat Hazony aanbied en daardie diepgewortelde Afrikaneridee wat dalk op ’n tyd meer vorm as inhoud gehad het en daarom ’n oop teiken vir ons liberale opponente was, naamlik Christelik-nasionaal. As die samevoeging van die twee onverwante woorde in een frase niks anders op die oog gehad het as om Afrikaners se etnosentrisme met ’n beroep op universele geloofswaardes meer verteerbaar te maak nie – soos opponente dikwels beweer het – kan ons dit gerus aan die vergetelheid oorlaat. Maar as, daarenteen, nasionalisme met beide ons Ou Testamentiese erfenis én ons protestantse hervertolking en toepassing daarvan verweef is – soos Hazony op goeie gronde aantoon – verander dit die saak en behoort ons die selfvertroue te openbaar om ook dié stuk eietydse erfenis krities toe te eien en voortgang daaraan te gee.

Leave a Reply

Your email address will not be published.