Wendell Berry: Huiswerk uit The Gift of Good Land (1981)

‘n Vertaling deur Carel Boshoff.

Vir die van ons wat ons kinders en ons kos graag tuis grootmaak en verbou, is dit maklik genoeg om die ideaal te stel. Om ons eie kos te verbou, anders as om dit te koop, is ‘n komplekse bedrywigheid en dit werk diep in op die vorm en waarde van ons lewens. Ons hou van die gedagte dat die werk in die buitelug, wat ons gesondheid verbeter, kos van hoogstaande gehalte voortbring, wat insgelyks ons gesondheid verbeter en verseker. En ons hou eweseer van die gedagte dat die tuisproduksie van kos die gehalte van ons gesinslewe kan verbeter. Ons bedoeling is ook nie net om vir ons kinders beter kos te voorsien as wat ons vir hulle by winkels kan koop nie, of as wat hulle vir hulleself by muntoutomate of kitskosplekke kan koop nie, ons weet ook dat om kos tuis te verbou en voor te berei, huiswerk – werk vir almal – kan voorsien. En deur sulke huishoudelike werkies en pligte te vervul, hoop ons om die bande van belangstelling, lojaliteit, toegeneëntheid en samewerking wat gesinne bymekaar hou, te versterk.

Veertig jaar gelede was dit vir die meeste mense, of hulle op die platteland of in dorpe gewoon het, minder van ‘n ideaal as ‘n noodsaaklikheid wat deur beide tradisie én behoefte bewerk is. Soos dit dikwels gaan, was dit eers nadat gesinslewe en huiswerk (na bewering) onnodig geword het, dat ons daaraan begin dink het as “ideale.”

As ideale word dit bedreig; namate hulle (ook na bewering) oorbodig geword het, het dieselfde proses minder moontlik geword. Daarmee wil ek nie te kenne gee dat ek dink dat die ideaal hoegenaamd minder waardevol geword het as wat dit ooit was nie, of dat dit – in werklikheid, op die lange duur – minder noodsaaklik is nie. En dan dink ek ook nie dat minder moontlik dieselfde as onmoontlik beteken nie.

Ek dink wel dat die ideaal nou moeiliker verwesenlik kan word as voorheen. Ons hou dit nou met wil in stand, sonder veel hulp van noodsaak en met geen hulp hoegenaamd van gewoonte of algemene waardering nie. Deesdae dink die meeste mense skynbaar dat gesinslewe en huiswerk onnodig is, en hierdie denkwyse het in ons ekonomie en gedeelde waardes gevestig geraak. Hoe kan ons gesinslewe bewaar – as ons daarby bedoel, wat ek dink ons moet, huislike lewe – as ons aandag sterk weg van die huis af gedwing word?

Ons ken die oorsake goed genoeg.

Motors en ‘n hele aantal dekades van veronderstelde goedkoop brandstof het langer en langer afstande tussen huis en werk, tussen huishouding en daaglikse behoeftes teweeg gebring.

Televisie en ander media het geleer om met toenemende lis en verbetenheid aan die hand te doen – veral, met besondere boosheid, aan kinders – dat dit beter is om te verbruik as te vervaardig, to koop as te kweek of te maak, om “uit te gaan” eerder as om tuis te bly. As jy televisie het, sal jou kinders omtrent van die wieg af blootgestel word aan ‘n oorweldigende boodskap dat alles wat die moeite werd is om te ervaar, êrens anders is en dat alles wat die moeite werd is om te hê, gekoop moet word. Die doel is uitdruklik om die vreugde en skoonheid van goeie gesondheid met skoonheidsmiddels, klere, karre, en klaargemaakte nagereg te vervang. Daar is kennelik te ‘n klein winsgrens om geld te maak van gesondheid, maar die winsgewendheid van siekte – veral ‘n kwaal van gees of persoonlikheid – het vir woekeraars tot dusver geen sigbare grens nie.

Nog ‘n oorsaak, een wat besonders betreurenswaardig voorkom, is openbare of publieke onderwys. Die gedagte dat die publiek onderwys moet ontvang, is goed en wel, maar aangesien ons daarop aandring dat dié onderwys verpligtend moet wees, behoort ons ons daarmee te versoen dat dit meestal power sal wees. Ek is egter nie naastenby so begaan oor die gehalte daarvan as oor die duur daarvan nie. My indruk is dat die onuitgesproke hoofdoel van die skoolstelsel is om kinders so lank as moontlik van die huis af weg te hou. Ouers wil hulle kinders uit hulle hare gehou hê; opvoeding is ‘n blote by-produk en word nie al te hoog aangeslaan nie. Op baie plekke is die gevolg van skole wat saamgevoeg is, dat twee ure of meer reistyd tot die skooldag toegevoeg is. Vir my eie kinders was hulle skooldag van graad 1 af – vandat hulle per bus vertrek tot met hulle tuiskoms – nege ure per dag. ‘n Buitemuurse aktiwiteit sou die dag tot elf of meer ure verleng. Dit is nie onderwys nie, dit is gevangenskap. Hoekom sal enigeen verras wees as kinders onder hierdie omstandighede “ontwrigtend” of selfs “onleerbaar” word?

As openbare onderwys hoegenaamd enige betekenis of waarde moet hê, dan moet openbare onderwys deur tuisonderwys aangevul word. Ek weet dit uit my eie ervaring as ‘n universiteitsprofessor. Wat kan jy ‘n kind leer wie se totale onderwys in ‘n openbare skool was, wie se gesinslewe vir 20 jaar uit vier of vyf ure voor die televisie bestaan het, wat nog nooit ‘n boek vir blote plesier gelees het of selfs gesien het dat ‘n boek vir die lekker gelees word nie; wie se enigste werk skoolwerk was, wat nog nooit enige noodsaaklike taak verrig het nie? Nie veel nie, sover ek kon agterkom.

Ten minste ‘n paar oplossings is intussen al sigbaar.

Ons kan ontslae raak van die televisiestel. As ons eers besef dat die televisiekabel ‘n vakuumpyp is wat lewe en betekenis uit die huishouding suig, kan ons dit uitprop. Wat ‘n grootse en verwaarloosde voorreg is dit nie om ontslae te wees van die oppervlakkigheid, die vrolike onnoselheid, die onnosele gewigtigheid, die selfvoldane of glibberige hebsug van daardie openbare gesigte en stemme nie!

En ons kan poog om ons huise sentrums van aandag en belangstelling te maak. Om van die televisiestel ontslae te raak, verstaan ons, is nie net praktiese stap nie, dit is ook simbolies: so keer ons die uitnodiging om te verbruik die rug toe, ons sluit die afpersbende van verbruik, uit. Die stilte wat daarop volg, is ‘n uitnodiging aan ons huise, aan ons eie plekke en lewens om tot stand te kom. Dan begin ons om ‘n waarheid wat televisie en alles waarvoor dit staan, versteek en ontken is, te herken: geen lewe en geen plek is godverlate nie; almal het moontlikhede vir produktiwiteit en plesier, rus en werk, afsondering en meelewing wat in besonder tot hulleself behoort. Hierdie moontlikhede bestaan oral, op die platteland of in die stad, dit maak geen verskil nie. Al wat nodig is, is die tyd en innerlike stilte om daarna te soek, die insig om dit te herken, die grasie om dit te verwelkom. Dit word nou meestal in die tuine en kombuise van huise, in biblioteke en werkkamers uitgeleef. Maar dit word ook in klein parke, oop erwe, in aanliggende strate uitgewerk. Waar ons woon is ook ‘n plek waar ons belangstelling en ons inspanning kan wees. Maar dit kan nie by wyse van verbruik en verbruikersgoed daar wees nie. As ons niks verbruik wat ons nie koop nie, dan woon ons in “die ekonomie”, in “televisieland,” en nie by ons huis nie. Hoegenaamd enige manier waarop ons by die lug en lig en weer van ons eie plek aansluit en dit gebruik – selfs al is dit net ‘n vensterpot, of selfs net ‘n oop venster – is om iets te maak en iets te hê wat jy nie van die televisie of die regering of die skool kan kry nie.

Daardie plaaslike produktiwiteit, ongeag hoe klein dit is, is ‘n geskenk. As ons ouers is, kan ons nie anders as om dit as ‘n geskenk vir ons kinders te beskou nie – en boonop die beste van geskenke! Hoe sal dit ontvang word?

Wel, nie soos jy jou sou voorstel nie. Soms sal dit met gepasde dank aanvaar word, maar soms onverskillig en soms met afkeer.

Na my waarneming is een van die waarskynlikste gevolge van ‘n gesonde diëet van tuisgekweekte, tuisgekookte kos, ‘n verhoogde lus vir gaskoeldrank en worsbroodjies. En as jy jou kinders tuis televisie “misgun”, dan gaan kyk hulle met iets van ‘n bevryding elders. En verpligtinge, werk en takies tuis sal jou kinders amper verseker, ten minste soms, laat wens dat hulle elders was, besig om televisie te kyk.

Die rede is natuurlik dat ouers nie die enigstes is wat hulle kinders grootmaak nie. Hulle word ook deur hulle skole en deur hulle vriende en deur hulle vriende se ouers groot gemaak. Soms is dié grootmaak van buite goed, soms is dit nie. Dit is, nietemin, onvermydelik.

Wat dit beteken, dink ek, is naastenby wat dit nog altyd beteken het. Kinders moet, ongeag hoe hulle tuis opgevoed word, aan die risiko’s van die wêreld blootgestel word. En ouerskap is nie ‘n eksakte wetenskap nie, maar ‘n getreiterde voorreg en ‘n gesënde pad, absoluut noodsaaklik en nie heeltemaal moontlik nie.

As jou kinders jou gesonde etes afwys ten gunste van iets wat deur ‘n reïnkarnasie van Kolonel Sanders, Long John Silver of die Koninklike familie van Burger saamgeflans word; as hulle boeke ontvlug deur by vriende te gaan televisie kyk, as jou outydse idees en maniere hulle by hulle vriende in die verleëntheid stel – beteken dit dat jy ‘n mislukking was?

Dalk, ja. En watter ouer het nie al dié moontlikheid oorweeg nie? Ek weet, ten minste, dat ek dit al oorweeg het – en gekerm en my tande gekners het, fout gevind het, blaam geplaas het, gepreek en gebulder het. In weker oomblikke het ek selfs al myself geblameer.

Maar ek het ook al gedink dat die termyn waarop menslike oordeel gefel word, langer as ouerskap is, dat die opvoeding wat ons vir ons kinders gee, nie net vir hulle kinderdae nie, maar vir hulle hele lewens. En dit is tog die ouer geslag se plig om verleëntheidswekkend outyds te wees, want enige jonger geslag se aansprake op nuutheid is oorwegend niksbeduidend. Jongmense word in die menslike toestand ingebore méér as wat hulle in hulle tyd ingebore word, en hulle moet meestal dieselfde eise en verpligtinge deurstaan as wat hulle ouers deurstaan het.

Die werklike mislukking is om toe te gee. As ons van ons huis ‘n tuiste eerder as ‘n motel maak, gesonde voedsel vir liggaam en gees voorsien, morele oordeel en selfbeheersing afdwing, belangrike vaardighede en dissiplines leer en die gebruik daarvan benodig, dan is daar geen waarborg dat ons kinders die “beter lewe” wat ons aanbied, heelhartig sal omhels nie. Maar dan bied ons hulle darem die moontlikheid van ‘n keuse wat hulle as volwassenes toegerus is om te maak.

Leave a Reply

Your email address will not be published.