Wat ‘n nie-tradisionele oor tradisies dink

deur Albrecht Holm

  1. VOORAF

Laat ek tog maar eerlik wees en erken ek hou nie eintlik van tradisies nie en wat mense, veral politici, daarmee aanvang nie. So word jy as leser nie om die bos gelei nie. As jy nogtans nuuskierig is om te weet wat ‘n nie-tradisionele oor tradisies dink, kan jy verder lees

2. WAT IS TRADISIE EN HOE ONTSTAAN DIT?

My vrou, Dinkie,  gee al jare lank musiekles vir baie kinders. Dit is ‘n tradisie van lesgee in musiek want haar ouers het dit ook gedoen en ons dogter, Tilja, doen dit ook sowel as twee van ons skoondogters, Dina en Katrien, alhoewel hulle ook ander beroepe uitoefen. Musieklesse is volgens my siening ‘n gesonde tradisie. Dit hou mense uit die kwaad en leer die nageslag om hulle talente te beoefen en hulle nuuskierigheid te prikkel om meer te ontdek. Dalk is hulle nuuskierig wat die mense jare gelede in musiek gedoen het; hoedat musiek in die Weste en in die Ooste en in Afrika ontstaan en ontwikkel het en hoedat dit dalk nog verder kan ontwikkel. Ander leerlinge sal dalk net wil weet hoedat dit aangewend kan word, dalk aangewend om “beroemd” te word en miljoene te verdien. Laasgenoemdes sal teleurgestel word. Hulle moes maar liewer na iets anders as musiek gekyk het. Gelukkig is daar min van hulle.

En van musieklesse gepraat, in sommige musiekboeke  sien ek die woord “Traditional”. Indien die uitgewer nie weet wie die komponis van die musiekstuk was nie skryf hy net Traditional of dalk Traditional Irish. In Afrikaans sou mens dalk skryf “Ierse volkswysie”. Maar hoe het die wysie tot stand gekom? Wie het dit uitgedink? Dit kan tog nie die hele Ierse volk wees nie. Dit moet ‘n enkeling gewees het en omdat die wysie en/of sy woorde aanklank by ‘n groter groep gevind het, is dit herhaal, verder aangepas en het  dan uiteindelik ‘n “volksliedjie” geword. Om dit dan nog te speel of te sing is ‘n tradisie.

So het baie tradisies en/of gewoontes ontstaan. Dit is altyd binne ‘n groep mense waarin daar een persoon uitstaan met ‘n skeppende idee wat hy/sy voordra en die ander maak dit na. Dit is dan ‘n soort kommunikasie in ‘n sekere medium: (musiek, taal, dans, beeldende kuns, argitektuur, geloof). Dit veronderstel dat die groep daardie medium, taal ens. verstaan. Verder veronderstel dit dat die skepping (volkswysie ens.) byval vind. Dit wil sê dit moet ‘n algemeengeldige gevoel of waarde in die groep verklank. Daarna word die skepping van geslag tot geslag oorgedra en geld as ‘n soort riglyn om die groep se samehorigheid en waardes te bewaar. Sover is dit goed.

Maar daar kan nou twee probleme ontstaan: Eerstens kan omstandighede binne of buite die groep dermate verander dat die oorspronklike idee nie meer geldig is nie. Dit is dan nie meer ‘n egte waarde nie maar ‘n fossiel en ‘n las. Tweedens kan die idee deur die groep of enkelinge in die groep misbruik word om die groep te manipuleer. In hierdie gevalle kom daar dan gewoonlik ‘n omwenteling om die tradisie omver te werp en dikwels word die baba met die badwater uitgegooi.

Terug na die tradisie van musiek. Die tradisie van musiekopleidig is van my vrou se familie na ons familie oorgedra. Musiekuitvoering het wel ook van haar familie gekom maar ook reeds by ons as tradisie begin. Dit was so:  My ouers het ‘n groot waardering vir musiek gehad maar was nie daarin opgelei nie. Hulle het ons, hulle kinders wel laat oplei en ons was en is nog baie bedrewe in musiek. Ek veral in komposisie want ek het nog altyd van nuutskepping gehou. Baie in die nageslag is ook bedrewe en/of hou hulle met musiek in een of ander vorm besig. Daar het dus ‘n tradisie ontstaan sonder enige voorbeeld of dwang. Die vraag is hoe ontstaan so iets? Dit bring my by talent en die oorerwing daarvan. Is dit ‘n sluimerende talent van vorige geslagte wat altyd weer deurslaan?

Die filosoof, professor Jan van den Berg het vir ons Holmgesin in ‘n voordrag ‘n geval vertel waar hy sy sielkundeklas in Nederland gevra het oor hulle opinie van oordraagbaarheid van talent. “As ‘n optelkind in die huis van die Mozarts grootgemaak sou word en dieselfde opvoeding kry as Wolfgang Amadeus, sal hy dan netso musikaal word?” Die klas het amper eenparig bevestigend geantwoord. “As ‘n optelkind in die huis van ‘n beroemde sokkerspeler grootword, sal hy dan ook so goed sokker speel?” Die eenparige antwoord was “nee”. Ons het lekker daaroor gelag dat die studente dink musikale talent is minder werd as sokkertalent en kan dus maklik aangeleer word terwyl sokkertalent so moeilik (“waardevol”) is dat dit net oorerf kan word.

As ek nou weer daaroor nadink wil ek met die studente saamstem: Musikale talent of dan geestelike talent word dalk op ‘n ander weg as fisiese eienskappe soos sokkertalent oorgedra, nie geneties nie, of nie uitsluitlik geneties nie. Wat sou hierdie ander weg wees? meme? Dalk word die aanleg om ‘n geestelike talent te ontwikkel geneties oorgedra, maar die talent sélf deur meme. Dit sou ook verklaar waarom kinders met sluimerende talent in ‘n sekere gebied soos musiek, kuns ens hulle graag  daarmee besig hou en die talent ontwikkel sonder veel aanmoediging van buite. Hulle oorerfde aanleg dwing homself op om ontwikkel te word.

Sommige van my kleinkinders is mal oor teken en skilder. Sonder aanmoediging hou hulle van ‘n vroeë ouderdom hulleself daarmee besig en bereik vaardighede ver voor hulle ouderdomsgroep. Die beeldende kunste tradisie kom van my ouers en is in die hele groter familie oorgedra. Hoe gebeur so iets? Dalk druk die aangebore talent homself na vore soos ‘n plantjie wat wil ontkiem. Wat my ook opval is dat elkeen van die kinders en kleinkinders baie verskillend teken/skilder volgens sy/haar eie karakter eerder as in navolging van voorbeelde.

My oorlede oom Otto Holm, was ‘n groot rugbyspeler wat vir Vrystaat en Noord-Transvaal uitgedraf het. Ek dink in sy nageslag is daar ook nog baie sporttalent. Albei my ouers het egter nooit sport beoefen nie,  soos die spreekwoord sê “As ek lus word  vir sport gaan lê ek op die bed tot dit oorwaai.” My pa sou ‘n boek begin skryf en my ma sou begin skilder “tot die lus vir sport oorwaai”. Hulle het ons nie baie vir sport aangemoedig maar ook nie eintlik afgeraai nie. Ons het graag geswem en berg geklim maar nooit kompeterend sport beoefen nie. My jongste broer, Tilman, bring toe eenkeer ‘n seilboot huistoe en ons het heerlik daarmee gespeel. Daarna het ek en my seuns baie kompeterend aan seilsport deelgeneem en hulle kinders doen dit nou nog en wen bekers. Niemand verplig hulle nie. Dis net ‘n tradisie wat jou byt soos ‘n gogga.

3. DIE VOORTLEEF EN SIN VAN OU TRADISIES

Meeste tradisies is so oud dat ons nie weet hoe hulle ontstaan het nie en wat hulle beteken nie, tog het hulle sin. So het die tradisie van sommige mense om nie varkvleis te eet nie weens die gesondheidsgevaar van varkmasels ontstaan. Die tradisie van “first born” om ‘n bewys van vrugbaarheid voor ‘n huwelik te bevestig. Die tradisie van groet met oop hand, om nie ‘n wapen te verberg nie. By die Olimpiese spele in Tokio kon ons die Japanners se buiggroet bewonder. Die Westerling se tradisie dat die meerdere in ‘n volksvergadering op ‘n troon sit terwyl die onderdane staan, word gekontrasteer deur die Afrikatradisie dat die meerdere staan terwyl die onderdane op die grond moet sit. Eers lyk die verskil vir mens  snaaks maar as mens daaroor nadink maak dit sin in elke kultuur. Die lobolatradisie het die vrou beskerm deurdat haar waarde verhef is. Min weet ons vandag dat die Wikingers ‘n tradisie gehad het van ‘n sewe jaar huwelik. Dit het ook die vrou beskerm want sy kon na sewe jaar besluit om nie met die huwelik voort te gaan nie indien die man haar sleg behandel het.

Ander tradisies het weens vandag se voorstelling van wreedheid weggeval. Ons dink hier aan die San se tradisie om ou mense en suigelinge vir die leeus oor te laat in gevalle van knellende droogte en hongersnood. So was daar ‘n Afrikatradisie om die moeder te dood as sy ‘n tweeling voortbring en ook om albinos by geboorte te dood. Dit klink baie wreed maar ons vergeet dat ook in die Weste vroeër net die sterkere van ‘n tweeling grootgemaak is. Selfs in die veertiende eeu nog is die tiende kind vir die klooster gegee sodat hy/sy nie ‘n normale lewe kon ly nie. Vandag gebruik ons geboortebeperking.

Sommige tradisies is weer op die lange duur nadelig. Ek dink in die veband aan ons voorouers se tradisie om ‘n plaas onder die seuns te verdeel met oorerwing. Dit het die grond later so versnipper dat dit nie meer moontlik was om te boer nie. Om tradisies op ‘n groot skaal oor te neem as ‘n politieke agenda kan ook noodlottige gevolge hê. Ek dink hier aan die grootskaalse “verwestering” in ons land en die kunsmatige onderdrukking van ou sinvolle tradisies, wat so iets soos geslagsgebaseerde geweld (GBV) tot gevolg het.

Die tradisie om Kersfees met kerse te vier kom uit Europa waar dit die tyd is dat die winter verbygaan en die somerson terugkeer. Dit baseer op die ou heidense sonwendfees en word op baie verskillende maniere gevier. Ons neem die tradisie selfs in die Suidelik halfrond saam waar dit nie sin maak nie. Die Nederlanders vier ook Sinterklaas wat hoofsaaklik ‘n kinderfees is. Ons dogter woon tans in Nederland en is verras deur die baie meer tradisionele lewe daar; niks van die gelykmakende Amerikanisme nie. Elke dorpie het eie tradisies gebaseer op hulle geskiedenis. Selfs die kos en klere is meer tradisioneel en minder plastic as hier by ons.

Die Engelse vier Halloween. Die Amerikaners het ook ‘n Thanks Giving wat eintlik met ons Geloftedag vergelyk kan word. Hulle was net slimmer om dit anders te verbloem. Die Franse vier Bastilledag. So vier baie nasies ‘n eie oorwinningsdag. Sulke feeste is egter meestal nasionalisties en eksklusief sodat hulle vir mense buite die groep onaanvaarbaar is. Politici wat uit beginsel graag devide and rule gebruik graag sulke tradisies om partye te maak en teen mekaar op te sweep.

Huwelike, begrafnisse en ander feeste is almal gevul met soms oerou sinvolle tradisies wat mense vandag nog graag voortsit alhoewel hulle nooit daaroor nadink wat dit beteken nie. Maar is dit nodig om te weet? Besluit maar self. Iets wat tradisies by feeste doen is om mense in ‘n groep te bind sonder dat hulle te veel dink, want dink is vir enkelinge en enkelinge is geneig om tradisies te wil breek deur vernuwing. Laat die meerderheid die fees geniet en die tradisie voortsit!

4. DIE UITSTERF VAN ‘N TRADISIE

Wat so mooi is aan ‘n tradisie is dat hy lewe. Maar alles wat lewe sterf ook eendag. Dis soos ‘n kringgolf wat na ‘n ploffing in ‘n poel uitbrei tot by die oewers, vanwaar dit terugkaats en weer die hele oppervlakte versier maar uiteindelik al swakker word totdat die poel weer rustig sy spieëlgladde oppervlakte herstel het in afwagting van ‘n nuwe “impuls”.

My pa, Erik, was van kleinsaf lief vir drama en toneelspel. Hy het op skool in ‘n dramagroep met oorgawe gespeel. Hulle het verskeie Shakespeare dramas opgevoer. Hy het homself egter soms te veel ingeleef en nie net sy eie rolle uit die kop geleer nie, maar ook díe van die ander spelers. Dan kon dit gebeur dat hy sy eie rol sou speel en daarna ook die ander kind se rol sodat díe nie meer geweet het wat om te sê nie. Die saak is dan agterna met ‘n paar vuishoue afgehandel.

Toe hy later op ‘n laerskool klas gee het hy ‘n klas in drie groepe verdeel, vir hulle die storie van Pandora (van alle dinge ‘n Griekse mite!) vertel, en die opdrag gegee om ‘n drama daaroor te skryf. Na twee dae het hy dit vir die hele skool laat opvoer. Dit was so opwindend vir almal dat in 2019 een oud-leerling nog ‘n paar reëls daaruit kon opsê.

Hy het ook baie dramas geskryf. In een van sy dramas, “Die arme Hendrik”, se epiloog sê hy ”Die werklikheid is maar ‘n stuk toneel wat in bedrywe, bly of droewig speel….”

Die lewe in die Holmhuis op Schoemansville was na sy voltooiïng in 1951 vol kuns, musiek en toneelspel. Kersfees was díe fees wat elke jaar met toneelspel en musiek gevier sou word. Hiervoor het een van die ouers, of albei saam, elke jaar ‘n nuwe Kersspel geskryf. My pa het dit met ons kinders instudeer en op Oukersaand is dit opgevoer vir ‘n gehoor wat uit die ouers, die ouma en dalk een of twee verbaasde gaste bestaan het. Die Kersspele was buitengewoon en het alles vanaf Egiptiese, Griekse, Germaans/Nordiese en prehistoriese mites ingesleep wat enigsins met die Kersfeesboodskap verband gehou het. Een jaar sou die beelde van heiliges en ook die drake en gedrogte van die Wesportaal van Nortre Dame of Chartres se katedraal lewendig word en toneelspeel. Die volgende jaar was dit die ridderfigure, konings en koninginne van die Romaanse kerk in Naumburg en Bamberg se beurt. Dan weer trolle, paddas, hekse, dwerge, spoke, lig- en skadugeeste uit die Europese sprokieswêreld of Griekse gode, Bybelse figure of Isis van Egipte. Niks was onmoontlik nie. Alles kon in ‘n Kersspel optree en het toneel gespeel. Shakespeare se mond sou oopgehang het. Daarby was die Kersspele gekrui met ‘n fyn humor wat die draak gesteek het met skynheiligheid en dwepery. Dit sou Shakespeare ook geniet het as hy maar Afrikaans kon verstaan.

Moontlik was dit egter my pa se bydrae dat Kersfees en die Kersfeesspele nooit ontaard het in lawwe joligheid nie. Die geboorte van die Heiland, soos die koms van die lig, die aansteek van die kers, gebeur met die wete dat dit sal eindig in die dood aan die kruis, die koms van donkerte, die uitbrand van die kers. Eers as die dood aan die kruis intree is die taak op aarde voltooi en kan die ewige kring begin van lig-en-donker-en-weer-lig.

Vir ander mense wat nie geweet het dat drama vanaf die begin van menswees die manier was om onverstaanbare, onverklaarbare, misterieuse dinge soos geloofsmisteries aan die nageslag oor te dra nie, sou dit dalk hul oë oopgemaak het of dalk net hul wenkbroue laat lig het.

In later jare het ons, die kinders hierdie tradisie voortgesit. Eers het ons nog in die ouerhuis self Kersspele geskryf en musiek daarvoor gekomponeer en die spele dan opgevoer. Later, toe ons elkeen sy eie gesin begin het ons vir etlike jare nog elkeen sy eie Kersspel geskryf en in sy/haar huis opgevoer. Soms het ons dan oupa Erik en ouma Elly uitgenooi of by hulle gespeel. Maar mettertyd het die tradisie by sommige gesinne verander en by sommiges uitgesterf, dalk omdat die lewe en omstandighede verander het of omdat die gesinne verander het deur die aangetroudes.

Die uitsterf van ‘n tradisie laat ‘n mens met ‘n weemoedige nostalgie. Ek dink aan Shakespeare se sonnet wat eindig met: This thou perceiv’st which makes thy love more strong  to love that well which thou must leave ere long. Maar tog laat dit die plek ontstaan vir iets nuuts om te ontkiem.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui