Nuwe boek deur Erik Holm

“Gelukkig vir die verhaal van die ossewa, vir twee eeue ’n unieke Suid-Afrikaanse nywerheidsproduk, is sy laaste, ernstige wamaker ook ’n wetenskaplike, akademikus en kunstenaar. Erik Holm bring in hierdie boek bymekaar: ’n gedetailleerde beskrywing van wa-onderdele en hulle evolusie vanaf Van Riebeeck se Europese tweewielwaens en die kakebeenwa vand ie Groot Trek tot die swaar vragdraende bokwaens wat tot die middel van die 20ste eeu vervaardig is; sy verskillende rolle in die geskiedenis wat wissel van trekwa en mobiele fort tot swaar transportwa wat tot ses ton kon dra.

“As nagmaalswaens wat kwartaalliks op kerkpleine byeengekom het, was hulle huisvesting vir kerksake en geleentheid om ou vriendskappe te hernu en nuwe liefdes te laat blom. Die kulturele nalatenskap van die ossewa in segswyses en uitdrukkings, liedjies en liedere, gedigte en rympies, seëls en wapens kry ook hulle plek.

“Hierdie omvattende werk oor die ikoniese Suid-Afrikaanse ossewa is ryklik geïllustreer en is op sigself ’n wakis vol stories, kennis, volkswysheid en kulturele goedere – ’n boek wat oor vyftig jaar nog gelees sal word!”

Erik Holm se “DIE OSSEWA EN SY SPORE” het in 2020 by Imprimatur verskyn. Dit is ’n nuwe uitgewery wat hoë gehalte boeke uitgee en hierdie is ’n sprekende voorbeeld daarvan. Die boek beslaan 370 bladsye en bevat tallose pragtige foto’s, kunswerke en illustrasies. Die teks is goed versorg en omvattend oor elke onderwerp wat behandel word. Dit is by die uitgewer en die Vryheidstigting se kantoor beskikbaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui