Inleiding tot Elly Holm: Vandag, Heute, Today in Orania

27 Maart 2012

deur Carel Boshoff

“Die taal – die gevaarlikste van alle goeie dinge – is aan die mens gegee sodat hy daarvan kan getuig dat hy geërf het wat hy is.”

Toe ek hierdie woorde van die Duitse digter uit die Romantiek, Friedrich Hölderlin, in ‘n eietydse teks raaklees, het ek onmiddelik besef dat dit die ideale aanknopingspunt vir my plaasvervangende inleiding tot die Elly Holm-uitstalling op Orania bied. Plaasvervangend omdat ek vir iemand instaan wat besluit het om haar stem vanaand op ‘n ander manier te laat hoor, een waarmee sy meer tuis voel en met behulp waarvan sy juis reg aan haar erfenis laat geskied; inleidend omdat hierdie in die eerste plek nie die openingswoorde is nie, maar in die tweede plek ook nie die laaste woorde is nie. Ek hoop om gaste by hierdie uitstalling in te lei in dit wat hulle hier te wagte kan wees, om hulle – u – van waarnemers tot deelnemers te maak deurdat die deur van hierdie woning nie net oopgemaak is nie, maar deurdat daar iemand was om u lekker onder die elmboog te ondersteun en oor die drumpel te help.

Aan die versoek om u hier in te lei, het ek met minder as die gepaste huiwering voldoen, want in ‘n sekere sin en sonder om dit te weet, berei ek my nou al jare daarop voor. Miskien die belangrikste is dat Elly Holm die enkele kunstenaar is van wie die meeste werke in my en Anje se beskeie private versameling ingesluit is. Of dit sketse en skilderye, boetseerwerk of in loodglas is, of op leiklip waarvoor sy tereg so bekend is, in ons huis het sy ‘n voelbare teenwoordigheid. En interessant genoeg, toe ek in my Boheemse dae gereeld Volksafslaers se kunsveilings in Pretoria bygewoon het, het ek nie een keer ‘n stuk van Elly Holm daar verhandel gesien nie. My gevolgtrekking was dat hulle eienaars groter sentiment as blote kommoditeitswaarde daaraan geheg het; waar dit van eienaar verwissel het, was dit waarskynlik van hand tot hand binne ‘n ander waardestelsel as wat die versamelaars voortgedryf het. Ek is dus deur die volgehoue plesier van blootstelling aan haar werk op hierdie taak voorberei.

Om dit nou met u te deel en verder te voer, wil ek egter na ‘n volgende vlak van voorbereiding verwys. Dit is blootstelling aan die tradisie waaruit sy geput het en waarin sy gewerk het. Hierby kom die aanhaling van Hölderlin nou goed te pas. Ons almal is wat ons geërf het, maar ons is nie almal gereed of in staat om dit te erken nie. Om dit te weet en te verreken, moet mens oor ‘n paar eienskappe beskik wat nie eie aan ons tyd is nie. Mens moet naamlik oor ‘n afgeskaalde subjektiwiteit beskik, of eenvoudig gestel, die eie ek kan nie so oorheersend wees as wat mens van moderne kunstenaars gewoond is nie;  mens moet oor ‘n sin vir die transendente beskik, of eenvoudig gestel, jy moet aan iets groter as jouself glo en daaraan deelneem; mens moet diep in jou kultuur gewortel wees, of eenvoudig gestel, weet waarvan jy praat as dit oor jou plek in die wêreld gaan; mens moet besorg wees oor wat jy nalaat meer as oor wat jy in die hande kan kry. Elkeen van hierdie eienskappe, en mens sou meer kon noem, is op Elly Holm van toepassing – nie bloot op haar persoon nie, dan sou mens dit in die verlede tyd moes stel, dit is juis op die Elly Holm wat vanaand hier teenwoordig is, in die meervoud teenwoordig is, van toepassing. Oorweeg dit item vir item en u sal sien wat ek bedoel.

Maar ek wil dit verder toelig deur na die Romantiek te verwys, want ek meen dat mens haar as hoogstaande romantikus kan beskryf. Die drie groot kulture van Noord-Europa se bydrae tot die moderne Westerse beskawing, was volgens ‘n bepaalde veralgemening die volgende: die Verligting danksy die Franse, die Konserwatisme danksy die Engelse en die Romantiek danksy die Duitsers. Die groot teenstelling wat tot vandag toe voelbaar is, dié tussen die Verligting en die Romantiek, kan verder vereenvoudig word tot ‘n verskil tussen die wyse waarop elkeen met die verhouding tussen die algemen en die besonderse, of die universele en die partikuliere omgaan. Volgens die radikale konstruksies van die Verligting lê ons rede aan ons die universele bloot en kan ons met die insig wat ons daaruit put, die gebrekkige wêreld van die partikulieres tegemoetgaan; kan ons die spesifieke verskyningsvorme wat die universele prinsipes aanneem, deursien en regsien. Daaraan het die weêreld meer as een bloedige rewolusie te wyte. Die nuwe begin, die skoon bladsy van die geskiedenis, die tabula rasa van Descartes. Die Romantiek openbaar ook ‘n sin vir die universele, maar soos herken vanuit die partikuliere: hierdie oggend, hierdie tafel, hierdie lewe, hierdie volk dien as glansende voorbeeld van die transendente universele, elkeen bestaan in skeppingsheerlikheid. Die algemene via die besonderse wat nie alles voorhande bo kritiek verhef nie, maar wel bo die willekeurige vernietiging van die leë rede, die stootskrapers van die gees. Verras dit mens dan dat die medium van die Romantiek die poësie is en die medium van die Verligting die traktaat?

Elly Holm was poëet, sy het geskep uit wat sy gehad het en geken het. Sy het nie met die hoofvaardigheid van die universalis haar beeldende vermoë gebruik om die tekortkominge van die konkrete en dikwels klipharde en pynlike werklikheid te ontmasker nie – miskien omdat sy dit so goed geken het. Sy het met die liefde van ‘n moeder elke dag, elke kind, elke klip gesien vir wat dit is en kan wees. Nie ‘n naam en ‘n loopbaan en ‘n handelsmerk vir die skeppende individu het haar geïnteresseer nie, maar die kriptiese simbool waaragter die kunstenaar as’t ware kan terugstaan om haar skepsel self aan die woord te stel. Elly Holm het die mooiste van ons wêreld aan die woord probeer stel en daarmee die wêreld mooier gemaak – en watter beter antwoord is daar op die nihilisme van ons tyd as hierdie oopmaak van die skoonheid in concreto? As ek kyk na wat sy nagelaat het en ek dink aan wat sy alles moes aanskou het, hoor ek haar as’t ware sê: as die wêreld dan boos is, kom ons maak dit beter deur ons te herinner aan wat mooi is!

Waardeer die eenvoud van haar kunswerke, ontsluit deur die volledige bemeestering van haar tegniek, nie as ‘n raaisel vir die intellek nie, maar as ‘n ryk bron van simbole waarop die intuïsie met vertedering reageer. Geniet die werk en nalatenskap van Elly Holm.

Carel Boshoff

Orania

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *