Twee ekonomieë

Wendell Berry (1983)

Uit The Art of the Commonplace. The Agrarian Essays of Wendell Berry. Edited and Introduced by Norman Wyrzba. Berkeley: Counterpoint. 2002.

Hierdie is deel II van Twee ekonomieë. Lees gerus deel I hier.

2.

Soos die ryk man in die gelykenis, dink die industrialis dat hy die aaneenlopende eise wat die menslike toestand stel, kan ontsnap met “baie goed opgegaar vir baie jare” – met ander woorde deur groot hoeveelhede hulpbronne, benodigdhede, voorrade, fondse, reserwes. Maar dit is ‘n growwe oorvereenvoudiging en dus ‘n gevaarlike droom. Al die groot, natuurlike goed wat landbou moontlik maak, waarvan ek sommige bespreek het, het met kwantiteite te doen, maar ook met kwaliteite, en hulle behels beginsels wat nie staties is nie, maar aktief; hulle het met formele prosesse te doen. Dat bogrond hoegenaamd bestaan, is te danke aan ‘n eindelose omskakeling van dood in lewe, ‘n onophoudelik proses om kos en water te verskaf aan alles wat daarin en daarvan lewe; anders “sal alles wat leef, saam tot niet gaan, en die mens tot stof terugkeer.” As ons goed op en van ons grond moet lewe, moet ons deur die geloof in die onophoudelikheid van hierdie prosesse leef en in ons eie bereidwilligheid en vermoë om daaraan deel te neem. Christus se gebed vir “daaglikse brood” is ‘n bevestiging van so ‘n geloof, net soos dit ‘n verwerping van geloof in “baie goed opgegaar” is. Ons lewe en ons lewensonderhoud is die geskenk van die bogrond en van ons bereidwilligheid en vermoë om daarvoor te sorg, om goeie koring te kweek, om goeie brood mee te bak; dit is nie die vrug van opgehoopte voorrade roumateriaal of van geakkumuleerde koopkrag nie.

Die industriële ekonomie kan potensiaal, selfs die potensiaal van lewende bogrond, slegs as ‘n fonds verstaan, daarom moet dit verarming aanvaar as die onontwykbare voorwaarde vir oorvloed. Sy onveranderlike verhouding met beide natuur én met menslike kultuur is die van mynbou: onttrekking van ‘n beperkte fonds totdat dit uitgeput is. Dit onttrek natuurlike vrugbaarheid en menslike vakmanskap aan die grond, net soos dit voedingskrag en vakmanskap van brood onttrek. So word die grond ingekort tot abstrakte, bemarkbare hoeveelhede in lengte en breedte bereken, en brood tot handelsware wat in geldwaarde hoog is, maar in voedingswaarde laag. “Ons brood,” het Guy Davenport eenmaal vir my gesê, “is onbetaamliker as ons films.”

Maar die industriële gebruik van enige “hulpbron” impliseer die uitputting daarvan. Dit is waarom die industriële ekonomie hom met ‘n immer toenemende haas op navorsing en eksplorasie toelê. Die beweegrede daarvoor is nie “vrye ondernemingsgees” of “die gees van vrye ondersoek”, soos industriële wetenskaplikes en hulle apologete ons wil wysmaak nie, maar die wanhoop wat natuurlikerwys en logieserwys met gulsigheid gepaard gaan.

Een van die industriële ekonomie se gunstelingwoorde is “beheer”: ons wil “sake onder beheer hou”; ons wil (so sê ons) inflasie en erosie “beheer”; ons het ‘n vakrigting wat as “skarebeheer” bekend staan; ons glo aan “beheerde groei” en “beheerde ontwikkeling”, in “verkeersbeheer” en “selfbeheer.” Maar omdat ons altyd iets probeer beheer wat ons weier om te beperk, het ons van beheer ‘n onophoudelike en hopelose onderneming gemaak. As ons nie oorsake wil beheer nie, kan daar geen beheer oor gevolge wees nie. Wat sal die lot van selfbeheer wees in ‘n ekonomie wat onbeperkte selfsug aanmoedig en beloon?

Ons wil meer as enigiets anders “natuurkragte beheer,” maar ons sien terselfdertyd nie kans om die menslike natuur te beheer nie. Ons beskou sulke beheer en sulke vryheid as ons “reg”, wat skynbaar verseker dat ons beheermaatreëls (van die natuur en van alles anders wat ons as vreemd beskou) geweldadig sal wees. Dit is verstommend om die mate waartoe die industriële ekonomie van beheerde ontploffings afhanklik is, raak te sien – in myne, in wapens, in die silinders van enjins, in die ekonomiese siklusse wat as “boom and bust” bekend staan. Hierdie afhanklikheid is die gevolg van vooruitgang waarvoor ‘n saak uitgemaak kan word, maar iemand wat dié saak wil uitmaak, moet erken dat, op al hierdie maniere, goeie uitkomste deur ‘n vernietigende beginsel gedien word, ‘n samehang wat moeilik is om te beheer as dit nie beperk word nie. Wat meer is, hulle moet erken dat ons onvermoë om hierdie samehang te beperk, die spook van onbeheerde ontploffing oproep. ‘n Kernbombrandoffer, as dit kom, sal die finale knal van ‘n ontploffende ekonomie wees.

‘n Ontploffende ekonomie is dus nie net een wat van ontploffings afhanklik is nie, maar ook ‘n ekonomie wat geen perke aan homself stel nie. Enige klein ekonomie wat sigself as onbeperk beskou, is kennelik stiksienig. Dit sien nie sy eie verhouding van afhanklikheid van en verpligting aan die Groot Ekonomie raak nie; om die waarheid te sê, dit sien nie eers dat daar iets soos die Groot Ekonomie is nie. In plaas daarvan noem dit die Groot Ekonomie “roumateriaal” of “natuurlike hulpbronne” of “natuur” en gaan dan voort om dit “onder beheer” te bring.

Die woord “beheer,” wat in Engels “control” is, is hier buitengewoon openbarend, want die oorspronklike betekenis daarvan is die van ‘n teen-rol-beweging, in die sin van ‘n klein wiel wat in die teenoorgestelde rigting draai. Die beginsel van “kontrole” behels dus noodwendigerwys die beginsel van verdeling: een ding kan net teen ‘n ander draai as dit nie deel daarvan is nie. William Blake het die boosheid van hierdie meganiese verdeling en teenoorgestelde draaibeweging ingesien, en van “Satanic wheels” en “Satanic mills” gepraat: “wheel without wheel, with cogs tyrannic/Moving by compulsion each other.” Met “wiel buite wiel” het Blake die beweging beskryf van tandratte wat langs mekaar gemonteer is op so ‘n manier dat die een sy beweging op die ander oordra – maar die punt is dat ‘n wiel of rat wat so aan die buitekant van ‘n ander wiel of rat verbind is, die ander een net die rigting teenoorgesteld aan sy eie kan aandryf. Dit, aanvaar ek, is goed en wel vir ‘n meganisme. Dit word egter “Satanies” wanneer dit die heersende metafoor word en gebruik word om ons grondliggendste verhoudings te beskryf. Teenopor die Sataniese “wiel buite ‘n wiel” stel Blake die wiele van Eden, wat “Wheel within wheel in freedom revolve, in harmony and peace.” Dit is die “wiel binne ‘n wiel” van Esegiël se visioen, en dit is ‘n beeld van harmonie en vrede. Dat die verhouding van hierdie wiele nie meganies is nie, weet ons uit Esegiël 1:21: “ja, die gees van die wesens was in die wiele.” Die wiele in teenbeweging sou teenoor die gees van die wesens te staan kom.

Wat gebeur het, soos Blake helder vooruitgesien het en geregverdiglik gevrees het, was ‘n grondliggende verskuiwing in die mensdom se verhouding jeens die res van die skepping. Êrens tussen, sê maar Pope se verse oor die “Chain of Being” in An Essay on Man en Blake se “London,” het die toonaangewende denkers die mensdom begin sien, nie as deel van en integraal tot die skepping nie, maar as buite die skepping en in ‘n teenbeweging. Die industriële rewolusie was net ‘n deel van die verandering, maar die waarheid is dat toe die wiele van die industriële rewolusie begin draai, hulle teen die natuur gedraai het – en met “natuur” word alles in die Skepping bedoel wat voorheen as ónder die mens, sowel as bó die mens beskou is. Dit sou dalk nog veilig gewees het as die natuur – dit is nou al die res van die Skepping – inderdaad passief aan menslike doeleindes onderworpe was.

Dit was natuurlik nog nooit die geval nie. Soos Blake vooruitgesien het, en soos ons weet: waarteen ons draai, moet teen ons draai. Blake se beeld van die tandratte wat in meedoënlose opposisie teen mekaar draai, is angswekkend toepaslik, want in ons grootdoenerige oorlog teen die natuur veg die natuur terug. Die aarde mag ons knype en grype “net met lente” beantwoord, soos e. e. cummings dit stel, maar as ons te veel knyp en stamp, kan sy ook met vloede of droogtes, met katastrofiese gronderosie, met plae en hongersnood antwoord. Baie van die verskynsels wat ons “Acts of God” of natuurrampe noem, is eenvoudig reguit antwoorde op menslike uittarting. Nie altyd nie; ek wil nie die indruk skep dat ek meen deur in harmonie met die natuur te lewe, ons vry van vloede en storms en droogtes en aardbewings en vulkaniese uitbarstings kan wees nie; ek wys net daarop, soos baie ander ook al gedoen het, dat deur in opposisie tot die natuur te lewe, ons natuurrampe kan veroorsaak waarvan ons andersins vry kon gewees het.

 *         *          *

Die probleem is skynbaar dat ‘n menslike ekonomie nie die voorwaardes vir sy eie sukses self kan vasstel nie. In ‘n tyd wat ons graag wil glo dat mense die enigste outeurs van die waarheid is, dat waarheid relatief is en dat alle waarde-oordele subjektief is, is dit moeilik om aan te voer dat ‘n menslike ekonomie verkeerd kan wees, en tog het ons goeie, betroubare, praktiese redes om so te sê. Dit is inderdaad vir ‘n menslike ekonomie moontlik om verkeerd te wees – nie relatief verkeerd in die sin van “wanaangepas,” of onbillik volgens ‘n menslike omskrywing van billikheid, of swak volgens die definisie van sy eie doelwitte nie – maar absoluut verkeerd, ook aan die hand van praktiese oorwegings. Natuurlik, as ons die menslike ekonomie as die enigste ekonomie beskou, sal ons sy foute as politieke mislukkings beskou, en sal ons aanhou om van “herstel” te praat. Dit is net wanneer ons aan die klein menslike ekonomie in verhouding tot die Groot Ekonomie dink, dat ons begin om ons foute te verstaan vir wat hulle is en ons die kwalitaitewe betekenis van ons kwantitatiewe maatreëls begin insien. As ons die industriële ekonomie in die lig van die Groot Ekonomie beskou, dan sien ons industriële verspillings en verliese nie as “onvermydelike gevolge” of as “noodsaaklike risiko’s” nie, maar as kostes wat, soos alle kostes, een of ander tyd van een of ander iemand verhaal moet word.

Om te din dat ons die voorwaardes van ons eie sukses kan voorskryf, dat ons buite of in onkunde van die Groot Ekonomie kan lewe, is die grootste foute wat ons kan maak. Hulle vonnis ons tot ‘n lewe sonder maatstaf, huiwerend in onontwykbare verwarring tussen nietige selftevredenheid en nietige self-ontevredenheid. Maar aangesien ons nêrens anders het om te lewe as in die Groot Ekonomie nie, is die sentrale vraag of ons dit weet en dienooreenkomstig optree of nie – nie net met betrekking tot ekonomie nie, maar met betrekking tot menslike lewe as sodanig.

Dit is moontlik om ‘n klein ekonomie te bedryf wat, soos ons huidige een, so kortsigtig is en waarvan die afrekening op so ‘n kort termyn gedoen word, dat dit die indruk kan wek dat ondeugde nodig en prakties regverdigbaar is. As ons van ons eie ekonomie ‘n klein wielietjie maak wat in ‘n teenbeweging teen wat ons “die natuur” noem, draai, dan stel ons mededinging as die heersende beginsel op in ons verklaring van die werklikheid en in ons begrip van ekonomie; dan maak ons sonder meer daarvan ‘n deug. Maar mededinging, as heersende beginsel en as deug, skryf ‘n logika voor wat uiters moeilik, dalk onmoontlik is om te beheer. Daardie logika verklaar waarom ons karre en ons klere knoeierig gemaak word, waarom ons “afval” giftig is, en waarom ons verdedigingswapens selfdodend is; dit verklaar waarom dit vir ons so moeilik is om die lyn tussen “vrye ondernemerskap” en misdaad te trek. As ons ekonomiese ideaal maksimum wins vir die minimum verantwoordelikheid is, waarom sal ons verras wees as ons korporasies so dikwels in die hof is en dat rowery toeneem? Waarom sal ons verbaas wees om te vind dat medisyne ‘n uitbuitende bedryf geword het, winsgewend in direkte verhouding tot die haas en die meganiese traak-my-nie-agtigheid daarvan? Mense wat vir minderwaardige produkte of onverskillige dienslewering moet betaal, en mense wat blatant beroof word, is gelyke slagoffers van diefstal, die enigste verskil is dat die blatante rowers nie ook nog aan bedrog skuldig is nie.

As ons, aan die ander kant, onsself sien lewe in die Groot Ekonomie, met die noodsaak om ons klein ekonomie daarin tuis te maak en om aan die voorwaardes daarvan te voldoen, om die klein wiel te wees wat meelewend binne die groot wiel draai, wat sy bestaan en sy beweging daaraan te danke het, dan sien ons dat die tradisionele deugde nodig en prakties regverdigbaar is. Dan, omdat in die Groot Ekonomie alle transaksies tel en geen rekening ooit “gesluit” word nie, verander die ideaal. Dan sien ons dat ons nie maksimum wins of mag met minimum verantwoordeliklheid kan bekostig nie, want in die Groot Ekonomie benadeel die verloorder se verliese uiteindelik die wenner se winste. Nou moet die ideaal wees “maksimum welstand met minimum verbruik,” wat aan naasteliefde beide inhoud gee én dit vereis. Mededinging kan nie die heersende beginsel wees nie, want die Groot Ekonomie is nie ‘n “kant” wat ons kan kies nie en dit huisves nie sulke kante nie. Daarom is dit nie die “som van sy dele” nie, maar ‘n gemeenskap van dele wat onlosmaaklik aan mekaar verbonde is, onder verpligting aan mekaar vir die belang en waarde wat hulle van mekaar en van die geheel ontvang. Mens behoort te “dink aan die lelies van die veld,” nie omdat hulle lelies is of voorbeeldig is nie, maar omdat hulle mede-lede van die gemeenskap is, en as mede-lede is ons en die lelies op deurslaggewende maniere soortgelyk.

Om te sê dat in die Groot Ekonomie die deugde nodig en prakties regverdigbaar is, is om hulle meteens uit daardie gespesialiseerde, skynheilige, neerbuigende toepassing van deugdelikheid wat vir diegene wat daardeur begunstig word, humorloos, sinloos en ondraaglik is, te verwyder. Vir ‘n mens is die goeie keuse in die Groot Ekonomie om sigself as deel van die gemeenskap te sien en as ‘n “naaste” daarin. Ek is seker dat deugde in ‘n gemeenskap gewig dra – om “jou naaste lief te hê soos jouself” vereis al sewe deugde – maar ek is ewe seker dat losstaande deugde as sodanig nie in ‘n gemeenskap beoefen kan word nie. Matigheid op sy eie het geen voorkoms of aksie nie, so ook nie geregtigheid, verstandigheid, dapperheid, geloof, hoop of liefde nie. Hulle kan almal net per geleentheid ingespan word. “Hy wat goed wil doen vir ‘n ander,” het Willaim Blake gesê, “moet dit in Klein Besonderhede doen.” Dit beteken om mekaar te help, moet ons verby die onverskillige liefde vir die “algemene belang” tree en betrokke raak waar ons is:

Werk goed met die Klein Besonderhede, skenk aandag aan die Kleintjies,

En diegene wat hulle in ellende bevind sal nie vir lank daarin wees nie

As ons maar ons plig goed doen: bewerk die wemelende Aarde goed.

Dit is die Groot Ekonomie, nie sommer enige klein ekonomie nie, wat die klein besonderhede met groot en deurslaggewende belang beklee. In die Groot Ekonomie staan elke deel in vir die geheel en maak deel daarvan uit; die geheel is teenwoordig in die deel en is sy welstand. Die industriële ekonomie daarenteen, probeer altyd en misluk altyd om skerwe (van goed wat hyself gebreek het) bymekaar te tel in ‘n ewig ontwykende heelheid.

Werk wat oorspronklik in die Groot Ekonomie geplaas en verstaan is, beweeg van deugdelikheid na meesterskap – dit beteken na vaardigheid of tegniese bekwaamheid. Dit is nutteloos om ons bure met hulle werk te help as ons nie weet hoe om die werk te doen nie. As die deugde in die Groot Ekonomie reg beoefen word, noem ons dit nie deugde nie, ons noem dit goeie boerdery, goeie bosbou, goeie houwerk, goeie veeteelt, goeie weefwerk en naaldwerk, goeie huishouding, goeie ouerskap, goeie buurskap, ensovoorts. Die algemene beginsel is opgeneem in die besonderhede van hulle betrokkenheid by die wêreld. Lao Tzu het die verskyning van die deugde as sodanig, in abstraksie, beskou as ‘n aanduiding van hulle verlies:

Toe mense nie meer kon sien hoe hulle moet lewe nie

Het daar reëls vir liefde en eerlikheid gekom …

Toe verskille familiebande verswak het

Het welmenende vaders en pligsgetroue seuns na vore getree;

En toe lande ontwrig en sleg geregeer is

Het leiers gekom wat vir hulle lojaliteit geprys moes word.

En hierdie lyne kan gelees word as ‘n uitbreiding op die waarskuwing teen die skyn van goedheid aan die begin van Matteus 6.

Die werk van die klein ekonomie, as dit met begrip binne die Groot Ekonomie tereg kom, maak die deugde in klein besonderhede spesifiek en voer die beginsel deur na die praktyk; en in die mate wat dit daarin slaag, ontsnap dit spesialisering. Die industriële ekonomie vereis uiterste spesialisering van werk – die skeiding tussen werk en die uitkoms daarvan – omdat dit op die verdeling van belange teer en die grondliggende verband tussen produsent en verbruiker moet ontken; tussen verkoper en koper; tussen eienaar en werker; tussen werker, werk en produk; moedermateriaal en produk; natuur en uitvinding; denke, woorde en dade. Verwyderd van daardie verbande beskryf gespesialiseerde vakmanne en wetenskaplikes hulleself as “waarnemers” of “objektiewe waarnemers” – dit beteken as buitestaanders sonder verantwoordelikheid of betrokkenheid. Maar die verindustrialiseerde kunste en wetenskappe is vals, hulle verdelings is ‘n leuen, want daar is geen spesialisering van uitkomste nie.

Daar is geen “buitekant” aan die Groot Ekonomie nie, geen ontsnapping na óf spesialisering óf veralgemening nie, geen “aftyd” nie. Selfs onbenulligheid bied geen uitkoms nie, want in die gemeenskap van die Groot Ekonomie tel alles; wat ons ookal doen, tel. As ons nie in diens staan van dit wat saamhaang en duur nie, staan ons in diens van dit wat disintegreer en vernietig. Ons kan voorgee om buite die gemeenskap wat ons insluit te wees, maar die veronderstelling skaad net die gemeenskap – en vir ons natuurlik, daarmee saam.

In die industriële ekonomie is die kunste en wetenskap gespesialiseerde “professies,” elkeen met sy eie taal wat die een nie met die ander praat nie. Maar die Groot Ekonomie bied die kuns en wetenskap van deelname: maniere van doen en maniere van weet wat nie van mekaar geskei kan word nie en wat die gedeelde taal van die gemeenskappe waarin dit beoefen word, praat.

Leave a Reply

Your email address will not be published.