Is daar lewe voor die dood?

deur ds Ronald Bain

Om te vra of daar lewe na die dood is veronderstel dat daar lewe voor die dood is. Is daar lewe voor die dood? Om te lewe en om te bestaan is nie sinonieme nie. In hierdie pandemie-tyd beleef ons iets daarvan. Dat sommiges as gevolg van vrees hulle lewe so drasties inperk dat hulle die wonder van die lewe inperk. Natuurlik leef iemand wat byvoorbeeld in ‘n tronk in alleenopsluiting sit ook, maar die volheid van die lewe word drasties ingeperk.

‘n Sekere Amerikaanse digter het iewers gesê: elke mens moet sterf, maar nie elke mens leef werklik nie.[1] Daarmee bedoel hy waarskynlik dat alle mense nie voluit lewe nie. Hulle lewe is ‘n dooie sleurgang. In ‘n sekere sin spreek dit ‘n mens aan – dat jy die verwondering kan misloop wat deel van die lewe moet wees. Of dat jy weens vrees of luiheid of druk die geleenthede deur jou vingers laat glip wat die lewe vol maak.

Op sy beurt laat dit ‘n mens tog wonder wat dit dan is om werklik te lewe. Buiten die wyse waarop iemand lewe en die gesindheid waarmee iemand lewe is daar ‘n ander belangrike element van lewe: om te onthou.

Om vergeet te word

Anders gesê: jou geskiedenis. Dink net daaroor na of iemand wat geen geheue van sy/haar lewe het nie, sinvol oor sy/haar lewe kan dink? Miskien is daar ander wat nog onthou wie jy is, maar wat gebeur as ook hulle van jou vergeet het? Wat gebeur as almal nie net van jou vergeet het nie, maar as alles wat jy nagelaat het boonop tot niet gaan?

Al sou ‘n mens met hoeveel inspanning na elke dag gegryp het en grootse dade gedoen het en kosbare liefdesbande met ander gehad het, vergaan die sin van die lewe met die verganklikheid van jou geskiedenis. ‘n Sinvolle lewe kan nie bestaan as dit vergeet word nie, selfs al sou dit dan vir ‘n tyd lank wel onthou word. Nou kan ‘n mens die vraag begin vra: as almal van jou vergeet het, maak dit saak dat jy geleef het? Of nog erger: as almal van jou lewe vergeet het, het jy dan werklik geleef?

Die mens voel die verskrikking van hierdie realiteit goed aan en mense poog om op verskeie maniere daaraan te ontkom. Vandaar dat mense ten minste ‘n nalatenskap wil hê waardeur hulle onthou kan word. Dink byvoorbeeld ook aan die filosofie van die Eksistensialisme wat diep geworstel het met die vraagstukke oor die sin en aard van die lewe. Die antwoorde wat hierdie filosofie gebied het is om die minste te sê uiters teleurstellend.  

Lewe is ewige gemeenskap

‘n Gelowige vlug na die Skepper van die lewe om te verstaan wat lewe is. Net Hy kan hierdie vraagstuk ontknoop. Wanneer die Here Jesus sy hoëpriesterlike gebed tot sy Vader bid gee Hy die mees besondere definisie van die ewige lewe en daarom ook van die lewe as sodanig. Hy bid: Dit is die ewige lewe: dat hulle U ken.[2] Op ‘n ander plek lees ons dat Christus as God se Seun die ewige lewe is.[3]

Hier is twee gedagtes wat van belang is. Die lewe word hier geopenbaar as die ken-gemeenskap met God. Dieselfde woord vir ken word in Hebreeus gebruik vir die huweliksgemeenskap tussen man en vrou. Hierdie verbondsgemeenskap met God is net moontlik in Christus wat die mens weer met God versoen het. Daarom word Christus self ook die ewige lewe genoem. Die mens bepaal dus nie die sin en aard van die lewe nie. Die Skepper bepaal dit en Hy openbaar dit as die gemeenskap met Hom in Christus.  

Vervolgens is die lewe as gemeenskap met God ook ewig. Teenoor ‘n lewe wat vergeet word staan die ewige gemeenskap met God wat verseker dat die lewe van sy kinders nooit aan die vergetelheid prysgegee word nie. Ewigheid en lewe kan nie losgemaak word van mekaar nie. As die lewe vir die vergetelheid bedoel is het dit insigself geen sin nie. Dan is dit in der waarheid ook nie lewe nie. Dan het jy bestaan, maar nie werklik geleef nie.  

Verheerlikte geskiedenis

Dis tog merkwaardig dat die Here Jesus in sy gesprek met die Sadduseërs sê dat God nie ‘n God van dooies is nie, maar van lewendes.[4] Die Here noem ook die name van die lewendes wat steeds in verbondsgemeenskap met Hom lewe: Abraham, Isak en Jakob. In Christus word die gelowiges se sondes uitgewis, maar nie hulle name nie. Hulle identiteit word nie uitgewis nie. Daar is natuurlik dinge in ons verlede wat eerder vergete moet bly. God sê ook dat Hy aan sy kinders se ongeregtighede nooit meer wil dink nie.[5]

Die Here vee nie die geskiedenis en daarom ook nie die identiteit van sy kinders uit nie. Die nuwe naam[6] wat die verlostes ontvang is nie ‘n ander naam nie, dis ‘n nuutgemaakte naam. Dis verheerlikte geskiedenis en daarom ook ‘n verheerlikte identiteit.

Die verheerliking van die gelowige se naam is ook nie ‘n indiwiduele saak nie. ‘n Heerlike gedagte is die feit dat die Here ook nie die onderlinge gemeenskapsbande van sy kinders uitwis nie. Abraham, Isak en Jakob word saam genoem. Die gemeenskap met God as die ewige lewe sluit noodwendig die gemeenskap van die gelowiges in.

Daarteenoor is die oordeel wat die goddelose mense tref een waarin die Here hulle naam en gedagtenis vir ewig onder die hemel sal uitdelg of sal uitvee.[7] Niemand sal ooit weer aan hulle dink of kan dink nie. Hulle sal nie aan mekaar kan dink nie, want daar is geen gemeenskap met mekaar moontlik nie. Daar kan geen vergadering van die goddeloses wees nie. God sal ook nie aan hulle dink nie.[8] Hoe vol sulke mense se lewens ook al was en hoe vol hulle die geskiedenis van die mensdom ook al gemaak het – dit sal vergete wees vir ewig. Dit sal wees asof hulle nooit gelewe het nie.

Die ewige lewe het reeds begin

Daar is dus ‘n dood wat voor die dood begin. Dat mense springlewendig lyk en baie vermag, maar dat dit alles aan die sinneloosheid en die vergetelheid behoort. Daarteenoor is daar lewe voor die dood vir God se kinders in gemeenskap met Hom en in gemeenskap met mekaar. Ons verstaan die dood as deel van ons lewe, maar ons verstaan dit nie as die einde van ons lewe nie.

Die gelowige mag nie fatalisties wees nie, want ons lewe is ‘n gawe. Ons mag daardie gawe nie minag nie. Die gelowige se lewe mag ook nie bepaal word deur doodsangs nie. Ons lewe is ‘n offer aan die Skepper en dis ‘n offer aan die mense met wie ons in gemeenskap leef.

Die begin van ‘n ware lewe vol verwondering is dat die kinders van God, saam met die res van die kerk, weet dat hulle lewe nooit vergeet sal word nie. Dat ons lewe hier die ewigheid in reik deur God se genade. Die ewige lewe begin nie eendag nie, dit begin nou reeds en daarom kan ons nou reeds lewe. Daar is lewe voor die dood, deur die dood heen en vir ewig na die dood. Dis dieselfde lewe – die lewe in gemeenskap met die Bron van alle lewe.


[1] William Ross Wallace (1819 – 1881)

[2] Johannes 17:3 “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”

[3] 1 Johannes 5:20

[4] Mattheus 22:32

[5] Hebreërs 8:12;10:17

[6] Openbaring 2:17

[7] Sien byvoorbeeld Deuteronomium 9:15 en 25:19.

[8] Dat God nie aan ‘n mens dink nie is ‘n openbaring van sy oordeel. Dit beteken nie dat Hy nie van ‘n mens weet nie. Die ewige straf van God is immers ‘n ewige bestaan weg van sy aangesig volgens 2 Thessalonisense 1:9.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *