Dood, lewe en Suid-Afrika ná Phoenix

In die Griekse mitologie is die Feniks ‘n wonderbaarlike voël wat al om die vyf eeue op ‘n brandsatpel sterf, maar dan weer jonk en kragtig uit die as herrys. In tye van rewolusie dien dit dikwels as ‘n beeld om sin en samehang te gee aan gebeure en dade wat andersins eenvoudig op vernietiging sou neerkom. Ironies dat ‘n woonbuurt met die naam Phoenix die afgelope weke in die brandpunt van ‘n rewolusionêre aanslag gestaan het en ‘n belangrike wending aan gebeure gegee het. Sê dit dalk iets van die dood en nuwe lewe vir die “nuwe” Suid-Afrika? Iets soos ‘n “nuwe nuwe Suid-Afrika”? Carel Boshoff ondersoek die gedagte.

Phoenix, die oorwegend Indiërgemeenskap noord van Durban in KwaZulu-Natal is vinnig besig om simbool van die Nuwe nuwe Suid-Afrika te word. Tydens die plundery en beweerde staatsgreeppoging wat glo deur oud-president Jacob Zuma se inhegtenisneming en tronkstraf afgevuur is, het die mense van Phoenix – wat hulself betyds bewapen het – hulle gebied afgesluit en hulle lewens en eiendom doeltreffend teen aanstormende plunderaars beskerm. Dit het hulle egter in omstredenheid gedompel en nie net wetstoepassers nie, maar ook politieke opportuniste wat uit die polarisering munt wil slaan, het intussen op die gemeenskap toegesak en poog steeds om hulle te intimideer. Buiten vir die implikasies wat dit vir Suid-Afrika inhou, bied die gebeure in en om Phoenix uit Afrikaneroogpunt ‘n boeiende invalshoek op die afgelope weke se epogmakende verwikkelings.

Meer omvattend beskou, is die afgelope weke se gebeure al uit verskillende oogpunte ontleed en bespreek. Die vraag is byvoorbeeld gestel of dit inderdaad ‘n gepoogde staatsgreep was en of dié verklaring net die regering se manier was om ‘n groter en meer ingewikkelde probleem eintlik kleiner en eenvoudiger te laat lyk. Twaalf samesweerders wat eintlik reeds skuldig is en net formaliteitshalwe ondersoek moet word … en die probleem is so goed as opgelos. En as ons veronderstel dat gemeenskappe in Phoenix en elders wat opportunistiese plundery weerstaan het, in werklikheid vanuit diep Suid-Afrikanistiese sentimente opgetree het en die beskerming van die reënboognasie se demokrasie op die oog gehad het, kan ons eintlik optimisties begin raak.

Seker nie verrassend dat pogings tot so ‘n sonskyndiskoers geloods sal word nie, Suid-Afrikaniste het in hierdie dae min om hulle positief te hou. Buiten natuurlik as mens bereid is om heeltemaal ‘n ander blik op Suid-Afrika te neem. Wat van die moontlikheid dat Suid-Afrika, daardie veelvolkige landstreek waarvan die staatkundige ontwikkeling deur Britse Imperialisme ingrypend ontwrig en gesentraliseer is, besig is om te word wat hy ten diepste eerder is, naamlik ‘n gemeenskap van gemeenskappe? Dit bied nie net ruimte vir die Phoenix-verhaal, wat nog lank nie afgeloop het nie, maar ook vir die kragte van diversiteit wat in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng werksaam is, en vir Afrikaners wat steeds op soek is na ‘n tuiste in Suid-Afrika.

Kostelik dat daar in die Unie-tyd boeke verskyn het soos Natalians First en There are no South-Africans. Dit getuig natuurlik van die destydse Natallers, meerendeels Brits-gesinde Engelse, se weerstand teen inlywing by die verowerde Boererepublieke en die veel meer Afrikaanse Kaapkolonie, want Uniewording sou ooglopend ‘n duidelike Afrikanerstempel dra, al was dit nog onder die Union Jack. In Natal het die Engelse hulle eie oorloë teen die Zoeloes verloor en gewen en ingeboekte arbeiders van Indië af ingevoer, en hulle sou verkies om hulle eie politieke ontwikkelingspad in die streek te loop, selfs in 1986 met die KwaZulu Natal Indaba toe ‘n federale alternatief vir sentralistiese demokratisering in Suid-Afrika ontwikkel en voorgestel is. En tragies dat ‘n laat weergawe van Afrikanernasionalisme die belangrikste struikelblok vir sukses was. Dat KZN en nie die Afrikaners nie nou weer op die voorpunt van Suid-Afrika se hersiening van homself is, is só beskou nie vreemd nie.

Maar waar pas Afrikaners met al ons simpatie en bewondering vir die mense van Phoenix se kragdadige selfverdediging dan in? Vind ons maar net ‘n wraaksugtige genot in die teengeweld? Al mag daar iets van waar wees, is daar op ‘n dieper vlak iets anders aan die werk. Waarom was dit – dramas soos Senekal ten spyt – Indiërs en nie Afrikaners nie wat eerste hulle koppe só ver uitgesteek het vir die beskerming van hulle eie gemeenskap? Wat kom aan die lig as mens die vroeëre en huidige reaksies op politieke geweld van hierdie twee Suid-Afrikaanse minderheidsgroepe vergelyk? Twee lyne, ‘n historiese en ‘n eietydse lyn moet hierby gevolg word.

Die historiese lyn is met die verwysing na Uniewording in 1910 al aangesny. Afrikaners, wat voorheen hoogstens beperkte dominansie geniet het – beperk tot die inherent beperkte Boererepublieke en deur die beperkende politieke magsewewig in die Kaapkolonie – het meteens voor ‘n onbedoelde kinkel in die Britse veroweringsgeskiedenis te staan gekom. As deel van die “beskaafde” blanke bevolking én as waardige teenstaanders in die voorafgaande oorlog is hulle agt jaar later as volwaardige deelnemers by die opvolgskikking betrek terwyl nie-blanke Suid-Afrikaners oorwegend uitgesluit is.

Die ironie was dat Afrikaners die meerderheid van die blanke bevolking uitgemaak het en die hele stelsel sou domineer namate hulle dit besef het en met die oog daarop kon mobiliseer. Dit het op die regeringsveranderings van 1924 en 1948 en op Republiekwording in 1961 uitgeloop en tot Afrikaners se onbetwiste dominante posisie in Suid-Afrika gelei. ‘n Hele literatuur het in die laaste dekades van die 1961-Republiek oor Afrikaners se verwagte weerstand teen demokratisering en magsverlies ontstaan, natuurlik gevoed deur die sekurokratiese impulse wat ná die Verwoerd-era aan die bod gekom het en die formidabele militêre vermoë wat aan die hand daarvan gevestig is. En so verras was die wêreld dat Afrikaners in 1994 as ‘t ware sonder slag of stoot die mag oorhandig het, dat dit as ‘n “wonderwerk” bestempel is – “the South African miracle!”

Intussen was die Indiërs in Suid-Afrika, soos elders in Afrika, in ‘n onderhorige posisie, maar met ‘n sterk omlynde groepsgevoel en met strategiese vaardighede toebedeel. Die een gebrek waarvoor hulle hier en elders deurgaans toepaslike voorsiening moes probeer maak, was dié aan politieke mag en getalle. Om daarvoor op te maak, het hulle op handel, netwerkvorming, welvaartskepping en beïnvloeding gekonsentreer en het hulle geen geleentheid laat verbygaan om inspraak te kry en hulle belange te bevorder nie. Selfs in laat-Apartheid Suid-Afrika het die Indiërbevolking van die vier rassegroepe die hoogste per capita-inkomste aangeteken. Hulle was ook in elke politieke beweging wat dit moontlik gemaak het, teenwoordig, van die Driekamerparlement tot die gewapende anti-Apartheidstryd en die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party.

Waar Afrikaners hulle minderheidsbelang vanuit ‘n polities dominante posisie beskerm het, het Indiërs dit vanuit ‘n duidelik nie-dominante posisie gedoen. Na demokratisering is die bordjies egter verhang, want Afrikaners se dominansie het tot aansienlike wrewel gelei en beleidsrigtings soos Regstellende Aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging is tot hulle nadeel in werking gestel. Gegewe Afrikaners se voorafgaande verbintenis tot die staat het dit ons swaar getref en het ons met moeite op die terrein van minderheidspolitiek ons voete gevind. Indiërs daarenteen, was geoefen in die kuns van minderheidspolitiek en hoewel hulle nie die volle voordeel van transformasie geniet het nie, was hulle nie so staatsafhanklik nie en het hulle nie so staatsafhanklik geword dat dit hulle benadeel het nie. Inteendeel, hulle kon die geleenthede wat hulle voorgedoen het, aangryp sonder om die slagoffers daarvan te word.

In eietydse konteks was die gevolg dat die inwoners van Phoenix psigies gereed was om met meer selfvertroue en nugterheid op die voorhande gevaar van geweldadige plunderaars te reageer. Hulle kon doen “wat gedoen moes word” om lewe en eiendom te beskerm en is in die algemeen daarvoor gerespekteer. Of optrede wat die wet oortree het in dié geval ongestraf sal bly, sal die tyd maar moet leer, want selfs ‘n falende staat kan nog verbasend baie vermoë monster om op ‘n klein genoeg teiken te konsentreer. Afrikaners was op hulle beurt nie ongereed om op die vloeibare en bedreigende omstandighede te reageer nie, maar het met goeie oorleg breër alliansies gevorm en nie daarvan ‘n swart-wit konflik gemaak nie. Dit is wys, veral gegewe die historiese vooroordele teen ons, maar ook die feit dat daar geen Afrikaner-Phoenix onder skoot gekom het nie.

Om die waarheid te sê: onder die omstandighede het dit plek-plek tot ons voordeel gestrek, maar in die groter orde van dinge is dit ‘n groeiende risiko dat Afrikaners, buiten vir Orania, kwalik oor ‘n Phoenix beskik waar ons gekonsentreerd genoeg is om ons lewe en eiendom ewe doeltreffend te beskerm. Want ons moet nie die moontlikheid uitsluit dat hierdie voorheen dominante, verspreide en uiters sigbare bevolking wat ons is, in ‘n vyandige omgewing uiters kwesbaar is nie. Plaasmoorde getuig deurlopend daarvan.

Maar terug by die gedagte van die Nuwe nuwe Suid-Afrika: ons het sopas aanskou hoe ‘n staat se konstitusie ingrypend kan verander, al is sy grondwet nie gewysig nie (met erkenning aan prof Koos Malan se There is no Supreme Constitution). As veiligheidsmagte, soos gerapporteer, sonder voldoende ammunisie ontplooi word en dan deur privaat instansies voorsien word om te verseker dat hulle eiendom beskerm sal word, het – by wyse van spreke – die wind gedraai. As plunderaars strategiese teikens sonder regstreekse voordeel aanval en wapenvoorrade buitgemaak word, ook.

Of dit ‘n volskaalse staatsgreep-poging was of nie, een ding is duidelik: die Suid-Afrikaanse staat is nie sommerso te gryp nie. Nie omdat dit so ‘n formidabele staat is nie, eerder omdat dit ‘n veelkoppige skilpad is. Sy dop lyk klaar soos ‘n lappieskombers, as hy boonop meer koppe het as wat op een slag afgekap kan word, is dit eintlik onmoontlik om beheer oor te neem. Of te behou. As jy Durban “gevat” het, gaan Kaapstad nog sy rustige gang en beskerm taxi-verenigings die ou Port Elizabeth; as Johannesburg in vlamme opgaan, sien Pretoria net die gloed en die Oos- en Wesrand doen sake, amper soos gewoonlik. En Bloemfontein en Kimberley en Polokwane en Mbombela en Oos-London en Springbok en Orania, wat elkeen ‘n streek om hom het, is heeltemaal vergete, hulle gaan hulle gang.

Die gebeure van die afgelope weke, maar veral soos dit op Phoenix uitgespeel het, het ons iets van die grootste belang geleer: in werklikheid is Suid-Afrika ‘n gemeenskap van gemeenskappe – tans nog in die dwangbuis van ‘n sentralistiese stelsel, maar vinnig besig om daaruit te breek. Ons gaan na alle waarskynlikheid weer ‘n vloeibare periode van herstrukturering tegemoet. As die Afrikanervolk in die toekoms méér as net minderheidspolitiek wil beoefen, moet ons gereed wees om die selfstandigheid wat ons die afgelope twintig jaar met moeite verwerf het, in soveel selfbeskikking as wat die omstandighede ons hoegenaamd toelaat, te omskep.

Leave a Reply

Your email address will not be published.