Die Afrikaner se finansiële-uitsterwing

Finansiële stabiliteit is besig om die Afrikaner se bevolking te laat kwyn, die plek wat ons nageslag moet inneem as Godvresende Afrikaners in ‘n vyandige kontinent te laat wegval.

Ek beklemtoon dit van die begin af, dat hierdie hoofsaaklik gebasseer is op obserwasie en dat ek nie met jong Afrikaners onderhoude hieroor gevoer het nie.

Na die Tweede Vryheidsoorlog was die Afrikaner uitgedun en moes daar hard gewerk word om die bevolking weer op ‘n respektabele syfer te kry. Die volk was net weer mooi op dreef, elk met ‘n huis vol kinders wat ‘n koshuis sou skaam maak, maar toe tref die Rebellie van 1914 ons volk en sodra dit begin beter lyk kom die Groot Depressie van 1932. Asof daar nie reeds genoeg terugslae is nie, kom die Tweede Wêreldoorlog. Ons is gelukkig Afrikaners, geen uitdaging sou vir ons te groot of te klein wees nie, as ons die volk moet bou, dan bou ons hom! Finansiële stabiliteit was in daardie dae inelkgeval iets wat ‘n gewone burger nie sommer beskore was nie.

In die 1980’s hoef mens nie heldersiende te gewees het om te sien dat die Afrikaner se toekoms in Suid-Afrika maar effe bleek lyk en dat jong werkendes baie harder sal moet werk om ‘n toekoms vir hulself en hul nageslag te verseker. Jong Afrikaners het oor die laaste dertig of veertig jaar al hoe minder kinders begin kry, patrioties in die naam van finansiële stabiliteit. Die gevolg was dat die meerderheid Afrikaners die finansieel-slim ingesteldheid aangeneem het om te wag totdat hul finansieel stabiel is voordat hul kinders kry, sodat daar ordentlik vir hul gesorg kan word. Na my mening is dit ‘n uiters rasionele ingesteldheid, maar een met ‘n slegte nadraai vir die Afrikaner.
Die gevolg hiervan is dat die ouderdomsverskil tussen ouers en hul kinders heelwat hoër geword het en mense sodoende minder kinders kon (of wou) kry. Een van die groot redes hiervoor, na my mening, is dat die vrou van die huis ook moes begin werk, die vrou se rol het verander van slegs huishoudster en kinder-opvoeder, na jong werkende vrou wat dieselfde lang ure weg van die huis moet wees as haar man. Wanneer dit gebeur neem die motivering om kinders te kry en groot te maak aansienlik af.

Asof bogenoemde nie erg genoeg is nie, daal die realiteit op Afrikaners, jonk en oud, neer dat hul nie maklik in Suid-Afrika werk gaan kry nie en dat hul nageslag nie so veilig en gelukkig soos hullle gaan groot word in ‘n nuwe Suid-Afrika nie. Die besluite word geneem om nog harder te werk en ‘n nageslag uit- of af te stel; te veel besluit om te emigreer; ‘n handjie vol mense besluit elke dag om na ‘n Afrikaner-groeipunt trek, ‘n Volkstaat.

Word deel van hierdie handjie vol jong Afrikaners wat ‘n vry en veilige Volkstaat soek en bou saam ‘n nageslag waarop ons kan trots wees. Jy sal nooit werklik so finansieel stabiel wees soos wat jy wil wees nie, buitendien het jy die Volkstaat net soveel nodig as wat die Volkstaat jou nodig het.
Ons kwyn en die vyandige massas groei, kom ons slaan dit hok so goed ons kan!

Benjamin Boshoff
Benjamin Boshoff

Akademia student, medewerker.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui