‘n Paar gedagtes oor vooruitgang en verhoudings

Mens hoef nie na tye te verlang toe ‘n barbier sommer ook vrot tande getrek het terwyl jy aan ‘n paal moes vasklou, soortvan moes hang omdat daar nie iets soos plaaslike verdowing was nie, om ‘n tweede gedagte oor die tyd waarin ons lewe te hê nie. (Dis natuurlik waar die gestileerde paal met die rooi en blou spiraal wat retro manshaarkappers nou nog met fleur vertoon, vandaan kom – dit verwys na die bloed wat daar afgeloop het.) Anders gestel: natuurlik is daar die afgelope 500 jaar op talle terreine skouspelagtige vooruitgang gemaak, maar nie elke verandering was ‘n verbetering nie en die mensdom is nie op ‘n enkelspoor van ‘n slegte verlede na ‘n goeie toekoms oppad nie.

Vooruitgang byvoorbeeld op die terrein van mediese tegnologie, het kennelik tot minder pyn en meer gesondheid bygedra en dit sal dwaas wees om so-iets gering te skat, maar tegnologiese ontwikkeling in die algemeen het ook teen ‘n enorme prys gekom – beide sover dit die bronne waaruit daarvoor geput word én die uitwerking wat dit op die natuurlike en menslike omgewing het, aangaan. Daarom het die volhoubaarheidsvraag, veral in ekologiese sin, so sterk op die voorgrond getree. Maar die groter volhoubaarheidsvraag wat minder aandag kry as wat dit verdien, het met die “menslike ekologie,” met kultuur en verhoudings te doen.

Kritiese rasseteorie en die kwessie van seksuele identiteit kom vandag onwillekeurig by mens op, maar hier wil ek net enkele gedagtes oor die verhouding tussen mans en vroue uitlig. Leonard Cohen se woorde in Democracy (The Future, 1992) oor sy beeld van en frustrasie met gelykheid in Amerika, is emblematies: It’s coming … from the homocidal bitchin’/ That goes down in every kitchen/ to determine who will serve and who will eat … Democracy is coming to the U.S.A. Terwyl dit kennelik as voorloper van steeds meer sinisme en passiewe geweld herken kan word, is die verband tussen ‘n bepaalde beeld van demokrasie, naamlik ‘n hiper-individualistiese beeld, en die verwoesting van tradisionele verhoudings reeds duidelike sigbaar.

Dit verteenwoordig dalk meer as enigiets anders die wêreld waarop iemand soos Wendell Berry (sien sy artikel oor Femisnisme, die Ligaam en die Masjien (1989) in hierdie uitgawe van Perspektief) sy rug gekeer het. My punt is kort en klaar: Ek het my ook al in die ban van Cohen&co se estetiese sinisme bevind, maar dit reflekteer nie sonder meer my ervaring van kombuise en die verhoudings wat daar gestalte kry nie. Inteendeel. Maar om die teendeel aan die orde te stel, verg meer as om te sê “ek stem nie saam nie.” Dit vereis dat mens jou eie beste ervaring ernstig opneem en daarop bou eerder as op die slegste ervaring waarvan jy al gehoor het.

En as jy jou eie beste ervaring koester, waarom nie ook dié van jou voorgangers – met ander woorde jou tradisie – nie? Tradisie is eintlik niks anders as ‘n positiewe seleksie van gemeenskaplike ervaring en die koestering daarvan nie. Wat natuurlik die vraag na ‘n maatstaf vir positiwiteit open, ‘n vraag wat die sinici as grondliggend onbeantwoordbaar beskou. Maar al wat hulle het om te aan te bied, is die selfvertroue waarmee hulle hierdie veronderstelde onbeantwoordbaarheid aan ons opdis. Die werklikheid is dat ons almal seker van kombuisgevegte kan vertel, maar dat dit selde die sleutel tot ons lewensverhale hoef te wees – dat die kombuis veel eerder die plek is waar vreugde, sintuiglik en geestelik, geneig is om pos te vat. (Hoewel, wie nog nie ‘n lekker soen in die kombuis gehad het nie, kan seker nie hieroor saampraat nie.)

Nou weet ek dat ‘n beroep op tradisie, gevolg deur ‘n pleidooi vir standaarde en dus vir hierargie, baie gou met tande-trek-sonder-verdowing verbind sal word, maar ek weet ook dat dit onvanpas is. Baie meer behoort nog daaroor gesê te word, maar vir die doel van hierdie argument wil ek eenvoudig weer die verskil tussen twee benaderings beklemtoon. Die eerste benadering gaan uit van die individu en verklaar die verskynsel “gemeenskap” aan die hand van sy/haar vrye keuse om met ander te assosieer of nie; die tweede benadering gaan uit van die gemeenskap en beskou die sterk individu wat betekenisvolle keuses kan maak, beide omdat hy/sy daarvoor toegerus is én omdat daar hoegenaamd alternatiewe moontlikhede bestaan om tussen te kies, as die vrug van die gemeenskap wat dit moontlik maak.

‘n Goeie gemeenskap is een waarin mens jou verantwoordeliklheid met vreugde kan opneem en met vervulling kan nakom, of jy ‘n man is of ‘n vrou. Dat die verwagtings van jou verantwoordelikhede en rol met jou geslag, ouderdom, talente, middele en vermoëns sal saamhang, is eintlik vanselfsprekend. Dat die verhoudings tussen sulke verwagtings en die werklikheid aan voortdurende onderhandeling en verstelling onderhewig is, is eweneens vanselfsprekend. Die onbuigsame orde wat nóg keuse, nóg vreugde ken en wat met tradisionele verhoudings verbind word, is in werklikheid ‘n fiksie wat deur ideologiese teenstaanders daarvan opgeroep word en wat in werklikheid niks méér as sy eie ideologiese onbuigsaamheid verraai nie.

Vergeet vir eers van “regte.” Nie omdat daar nie so-iets is nie, mens kry dit soms nodig en dan moet jy daarvan onthou, maar om die heeltyd met jou regte doenig te wees, het nogal die manier om jou vreugde te steel. ‘n Afgedwonge reg is bietjie soos ‘n afgedwonge standpunt, dit hou net solank soos die dwang, dit kan nie innerlike oortuiging vervang nie. Bou verhoudings, ook dié tussen die geslagte – beide die “sekse” en die “generasies” – op ervaring, tradisie, menslikheid en getoetsde waardes eerder as op ‘n siniese ideologie wat voorgee om wakker te wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *