“…the question of women being ‘equal’ to men in any sense other than political or as objects of grace, is not debatable. We are not.” – Elisabeth Elliot
In Elisabeth Elliot se boek “Let me be a woman” skryf sy aan haar dogter hartroerende briewe wat oor vrouwees handel. Elisabeth (1926 – 2015) was uitgesproke teen feminisme maar het in haar lewe baie meer dapper dinge aangepak as waarvoor die gemiddelde man of vrou kans sou sien.
In hierdie boek haal sy vir Kathy Keller aan:
“Die skepping het in sy wese die fundementele patroon van oorheersing en onderwerping. Krag en onmag, eb en vloei, gee en neem, is polariteite wat saamwerk tot ’n geheel.
Selfs die fisiese ryk word bymekaar gehou deur die positiewe en negatiewe aantrekkingskrag van atomiese deeltjies. Oral in die skepping sien ons teenoorgesteldes wat saam inhaak om ’n beter eenheid te vorm.
Ons weet dat hierdie orde van “oorheers en onderwerp” van God se eie natuur afkomstig is. Binne die Godheid is daar die regverdige gesag van die Vader en die gewillige en vreugdevolle onderdanigheid van die Seun. By die gemeenskap tussen die Vader en die Seun, kom nog ’n derde Persoon by: Die Heilige Gees. En hier, in die refleksie van die natuuur van die Drie-Eenheid lê die sleutel tot manwees en vrouwees opgesluit. Die beeld van God kan nie ten volle gereflekteer word sonder die elemente van oorheersing, onderwerping en eenheid nie.”
Die oomblik toe ek ma geword het, het ’n massiewe en tog vreugdevolle roeping hom met pienk voete in my hart kom vastrap. Saam met die geboorte van my oudste seun (nou 14), was daar iets anders daardie dag gebore: ’n Ma.
Die allesoorheersende wete dat ek my lewe vir hierdie klein mannetjie(s) sal gee, kon ek nog drie keer na dit met vreugde ervaar. Dat al 4 nog lewend is, (met al hulle ledemate nog heel!), is genade om die minste te sê.
Die hart van ’n seun gaan soek mos avontuur en sal dit stormloop om elke hoek en draai. Daarom moes ek die geweldige drang om hierdie vier seuns ten alle koste te beskerm, doelbewus in toom leer hou. Maar om die span gevoed, gesond en aan die lewe te hou, was nie my enigste roeping nie. Hierdie seuns word manne.
Stadig maar seker neem my roeping as ma ’n ander, meer komplekse, inherent meer instinktiewe vorm aan: dié van ’n vrou wat onderdanig is aan ’n man. Die einddoel? Om seuns groot te maak wat Godvresende manne word en hulle rol as koning, priester en profeet in hulle huisgesinne met gemak kan vertolk.
’n Tasbare bewys vind jy Sondag in die kerk, wanneer die vier seuns hier langs my opstaan as ons bid, en ek as vrou, bly sit. Hulle het die verduideliking, dat hulle eendag die hoof van hulle huisgesinne gaan wees, sonder moeite aanvaar. Net soos ek sonder moeite aanvaar dat die seuns fisies sterker as ek is, tegnies beter aangelê en sommer net taaier. Alhoewel daar nog volwassenheid skort, is daar reeds ’n emosionele standvastigheid wat ek by hulle opmerk, wat dikwels by myself ontbreek.
As ons ons verdiep in die geheimenis van die skepping van Adam en Eva, kom hierdie waarheid van oorheers en onderwerp duidelik na vore. Eva is uit Adam geskape en sal daarna haar roeping as sy helper vind. As hierdie konsep te ingewikkeld en onregverdig voel, delf ons nog nie diep genoeg in God se Woord nie.
Die kwessie van gelykheid hoef nie vir die gelowige vrou ’n struikelblok te wees as sy haar Godgegewe roeping omhels nie. Om hierdie skeppingsorde te verstaan, moet ons die Skepper daarvan verstaan. In Sy liefde en lankmoedigheid is daar nie ’n tikkie magsbeheptheid by God te bespeur nie.
Hy is wie Hy is. Die begin en die einde. Die Alfa en Omega.
Selfs as Almagtige soek hy nie wettiese onderwerping nie, maar begeer Hy ons harte. Die mens se hart is die hoogste offer wat hy kan gee en dis presies waarna ons Vader met jaloersheid smag.
Wanneer ons manwees en vrouwees in hierdie beeld van God beskou, sal die hoof van die huis nie wettiese onderwerping afdwing nie, maar eerder die hart van sy vrou wil wen. Sy, aan die ander kant, sal met vreugdevolle gewilligheid haar hart en siel aan hom onderwerp. In hierdie liefdespel kom die eenheid na vore waar nie meer man of vrou later die onderskeid kan tref tussen waar die een begin en die ander een ophou nie.
Ons sien die behoefte aan oorheersing en onderwerping ook in die sekulêre en wêreldse uitbeelding van seksuele dominansie en onderdanigheid. Dink maar aan die groot sukses van flieks en boeke wat oor die onderwerp handel. Die orde word hierin afgebreek tot iets oppervlakkig, maar wat ons as gelowiges wel daaruit kan wysword is dat daar in die mens altyd inherent die behoefte opgesluit lê om te oorheers (of die behoefte om te onderwerp).
Die natuurlike orde is wel versteur, maar as ons ons oë op ons Bruidegom gevestig hou, sal ons hierdie geheimenis al hoe beter verstaan. Ons ervaar nou ’n voorsmakie in ons manwees en vrouwees, oor hoe “die groot bruilof” eendag gaan wees wanneer die Bruidegom sy bruid gaan kom haal om met Hom volmaak verenig te word.
Lees gerus Elisabeth Elliot se biografie by www.inspirationalchristians.org/evangelists/elisabeth-elliot-biography/