Feminisme, die liggaam en die masjien

Wendell Berry (1989)

Uit: The Art of the Commonplace. The Agrarian Essays of Wendell Berry. Edited and Introduced by Norman Wyrzba. Berkeley: Counterpoint. 2002.

‘n Tyd gelede het Harper’s ‘n kort essay van my herdruk waarin ek ‘n paar redes aangevoer het waarom ek nie van plan is om ‘n rekenaar te koop nie. Tot op daardie stadium het die oorweldigende meerderheid mense wat verskil het van wat ek skryf, dit meestal geïgnoreer. ‘n Ongewone klomp mense het egter dié keer nagelaat om my ongevoeligheid vir die wonder van rekenaarverheffing te tenlaat verbygaan. Sommige van ons, so lyk dit, sou eenvoudig beter daaraan toe wees as ons net wou besef dat ons in die beste moontlike wêreld woon, en dat dit selfs beter gaan word as ons die regte toerusting aankoop.

Harper’s het net vyf van die briewe wat die redaksie in antwoord op my essay ontvang het, gepubliseer en hulle het almal ‘n negatiewe strekking gehad. Maar van die twintig briewe wat Harper’s se redaksie ontvang het en wat hulle vir my deurgestuur het, was drie gunstig gestem. Dit het ek besonder genoeglik gevind. As hierdie briewe ‘n goeie steekproef verteenwoordig, beteken dit dat een uit elke sewe van Harper’s se lesers met my saamstem. As ek vooraf moes raai, sou ek verwag het dat dit minder as een uit ‘n duisend sou wees. Dan veronderstel ek boonop, by tweede gedagte, dat my verrassing met die hewigheid van die aanvalle op my misplaas was. Daar is meer van ons as wat ek gedink het. Daar is dalk selfs ‘n “aansienlike hoeveelheid” van ons.

Net een van die negatiewe briewe het vir my regtig skerpsinnig voorgekom. Dit was van RN Neff van Arlington, Virginia, wat die spyker op die kop geslaan het: “Sonder om stompsinnig te wees, maar gewillig om my ongeletterde siel te openbaar vir almal om te sien, is daar ooit ‘n ‘werk aantoonbaar beter as Dante s’n’ … wat op ‘n Royal standard tikmasjien geskryf is?” Van dié teregwysing hou ek soveel dat ek geneig is om dit onder die positiewes te tel, wat die totaal op vier te staan sou bring. Die res van die negatiewe antwoorde, soos die vyf gepubliseerdes, het meer gevoel as verstand vertoon. Party van hulle kan selfs as luidrugtig beskryf word.

Een van die briefskrywers het my as “‘n dwaas” beskryf, en as “‘n dubbele dwaas”, maar het gelukkig my naam verkeerd gespel, wat aan my die glimmer van hoop gelaat het dat ek dalk nie die “Wendell Barry” is na wie hy verwys het nie. Twee ander het my van eiegeregtigheid beskuldig, waarby hulle waarskynlik bedoel het dat hulle dink hulle is méér reg as wat ek dink ek is. Nog een het my daarvan beskuldig dat ek meer begaan is oor my morele suiwerheid as oor “enige ekologiese effek,” die soort vlymskerp filosofiese onderskeid wat kan meebring dat jy tot president verkies word.

Maar die meeste van my aanvallers handel met gevoelens van feministiese of tegnologiese aard, of met beide. Die gevoelens wat uitgedruk is, dui skynbaar aan wat die stand van openbare emosie mens toelaat om te voel, en wat die openbare retoriek mens toelaat om te sê. Die strekking van die verskillende briewe is naamlik eners genoeg om as verteenwoordigend beskou te word, en as verteenwoordigende briewe is hulle van groter belang as die twis wat hulle veroorsaak het.

*          *          *

Die feministiese briewe beskuldig my sonder uitsondering daarvan dat ek my vrou uitbuit, en hulle huiwer nie om die mees beledigende implikasies van hulle oordele op haar te laat neerkom nie. Hulle besef hoegenaamd nie dat my essay geen grondslag vir hulle beskuldigings bied nie – of as hulle dit besef, gee hulle nie om nie. My essay gee in werklikheid geen ander beskrywing van my vrou as dat sy my manuskripte tik en vir my sê wat sy van hulle dink nie. Dit sê nie wat haar beweegredes is, hoeveel werk sy doen en óf of hóé sy betaal word nie. Buiten om te sê dat sy my vrou is en dat ek haar hulp met my werk hoog aanslaan, sê dit niks van ons huwelik nie. Dit sê niks van ons ekonomie nie.

Mens kan die gevolgtrekking dus nie ontsnap dat ek en my vrou onderwerp word aan veroordeling ‘per kategorie’ nie. My oortreding is dat ek ‘n man is wat hulp van my vrou ontvang; my vrou se oortreding is dat sy ‘n vrou is wat sekere werk vir haar man doen – welke werk, volgens haar kritici en myne, van haar werkesel maak, uitgebuit weens gevestigde onderdanigheid. En my lasteraars het, soos ek sê, geen bewyse om enigiets hiervan die staaf nie. Hulle beskuldiging berus op ‘n silogisme van die wankelmoedigste soort: my vrou help my met my werk; sommige vroue wat hulle mans met hulle werk gehelp het, word uitgebuit; daarom word my vrou uitgebuit.

Dit doen regverdigheid natuurlik net soveel geweld aan as wat dit intelligensie beledig. Enige respektabele regstelsel bestaan deels as beskerming teen sulke beskuldigings. In ‘n regverdige samelewing word daar van niemand verwag om op ‘n algemene aanklag skuldig te pleit nie, want in ‘n regverdige stelsel kan niemand op ‘n algemene aanklag skuldig bevind word nie. Wat vir ‘n regverdige skuldigbevinding vereis word, is ‘n spesifieke aanklag wat bewys kan word. My aanklaers het geen sodanige klag teen my ingebring nie.

*          *          *

Dat feministe of enige ander voorspraakmakers vir vryheid en menswaardigheid hulle op laster en onreg moet verlaat, is jammerlik. Dit is ewe jammerlik dat al die feministiese aanvalle op my essay by implikasie die geldigheid van twee redelike en bes moontlik nodige moontlikhede ontken: die huwelik as ‘n toestand van wedersydse hulp, en die huishouding as ‘n ekonomie.

Die huwelik, in wat deesdae kennelik die gewildste weergawe is, is aan die een kant ‘n intieme “verhouding” tussen twee (ideaal gesproke) suksesvolle beroepslui in dieselfde bed, en aan die ander kant ‘n soort private politieke stelsel waarin regte en belange voortdurend bevestig en beskerm moet word. Die huwelik het, met ander woorde, nou die vorm van ‘n egskeiding aangeneem: ‘n uitgerekte en vurige geding oor hoe die goed verdeel moet word. Deur die loop van hulle verstaanbaar tydelike verbintenis, sal die “getroude egpaar” tipies ‘n groot hoeveelheid handelsware verbruik – en ‘n groot deel van mekaar.

Die moderne huishouding is die plek waar die verbuikende egpaar hulle verbruik beoefen. Niks produktief word daar gedoen nie. Die werk wat wel daar verrig word, is teen die koste van die inwonende egpaar of gesin, en vir die wins van die verskaffers van energie en huishoudelike tegnologie. Vir vermaak verbruik die huisgenote televisie of koop ander verbruikbare afleiding elders aan.

Daar is egter steeds getroude egpare wat hulle self verstaan as dat hulle aan hulle huwelik, aan mekaar en aan hulle kinders behoort. Wat hulle het, het hulle in gemeen en hulle kan mekaar help sonder om dit aan die hand van kompetisie met mekaar te verstaan. Vir hulle is “myne” nie so ‘n sterk of noodsaaklike voornaamwoord as “ons s’n” nie.

Dié soort huwelik het gewoonlik in sy kern ‘n huishouding wat tot een of ander mate produktief is. Dit beteken dat die egpaar rondom homself ‘n huishoudelike ekonomie vestig wat die werk van beide vrou én man betrek, wat aan hulle ‘n mate van ekonomiese onafhanklikheid en selfbeskerming gee, ‘n mate van self indiensneming, ‘n mate van vryheid sowel as gemene grond en gemene bevrediging. So ‘n huishoudelike ekonomie benut die dissiplines en vaardighede van huishoudkunde, van skrynwerk en ander ambagte van bouery en onderhoud, van tuinbou en ander vertakkings van bestaansekonomie, en selfs van bosbou en houtverwerking. Dit kan ook ‘n tuisbedryf van een of ander soort behels, soos ‘n klein literêrere onderneming.

Dit is voor die handliggend hoeveel vaardigheid en ywer enige deelnemer aan so ‘n huishouding kan bydra en watse goeie ekonomiese opbrengs sulke werk kan lewer, en tog is dit ‘n werkswyse wat deesdae geminag word. Mans was in die reël die eerste om dit te minag deur die huishouding agter te laat in ruil vir ‘n professionele salaris of uurloon, en nou word dit geminag deur die soort feministe wat my essay aanval. Plaasvroue wat die soort huishoudelike ekonomie wat ek beskryf het, in stand help hou, sal bes moontlik en heel neerbuigend deur feministe gevra word: “Maar wat doen jy nou eintlik?” Daardeur bedoel hulle sonder uitsondering dat daar iets beter te doen is as om jou aan jou eie huwelik en huishouding te wy, en met ‘beter’ bedoel hulle sonder uitsondering ‘n buitenshuise beroep.

*          *          *

Ek besef dat ek nou op dun ys is, met die gevolg dat ek dit prontuit moet stel: wat ek oor die huwelik en huishouding te sê het, geld netso vir mans as vir vroue. Ek glo nie dat daar iets beter te doen is as om jou aan jou huwelik en huishouding te wy nie, of jy ‘n man is of ‘n vrou. Ek glo nie dat indiensneming buite die huis ewe waardevol of belangrik of bevredigend is as werk wat tuis beoefen word nie, of mens ‘n man is of ‘n vrou. Dit is uit my ervaring as onderwyser byvoorbeeld vir my duidelik dat kinders ‘n gewone daaglike omgang met beide ouers nodig het. Hulle het nodig om hulle ouers aan die werk te sien; hulle het aanvanklik nodig om te speel by die werk wat hulle hulle ouers sien doen, en dan het hulle nodig om saam met hulle ouers te werk. Dit maak nie soseer saak dat die saamwerk sal wees wat as “kwaliteit tyd” beskryf word nie, maar dit maak baie saak dat die werk wat verrig word die waardigheid van ekonomiese waarde sal hê.

Laat ek ook sê dat ek verstaan hoe gelukkig ek is om ‘n groot deel van my werk tuis te kan doen. Ek weet dat in baie huwelikke beide mans én vroue dit nodig vind om buitenshuis te werk. Die kwessie word natuurlik vergemoeilik as mens vra wat met “nodig” bedoel word, maar dit is waar dat ‘n gesinslewe waarvoor onlangs nog deur een loopbaan voorsien kon word, nou twee of meer inkomstes vereis. My saak is nie om met individuele persone, mans of vroue wat buitenshuis werk, te baklei nie, maar eerder om te vra waarom die buitenshuise loopbaan so algemeen as ‘n begeerlike toestand beskou word, of dit nou vir mense of vir huwelikke geld, of vir ons samelewing of vir ons land.

As ek in my essay geskryf het dat my vrou by ‘n uitgewer as ‘n tikster en redakteur gewerk het en dieselfde werk sou verrig as wat sy vir my doen, sal ek waag om te sê dat geen feminis aan Harper’s sou geskryf het om my aan te val omdat sy uitgebuit word nie – selfs al het ek haar, vir al wat hulle weet, gedwing om dit te doen sodat ek my dobbelskuld kan betaal. Dit sou eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar word dat, as sy ‘n werk buite die huis het, sy ‘n “bevryde vrou” is, beklee met ‘n waardigheid wat geen huis haar sou kon gee nie.

Ek het al voorheen gesê ek verstaan dat mens nie ‘n toereikende openbare verdediging van ‘n private lewe kan uitwerk nie. Enigiets wat ek hier oor my huwelik kan sê, sal onmiddelik (en tereg) verdag wees op grond daarvan dat dit net my getuienis is. Maar kom ons veronderstel argumentsonthalwe dat, watse werk my vrou ookal as lid van ons huwelik en huishouding doen, sy as beide ‘n volle ekonomiese venoot en as haar eie baas doen, en kom ons veronderstel die ekonomiese basis is voldoende vir ons behoeftes. Waarom, as ons dié veronderstellings aanvaar, sou enigeen verwag dat my vrou haar vryheid of waardigheid of bevrediging sou verhoog deur die werknemer van ‘n baas te word, wat op sy beurt weer ‘n korporatiewe onderdaan is en in geen opsig ‘n deelgenoot nie?

Waarom sou enige vrou wat behoorlik weier om die huweliksbelofte van gehoorsaamheid af te lê (skynbaar op grond daarvan dat ondergeskiktheid aan ‘n blote mede-mens onmenswaardig sou wees) dit dan as “bevrydend” beskou om ‘n pos te aanvaar wat haar vervolgens onder die gesag van ‘n baas plaas (man of vrou), wie se gesag uitdruklik gehoorsaamheid benodig en vereis? Dit is maklik genoeg om te sien waarom vroue beswaar maak teen die rol van Blondie, ‘n meestal dekoratiewe opsigter van ‘n gedegradeerde moderne verbruikershuishouding, haar aandag opgeneem deur klere, inkopies, skinderpraatjies en hoe om haar man te uitoorlê. Maar is die antwoord dat mens moet ophou om Blondie te wees deur Dagwood te word? Is die lewe van ‘n korporatiewe ondergeskikte – selfs as mens toegee dat korporatiewe ondergeskikte goed betaal word – ‘n aanvaarbare bestemming vir die soektog na menswaardigheid en erkenning? Dit is boonop duidelik dat mens nie ophou om ondergeskik te wees deur “die top” te bereik nie. Die korporatiewe lewe bestaan net uit laer en hoër ondergeskiktes. Daar is oral base en al die base is weer aan iemand ondergeskik. Dit word onteenseglik bewys wanneer die tyd kom om verantwoordelikheid vir iets onaangenaam te aanvaar, soos Exxon fiasko in Prince William Sound, waarvoor sekere laer ondergeskiktes die blaam moes dra, maar geen hoër ondergeskiktes verantwoordelik gehou is nie. Die boonste onderhoriges, soos telefoon operateurs, het mag en gesag, maar nie verantwooredlilkheid nie.

En die onderdrukking wat sommige van die kantoorwerk behels, is ongelooflik. Edward Mendelsohn (in die New Republic, 22 Februarie 1988) praat van “die kantoorwerker wie se sleutelbordaktiwiteit deur ‘n sentrale rekenaar by personeelbestuur gemonitor word en wat in die pad gesteek sal word as dit nie aan die korporatiewe kwota voldoen nie.”  (Mnr Mendelsohn sê nie van watse donkiewerk dié werker verlos word nie.) En wat moet mens sê van die landelike huisvrou met uiteenlopende vaardighede wat nou dag in en dag op’n monteerbaan dieselfde ses gate boor? Na watter hoër vorm van vrouwees of mensheid is sy besig om te ontwikkel?

Hoe, vra ek, verbeter vroue hulself deur hulle aan dieselfde spesialisering, degradering, trivialisering en tirannisering van werk te onderwerp as waaraan mans hulle onderwerp het? En dié vraag se geldigheid word deur ‘n ander vraag onderstreep: Hoe het mans hulleself verbeter deur hulle daaraan te onderwerp? Die antwoord is dat mans hulleself nie verbeter het, en dat vroue hulleself nie kan verbeter, deur hulle aan dié regime te onderwerp nie.

Vroue kla tereg oor die gedrag van “macho” mans. Maar ten spyte van hulle “he man”-pretensies en hulle bekoring deur manlike helde van sport, oorlog en die Ou Weste, is die meeste mans heeltemaal daaraan gewoond om hulle base te gehoorsaam en by hulle witvoetjie te soek. Dit bring natuurlik mee dat hulle hulle werk haat – hulle mompel “goddank dis Vrydag,” maar hulle voer die bevele uit. Hulle is inskikliker as wat die meeste huisvroue ooit was. Hulle persoonlikhede huisves ‘n kombinasie van feudale onderdanigheid en moderne hulpeloosheid. Hulle het, naastenby sonder beswaar en dikwels met verligting, die onteiening van enige bruikbare eiendom aanvaar, en saam daarmee van ekonomiese onafhanklikheid, asook die gevolglike ondergeskiktheid aan base. Hulle het hulle aan die vernietiging van die huishoudelike ekonomie en dus van die huishouding onderwerp, en daarmee aan die verlies van tuiswerk en selfindiensname, aan die vernietiging van hulle gesinne en gemeenskappe, aan die ontheiliging en plundering van hulle land; hulle het aangehou om kruiperig te glo en gehoorsaam te wees aan en te stem vir diegene wat hierdie vernietiging aangehits het en wat die meeste daarby gebaat het. Hierdie mans is boonop te hopeloos om iets vir hulleself of vir enigiemand anders te doen sonder geld, met die gevolg dat hulle vir geld doen wat ookal hulle beveel word. Hulle weet dat hulle vermoë om bruikbaar te wees presies bepaal word deur hulle gewilligheid om iemand anders se instrument te wees. Is dit ‘n wonder dat hulle rof praat en atlete en cowboys aanbid? Is dit ‘n wonder dat party van hulle geweldadig raak?

Dit is duidelik dat vroue in alle regverdigheid nie uitgesluit kan word van die daaglikse rusie waardeur die indistriële ekonomie die buit van die samelewing en die natuur verdeel nie, maar hulle insluiting spreek van bedenklike geregtigheid en is geen rede vir applous nie. Die onderneming is net so verwoestend mét vroue as wat dit voorheen sonder hulle was. Daar is geen teken dat vroue ‘n “beskawende” invloed daarop uitoefen nie. Om ‘n gelyke deel aan die monster van ons nasionale vandalisme te hê, is om ‘n vandalis te wees. Om dié vandalisme “bevryding” te noem, is om ‘n gevaarlike verwarring wat vroeër hoofsaaklik manlik was, uit te brei en te bevestig.

‘n Breër, dieper kritiek is nodig. Die probleem is nie net die uitbuiting van vroue deur mans nie. ‘n Groter probleem is dat vroue en mans eweseer instem tot ‘n ekonomie wat vroue en mans en alles anders uitbuit.

Nog ‘n billike moontlikheid wat my kritici by implikasie misken, is dié van werk as ‘n geskenk. Nie een van hulle het oorweeg dat my vrou dalk ‘n raadgewende ingenieur is wat my uit die goedheid van haar hart in haar vrye tyd help nie; in plaas daarvan het hulle veronderstel dat sy ‘n “huishoudelike werkesel” is. Maar wat hulle skynbaar die woedendste maak, is hulle vermoede dat sy verniet werk. Hulle aanvaar – en dit is die ortodokse veronderstelling van die industriële ekonomie – dat die enigste hulp wat die moeite werd is om te gee, in werklikheid nie gegee kan word nie, maar verkoop moet word. Liefde, vriendskap, buurmanskap, meelewing, plig – wat is dit? Ons sal uitkyk vir jou inbetaling.

*          *          *

Die verskillende inkortings wat ek beskryf het, is die redelik regstreeks gevolge van ‘n voortgaande revolusie in toegepasde wetenskap, bekend as “tegnologiese vooruitgang.” Hierdie rewolusie het die middele voorsien met behulp waarvan beide die produktiewe én die verbruikende vermoëns van mense van die huishouding en gemeenskap ontkoppel kon word en in diens van ander mense se suiwer ekonomiese doelwitte gestel kon word. Dit het boonop ‘n glans van nuutheid, gemak en welvaart voorsien wat selfs diegene wat die meeste daaronder gebuk sou gaan, verlei. Hierdie rewolusie het veral in die meer onlangse geskiedenis daarin geslaag om ongehoorde hoeveelhede verbruikersgoedere en dienste binne die bereik van gewone mense te bring. Maar die tegniese middele van hierdie algemene “welvaart” het dit terselfdertyd moontlik gemaak om die werklike eiendom en werklike mag van die land in minder en minder hande te konsentreer.

Sommige mense wil glo dat hierdie lang opeenvolging van industriële nuwighede die menslike lewe en die menslike aard op grondige maniere verander het. Dalk het dit – maar bes moontlik omtrent altyd ten kwade. Ek weet dat “tegnologiese vooruitgang” verdedig kan word, maar ek sien dat die verdediging altyd kwantitatief is – katalogusse van statistiek wat byvoorbeeld op motorbesit en televisiestelle betrekking het, of op stygende lewensverwagting – en ek sien dat hierdie statistiek altyd noukeurig weggehou word van verbandhoudende syfers rakende grondverlies, besoedeling, sosiale disintegrasie, en dies meer. Dit beteken daar word nooit gepoog om die netto effek van hierdie vooruitgang vas te stel nie. Die stem wat vooruitgang verdedig is nooit dié van ‘n verantwoordelike boekhouer nie, maar van die propagandis of die verkoopsman wat aanvoer dat die nettowins meer as 100 persent is – dat die ding wat ons gekoop het, alles wat dit gekos het volledig vervang … en nog heelwat daarby gevoeg het: “Jy kan eenvoudig nie verloor nie!” Ons het dus ryk geword deur geld uit te gee, net soos die adverteerders beloof het, en die beste van alle moontlike wêrelde word elke dag nog beter.

Die styging in lewensverwagting is die industriële apologeet se gunsteling argument, dalk omdat dit die moeilikste is om mee te stry. Hierdie beklemtoning van lang lewensduur is egter ‘n uitstekende voorbeeld van hoe die losstaande oogmerke van die industriële denkwyse die menslike lewe inperk en verteken, asook van die manier waarop statistiek die waarheid kan vervals. ‘n Lang lewe was in werklikheid nog altyd nastrewenswaardig; dit lyk of alles wat lewe wens om aan te hou lewe. Maar voorheen sou daardie stelling gekwalifiseer word: ‘n lang lewe is begeerlik en alle dinge wil graag lewe tot op ‘n punt. Anderkant ‘n bepaalde punt en onder sekere omstandighede word die dood verkieslik bo die lewe. Almal sou saamstem dat ‘n goeie lewe verkieslik is bo een wat maar net lank is, en dat die goedheid van ‘n lewe nie bloot aan die lengte daarvan gemeet kan word nie. Die statsitici van lewensduur ignoreer die ‘goeie’ in beide betekenisse; hulle vra nie of die lang lewe deugsaam was nie en ook nie of dit bevredigend was nie. As dit oor die lewe van ‘n bose misdadiger gaan, of as dit met moeite verleng word in die hel van gevangenskap van die mediese industrie, dit maak nie saak nie – beide dra by tot die getalle wat “bewys” hoe gelukkig ons is om in hierdie tyd te lewe.

Maar in die algemeen het, buiten vir die uiters gespesialiseerde standaarde van hoeveelheid en doeltreffendheid, “tegnologiese vooruitgang” sosiale en ekologiese agteruitgang bewerkstellig. Industriële oorlog is, buiten aan fanaties beperkte maatstawwe gemeet, slegter as wat oorlog voorheen was. Industriële landbou het, buiten aan die maatstawwe van hoeveelheid en tegniese doeltreffendheid gemeet, alles waarop dit ‘n uitwerking het, benadeel. Industriële vakmanskap is beslis slegter as tradisionele vakmanskap en gaan elke dag agteruit. En na sowat veertig jaar is daar oral bewys dat televisie by verre nie ‘n wonderlike opvoedingsinstrument geword het nie, maar ‘n middel vir bedwelming en disintegrasie. Industriële onderwys het die ou plig om ‘n kulturele en intellektuele erfenis oor te dra, verruil vir kinderbewaking en loopbaanvoorbereiding.

Na etlike geslagte van “tegnologiese vooruitgang” het ons in werklikheid ‘n volk geword wat nie oor enigiets belangrik kan dink nie. Hoe ver moet ons nie in die natuurlike orde afgaan om skepsels te vind wat hulle kleintjies so traak-my-nie-agtig grootmaak as wat industriële mense dit doen nie? Selfs die Huismossie laat nie ‘n jong mossie wat nog geen sin van sy eie identiteit of volwasse verantwoordelikhede het, in die straat vry nie. Wanneer anders in die geskiedenis sou jy “opgevoede” mense raakloop wat meer van sport as van die geskiedenis van hulle land weet, of onopgevoede mense wat nie die verhale van hulle families en gemeenskappe ken nie?

*          *          *

Om ‘n nog meer voor die handliggende vraag te stel, wat is die oogmerk van hierdie tegnologiese vooruitgang? Watter hoër doel dink ons, dien dit? Die doel kan sekerlik nie die integriteit of geluk van ons gesinne wees, wat ons aan die onderwysstelsel, die televisiebedryf, en die verbruikersekonomie ondergeskik gestel het nie. Dit kan sekerlik nie die integriteit en welstand van ons gemeenskappe, waaraan ons selfs minder waarde as aan ons gesinne heg, wees nie. Dit kan sekerlik nie liefde vir ons land wees nie, want ons is veel meer begaan oor die ontering van ons vlag as die verkragting van ons grond. Dit kan sekerlik nie liefde vir God wees, wat in ons daaglikse omgang ten minste so min tel as ons liefde vir ons gesin, gemeenskap en land nie.

Die hoër doelwitte van “tegnologiese vooruitgang” is geld en gemak. En die verheerlikte gierigheid om altyd meer geld en gemak te wil hê, word vermom en geregverdig deur ‘n duister en bygelowige vertroue in “die toekoms.” Ons doen wat ons doen, sê ons, “ter wille van die toekoms” of “om ‘n beter toekoms vir ons kinders te verseker.” Hoe ons hoop om ‘n beter toekoms te verserker deur in die hede slegte dinge te doen, dit sê ons nie. Oor die toekoms kan ons egter nie só dink nie, want die toekoms bestaan nie sonder meer nie: die bestaan van die toekoms veronderstel ‘n geloofsbelydenis. Al wat ons vir seker kan weet, is dat as daar ‘n toekoms is, die goeie daarvan reeds in die goeie dinge van die hede inbegrepe is. Ons het nie nodig om ‘n “toekomstige wêreld” te beplan of te ontwerp nie, as ons met sorg na die huidige wêreld omsien, sal ons volle reg aan die toekoms laat geskied. ‘n Goeie toekoms is inbegrepe in die grond, die woude, die grasvelde, moerasse, woestyne, berge, riviere, mere en oseane wat ons nou het, en in die goeie aspekte van menslike kultuur waaroor ons nou reeds beskik; die enigste geldige “futurologie” waaroor ons beskik, is om met sorg daarna om te sien. Ons het glad nie nodig om met “die toekoms van die mensdom” te karring nie; ons het dieselfde behoefte wat ons nog altyd gehad het – om ons kinders lief te hê, te versorg en te leer.

En so is die vraag na die wenslikheid daarvan om tegnologiese vernuwing te aanvaar, ‘n vraag met twee moontlike antwoorde – nie net een soos algemeen veronderstel word nie. As mens se beweegrede geld, gemak en haas na ‘n tegnologies bepaalde toekoms is, dan is die antwoord ‘n uitgemaakte saak en is daar in werklikheid geen vraag en geen denke nie. As mens se beweegrede daarenteen liefde vir jou gesin, gemeenskap, land en God is, dan sal mens moet dink en dan kan mens tot die slotsom kom dat die voorgestelde vernuwing onwenslik is.

Die vraag na hoe om afhanklikheid van tegnologiese vernuwing wat reeds aanvaar is, te beëindig of te verminder, is verbluffend moeilik. Altans, dit verbyster my. Ek kon byvoorbeeld nog nie sien hoe mense wat op die platteland woon waar daar geen openbare vervoer is, hulle motors kan prysgee sonder om minder bruikbaar vir mekaar te wees nie. Dit is omdat, deels juis onder die invloed van die motor, ons te ver van mekaar en van die goed wat ons nodig het af woon om motorloos oor die weg te kom. Jy kan natuurlik sonder ‘n motor of ‘n bakkie regkom, maar om dit te doen sal meebring dat jy jou van baie verpligtinge losmaak. Niks wat ek tot dusver oor hierdie probleem kon dink, stel my tevrede nie.

Maar as ons aandag gegee het aan die invloed van die motorkar op landelike gemeenskappe, dan weet ons dat die wenslikheid van tegnologiese vernuwing ‘n kwessie is wat nadenke vereis, en dan moesons die vermoë om daaroor te dink, verwerf het. Dus, as ek deels ‘n skrywer is en ek word ‘n duur masjien aangebied om my te help skryf, behoort ek te vra of so ‘n masjien wenslik is of nie.

Ek behoort in die eerste plek te vra of ek ‘n oplossing wil aankoop vir ‘n probleem wat ek nie het nie. Ek erken dat, as ‘n skrywer, ek baie hulp nodig het. Maar ek het ‘n oorvloed van die beste hulp denkbaar van my vrou ontvang, en van gesinslede, vriende, onderwysers, redakteurs en soms van lesers. Hierdie mense het my uit liefde en vriendskap gehelp, én dalk in ruil vir hulp wat ek aan hulle verleen het. Ek veronderstel ek moet die moontlikheid ooplaat dat ek meer hulp nodig het as wat ek ontvang, maar dit sal ook ondankbaar en gierig wees om daarop aanspraak te maak.

Maar ‘n rekenaar, so word gesê, bied ‘n soort hulp wat jy nie van ander mense kan kry nie; ‘n rekenaar sal jou help om vinniger, makliker en meer te skryf. Vir ‘n tyd lank het dit vir my gevoel of elke universiteitsprofessor wat ek raakloop dit vir my sê. Wil ek egter vinniger, makliker en meer skryf? Nee. My maatstawwe is nie spoed, gemak en hoeveelheid nie. Ek het alreeds te veel bewyse verskaf dat ek met ‘n potlood té vinnig, te maklik en te veel skryf. Ek wil ‘n beter skrywer wees en daarvoor het ek die hulp van ander mense nodig, nie van ‘n masjien nie.

Die professore wat vir my spoed, gemak en hoeveelheid aanbeveel het, het natuurlik die maatstawwe van hulle universiteite gebruik. Die hoofoorweging van die industriële stelsel, met ander woorde ook van die huidige universiteitstelsel, is om werk goedkoper te maak deur die volume te verhoog. Maar inbegrepe by die professore se aanbevelings was die idee dat mens moet by bly by die tye. Die toonaangewende akademiese denkers het die laaste tyd ‘n groot hunkering getoon om só by te bly. Dit pla hulle nie om by te bly by die Joneses nie, as intellektuele weet hulle dat hulle veronderstel is om Nonkonformiste en Onafhanklike Denkers te wees, wat op die Snykant van Menslike Denke lewe. En so is hulle almal angstig om by te bly – wat beteken om die nuutste tegnologiese hulpmiddels in die hande te kry sodra die Joneses dit doen.

Wil ek by bly by die tye? Nee.

*          *          *

My wens is eenvoudig om my lewe so voluit te lewe as wat ek kan. In beide ons werk én ons ontspanning, dink ek, behoort dit ons benadering te wees. En in ons tyd beteken dit dat ons onsself moet weerhou van die produkte wat ons gevra word om te koop – om, in die finale instansie, onsself te vervang.

Die onmiddelikste gevaar van “tegnologiese vooruitgang” wat ons moet vrees, is die degradering en oorbodigheid van die liggaam. Inbegrepe in die tegnologiese revolusie was uit die staanspoor ‘n nuwe weergawe van ‘n ou dualisme, een wat altyd destruktief was en nou vernietigender as ooit geword het. Vir eeue lank was daar mense wat die liggaam, soos die natuurlike wêreld, as ‘n hindernis vir die sielbeskou het, en gevolglik die liggaam gehaat het soos hulle die natuurlike wêreld gehaat het en verlang het om daarvan bevry te wees. Hulle het die liggaam, gemeet aan geestelike maatstawwe, as ondraaglik onvolkome beskou. Meer onlangs, sedert die aanvang van die tegnologiese rewolusie, het meer en meer mense die menslike liggaam, soos die res van die natuurlike skepping, as ondraaglik onvolkome begin beskou, gemeet aan meganiese standaarde. Hulle beskou die liggaam as ‘n belemmering vir die gees – die gees dan gereduseer tot ‘n stel meganiese idees wat deur masjiene toegepas kan word – sodat hulle dit haat en vry daarvan wil wees. Die liggaam het perke wat die masjien nie het nie, vervang daarom die liggaam met die masjien sodat die masjien as ‘n onbeperkte idee kan voortgaan.

Dit is vreemd dat ons tyd as gevolg van sy “seksuele vryheid” as besonder fisies beskou sou word. In werklikheid is ons “seksuele rewolusie” ‘n oorwegend industriële verskynsel waarby die liggaam vir die idee van plesier gebruik word, of as ‘n plesiermasjien met die doel om natuurlike plesier van die natuurlike gevolge te “bevry”. Soos enige ander industriële onderneming poog industriële seksualiteit om die natuur te verower deur dit uit te buit en die gevolge te ignoreer, deur enige verband tussen natuur en gees, liggaam en siel te ontken en deur enige sosiale verantwoordelikheid te ontduik. Die geestelike, fisiese en ekonomiese koste van hierdie “vryheid” is enorm, maar word op kenmerkende wyse verkleineer of geïgnoreer. Die siektes van seksuele onverantwoordelikheid word as ‘n tegnologiese probleem beskou en as ‘n belediging vir vryheid. Industriële seks vestig sy vryheid en goedheid kenmerkend met behulp van industriële rekeningkunde, deur die pligsgetroue optel van hoeveelhede “seksmaats” klimakse, ensovoorts, met die noodwendige implikasie dat die liggaam ‘n soort perk plaas op die idee van seks, wat sommer aansienlik oorvloediger sal wees so gou as wat dit deur robotte beoefen kan word.

Hierdie haat jeens die liggaam en die liggaamlike lewe binne die natuurlike orde, altyd stilweg inbegrepe by die tegnologiese rewolusie (en dikwels uitdruklik en wraaksugtig teenwoordig), is vir ‘n kunstenaar van belang omdat kuns, soos seksuele liefde, tot die liggaam behoort. Soos seksuele liefde behoort die kuns ook tot die denke en die gees, maar dit word met die liggaam gemaak en tot die sintuie gerig. Om die intimiteit van liggaamlike betrokkenheid by die maak van ‘n kunswerk (bedoelende enigiets wat vakkundig gemaak word) te beperk of uit te sluit, plaas die kunswerk en die kuns self onafwendbaar op risiko. Bykomend by die redes wat ek al aangegee het, wat ek steeds glo goeie redes is, gaan ek nie ‘n rekenaar gebruik nie omdat ek nie my liggaamlike betrokkenheid by my werk wil verminder of versteur nie. Ek wil myself nie die plesier van liggaamlike verweefdheid met my werk ontsê nie, want dié plesier lyk vir my na die teken van onontbeerlike integriteit.

Met die eerste oogopslag lyk skrywery dalk nie naastenby soveel na ‘n liggaamlike kuns as byvoorbeeld dans of tuinmaak of houtwerk nie. En tog is taal die fisies intiemste van alle artistieke middele. Ons het dit voelbaar in ons monde, dit is ons langue, ons tong. Wanneer ons dit skryf, vorm ons dit met ons hande. As ons hardop lees wat ons geskryf het – wat ons moet doen as ons noukeurig skryf – gaan ons taal in deur die oë, uit deur die mond, in deur die ore; die woorde is ingedompel en geweekin die sinne van die liggaam voordat dit sin maak in die verstand. Hulle kan nie sin maak in die denke alvorens hulle nie sin gemaak het in die liggaam nie. Verleen dit karakter en gehalte aan mens se woorde as dit met jou eie hande gevorm word, soos dit gebeur as mens dit met jou eie mond uitspreek tot bevrediging van jou eie oor? Daar is geen manier om te bewys dat dit so is nie. Aan die ander kant, daar is geen manier om te bewys dat dit nie so is nie, en ek glo dat dit so is.

Die handeling om taal neer te skryf, is nie so ‘n nadruklik tasbare daad as om ‘n huis te bou of viool te speel nie. Maar in soverre dit inderdaad tasbaar is, is ek lief vir die tasbaarheid daarvan. Die rekenaarapologeet, so lyk dit my, het die waarde van die handgeskrewe manuskrip grootliks onderskat. Ek bedoel nie dat die skrywer ‘n kunstige kaligrafis hoef te wees en moet skryf asof dit uitgestal gaan word nie, maar eerder dat handskrif ‘n waardevolle invloed op die werk wat so geskryf word, het. Ek is gewis geen kaligrafis nie, maar my handgeskrewe bladsye het ‘n tuisgemaakte, handgemaakte voorkoms wat vir my beide lekker is om te hanteer én die moontlikheid van byderhandse korreksie inhou. Dit lyk ontvanklik vir verbetering. Namate die geskrewe teks in tikskrif omgeskakel word, en dan in strookproewe en die gedrukte bladsy, is dit asof dit verbetering toenemend weerstaan. Meer en meer drif is nodig om die skoon en afgeronde lyne te ontsier. Ek het die gedagte – weer eens onbewysbaar – dat hoe langer ek ‘n stuk skryfwerk in handskrif hou, hoe beter is dit uiteindelik.

Daar is vir my ook ‘n belangrike verskil tussen byderhandse korreksie en maklike korreksie. Baie word gemaak van die gemak waarmee ‘n korreksie op rekenaar aangebring kan word, danksy die onwesenlikheid van die ligbeeld op die skerm; mens druk net ‘n knoppie en die ou weergawe verdwyn om deur die nuwe vervang te word. Maar juis omdat papier wesenlik bestaan en weens die moeite wat dit meebring, skryf of tik mens nie ‘n hele bladsy oor elke keer as ‘n verbetering aangebring word nie. ‘n Handgeskrewe of getikte bladsy is dus tot ‘n sekere mate ‘n palimpses; dit bevat dele en oorblyfsels van sy eie geskiedenis – uitveemerke, paragrawe wat doodgetrek is, inskrywings tussen die lyne – wat aan die hand doen dat daar iets is om na terug te gaan sowel as iets om na vorentoe te gaan. Die ligteks op die rekenaarskerm daarenteen, is ‘n tipiese voorbeeld van wat slegs as die industriële hede beskryf kan word, die absolute hier en nou. ‘n Rekenaar vernietig die gevoel van historiese opeenvolging, net soos ander vorme van meganisering dit ook doen. Die goed gemaakte tafel of kabinet beliggaam die herinnering aan (want dit beliggaam respek vir) die boom waarvan dit gemaak is of die bos waarin die boom gestaan het. Die werk van sekere pottebakkers beliggaam die herinnering dat die klei uit die aarde opgediep is. Sekere plase huisves gasvry die oorblyfsels en herinneringe aan die woude of grasvlaktes wat hulle voorafgegaan het. Dit is selfs vir dorpe en stede moontlik om die plase, woude en grasvlaktes te onthou. Alle goeie mensewerk onthou hulle geskiedenis. Die beste skryfwerk, selfs in gedrukte formaat, is vol wenke dat dit die huidige weergawe van vorige weergawes van sigself is, en dat die maker daarvan die werk en werkswyses van vroeëre makers geërf het. Dit hou dus, selfs in druk, ‘n suggestie van die gehalte van die handgeskrewe bladsy oor; selfs dit is ‘n palimpses.

Iets hiervan word ongetwyfeld op industriële produkte oorgedra. Die plastiese Clorox beker het ‘n vorm en ‘n lus vir die voorvinger wat die kleibeker wat dit voorafgegaan het in herinnering roep. Maar iets wesenlik is verlore. Dit beliggaam geen herinnering aan sy oorsprong in die aarde of van die mensehand wat dit gevorm het nie. Of dink aan ‘n groot fabriek of kragstasie of lughawe en kyk of jy die beeld kan herroep – selfs as jy weet – van wat voorheen daar was. In sulke goed het die wêreld se materiale as’t ware wees geword.

Dit sou onvriendelik en dwaas van my wees om aan die hand te doen dat niks goeds ooit op ‘n rekenaar geskrywe sal word nie. Van my beste vriende het rekenaars. Ek het net gesê dat ‘n rekenaar jou nie kan help om beter te skryf nie, en ek staan daarby. (Om die waarheid te sê, ek ken uitgewers wat beweer dat, onder die invloed van rekenaars – of van die onbesproke kopie wat rekenaars voortbring – baie skrywers nou slegter skryf.) Wat ek wel sê, is dat skrywers wat rekenaars gebruik met ‘n radikale skeiding tussen liggaam en gees flirteer, met die uitskakeling van die werk van die liggaam as dit by die werk van die gees kom. Die teks op die rekenaarskerm, en op die drukstuk ook, het ‘n steriele, onaangeraakte, fabrieksvervaardigde voorkoms, soos dié van ‘n plastiekfluitjie of ‘n nuwe motor. Die liggaam werk nie so nie. Die liggaam laat ‘n kenmerk op alles wat dit aanraak. Dit bedek elke ding wat dit maak met spore van sy polsslag en die asemteue, van sy opwinding, huiwering, gebreke en foute. Op sy goeie werk laat dit die kenmerke van vaardigheid, sorg en liefde wat deur huiwering, gebreke en foute heen, volgehou het. En vir diegene onder ons wat die lewe van die liggaam in hierdie wêreld liefhet en eer, is hierdie merke waardevolle goed, is dit lewensnoodsaaklik.

Maar om te skryf is ook in ‘n ander opsig liggaamlik. Dit is by uitstek ‘n wandelaar se kuns. Dit kan te voet en in die opelug gedoen word. Die skoonheid van sy tradisionele toerusting is die eenvoud daarvan. En hoe goedkoop dit is. Oppad die woude in neem ek ‘n potlood en papier (enige papier – ‘n klein notaboekie, ‘n ou koevert, ‘n stuk voersak), en ek is so goed toegerus vir my werk soos die president van IBM. Ek is ook vry, ten minste vir tyd en wyl, van al IBM se bagasie. My gedagtes gaan nie van die kragnetwerk of die magstruktuur af na my toe kom nie, maar vanuit ‘n geheel en al ander rigting. My gees is vry om my voete te volg.

Ek weet daar is sommige mense, dalk baie, tot wie jy jou nie namens die liggaam kan rig nie. Vir hulle is ontliggaming ‘n doel en hulle verlang na die sfeer van suiwer denke – of suiwer masjienerie; die verskil is weglaatbaar. Hulle afskeid van hulle liggame is kennelik ‘n groot begeerte, maar laat die res van ons gewaarsku wees: hulle gaan ‘n gevaarlike opskudding veroorsaak op hulle pad uit.

*          *          *

Party van my kritici was bly om te sê dat my weiering om ‘n rekenaar te gebruik, geen goeie gevolg sal hê nie. Ek het aangevoer en is oortuig dat dit ten minste vir my goeie gevolg sal hê, en dat dit my by die bewaring van sekere kultuurgoedere kan betrek. Maar wat hulle bedoel het, was regte, praktiese openbare goeie gevolg. Hulle het bedoel dat die materiale en energie wat ek sal bespaar deur nie ‘n rekenaar te koop nie, nie “betekenisvol” sal wees nie. Hulle het bedoel dat geen individu se weerhouding van die gebruik van tegnologie of energie “betekenisvol” sal wees nie. Dit is waar.

Maar elkeen van ons dra, deur ons betekenislose mishandeling van die wêreld, by tot ‘n algemene mishandeling wat vernietigend is. En as ek een van duisende of miljoene mense sou wees wat ‘n stuk toerusting kan bekostig, selfs een waarvoor hulle ‘n denkbare noodsaak voel, en dit tog nie koop nie, dan sou dit betekenisvol wees. Waarom sal ek dan, self net vir ‘n oomblik, huiwer om een, selfs die eerste een van daardie “betekenisvolle” getal mense te wees? Thoreau het lank gelede die laaste woord gespreek oor die dwaasheid van “betekenisvolle getalle”: Waarom sal enigeen wag om te doen wat reg is totdat almal dit doen? Is dit nie ook betekenisvol om vir jou eie kinders lief te wees of om jou eie kos te eet nie? Normale mense sal nie wag totdat dit deur ‘n wet van die Kongres gemandateer word, voordat hulle liefhet of eet nie.

Een van my korrespondente vra waar mens die streep moet trek. Die vraag bring die verbystering waarna ek vroeër verwys het terug: ek is onseker waar om die streep te trek, of hoe om dit te doen. Maar dit is ‘n verstandige vraag en werd om slaap oor te verloor.

Ek weet net hoe om die streep te trek waar dit maklik is om te trek. Dit is maklik – dit is selfs luuks – om jouself die gebruik van ‘n televisiestel te ontsê, en ek beoefen daardie vorm van selfverloëning ywerig. Elke keer wat ek televisie kyk (by ander mense se huise) is ek meer geneig om myself met my selfverloëning geluk te wens. Ek het geen twyfel, soos ek gesê het, dat ek beter af is sonder ‘n rekenaar nie. Ek ontsê myself met plesier ‘n motorboot, ‘n woonwa, ‘n veldvoertuig, en elke ander soort ontspanningsmasjien. Ek het nie en begeer nie ‘n “tweede huis” nie. Ek ly met groot gemak gebrek aan gaskoeldrank, TV-etes en ander vervalste eet- en drinkgoed.

Ek is egter nog deur die motorbedryf en energieverskaffers, wat niks in hulle guns het buiten vir ons afhanklikheid van hulle nie, ingebind. Ek reis nog met vliegtuie wat niks in hulle guns het buiten vir spoed nie; hulle is ongerieflik, ongemaklik, onbetroubaar, lelik, stinkend en vreesaanjaend. Ek saag nog my hout met ‘n kettingsaag, wat ook niks in sy guns het buiten spoed nie, maar al die foute van ‘n vliegtuig, en dan vlieg dit nie eers nie.

Dit is vir my duidelik dat die streep sonder meer getrek moet word waar ookal dit maklik getrek kan word. En dit behoort maklik te wees (hoewel nie baie mense dit so vind nie) om nie te koop wat jy nie nodig het nie. As jy reeds jou probleme oplos met die toerusting wat jy het – ‘n potlood byvoorbeeld – waarom sal jy dit oplos met iets wat duurder en skadeliker is? As jy nie ‘n probleem het nie, hoekom sal jy vir ‘n oplossing betaal? As jy die vryheid en grasie van eenvoudige gereedskap waardeer, waarom sal jy jouself met ingewikkelde goed belemmer?

En tog, as ons ooit weer ‘n wêreld wil hê wat vir klein kindertjies geskik en aangenaam moet wees, dan sal ons vir seker ook die streep moet trek waar dit nie maklik getrek kan word nie. Ons sal moet leer om dinge prys te gee wat ons geleer het (al was dit net vir ‘n paar jaar) om te “benodig”. Ek is nie ‘n optimis nie, ek is bevrees dat ek nie lank genoeg sal lewe om van my gevangenskap van masjiene te ontsnap nie. Nietemin, ek sal elke dag wat ek gegun word gebruik om in my denke en omstandighede na ‘n uitkomplek te soek. En ek is nie sonder hoop nie. Ek het ‘n man geken wat in die era van kettingsae eenvoudig voortgegaan het om sy hout met ‘n handsaag en ‘n byl te bewerk. Hy was ‘n gesonder mens, na liggaam en na gees, as ek. Ek sal sy herinnering toelaat om my wakker te hou.

Leave a Reply

Your email address will not be published.