Wanneer laas het jy Genesis tot Deuteronomium deurgelees? Hierdie eerste vyf boeke van die Bybel – bekend as die Pentateug – is… wel… dis swaar EN lig. Vervelig EN interessant! Alles in een maar niemand kan stry dat dit veral boeiend is nie. Vir die een wat deur hierdie 5 boeke lees – soms worstel en soms verslind – lê groot beloning, “sy Woorde sal nie leeg terugkeer nie, maar alles doen wat Hom behaag” (Jes 55:11).
Die belangrikheid daarvan om God se Woord oop te maak by die begin – en juis daar! – lê my baie na aan die hart. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid…” (2 Tim 3:16). Ons moet die ooglopende uitwys: God begin die verhaal van die wêreld nie by Jesus nie. Hy begin HEEL voor. As ons hier begin en die res van die Woord ons eie wil maak, moet ons die eerste paar hoofstukke heelhartig glo. Dan sal ons teen die tyd wat ons by Jesus se verhaal kom, ‘n dieper, voller en meer intieme ervaring kan beleef.
‘n Aanloop tot Deut 28
Ons ontmoet vir Adam en Eva, hulle seuns… se seuns… se seuns tot ons by Noag kom. ‘n Aardskuddende gebeurtenis vind plaas! Kort daarna ontmoet ons vir Abraham en Sara, Isak en Rebekka, Jakob met sy klomp vroue en kinders. By Josef se verhaal ruk my hart oor God se voorsienigheid en Josef se vergewensgesindheid teenoor sy broers.
Die volk Israel kry bitter swaar. Ons ontmoet ‘n merkwaardige man (“…maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” – Numeri 12:3) Ons ontmoet hom in die Nyl in ‘n mandjie en die verhaal word meer en meer boeiend. Voor en na Moses was daar niemand met wie God so baie, so persoonlik en so direk gepraat het nie. Die aanloop tot Deuteronomium 28 gee vir ons ‘n diep verstaan van wat hier bedoel word.
Deuteronomium 28 – God se seëninge en vervloekinge (Uittreksels)
“AS jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God. Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.
En die Here sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die Here jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen, as jy nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie.
Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld. Vervloek sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Vervloek sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.
Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ‘n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het.”
God se gebooie
God se gebooie, word deur Jesus bevestig in een allesomvattende sin: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (Mat 22:37) Hoe kan ons Hom liefhê as ons Hom nie ken nie? Begin by die Pentateug en begin gereeld weer daar… want dis juis daar waar Hy Hom aan ons begin bekendstel.