Ek verdiep my die afgelope tyd weer in die prosa van NP van Wyk Louw en is telkens weer verras oor die trefkrag van sy taalgebruik. Hy skryf nie altyd oor maklike dinge nie, maar hy gebruik alledaagse woorde en frases en mens het eintlik geen verskoning om nie te verstaan wat hy sê nie.
Die voorbeeld wat ek wil gebruik om die punt te staaf, het met die oorspanne taal van politieke ideologie te doen. Seker omdat politieke debatte meestal gevoer word tussen mense wat reeds standpunt ingeneem het en net nog daarop uit is om aan ander te wyse hoe verkeerd hulle is – eerder as om te oortuig, wat nog te sê oorreed – word woorde wapens en begrippe vaandels wat hooggehou of afgehaal moet word. Afhangend van waar jy staan, verteenwoordig kommunisme, imperialisme ‘n skande, liberalisme ‘n dwaalleer, nasionalisme ‘n bedreiging, en so voort!
In sy opstel ‘n Lewenshouding vir ‘n moderme mens uit Lojale verset (1939), skryf Louw oor die politieke ideologieë wat mekaar in sy tyd die stryd aansê, die volgende:
“Wat vir aan hulle die oortuigingskrag vir die bestes onder ons gee, is juis dat hulle elkeen – demokrasie, kommunisme, fascisme – op een van die groot intuïsies van die mensheid – die Ideë van vryheid, van sosiale geregtigheid, van die organiese volkstaat – gegrondves is. Daarom is dit ook so moeilik vir die intellektuele mens om finaal tussen hulle te kies.”
Opvallend dat die woorde – demokrasie, kommunisme, fascisme – ‘n strydvaardigheid laat hoor wat eie is aan selfgenoegsame sisteme, aan ideologieë wat voorgee om die laaste en omvattende antwoord op die politieke vraagstukke van die moderne wêreld te gee. Daarenteen is daar ‘n groot oorvleueling en onderlinge aansluiting tussen die die idees van vryheid, sosiale geregtigheid en volke se reg op selfbekikking. Die idees, anders as die ideologieë, sluit mekaar nie uit nie, al kom daar soms ‘n skeppende spanning tussen aspekte daarvan voor.
Lewenswerklik beskou bied dit eerder perspektiewe op die ingewikkelde aard en behoeftes van die moderne sameleweling. Daarom vind Louw dit nie vreemd dat denkende mense iets van elkeen van die idees aanhang eerder as om eenvoudig kant te kies tussen die ideologieë nie. Bygesê dat sy siening van nasionalisme dan wel ruim genoeg is om al drie die groot idees te huisves: op die beste gee dit uitdrukking aan individuele vryheid, sosuale geregtigheid en ‘n volk se selfbeskikking.
As mens aanvaar dat woorde se drakrag oor tyd verander en dat Van Wyk Louw meer as ‘n halfeeu gelede hieroor geskryf het, van twee goed mens op: dat ‘n oorwoë benadering en gesonde oordeel in ‘n sin tydloos is, en dat eenvoudige taal die draer van helde denke is. Die krag van gewone woorde lê daarin opgesluit dat dit helder denke dra wat help om goeie besluite te neem – en dit is ‘n nastrewenswaardige doel!