Jou wapenregte

deur Benjamin Boshoff, Orania – Akademia student, medewerker

Minister Bheki Cele speel ‘n gevaarlike speletjie met ‘n gevaarlike nasie deur hul van een van hul mees basiese regte te wil ontneem.

Ons het onlangs in Orania Bittereinderdag (vroeër Republiekdag) gevier en dit spyt my dat die Suid-Afrikaanse Minister van Polisie nie kennis geneem het daarvan en die geskiedenis daar agter nagevors het nie. Ek sê dit, omdat ek dink dat enigeen wat die besluit neem om die Afrikaner van sy eiendom, besittings, of meer nog, sy regte, te ontneem baie oningelig of van lootjie getik moet wees.

Indien min. Cele sy huiswerk gedoen het, soos ons van enige kader wat sy sout werd is kan verwag, sou hy besef dat ons as Afrikaners partykeer gebrek ly aan tegemoetkomendheid wanneer ons bedreig word.

Die eens magtigste ryk in die wêreld, Groot Brittanje, het miljoene der miljoene ponde uitgegee om ‘n “nietige” volkie van die aardbol af te vee, omdat hulle nie hul vryheid en regte wou opgee nie. Dit het nie gewerk nie. Nou wil die ANC dieselfde geveg, op kleiner skaal aanpak. Die ANC wat nie eens water uit jou kraan kan laat loop nie. Die ANC wat nie kan verhoed dat jou Polo vir wielsporing moet gaan nadat jy Koffiefontein toe gery het nie. Die ANC wat nie kan keer dat 84 vuurwapens binne 3 maande by polisiekantore gesteel word nie. Dit is die ANC wat jou vuurwapen as oorbodig sien en hul polisiediens as voldoende.

Die probleem is egter dat die Afrikanervolk lank genoeg al bestaan om te kan sien wat kêrels soos Joseph Stalin, Mao Zedong en Adolf Hitler reg gekry het, en om sodoende nie vir dieselfde stories te val nie. Die voordeel wat ek egter dink Suid-Afrikaners het, is dat die ANC nie naastenby georganiseerd genoeg is om te kan vermag wat die bogenoemde leiers kon nie. Min Cele gaan heel waarskynlik soveel tyd daaraan spandeer om die regte kaders vir die werk te kry, dat teen die tyd wat die proses in werking moet tree, hy al vergeet het wat die proses is en wat hy wou doen.

Met ‘n agterstand van 250 000 vuurwapenlisensie aansoeke dink ek nie die manne in blou gaan weet waar om te begin wanneer die wapens terug gevat moet word nie. Hou maar steeds jou wapen veilig by jou, dit wil vir my voorkom asof jy hom dalk gaan nodig hê.

Benjamin Boshoff, Eerstejaarstudent aan Akademia in Politiek, Filosofie & Ekonomie