Twee ekonomieë

Uit The Art of the Commonplace. The Agrarian Essays of Wendell Berry. Edited and Introduced by Norman Wyrzba. Berkeley: Counterpoint. 2002.

1.

‘n Tyd gelede, in ‘n gesprek met Wes Jackson waarby ons hard probeer het om die moderne vernietiging van plaasgrond te omskryf, kom ons uiteindelik by die punt van die geldekonomie uit. Ek het aangevoer dat ‘n ekonomie wat op energie gebaseer is, gunstiger sou wees omdat dit meer omvattend sou wees.

Wes het nie saamgestem nie. ‘n Energie ekonomie sou nog steeds nie omvattend genoeg wees nie.

Wel, sê ek, watse ekonomie sou dan omvattend genoeg wees?

Hy het ‘n oomblik gehuiwer, geglimlag en toe gesê: Die Koninkryk van God.

Ek veronderstel dat Wes die begrip gebruik het omdat hy dit, op dié punt van ons gesprek, onmisbaar gevind het. Ek veronderstel so, want in my eie nadenke oor die verskyning daarvan op daardie punt, het ek dit self ook onmisbaar gevind. Die ding wat ons van die industriële ekonomie kwel, is juis dat dit nie omvattend genoeg is nie en, wat meer is, dat dit neig om te vernietig wat dit nie verstaan nie terwyl dit afhanklik is van soveel wat dit nie verstaan nie. In ons poging om so ‘n ekonomie aan kritiek te onderwerp, is ons natuurlik geneig om ‘n ekonomie te wil opstel wat niks buite rekening laat nie en ons kan sonder om te hoog op te gee, aanvoer dat die eerstre beginsel van God se Koninkryk is dat dit alles insluit; daarin is elke mossie wat val ‘n belangrike gebeurtenis. Ons is deel daarvan, of ons dit wil weet of nie en of ons dit so wil hê of nie. Nog ‘n beginsel, tegelyk ekologies en tradisioneel, is dat elke ding in God se Koninkryk beide daaraan én aan mekaar verbonde is; met ander woorde die Koninkryk van God is ordelik. ‘n Derde beginsel is dat ‘n mens nóg al die skepsels wat God se Koninkryk insluit, nóg die hele patroon of orde waarvolgens dit ingesluit word, ken of ooit kan ken nie.

Die paslikheid van God se Koninkryk as, om dit so te stel, ‘n pleknaam is deels daaraan te danke dat dit nog steeds beteken wat dit nog altyd beteken het. Ek dink dat die verleëntheid wat dié frase toenemend by geleerdes veroorsaak, tot gevolg gehad het dat dit nie in die proses van akademiese nadenke veel besoedel of mishandel is nie; dit is ‘n frase wat nog met al sy kulturele konnotasies na ons oorkom. Om te sê dat ons in die Koninkryk van God woon, dui beide op die moeilikhede van ons toestand én versterk ‘n redelik omvattende stel kulturele voorskrifte vir hoe ons daarin moet woon. Dié voorskrifte is nie altyd uitdruklik ekologies nie, maar mens kan aanvoer dat hulle altyd implisiet ekologies is, want hulle berus almal op die veronderstellings wat ek as die tweede en derde beginsels van God se Koninkryk beskryf het: dat ons ons binne ‘n orde bevind en dat die orde groter én meer ingewikkeld is as wat ons kan ken. Die moeilikheid van ons toestand word te meer duidelik as ons ‘n vierde beginsel daarby voeg: hoewel ons nie in staat is om ‘n omvattende of selfs net ‘n voldoende beskrywing van die orde te gee nie, word ons hard gestraf as ons daarvan misbruik maak of dit skend.

Ek verwys natuurlik nie net na waarnemings wat uitsluitlik Bybels is nie. Die Antieke Grieke het, volgens Abrey de Sélincourt, ‘n deurlopende morele patroon in die wisselvallighede van menslike geluk, ‘n patroon gevorm deur die geloof dat mense, as mense, aan bepaalde beperkings ondergeskik gestel is deur ‘n Mag – noem dit Noodlot of God – wat hulle nie volkome kan verstaan nie, en dat enige poging om daardie beperkings te buite te gaan op onafwendbare straf uitloop. Die Griekse naam vir die trots wat poog om menslike beperkings te bowe te gaan, was hubris en hubris was die oorsaak van wat die Grieke as tragedie verstaan het.

Naastenby dieselfde sin vir noodwendige menslike beperking is opgesluit in die Ou Testament se herhaalde besware teen te veel menslike vertroue in my eie hand. Gideon se weermag teen die Midianiete byvoorbeeld, is verminder van twee en dertig duisend tot drie honderd met die uitdruklike doel om die Isrealiete te verhoed om te sê My eie hand het my gered. Die instelling van die Sabbat het ‘n soortgelyke doel gedien omdat, deur nie te werk nis, die Israeliete die beperkte doeltreffendheid van hulle arbeid moes aanskou en gevolglik hulle ware afhanklikheid moes verstaan.

*          *          *

Al hoop ek dat my aandrang op die bruikbaarheid van die begrip Kononkryk van God reg verstaan sal word, moet ek erken dat dit ‘n plaaslike begrip is in die sin dat dit net beskikbaar is vir diegene wie se tale ingebed is in die Westerse of Bybelse tradisie. Iemand van Oostelike afkoms byvoorbeeld, praat dalk van die geheel van alle skeppping, sigbaar en onsigbaar, as die Tao. Dan is ek ook daarvan bewus dat baie mense nie graag enige van die begrippe of soortgelyke begrippe sal gebruik nie. Om hierdie rede wil ek nie ‘n stelling maak wat besonders of uitsluitlik Bybels is nie, en daarom wil ek nou ‘n kultureel meer neutrale term vir die ekonomie wat ek God se Kononkryk genoem het, invoer. Soms wanneer ek daaroor gedink het, het ek dit die Groot Ekonomie genoem, die naam waarmee ek hier gaan regkom – al sal die Bybelse verwysing vir my persoonlik noodsaaklik bly. En dit dink ek, moet eenv an my punte wees: ons kan dit noem wat ons wil, maar ons kan dit nie omskryf sonder om na ‘n godsdienstige tradisie te verwys nie. Die Groot Ekonomie, soos die Tao of die Koninkryk van God, is beide bekend én onbekend, sigbaar én onsigbaar, verstaanbaar én misterieus. Dit is dus ook die uiteindelike voorwaarde vir ons ervaring en vir die praktiese vrae voortspruitend uit ons ervaring, en dit lê aan ons besinning oor daardie vrae ‘n uiterste van erns en ‘n uiterste van nederigheid op.

Ek veronderstel dat die Groot Ekonomie, of wat ons dit ookal noem, inderdaad – en op maniere wat tot ‘n sekere mate prakties is – inderdaad ‘n ekonomie is: dit sluit beginsels en patrone in waarvolgens waardes of magte of noodsaaklikhede verdeel en uitgeruil word. Maar as die Groot ekonomie mense omvat en dus nie volledig deur mense omvat of begryp kan word nie, dan is dit ook nie ‘n ekonomie waaraan mense regstreeks kan deelneem nie. Dit laat mens dan dink dat mense net met groot ongemak in die Groot Ekonomie kan lewe, onderworpe aan kragte en wette wat hulle slegs gedeeltelik kan verstaan. Daar is geen menslike verslagdoening van die Groot Ekonomie nie. Dit is kennelik ‘n beskrywing van die situasie met godsdiens, die situasie wat godsdiens veroorsaak. De Sélincourt stel die probleem bondig:  Godsdiens in enige tydperk het te doen met die omvangryke en veranderlike tereine van ervaring waartoe kennis nie kan deurdring nie, die terreine wat ‘n mens weet of voel uitstrek buite die eng en geslote sirkel van wat hy kan beheer deur sy verstand te gebruik.

As ons afhanklikheid van die Groot Ekonomie nie te ontken is nie, dan is ons noodsaak vir ‘n klein ekonomie – ‘n klein sirkel waarbinne dinge wel beheer kan word deur ons verstand te gebruik – net so min te ontken. Ek dink nie Wes Jackson het hierdie behoefte ontken toe hy hom op die Koninkryk van God as die omvattende ekonomie beroep het nie; hy het eerder, dink ek, aangedring op ‘n voorrang wat beide gepas en prakties is. As hy ‘n teks in gedagte gehad het, moes dit die sesde hoofstuk van Matteus gewees het waarin, nadat Hy na God se versorging van die natuur verwys het, die voëls van die hemel en die lelies van die veld, Jesus sê: Moenie vra ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie … maar soek allereers die koninkryk van God en sy regverdigheid, en al hierdie dinge sal aan jou gegee word.

Daar is ‘n benadering wat in hierdie teks ‘n ontkenning van die waarde van enige wêreldse ekonomie sien, maar so ‘n benadering maak die teks onbruikbaar en betekenisloos vir mense wat in hierdie wêreld moet lewe. Hierdie verse maak net bruikbaar sin as mens dit as ‘n stelling van aansienlike praktiese belang vir ware aard van die wêreldse ekonomie lees. As die gedeelte sou beteken dat ons net die Koninkryk van God moet soek, sou dit die vreemde gevolg gehad het dit goeie mense nie net futloos sou maak nie, maar ook afhanklik van slegte mense wat besig is om heeltemaal ander dinge te soek. Maar dit sê dat ons eers die Koninkryk van God moet soek, wat ‘n noodsaaklike voorrang van die Groot Ekonomie bo enige klein ekonomie wat daarbinne beoefen word, gee. Die teksvers sluit duidelik ook die natuur by die Groot Ekonomie in en bevestig die goedheid, eintlik die heiligheid van natuurlike skeppinge.

Die voëls van die hemel en die lelies van die veld lewe natuurlikerwys binne die Groot Ekonomie, terwyl mense, terwyl hulle heeltemaal daarvan afhanklik is, gedeeltelik kunsmatig daarin moet woon. Die voëls kan in die Groot Ekonomie lewe, maar net as voëls, die lelies net as lelies, die mense net as mense. Die mense, anders as die wilde skepsels, kan kies om nie daarin te lewe nie – of liewer, siende dat geen skepsel dit kan ontsnap nie, kan hulle kies om te maak asof hulle nie daarin woon nie, of hulle kan kies om op hulle eie voorwaardes daarin te probeer lewe. As mense egter kies om in die Groot Ekonomie, maar op sy voorwaardes daarin te lewe, dan moet hulle in harmonie daarmee lewe, dit in rentmeesterskap onderhou en leer om die lewens van die wilde skepsels in ag te neem.

Sekere ekonomiese beperkings word duidelik daardeur geïmpliseer, en hierdie beperkings het hoofsaaklik met die ekonomie van toekomstigheid te doen. Ons weet uit ander gedeeltes van die Evangelies dat ‘n bepaalde voorsorg en voorsiening vir die toekoms van ons verwag word. Dit kan wees dat sulke voorsorg deel is van ons verpligting vir vandag is, en dat dit die rede is waarom ons nie oor môre bekommerd hoef te wees nie. Dit is wel duidelik dat sulke voorsorg te ver gevoer kan word, dat ons te veel vir die toekoms kan voorsien. Die sonde van ‘n sekere ryk man in Lukas 12 was dat hy baie goed wat weggesit is vir baie jare gehad het en daarom aan homself gesê het: neem rus, eet ,dring en wees vrolik. Die oortreding is skynbaar dat hy te veel opgegeaar het en in die proses die toekoms verkleineer het, want hy het dit in die proses ingekort tot sy eie hoop en verwagtings. Hy was voorbereid vir ‘n toekoms waarin hy welvarend sou wees, nie een waarin hy dood sou wees nie. Ons weet uit eie ervaring dat dit moontlik is om op so ‘n manier in die hede te lewe dat die toekoms prakties sowel as geestelik ingekrimp word. Met baie goed wat weggesit is vir baie jare in die hede – en in die proses goed soos bogrond, fossielbrandstof en fossielwater op te gebruik – maak ons skuld teen die toekoms wat ons nie kan delg nie. Dit beteken ons krimp die toekoms in met dade wat ons as gebruik beskryf, maar wat die toekoms diefstal gaan noem. Ons kan dus sê dat ons God se Koninkryk soek, deels in ons ekonomiese gedrag, maar datons dit nie vind as daardie gedrag verkeerd is nie.

As ons Matteus 6:24–34 lees as ‘n leerstuk wat beide prakties én geestelik is, en ek dink dit is wat ons moet doen, dan moet ons daarin die voorwaardes vir ‘n klein ekonomie of menslike ekonomie herken. Aangesien ek dit hier van ‘n Christelike teks aflei, kan ons dit ‘n Christelike ekonomie noem. Maar ons hoef dit nie so te noem nie. ‘n Boedhis kan na die praktiese beginsels van die ekonomie wat ek beskryf, kyk en dit ‘n Boedhistiese ekonomie noem. EF Schumacher sê in werklikheid dat die doel van ‘n Boedhistiese ekonomie is om die maksimum welstand met die minimum verbruik te bereik, wat na mening deels die bedoeling van Matteus 6:24–34 is. Of ons kan dié ekonomie (na Matteus 6:28) ‘n omgee ekonomie noem, of eenvoudig ‘n goeie ekonomie. Maar wat ookal die naam, die menslike ekonomie, as dit ‘n goeie ekonomie moet wees, moet harmonies inpas en korrespondeer met die Groot Ekonomie; in bepaalde belangrike opsigte moet dit ‘n afskeynsel van die Groot Ekonomie wees.

‘n Vyfde beginsel van die Groot Ekonomie wat nou by die vorige vier gevoeg moet word, is dat ons nie die einde daarvan kan voorsien nie: dieselfde grondstowwe gaan, sover ons weet, vir altyd van een vorm na ‘n ander bly oorgaan. Uit ‘n menslike oogpunt beskou, is dit ‘n taamlik hartelose voortgang. Soos siniese mense soms uitwys, is bewaring altyd aan die werk, want wat op een plek verloor of vermors word, duik altyd weer op ‘n ander plek op. So beskou hou gronderosie in Iowa geen verlies in nie, want die grond word herwin in die Golf van Mexico. Sulke mense voer graag aan dat gronderosie eintlik so natuurlik is soos voëlgesang. En dit is ook, hoewel hulle uit die oog verloor dat grondbewaring ook natuurlik is en dat, voor die aanvang van boerdery die natuur op sy eie baie doeltreffend gesorg het dat Iowa se bogrond in Iowa bly. Maar om te sê dat gronderosie natuurlik is, is maar net ‘n manier om te sê dat daar dinge is wat die Groot Ekonomie nie namens mense kan doen nie. Net ‘n klein ekonomie, ‘n goeie menslike ekonomie, kan vir ons die waarde daarvan om bogrond te hou waar dit is, duidelik maak.

Dit is naamlik ‘n goeie menslike ekonomie wat menslike goedere aan die orde stel en na waarde skat, wat soos die Groot Ekonomie sy goedere bewaar en beskerm. Dit is ‘n poging om te bly bestaan. Soos die Groot Ekonomie poog ‘n goeie menslike ekonomie nie om sy duur deur mense te laat bepaal nie. Daardie tydloosheid, met al sy menslike perke en dwang, is ‘n goeie menslike ding.

Die verskil tussen die Groot Ekonomie en enige menslike ekonomie is baie soos die verskil tussen die gans wat die goue eiers lê en die goue eier self. Vir die gans om waarde te hê as die een wat goue eiers lê, moet sy ‘n lewendige gans wees en daarvoor moet sy aan die lewenskringloop deelneem, wat beteken dat sy aan allerhande dinge verbind is, aan patrone en prosesse wat vroeër of later die menslike begrip te bowe gaan. Die goue eier aan die ander kant, kan volledig deur mense na waarde geskat word volgens hulle soort, gewig en mate – maar dit sal nie uitbroei nie en dit kan nie geëet word nie. Om die waarde van die eier dus volkome berekenbaar te maak, moet ons dit van goud maak, moet ons dit van die lewe vervreem. Maar as ons in ons waardering daarvan die eier se verhouding met die gans wil oorweeg, moet ons ‘n ander soort rekeningkunde gebruik, een wat meer veeleisend en minder presies is. Dit beteken dat as ons die eier op so ‘n manier wil waardeer dat ons die gans wat dit gelê het wil bewaar, dan moet ons anders optree, nie wetenskaplik nie, maar menslik; ons moet onsself as mense verstaan, so volledig as wat ons tradisionele kennis van onsself toelaat. Ons neem naamlik tot ‘n groot mate aan ons klein menslike ekonomie deel deur feitelike kennis, berekening en beheer; Ons deelname aan die Groot Ekonomie het daardie dinge ook nodig, maar dit vereis ook nederigheid, meelewing, geduld, vrygewigheid, verbeelding.

Nog ‘n kritieke verskil wat deur die voorgaande geïmpliseer word, is dat ‘n menslike ekonomie nouwel dinge van waarde kan waardeer, versprei, gebruik en bewaar, maar dat dit waarde nie kan skep nie. Waarde kan net in die Groot Ekonomie ontstaan. Dit is waar genoeg dat mense waarde tot natuurlike goed kan toevoeg: ons kan bome omskep in planke en planke omskep in stoele, en met elke omskakeling waarde daartoe toevoeg. In ‘n goeie menslike ekonomie sal hierdie omskeppings die vrug wees van goeie werk, wat behoorlik na waarde geskat sal word en waarvoor die werkers behoorlik beloon sal word. Maar ‘n goeie menslike ekonomie sal terselfdertyd erken dat dit heeltyd besig was om met materiale en kragte te werk wat dit self nie gemaak het nie. Dit het nie bome gemaak nie en dit het nie die verstandigheid en talent van die menslike werkers gemaak nie. Wat die mense met elke stap bygedra het, is kunsmatig, deur kuns gemaak, en al is die waarde van kuns krities vir die menslike lewe, is dit ‘n afgeleide waarde.

Wanneer mense hulle aanmatig om waarde te skep, maak hulle waarde wat eers abstrak is en dan vals, onderdrukkend en vernietigend van egte waarde. Geldwaarde byvoorbeeld, kan net as eg beskou word as dit op ‘n regverdige en standhoudende manier die waarde van noodsaaklike goedere, soos kleding, voedsel, en skuiling verteenwoordig, dinge wat in die finale instansie hulle ontstaan in die Groot Ekonomie het. Mense kan geldwaarde in abstrakte terme skep, maar slegs deur inflasie en woekerrente, wat die waarde van noodsaaklike goed vervals en hulle natuurlike en menslike bronne beskadig. Inflasie en woekerrente en die skade wat daarop volg, kan dalk verstaan word as vergelding vir die vermetelheid om te dink dat mense waarde kan skep.

*          *          *

Ons kan dus sê dat ‘n menslike ekonomie afgeleide of toegevoegde waarde kan skep, bestuur en versprei, maar as dit vir lank moet hou, moet die bestuur sodanig wees dat dit die oorspronklike of gegewe waardes voortdurend beskikbaar maak, omdat die afgeleide waardes hoofdaaklik te make het met landbu en rentmeesterskap. ‘n Klein ekonomie is verplig om hulle dankbaar te ontvang en só te gebruik dat dit nie opraak nie. Ons kan ‘n lang lys maak van goed wat ons as oorspronklike waardes moet beskryf, wat regstreeks uit die Groot Ekonomie in die kleine inkom, maar die een waarna ek wil verwys omdat dit die een is waarmee ons die intiemste werksverhouding het, is die bogrond.

Ons kan nie van bogrond praat, ons kan weet wat dit is sonder om uit die staanspoor te erken dat ons dit nie kan maak nie. Ons kan dit versorg (of nie), ons kan dit selfs, soos ons sê “opbou”, maar ons kan dit net doen deur die natuurlike prosesse te bevestig, te bewaar en daaraan mee te werk. Tot die prosesse self het ons niks om by te voeg nie. Ons bogrond nie maak nie en ons kan geen plaasvervanger daarvoor maak nie, ons kan nie doen wat dit doen nie. Dit is skynbaar onmoontlik om ‘n bevredigende beskrywing van bogrond te gee in die soort taal wat ons wetenskaplik noem. Want, al is dit moontlik om enige grondmonster af te breek tot sy samestellende dele, bevat ‘n handvol van die ware jakob lewe, dit is vol lewende skepsels. En as ons die gedrag van daardie lewe probeer beskryf, sal ons sien dat dit iets doen wat ons, as ons nie oppas nie, as “onaards” sal beskryf: dit omskep dood in lewe. Nie so lank gelede nie sou ons, as ons daarvan geweet het wat ons nou weet, dit ‘n wonderwerk genoem het. In ‘n tyd wat die dood met naastenby omvattende vyandigheid beskou, is dit moeilik om te glo dat die grond waarop ons lewe en die lewens wat ons lewe geskenke van die dood is. En tog is dit so, en dit is bogrond wat maak dat dit so is. Om die waarheid te sê, as mens oor bogrond praat, is dit moeilik om die taal van geloof te vermy. As Whitman in Die Kompos sê: Die wederopstanding van die koring verskyn met bleek gelaat uit hulle grafte, spreek hy in die Christelike tradisie, en tog beskryf hy wat gebeur in ‘n taal wat heeltemaal akkuraat en vanpas is. En as hy uiteindelik van die aarde sê: Dit gee sulke Goddelike boustowwe aan mense, voel ons dat die gepastheid van die woorde nie aan konvensie te danke is nie, maar aan die werklikheid van die geheimsinnige transformasie wat sy gedig van ons vereis het om te verbeel, asof in gehoorsaamheid van die oproep om te dink aan die lelies van die veld.

Selfs ten opsigte van funksies wat meganies mag lyk vir meganiste gedra die bogrond sig ingewikkeld en wonderlik. Gesonde bogrond toon byvoorbeeld die vermoë om water te behou én goed te dreineer. As ons dan van ‘n afloophelling se gesondheid praat, dan is dit hierdie vermoëns waarna ons verwys, en die woord gesondheid wat ons inderdaad gebruik as ons van afloophellings praat, getuig reeds daarvan dat ons nie van blote grondmeganika praat nie. Gesonde grond bestaan uit die lewe wat daarin sterwe en die lewe wat daarin lewe, en aan die dubbele vermoë om water te dreineer en te behou, is ons op ‘n ingewikkelde manier dank verskuldig, want dit skenk ons nie net goeie oeste nie, maar ook erosiebeheer sowel as beide oorstromingsbeheer én ‘n konstante watervoorraad.

Ooglopend is bogrond en nie energie of geld nie, die deurslaggewende grootheid vir landbou. En bogrond is ‘n grootheid, ons het dit in groot hoeveelhede nodig. Ons het tans meer daarvan nodig as wat ons het; ons moet dit help om meer van sigself te maak. Maar dit is ‘n uiters eienaardige grootheid (quantity), want dit is onafskeidbaar van gehalte (quality). Bogrond is per definisie goeie grond en dat kan by menslike gebruik slegs deur goeie sorg beskerm word. As mense dit as ‘n blote grootheid of hoeveelheid beskou, dan is hulle geneig om dit juis dít te maak; hulle vernietig die lewe daarin en hulle begin om in duime en voete en tonne te meet hoeveel daarvan hulle verloor het.

As ons bogrond beskou as die fondament van daardie huishouding van lewende skepsels en hulle nie-lewende stutte wat ons nou ‘n ekostelsel noem, maar wat sommige van ons beter as ‘n woonbuurt verstaan, dan bevind ons onsself in die skuld vir ander voordele wat ons meganiese logika ontwrig en ons maatstawwe te buite gaan. Byvoorbeeld, een van die beginsels van ‘n ekostelsel is dat diversiteit vermoë vermeerder – of, om dit anders te stel, dat verwikkelings van vorm en patroon binne kwantitatiewe perke grootliks kan vermeerder. Ek veronderstel dat dit net tot op ‘n punt waar sal wees, maar ek veronderstel ook dat dié punt ook ver anderkant die menslike vermoë om die patroon te verstaan of neer te pen.

Op ‘n plaas wat uit ‘n gesonde ekologiese patroon bestaan, geld dieselfde beginsel. Henry Besuden, die groot boer en herder van Clark County, Kentucky, vergelyk ‘n klein kudde skape met die twee lepeltjies suiker wat by ‘n vol beker koffie gevoeg word, wat dit smaakliker maak, maar nie laat oorloop nie. Jy kan jou plaas tot die uiterste met ander veestapel vul en nog altyd ‘n klein kudde skape byvoeg. Hy sê dit, kenmerkend genoeg, nadat hy die pogings van skaapspesialiste om anderkant die natuurlike fisiese perke van die ooi te kom deur buite seisoen te teel sodat hulle drie lamseisoene in twee jaar kan inpas, of deur drielinge eerder as die natuurlike optimum van tweelinge na te streef. Eerder as om teen die natuurlike fisiese perke te skaaf, wend hy hom tot die natuur se elegante manier om haarself deur diversifisering, deur komplisering van die patroon, binne haar fisiese perke te verryk. Eerder as om die produktiewe vermoë van die ooi te oorspan, sal hy sonder oorspanning die produktiewe vermoë van die plaas vergroot – ‘n gesonder, veiliger en goedkoper werkswyse. Soos baie van die beter tradisionele boere, is Henry Besuden agterdogtig oor die mates van grond in lengte en breedte, omdat hy ook aan die diepte en gehalte daarvan dink.

‘n Klein kudde ooie, wat goed in ‘n plaas se patroon pas, verdwyn as’t ware op die plaas en doen dit goed, net soos dit naastenby in die tyd en energie ekonomie van die plaasmense in verdwyn en dit goed doen. En as dit goed in die plaas se patroon inpas, verdwyn dit naastenby van die debietkant van die plaas se rekening, maar verskyn eenvoudig aan die kredietkant. Hierdie verdwyning is moontlik, nie tot die mate dat die plaas ‘n menslike kunsproduk is nie, behorend tot die menslike ekonomie nie, maar tot die mate dat dit, deur gehoorsaamheid aan natuurlike beginsels tot die Groot Ekonomie behoort.

‘n Klein ekonomie kan as goed beskou word in soverre dit die uitnemendheid van hierdie voordele raaksien en dit koester en bewaar. Dit is deur hierdie maatstaf van goedheid hoog te hou dat ons die beste kan sien wat verkeerd is met die industriële ekonomie. Want die industriële ekonomie beskou sigself nie as ‘n klein ekonomie nie, dit beskou sigself as die enigste ekonomie. Dit maak sigself so eksklusief deur die eenvoudige voordeel van slegs waarde te heg aan wat dit kan gebruik – dus slegs aan dit wat as roumateriaal beskou kan word, wat meganies in iets anders omgesit kan word. Wat dit nie kan gebruik nie, word tipies beskryf as onbruikbaar, waardeloos, willekeurig of wild, en dit kry name soos chaos, wanorde of woesteny – waardeur dit geruïneer word of goedkoop gemaak word in voorbereiding vir uiteindelike gebruik. Dat westelike woestyne oostelike berge eers as onbruikbaar te beskou, het dit maklik gemaak om dit met oopgroefmyne te vereer. As ons egter eenmaal die bestaan van die Groot Ekonomie erken, is ons verstom en verkrik om te sien hoeveel moderne ondernemingsgees niks anders as hubris is, wat buite die menslike grens wat die antieke tradisie neergelê het, val. Die industriële ekonomie is gebou op die verowering en plundering van die Groot Ekonomie.

Die swakheid van die industriële ekonomie word die duidelikste openbaar gemaak waar dit sy voorwaardes op landbou neerlê, want sy voorwaardes kan nie daardie natuurlike beginsels wat deurslaggewend belangrik vir die lewe en langlewendheid van plase is, omder oë kry nie. Selfs as die industriële ekonome kon bekostig om dit te doen, dan kon hulle nog nie landbou se afhanklikheid van die natuur beskryf nie.As hulle gevra sou word om aan die lelies van die veld te dink of vertel sou word dat die koring uit hulle grafte opstaan, sou die landboukundige industrialis antwoord dat my ingenieurs denkwyse minder geneig is tot die poëtiese en filosofiese en meer tot die praktiese en die moontlike, en nie in staat wees om selfs te vermoed dat so ‘n verdeling van denkwyses ‘n blindheid vir moontlikhede van die grootste praktiese belang veroorsaak nie.

Dat goeie bogrond water beide dreineer en behou, dat verskeidenheid kapasiteit vergroot, is feite wat netso vreemd is vir die industriële logika. Industrialiste sien behoud en dreinering as verskillende en teenoorgestelde funksies en hulle sal die een ten koste van die ander bevorder, net soos, omdat verskeidenheid strydig met hulle werkswyse is, hulle kapasiteit vergroot deur oppervlak te vergroot. So word hulle belemmer deur hulle afhanklikheid van meganiese oplossings wat net kan werk deur probleme te isoleer en te oorvereenvoudig. Industrialiste is verdoem tot hulle meganismes. Om waterbehoud te bewerkstellig, moet hulle op ‘n spesiale waterbehoudmeganisme soos ‘n terras of ‘n dam staatmaak; om dreinering te bewerkstellig, moet hulle ‘n suggeut of ‘n sloot of ‘n ondergrondse drein gebruik. Dit is moontlik, ek besef dit, om aan te voer dat hierdie ontleding te algemeen is en om uitsonderings voor te hou, maar ek dink nie mens kan ontken dat die vak van grondbewaring deesdae hoofsaaklik die ingenieur se terrein is nie, en nie die van die boer of landman nie – dat dit nou ‘n kwessie van grawe in die grond eerder as die verryking daarvan is nie.

Ek probeer nie sê dat meganismes van ingenieurswese altyd ontoepaslik is nie; hulle het hulle plek, nie die minste nie in die herstel van grond wat deur ingenieursmeganismes mishandel is. My punt is dat, om dreinering en waterbehoud op dieselfde plek te bewerkstellig, ons die grond moet verbeter, wat nie ‘n meganiese tegniek is nie, maar onder andere ‘n begraafplaas, ‘n plek van wederopstanding en ‘n gemeenskap van lewende skepsels. Meganismes mag soms help, maar net tot op ‘n punt, want grond word verbeter deur wat mense nie doen nie net soos deur wat hulle wel doen. Grondbou vereis handelinge wat veel ingewikkelder as industriële handelinge is, omdat dié handelinge bepaal word deur die vermoë om nie te handel nie, deur geduld en selfbeheersing, meelewing of milddadigheid. Die industriële handeling word eenvoudig deur denke voorgeskryf, maar die handeling van grondbou word ook deur denke beperk. Ons bou grond deur te weet wat om te doen, maar ook deur te weet wat om nie te doen nie. Beide soorte kennis is nodig, want op ‘n punt is die bereik van menslike begrip onafwendbaar te beperk, en op daardie punt moet die werk van die menslike ekonomie gestaak word in ontsag vir die Groot Ekonomie. Dit beskou ek as die praktiese betekenis van die gedagte van die Sabbat.

Om ons werk verby dié punt te stoot, om die Groot Ekonomie in te val, is om ons skuldig te maak aan hubris, om te dink ons is groter as wat ons is. Ons kan nie doen wat bogrond doen nie, nie meer as wat ons kan doen wat God doen of wat ‘n mossie doen nie. Ons kan vlieg, maar net as mense – baie rof, luiddrugtig en lomp. Ons kan van lyke en afval ontslae raak, maar ons kan hulle nie deur ons meganismes omskep in vrugbaarheid en nuwe lewe nie. En ons ontdek, tot ons groot ongemak, dat ons nie van al ons sogenaamde afval ontslae kan raak nie, by name die wat giftig en radio-aktief is nie. Ons kan goddelike krag monster en tot ‘n mate selfs gebruik, maar ons kan dit nie veilig gebruik nie en ons kan die uitkoms daarvan nie beheer nie. Dit sê maar net dat die menslike toestand vir ons nog dieselfde is as wat dit vir Homeros en die Bybeldskrywers was. Noudat ons sulke enorme kragte tot in hulp (hoop ons) inspan, blyk dit nodiger as ooit om te besef hoe onverbiddelik die menslike toestand ons omsluit. Ons doen maar net wat mense kan doen en ons masjiene, hoe hulle ookal voorgee om ons moontlikhede te vergroot, is sonder uitsondering besmet met ons eie beperkings. Deur ons moontlikhede te vergroot, beperk hulle soms ons grense en laat ons magtiger, maar minder tevrede, minder veilig en minder vry. Die meganismes waarmee ons van plan is om van ons menslike toestand te ontsnap, rek dit net uit; terwyl ons dink dat ons bo ons beperkings as menslike skepsels uitreik, het ons meer net ‘n groter gebied oos van Eden gekonoliseer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *