Om ’n stad te ontwerp

deur Yolandi Roets

As Pretoria-nooi het ek mooi herinneringe aan die Jakarandastad. In die stil strate, getooi in pers en blou, kon ek vry en veilig op my fiets rondbeweeg. Pretoria is geliefd vir haar aangename klimaat en soos haar kleinboet Johannesburg, pronk sy as mensgemaakte oerwoud in alle skakerings van groen.

Met die draai van die millennium staan ek op oujaarsaand in 1999 op die Magaliesberg om my te verkyk aan hoe die stad lewe – MY stad. Ons vier fees. En kan sy partytjie! ’n Paar kon ek meemaak en ander kon ek net oor lees – feeste soos die 1938 Eeufees loop haar reputasie vooruit.

Maar, as ek Pretoria vandag moet inry, sal sy my minder vriendelik groet. Die ou bekende voel vreemd. Te haastig. Te kwaai. Te kil.

Wat gee die stad sy hartklop, sy identiteit? Wie besluit wat sy moet aantrek, hoe sy moet beweeg, waar sy moet rus of skoolgaan of bid?

Ek en jy het al in stede beweeg waar dit lyk asof die stadsbeplanners dronk was. Die paaie is te deurmekaar, die geboue strak en verbeeldingloos. Geen verwelkoming of gasvryheid nie. Hier spreek ek spesifiek die aanvanklike beplanning van ’n stad aan, nie net die onderhouding daarvan nie. Het die beplanners met ’n toekomsbril vir groei en ontwikkeling, hierdie saak mooi deurdink?

In 2014 skryf Frans de Klerk in sy boek Orania Van dorp tot stad:

“Die toekomsbeeld wat die Dorpsraad van Orania vir die dorp het, is die van ’n Afrikaanse, moderne, voorspoedige en veilige stad met ’n goedgesinde omringende boererygemeenskap en met ’n sterk ekologiese en gemeenskapsbewussyn”.

Dis nie net ’n mondvol nie, want toe gaan sit Orania hierdie visie tree vir tree in werking!

In ’n voorlegging deur Cobus Pretorius (wat as ingenieur by die Dorpskantoor werksaam is) op 12 Mei gee hy aan die inwoners terugvoer: Die potlode is weer skerp gemaak en die tekenblad nader getrek. Om ’n stad te ontwerp, verg meer as een brein en daarom is die hulp van stadsbeplanners uit Pretoria ingeroep. Mense met dieselfde ordelike en tog kreatiewe aanslag as waarvoor Oraniers bekend staan.

Hulle siening? Kom ons doen dit hierdie keer die eerste keer reg. Kom ons dink aan ALLES: die klimaat, natuurbewaring, tegnologie, ekonomiese behoeftes, toerisme, infrastruktuur, vervoernetwerk, opvoeding…. Kom ons bou nóú vir ’n inwonertal van 10 000 mense en dan dink ons nóg ’n bietjie verder.

Ek hou asem op want ’n stad word ontwerp.

MY stad.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui