‘Fast Fashion’ en die Westerse verbruiker

deur Annemarie Pretorius

Onlangs is  my belangstelling geprikkel deur natuurlike kleurstowwe vir tekstiele. Tot en met die Industriële Rewolusie is alle tekstiele op ’n natuurlike wyse gekleur. Met die ontwikkeling van nywerhede waar tekstiele (en klere) op ’n groot skaal geproduseer kon word, is vinniger (en goedkoper) maniere om lap te kleur ontwikkel met behulp van sintetiese kleurstowwe. Vandag herontdek belangstellendes sogenaamde “verlore kleurskakerings” van tekstiele deur weer met natuurlike kleurstowwe te eksperimenteer. Sintetiese kleurstowwe, soos sintetiese tekstiele, besoedel waterbronne, versmoor organismes en vat tot 500 jaar om afgebreek te word.

“Fast fashion” het die nuutste sonde geword waaroor Westerlinge skuldig voel. Gewone handelsmerke wat aan ons elkeen bekend is, begin om woorde soos ‘organies’, ‘herwin’ en ‘natuurlik’ in hulle bemarkingsveldtogte te gebruik om verbruikers te kry om tog aan te hou om hulle klere aan te koop, ten spyte van beskuldigings teen hulle. Wat egter uit die visier verdwyn is die feit dat selfs al word ’n kledingstuk van ‘100% organiese katoen’ gemaak, dit selde op ’n etiese wyse geproduseer word. Ons dink aan die ‘sweat shops’ wat destyds opslae gemaak het in die media, waar mense (en kinders), meestal in Oosterse en Midde-Oosterse lande, onder haglike omstandighede in fabrieke werk, teen swak betaling, om aan die Westerlinge se gulsigheid (eintlik maar ’n verslawing) te voorsien.

Tydens ’n insident wat in 2013 plaasgevind het, het ’n agt verdieping kommersiële gebou genaamd die Rana Plaza, in Bangladesh ineengestort. ’n Totaal van 1134 mense is dood en ongeveer 2500 mense is beseer tydens die ineenstorting. Die gebou het bestaan uit klere fabrieke, ’n bank, woonstelle en ’n paar winkels. Die klere fabrieke het klere vervaardig vir verskeie bekende handelsmerke waaronder Prada, Gucci, Versace, Primark en Walmart.

Die gebou is oorspronklik ontwerp om winkels en kantore te huisves. Die addisionele druk wat op die struktuur geplaas is weens die gewig en vibrasie van swaar masjienarie, het vermoedelik bygedra tot die uiteindelike ineenstorting van die gebou. Toe daar die vorige dag krake ontdek is in die struktuur, is die gebou ontruim, maar bestuur het werkers gemaan om die dag waarop die ineenstorting plaasgevind het, wel te kom werk en gedreig om ’n maand se loon te weerhou indien hulle nie sou opdaag vir werk nie. Net voor 9:00 op die oggend van 24 April 2013 het die gebou ineengestort, slegs die grondvloer het bly staan. 

’n Reeks protesoptogte het gevolg met werkers wat aandring op beter werksomstandighede en lone. In een protesoptog wat in September 2013 plaasgevind het, is 50 mense beseer toe polisie rubber koeëls en traangas afgevuur het om die groep te bedwing wat geëis het dat ’n minimumloon van $100 (ongeveer R1400) per maand ingestel word. Daar word berig dat werkers wat in die Rana Plaza gewerk het geleef het van 38 Euro (ongeveer R650) per maand. Dit is dus ’n hoogs winsgewende industrie vir fabriekseienaars en handelsmerke, aangesien van die produkte wat vervaardig word dikwels vir die prys van een werker se maandelikse loon, verkoop word in die Weste.

Ons sien egter in die afgelope dekade heelwat nuwe handelsmerke wat ontstaan het wat etiese beginsels aanhang en gebruik maak van materiale wat meer volhoubaar is. Hierdie produkte het ook ’n langer leeftyd en is daarom nie gefokus op die nuutste modegier nie. Die kruks lê egter by die prys van hierdie produkte, wat dikwels vir Westerlinge die mees onaantreklike eienskap van die produk is. Aangesien werkers in dié klerefabrieke ’n billike loon verdien, kan ’n hoë kwaliteit denimbroek vir dames verbruikers ongeveer R2000 uit die sak jaag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui