Tussen die Stil Klippe

(‘n Vertaling)

Amongst the silent stones uit Okri, Ben. 1997.

A Way of Being Free.

Eerste uitgawe, eerste druk. London: Phoenix House. 133pp.

Wanneer ek Herodotus lees en na sommige Renaissance skilderye kyk, besef ek dat ek besig is om van die leuens wat in geskiedenisboeke aan ons vertel word, te ontbloot. As ek na die brons uitbeelding van Portugese soldate uit die Benin Koninkryk kyk, kry ek die indruk dat die geskiedenis wesenlik stil is. Dit is ons, wat met helder oë terugkyk, wat dit aan die woord kan stel. Dit is ons voorreg.

In die Renaissance skilderye sien ek soms dat die omgang tussen Europa en Afrika al oud is. Die verhouding is ook nie noodwendig aan die hand van vernederende denkbeelde ingerig nie. Dit het later gekom, na ‘n tydperk wat deur denkbeelde van verowering verneder is. In Afrikaanse beeldhouwerke van Europeers het ek opgelet dat die wit besoekers nie as gode beskou is nie, maar as mense, menslik met hulle plomp voorkoms, hulle helms en hulle gewere.

Die ware moontlikhede van omgang tussen mense het nog nie eers begin nie. Dit blyk duidelik in moderne kuns, in die skilderye van Picasso en die Kubiste wat net die uitwendige vorme van Afrikaanse kuns raakgesien het. Die surrealiste het net die opstandige onderbewuste inhoud gesien, die wêreld van drome, die indruk dat ons verhouding met die heelal slegs op menslike voorwaardes kan berus, en dat ons die groot kragte deur daardie eienaardige vorme wat uit die diepte van menslike psige opwel, voorstel en inspan. Hulle het nie eers begin om die geestelike lewe, die mitiese strukture, die wêreldbeeld van betowering en die geheime geskiedenisse wat Afrika se kunstige skeppingskrag gevorm het, raak te sien nie.

Wat wel mooi is van selfs die oppervlakigste poging om met ander se geheime lewens kontak te maak, kan beskryf word as die vermoë om toevallig op waardevolle dinge af te kom: die toevallige ontdekkings, die verruimde’horisonne, paaie wat deur ‘n weerligstraal in die woude van die werklikheid opgemaak is.

Die kubiste het een deel van die ontdekkings wat in Afrikakuns gemaak is, nagevolg. Dit het tot die opbreek van vorm gelei. Dit bet ook tot die geloof in vier dimensies gelei. Die surrealiste het in die onderbewussyn gedelwe en het bolangs op ‘n see van moontlikhede wat eintlik die Shaman se terrein is, geswem. Want Shamans en die Afrikaanse beeldemakers weet dat ons die heelal in ons omdra, dat die see in die vis is net soveel as wat die vis in die see is; dat die voëls hulle eie vlug inasem; dat kragte in die menslike liggaam tot materie kan deurdring, die grense van tyd en ruimte kan versit, die drome van leeus kan betree, en deur die persoonlike geskiedenisse van riviere en berge kan reis.

*

Dit is ‘n oorweldigende feit dat terwyl ons na veraf planete uitreik, terwyl ons die wonder en angs van ‘n nuwe millenium nader (een wat die mensdom homself kan sien vemietig óf die hoogste vlak van sy ontwikkeling sien bereik), ons as mense mekaar nog nie beskou soos mense wat op mekaar aangewese is, behoort nie. Die menslike geskiedenis is honderde duisende jare oud en ons kyk nog steeds met ‘n oppervlakkige blik na mekaar – asof ons gedurende al hierdie millenia van omgang met mekaar nog nie geleer het dat ons maar almal mense is nie, dat onder ons velle daar vastelande van gelyksoortige begeertes en ontwrigtende drome, kolkende heelalle van denke, pre-historiese drange, weerligstrale, en blomme vir ewig in bloei is nie.

Dit is oorweldigend omdat dit lyk asof daar onder die stryd van ons tyd, vernietigende oorloë, stamgevegte, godsdienstige onverdraagsaamheid, rassegeweld, onmin tussen die geslagte – onder dit alles skuil die eenvoudigste ontdekking dat ons almal mense is en dat lewe heilig is.

Ons het nog nie ontdek wat dit beteken om mens te wees nie. Dit lyk asof hierdie eenvoudige ontdekking die openbarendste is wat gemaak kan word – want as ons uitgevind het wat dit is om mens te wees, wanneer ons daaraan gely het en dit liefgehad het, sal ons ons ware status ken, sal ons weet wat ons van die gode skei, sal ons weet wat dit beteken om vry te wees en ons sal weet dat vryheid in werklikheid die begin van ons gedeelde bestemmings is.

Die kubiste was opgewonde oor die vierde dimensie in kuns. Die beeldhouers van Afrika het van ‘n vyfde dimensie getuig, ‘n wêreld  van geeste, die oorvleueling van die wêrelde van die lewende en die dode. Hulle wat die dood vergeet, vergeet hoe om te lewe. Die wêreld van Afrika het deur die lewe vir die dood oop te maak, deur die dood oor die lewende ruimtes te span, aan die lewe meer ruimte gegee om te lewe, te vier, lyding te verduur en vrolik te wees.

Baie ontdekkings is deur die geskiedenis onderbreek, ontdekkings wat tot die grondliggende beginsels sou lei wat al die kunsmatige verskille van velkleur, geloof, stand of geslag aan die hand waarvan ons ons lewens inrig, tot niet maak. Europa het party van die mitiese drome en psigiese ontdekkings van plekke soos Afrika en lndië onderbreek en hulle toe die bestaan van hulle eie, unieke rnaniere misgun. Dit was nie altyd so nie: vir ‘n tyd lank het hierdie plekke Europa met hulle diepe misteries geboei. Die kolonisering van Afrika en die uitbeeldings wat daarop gevolg het, was buiten vir die oorwinning van gierigheid oor menslikheid, ook die oorwinning van die rede oor die onderbewuste, die oorwinning van die hoof oor die gees. Daardie oorwinning, soos enige psigo-analis kan getuig, is van korte duur en uiteindelik rampspoedig. Die wêreld se drome is meer plofbaar as hulle onderdruk word.

Buiten vir die verwonding van die siele van vastelande, het kolonialisme – teenstrydig genoeg – per ongeluk iets goeds ontdek. Dit het mense op ‘n manier wat dalk vir honderde jare nie so sou wees nie, bymekaar gebring. Byvoorbeeld: as gevolg van haar oordadigheid het Brittanje begin deur helfte van die wêreld te onderwerp en geëindig waar die helfte van die wêreld hulle nou in haar gebied bevind, maar ook in haar geskiedenis – subtiel besig om haar psige te verander. Dinge werk na twee kante toe. Dit is interessant om party mense oor hierdie teenwoordigheid in hulle land te hoor kla, om uitsprake oor die behoud van rassesuiwerhuid te hoor. Feit is dat in die natuur alle organiese dinge met ‘n enkele afkoms, kort geskiedenisse het. Obsessies oor bloedsuiwerheid het wêreldryke uitgewis. Ons is almal gemeng en ons wortels is op uiteenlopende en vergete plekke gevoed. Die Jorubas van Nigerië voer hulle oorsprong na die midde-Oos te terug; sommige volkekundiges maak daarop aanspraak dat die Boesmans van die Kalahari die egte inboorlinge van Afrika is; die Engelse is ‘n mengsel van Kelte, Vikings, Brigante, en so aan; die antieke Egiptenare was swart sowel as vaalkleurig. Dit is die geskiedenis van liggame. Die geskiedenis van beskawings is selfs meer willekeurig.

*

Ons staan op die drumpel van ‘n nuwe era. Die grootste verantwoordelikhede van ons tyd rus nie net op die groot-nasie magte van die moderne wêreld nie, maar ook op die hele klomp klein nasies, dié wie se antieke drome op die  randjie van uitwissing staan. Die verantwoordelikheid van die ongewaardeerdes, die ongehoordes, die stilles, is groter as ooit. En die gewig van ons verantwoordelikheid rus op een ding: ons is wesenlik besig om vir die menslikheid van die wêreld te stry. Ons stry om die wêreld vir ‘n groter bestemming te bevry. Ons stry vir ‘n wêreld van balans en geregtigheid.

Die ongehoordes het hulleself nog altyd as vreemdelinge in ‘n wêreld van reuse gevaartes gesien. Ons het die wêreld se omskrywing van ons aanvaar. Maar die wêreld is neutraal: dit is ons wat aan dinge waarde toeken. Ons kan die waarde wat ons aan onsself toeken, verander. Ons moet altyd onthou dit verg ‘n sekere natuurlike skeppingstalent om die plunderings van die geskiedenis  te oorleef. Ons moet ons weer op daardie skeppingstalent instem, want as ons nie die hoogste waarde aan onsself toeken nie, kan ons nie die  hoogste goed in die wêreld bereik nie.

En of ons daarvan hou of nie, wat in die wêreld gebeur, is ook ons  verantwoordelikheid. Die wêreld is ‘n slagveld van mitologië en drome. Diegene wat toelaat dat hulle huise in chaos en wanorde verval, verdien dat die stiltes van vergete geskiedenisse oor hulle spoel. Soos die donderende gerol van wêreldmagte groter word, so word meer stiltes geskep. Diegene wat naby aan die natuur gelewe het, hulle wat aan die uitkalwing van onverkende paadjies in die geskiedenis gely het, kan nie bekostig om stil te wees nie, om lafhartig te wees en om net aan hulleself te dink nie.

Die nuwe teorie van chaos sê dat die klap van ‘n skoenlapper se vlerk ‘n gewigtige storm kan veroorsaak of aankondig. Dieselfde mag van die geskiedenis waar wees. Die sterwende ster van ‘n volk, die stille dood van ‘n taal, die verduistering van ‘n manier om dinge te sien, die duidelike kreet van ‘n verstomde volk kan iets meer as ‘n merkwaardige storm in die menslike geskiedenis aankondig.

Dit is nie die grootte van die stem wat belangrik is nie: dit is die krag, die waarheid en die skoonheid van die droom.

*

Hulle wat dink dat die enersmakende kragte van die wêreld hulle waardevolle ruimtes nie in klein woestyne sonder betowering sal verander nie, verdien om die storm te sien kom. Hulle wat in opportunistiese stilte die opkoms van tirannie aanskou, die opkomende gety van eenselwigheid, die vretende tronke, die toeslaan op verskil en die verrassende nuwe vorme van sensuur, verdien om die wêreld kleiner te sien word, stywer om hulle kele.

Tirannie kan baie vorme aanneem, maar al die vorme het iets in gemeen: die voortgang van eenselwigheid, ‘n vrugbare bedding vir misnoegdheid en stilte. Dit lyk my hierdie tyd vereis van elke man en vrou om ‘n lig te word, ‘n vuur, ‘n verantwoordelike erfgenaam van al die are van vryheid en moed  wat ons in staat gestel het om, ten spyte van al die duistere magte om ons, tot hier te kom. Dit lyk asof ons tyd vereis dat ons almal duideliker as ooit tevore moet wees oor wie ons is, dat ons sterker en dapperder in ons verdediging van ‘n veelheid van stemme moet wees.

Hulle sê in die natuur oorleef die sterkste. En tog, kyk hoeveel wonderlike goue en geel visse gedy tussen die stil klippe op die bodem van die see terwyl haaie aanhou om die water met hulle onmoontlike droom van oorheersing oor die oseaan te fynkam en terwyl wit walvisse uitsterf. Kyk net hoeveel herte en wildsbokke, miere en vlooie, voëls met seeblou pluime, voëls wat Chinau Achebe sê die kuns om te vlieg sonder om te gaan sit, bemeester het, hoeveel skoenlappers en likkewane floreer terwyl olifante in bedreigde spesies verander en selfs leeus in hulle krimpende eensaamheid grom.

Daar is nie iets soos ‘n magtelose volk nie. Daar is net diegene wat  hulle mag en hulle wil nie gesien en nie gebruik het nie. Dit mag na ‘n wonderbaarlike prestasie lyk, maar dit is vir die ongewaardeerdes moontlik om ‘n mooi nuwe tydperk in die menslike geskiedenis te help daarstel. ‘n Nuwe visie moet van hulle kom wat die meeste ly en die lewe die meeste liefhet. Die wonderlike verantwoordelikheid van die ongehoordes en die ongesienes lê in hierdie teenstydigheid opgesluit.

Die natuur en die geskiedenis gaan nie net om die oorlewing van die sterkstes nie, maar ook om die oorlewing van die wysste, die mees aanpasbare, die op-en-wakkerste.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui