Romeinse waardigheid

deur Ernst Roets

Die beroep op waardigheid, of, soos wat ons dit vandag ken, “menswaardigheid” is in ons leeftyd baie gewild. Ons verneem gereeld in die media van hierdie of daardie beleid of praktyk of insident wat mense se waardigheid geskend het. Om die waarheid te sê, die gedagte van menswaardigheid is so belangrik dat dit letterlik in artikel 1(a) van die Suid-Afrikaanse grondwet as een van die hoekstene van die Suid-Afrikaanse demokrasie beskryf word.

Wat egter uit die oog verloor word, is dat die gedagte van menswaardigheid soos ons dit vandag verstaan basies die teenoorgestelde is van wat dit oorspronklik beteken het. Waardigheid (in Engels: dignity) is natuurlik afkomstig van die Latynse term, dignitas, wat algemeen deur die Romeine van ouds gebruik is. Die woord dignitas word breedvoerig gebruik in die werke van Cicero, Julius Caesar, Tacitus en Livy, om enkele voorbeelde te noem.

Dit is egter by die beroemde Romeinse orator, Marcus Tullius Cicero waar ek vandag wil stil staan. Vir Cicero was waardigheid daarin gesetel dat die mense (in moderne taal sal hulle sê die “individu”) bereid was om ter wille van die belang van die gemeenskap, van homself op offer. ’n Mens se waardigheid was gemeet in die mate waarin hy die belange van die gemeenskap bevorder het. Daarom het Cicero gesê die hoogste waardigheid gevind kan word in die orator wat vrede vir die gemeenskap verseker, en in die generaal wat die bedreigings van oorlog tot die minimum beperk.

Cicero, wat in die laaste eeu voor Christus geleef het, was op ’n manier ’n voorganger vir Edmund Burke, wat vandag dikwels as die “vader van konserwatisme” beskryf word. Burke het in die nadraai van die Franse Rewolusie gesê dat die samelewing ’n verbond is tussen dié wat lewe, dié wat reeds gesterf het en dié wat nog nie gebore is nie. Cicero het byna tweeduisend jaar voor Burke gesê dat die eer van die Romeine wat op daardie stadium geleef het nie die gevolg van hul eie toedoen is nie, maar dat dit deur hul voorouers se opofferings geskep is en aan hulle oorgedra is. Die generasie wat hierdie eer van hul voorouers ontvang het, se eie eer word dan op die spel geplaas, deurdat dit nou hulle verantwoordelikheid is om toe te sien dat daardie eer aan hul nageslag oorgedra word.

Die mens se “eer” was dus nie gemeet aan hoe ander mense hom behandel nie, maar eerder aan die mate waarin hy die goeie bevorder, nie net vir sy naaste nie, maar veral ook vir sy nageslag. Om iets aan jou nageslag oor die dra is “ ’n mees roemryke ding”, het Cicero gesê, terwyl dit “ ’n mees skandelike ding” is om nie in staat te wees om dit wat jy ontvang het te verdedig en bewaar nie.

Die Romeinse dignitas was dus die invloed wat die burger deur sy lewe verwerf het. Dit was gemeet aan sy persoonlike reputasie, morele posisie, etiese waarde en die mate waarin hy deur sy familie en die gemeenskap gerespekteer is vir die manier hoe hy hierdie invloed aangewend het. Dit was nie bloot ’n teoretiese konsep nie. Dit was deel van die kultuur van die tyd dat mense ywerig was om hul dignitas te bewys en dat hulle gevolglik ook baie beskermend daaroor was.

Hierdie definisie staan in skrille kontras met die gebruik van die term soos wat ons dit vandag ken. Waardigheid beteken nie meer wat die woord veronderstel is om te beteken nie, naamlik dat ’n mens dit “waardig” is om deur sy familie en gemeenskap gerespekteer te word nie. Dit het ’n wapen geword waarmee die staat ingeroep word om mense te dwing om teenoor die individu op te tree op ’n manier wat die individu se goedkeuring wegdra, ongeag of hy dit verdien of nie.

Waar die fokus in die verlede op ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap was, is die fokus nou op ’n aanspraak om die belange van die individu te bevorder.

Waardigheid is ’n term met ’n ryke geskiedenis. Dit is ’n term wat ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die Westerse tradisie bespeel het. Daarom is dit belangrik dat ons nie van die woord afstand doen nie, maar dat ons die woord eerder rehabiliteer deur dit na sy oorspronklike betekenis te herlei.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui