‘n Kort besinning oor “Gemeenskap”

Redaksie

In die vorige uitgawe van Perspektief is kortliks na die kortkursus vir BKO-studente oor Vier perspektiewe op die verskynsel “Gemeenskap” verwys. Gegewe die sentrale plek wat die onderwerp van gemeenskap in ons denke inneem, word hier kortliks op die inhoud daarvan uitgebrei.

Die vraag na gemeenskap kom, veral in die geselskap van jongmense, ter sprake binne ‘n gespreksruimte wat deur liberale uitgangspunte oorheers word. Die belangrikste liberale uitgangspunt is dat vrye individue die boustene van ‘n goeie samelewing is en dat hulle vryheid by uitstek in die vorm van vrye keuse tot uitdrukking kom. Selfs die konserwatiewe kwalifikasie dat vryheid met verantwoordelikheid gepaard gaan en dat die vryheid van keuse mens nie van die gevolge van jou keuses vrywaar nie, bevestig in werklikheid nog net die oorheersende plek wat die individu volgens die liberalisme inneem.

Die konserwatiewe liberaal gaan selfs nog verder en heg groot waarde aan die gemeenskap wat by wyse van individue se keuse om by mekaar aansluiting te soek, tot stand kom. Dit vorm die grondslag van die sosiale kontrak-teorie waarop liberale politieke filosofie gebou word en wat inderdaad as teenvoeter teen onderdrukking kan dien, maar wat steeds aan die individu hoër waarde as aan die gemeenskap toeken.

Nou sou dit verkeerd wees om af te lei dat ons ‘n siening aanhang wat, soos by die sosialisme geneig is om die individu en individuele belange geheel en al in die kollektief te laat opgaan. Inteendeel! Die punt is eerder dat die vryswewende individu in werklikheid ‘n abstrakte denkbeeld is en dat vrye individualiteit die vrug is van ‘n gesonde gemeenskap wat dit moontlik maak. Dit is dan ook teen hierdie agtergrond dat die gedagte van gemeenskap bedink en ontwikkel moet word en deel van in ons woordeskat sy volwaardige plek moet vind.

Wanneer ‘n ryk begrip soos gemeenskap in behandeling geneem word en die belangrikheid daarvan bevestig is omdat dit as voorwaarde en waarborg vir persoonlike individualiteit moet dien, is dit nodig om ‘n sin vir perspektief aan die dag te lê. Wat word daarby bedoel? Eenvoudig dat die ding waaroor gedink word, uit verskillende oogpunte beskou kan word en dat dit dieselfde ding bly, al bring die verskillende oogpunte of perspektiewe daarop, verskillende kante daarvan aan die lig. Dat ‘n voorwerp uit een oogpunt soos ‘n sirkel lyk, maar uit ‘n ander soos ‘n reghoek, doen nie een af aan die feit dat dit in werklikheid ‘n silinder is nie. Eerder bevestig dit die groter harmonie van die driedimensionele silinder as om ‘n innerlike tweestyd tussen die tweedimensionele vorms aan te kondig.

Om die begrip gemeenskap dus uit die oogpunte van politiek, ekonomie, geloof en kultuur te beskou, kom nie noodwendig daarop neer dat die een oogpunt aan die ander opgeoffer word nie. Dat elke gemeenskap onvermydelik ‘n ekonomiese kant het en in die lig daarvan ondersoek kan word, neem nie noodwendig weg dat elke gemeenskap ook ‘n geloofsdimensie het wat sy teenwoordigheid ook op die ekonomiese en politieke terreine voelbaar maak nie. Dat die geloof op sy beurt ‘n allesomvattende aanspraak maak, neem eweneens nie weg dat die ekonomie en politiek ook hulle stempel op die gemeenskap – en selfs terug op die geloof self – afdruk nie. Geen een van die perspektiewe kan alleen die volle omvang van die geheel aan die lig bring nie en elkeen verdien om gerespekteer te word vir wat dit bied.

Elkeen van die vier perspektiewe kan aan die hand van ‘n sleutelvraag aan die orde gestel word en die antwoorde wat daarop gegee word, en wat eie aan elke gemeenskap sal wees, gee mens groter insig in die aard en aspirasies van daardie gemeenskap.

  • Die politieke perspektief antwoord die vraag na hoe magsverhoudings ingerig word, ook waar dit deur ekonomiese en godsdienstige faktore beïnvloed word. Die maatstaf vir goeie politiek is inderdaad die vryheid van die gemeenskap en sy lede om dit wat hulle is, ten beste te kan wees – ook in soverre dit individue wat keuse maak, behels.
  • Die ekonomiese perspektief antwoord die vraag na hoe hulpbronne aangewend word en wat die uitkoms daarvan is. Die maatstaf is ‘n positiewe verhouding tussen inset en uitset, wat onder andere bepaal of die betrokke gemeenskap oorwegend produseer of oorwegend verbruik, dus volhoubaar of onvolhoubaar is.
  • Die geloofsperspektief antwoord die vraag na waar ons in die groter orde van dinge inpas en veronderstel ‘n hierargie tussen God en mens, ongeag wat presies met elkeen bedoel word, en tussen doel en middel. Die maatstaf is of die mens, in ons taal, ‘n sin vir roeping openbaar en daardeur getuig van ‘n openheid na dit wat homself in wese te bowe gaan, dit waaraan hy hierargies ondergeskik is.
  • Die kultuurperspektief antwoord die vraag na hóé om oor dinge te dink. Die maatstaf is of die ware, die skone en die goeie hulle onder die mense van daardie gemeenskap kan tuismaak en tereg kan kom.

Elkeen van die vier perspektiewe vertoon duidelik ‘n eiestandigheid van mekaar én tegelyk ‘n verbondenheid met mekaar, want nie een kan sonder die ander tot volle ontplooiing kom nie. Sonder ‘n sin vir roeping en geloof word waarheid en geregtigheid se vlerke geknip en sonder ekonomiese onderbou en produktiewe uitkomste het die skoonheid as ‘t ware niks waarin dit tot uitdrukking kom nie. En so kan mens aanhou kruisverwys …

Met ‘n kortkursus van een periode per dag vir vier dae kan so ‘n veelkantige saak kennelik net inleidend gestel word, maar daarsonder sou die skeppende jong denke waarvan ons toekoms afhang, dalk nooit begin belangstel het in die antwoorde waarop daardie selfde toekoms die vrae gaan verskaf nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui