Kijkglas 5

deur Pieter Krige

Daar is iets waaroor ek dankbaar is, wel seker meer as een ding, veel meer, maar ek is dankbaar oor ’n gees van saamstaan, wat die sinici se “Boere kan mos nie…” in alle opsigte verkeerd begin bewys. Ek weet nie presies waar dit begin het nie; miskien na 2018 se uitspraak dat “we will take the land for our people, without compensation”. Miskien met die ontnugterende korrupsie wat die vuisvoos belastingbetalers ’n vuis laat bal; moontlik met die totstandkoming van AfriForum 15 jaar gelede, dalk met Bok van Blerk se De la Rey; miskien met die werklikheid dat die ANC se politiek bloot en eenvoudig swart op wit is, in die wette en sekerlik ook in die hart; miskien die miskenning van ons taal… Wat ook al die rede mog wees, blyk dit dat die enorme hoeveelheid negatiewe energie wat op ons volk inwerk, toe juis nie verlammend was nie, maar die vonk wat die Afrikanerhart weer laat brand, en hierdie vonk word ’n vuur, maar nie een wat vernietig nie, nie een wat verteer nie, maar een wat iets van ’n welkome kaggel in ’n winternag bied, of die diepe gevoel van behoort rondom ’n Bosveldvuur.

Miskien is vuur nie die regte beeldspraak nie, miskien eerder water; asof die fontein van ons volkswees, wat seker iewers na 1652 begin borrel het, strome berg af vloei, en dan weer, oor die rante en klippe beur, om weer ’n groot vloeiende eenheid te word.

Miskien is water nie die regte beeldspraak nie, miskien eerder ’n trek. Mense wat die onbekende in trek, en weet dat dit saam met ander trekkers in alle opsigte beter is as alleen die Dorsland in. Dit is asof die ‘op pad’ wees, die ‘reis’ meer as die ‘op pad êrens heen’ word, maar ’n ‘saam op pad êrens heen’; miskien selfs meer ‘saam’ as ‘op pad’, want in hierdie ‘saam’ kom trekkers huis toe, vind jy weer jou plek tussen en saam met mense soos jy.

Soos ek met mense oor hul trek gesels, kom ek vinnig agter dat ons eintlik, sommer baie na aan mekaar verbonde is; en ek praat nie bloot net van etnisiteit, taal nie; maar ’n gedeelde en bekende herkoms; ’n “jou oupa het by my oupa aan huis gegaan,” ‘n “jou oupagroot het die skool begin waar ek ook klas gegee het,” ’n “my pa en jou pa was saam op die grens”. ’n “my ma en jou ouma was saam by die VLU” ’n “jou pa het my neef gedoop…”

Ons menswees, hier in Afrika, is vervleg. Miskien is vervleg nie die regte beeldspraak nie, miskien tog water; ’n stroom van menswees wat vanuit dieselfde bron, in dieselfde rigting vloei, ook ’n rigting wat anders spiraal as die Noorde waar ons menswees eens was; asof hierdie Suidpunt ons só verander het, dat ons anders draai as waar ons vandaan kom.

Daar is iets bekend aan hierdie vuur, stroom, trek; magtig man! Dit lyk en voel dan persies soos huis!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui