Wat is die universiteit?

deur Annemarie Pretorius

In die lig van prof Danie Goosen se artikel “Wat is die universiteit? Gedagtes oor die  gemeenskapsuniversiteit” (2016) wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het deel ek graag enkele gedagtes van my ervaring as student aan ’n postmoderne universiteit. In sy artikel oorweeg Goosen die gemeenskapsuniversiteit in die lig van beide die modern Von-Humboldt-universiteit as die postmoderne besigheidsuniversiteit.

Ek kon aanklank vind by veral die beskrywing van die postmoderne besigheidsuniversiteit, aangesien ek in 2017 my Honneursgraad aan een so ’n universiteit voltooi het. En dit het ’n ruk lank in my agterkop bly spook waarom my ervaring aan hierdie universiteit so anders as beide my ouers en grootouers s’n was. Deur Goosen se beskrywing van die eienskappe van ’n postmoderne universiteit het ek besef dat hierdie universiteit vir dekades dalk ’n tipe gemeenskapsuniversiteit van die Christelike Afrikaner was en dat dit in enkele generasies verander het in ’n postmoderne universiteit, wat die aard en die karakter natuurlik nie onaangeraak gelaat het nie. 

Die eerste eienskap wat hier ter sprake kom is die universiteitsuniform. Uit vertellings van my grootouers weet ek dat hulle altyd klasse met ’n das en pak klere bygewoon het. Hierdie gebruik spruit natuurlik uit die Pruisiese Von-Humboldt-universiteit en die feit dat die professor met die hoogste gesag beklee is. So het universiteitsprofessore dikwels ’n toga gedra wanneer hulle ’n lesing gegee het. Met die dra van ’n das en pak klere is daar respek aan die professor en sy posisie in die nasionaal-staatlike hiërargie betoon.

Sedert die studenterewolusie in die 1960’s is die nuwe uniform egter jeans en ’n t-hemp en in my persoonlike ervaring selfs heelwat minder as dit. ’n Mens is soms nie heeltemal seker of studente op pad swembad toe is en of hulle van die klas af kom nie, met style en modes wat gans verskil van die das en pak klere van generasies tevore. En van die professore kan dieselfde gesê word, veral in die Skool vir Tale sal jy jou dosent gemaklik geklee in ’n denim en ’n paar sandale vind. Hierdie informele houding strek natuurlik verder as die kleredrag, en daarom wys Goosen uit dat die interpersoonlike verhoudinge tussen studente en hulle professore ’n ander dimensie aangeneem het. In korrespondensie en gesprekke met professore vervang ‘jy’ en ‘jou’ nou die oorspronklike ‘Geagte Professor’

“In die agtergrond van hierdie oënskynlik onskuldige gebeure lê ’n dieperliggende kulturele verskuiwing,” meld Goosen. “Die ou staatlike hiërargie aan die moderne universiteit is met die demokratiese gelykheid van die postmoderne universiteit vervang.” Die sosiale afstand tussen studente en professore is dus hiermee uitgewis. Die hiërargiese aard van die universiteit het plek gemaak vir die demokratiese aard van die postmoderne universiteit. Hy wys ook op die feit dat dissiplines voortaan as gelyk geag word en dat die enigste onderskeidende faktor hier die ekonomiese gewig is. Snaaks genoeg word daar op hierdie manier maar net ’n nuwe hiërargiese orde geskep. So gemeet staan geesteswetenskaplike dissiplines soos filosofie (wat eens die hoeksteen van elke dissipline gevorm het), nou laer in die hierargiese orde as meer “winsgewende” dissiplines. Die sin vir die geheel (die universum), wat die essensie van die universiteit vorm gaan heeltemal verlore.

Goosen oorweeg ook die student as individualistiese verbruiker aan die postmoderne universiteit. Volgens die nuwe model is die fokuspunt nie meer die opgevoede burger nie, maar die individu en sy private belange. In my eie ervaring op universiteit het dit ook dikwels na vore getree. Die roepinggedrewe jongmens wat sy burgerlike plig ten bate van die samelewing wil aanwend se idealistiese uitkyk het plek gemaak vir die individu wat sy graad as sleutel tot sy posisie in die arbeidsmark sien. Die idealisme van my grootouers se studentedae is vervang met die eie-ek en sy winsbejag. Inligting (nie kennis of wysheid nie) het ’n kommoditeit geword wat ten duurste aangekoop word by ’n universiteit. En dit het die student in ’n verbruiker met ’n selfvoldane houding verander.

Die verbrokkeling van die dissiplines word volgende as eienskap van die postmoderne universiteit voorgehou. Goosen sê dat die grondslag van die Von Humboldt-universeit se lewensbeskoulike uitgangspunte saamgevat kan word in twee begrippe: dat daar hoegenaamd ’n samehang ten grondslag van alle dinge lê; en dat die verhouding tussen die verskillende dissiplines hierdie samehang behoort te weerspieël. Hy sê dat in aansluiting by die verbrokkelingstendense van die moderne era word die dissiplines steeds skerper van mekaar geïsoleer. Dit is ook my ervaring dat in die postmoderne universiteit dissiplines wat onafskeidbaar van mekaar behoort te wees, in afsondering van mekaar bestudeer word. So het ’n Kommunikasiestudent byvoorbeeld een (skrapse) etiekmodule en een module in ‘wêreldkunduitkyke’ (afgewaterde filosofie) as deel van sy driejaar graad. Goosen sê in hierdie sin is die postmoderne universiteit ’n weerspieëling van die liberale ideologie. “Net soos wat die mens in die liberalisme vanuit sy of haar gemeenskappe geabstraheer en tot onverbonde individu uitgeroep word, net so word die dissiplines vanuit hul samehang geabstraheer en as alleenstaande groothede hanteer.”

As laaste eienskap van die postmoderne universiteit noem Goosen die verskraling van kennis tot uitruilbare kennis. Hy sê dat kennis in die postmoderne universiteit tot ekonomies verhandelbare inligting gereduseer word in plaas daarvan dat die verwerwing van kennis die weg na ’n opgevoede lewe versinnebeeld. So word filosofie en geskiedenis aan dergelike universiteite tot bronne van inligting verander wat ewegoed opgekyk kan word via Google. En ons ken hierdie verskynsel maar al te goed in vandag se universiteitswese. Studente stel nie in die geesteswetenskappe belang nie, omdat dit nie ekonomies vir hulle sin maak om die dissipline te bemeester nie; die dissipline word as outyds, vervelig en nutteloos bestempel. As studente in die geesteswetenskappe moes ons dikwels van ons mede-studente hoor dat ’n BA-graad minder werd is as ’n pizza, aangesien ’n pizza darem ’n gesin van 4 kan voed. En op so manier verloor studente die geskiedenis, waar die mensdom al was en waarheen ons op pad is, heeltemal uit die oog. Hulle verloor die kritiese vermoë om tussen waar en vals, goed en sleg, mooi en afskuwelik te onderskei. Goosen verduidelik hoedat alle persone en gebeure uit die verlede uiteindelik dieselfde betekenis, en daarom geen betekenis hoegenaamd verkry. Dit word ondersteun deur die kultuur van onverskilligheid en jongmense wat die kreet: “YOLO – you only live once” uitroep, indien hulle hulself sover kan kry om passievol te reageer teenoor enigiets.

Goosen gaan dan voort om ’n alternatief tot die postmoderne univeriteit te bied in te vorm van die ‘gemeenskapsuniversiteit van die toekoms’ waarin hy verduidelik dat beide die aristokratiese ideaal van opvoeding en uitnemendheid sowel as die demokratiese inspraak van ’n gemenskap belangrik is in ’n universiteit. Hy sluit af deur tot die gevolgtrekking te kom dat hoewel die postmoderne universiteit tans daarop aanspraak maak om dié universiteit onder universiteite te wees, kan hulle onmoontlik vanweë hulle gefragmenteerde aard dit wees. “Dié eer kom vandag eerder die gemeenskapsuniversiteite toe. Anders as die globale universiteite kan hulle daarom ook ‘universiteit’ in die egte sin van die woord wees: plekke waar ’n sin vir die geheel vanuit hulle eie plaaslike bronne gekultiveer en in stand gehou word. Hierin lê ’n sekere hoop vir die universiteitswese as sodanig opgesluit.”

As eerstejaarstudent aan Akademia vanjaar, sien ek uit daarna om my ervaring aan ’n universiteit wie se model nader aan ’n gemeenskapsuniversiteit is, te meet aan my vorige belewenis as student aan ’n postmoderne universiteit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui