Kijkglas 4

Ek dink ek het iewers tussen Boetie gaan Border toe, Oh shucks, here comes UNTAG en Invictus my sin vir humor verloor…

deur Pieter Krige

Nie dat dit so wat waffers was om mee te begin nie; Lianda kyk my altyd bekommerd aan as ek aankondig dat ek tydens ’n praatjie, aanbieding of toespraak ’n grappie gaan vertel. Ek ken in elk geval net een grappie, die een oor die ysbeertjie wat verskriklik koud kry, en juis omdat ek meermale by die einde begin, is die grappie spoedig gebreek… Ek sal daar staan en my oorywerige tong probeer berispe, maar nou ja; grappie gebroke en ongemaklike giggel en keelskoonmaak volg.

Ek sien min mense lag. Cyril lag nog, so uit sy maag; die lag van ’n selfvoldane Afrika-diktator, hy kort net ’n Land Cruiser; veral in die fluitjieblaas Zoom-videos lag hy lekker. Floyd lag ook, maar gewoonlik soos ’n stoute skoolseun wat saam met sy maat die snoepie leegsteel en dan die klas ontwrig. Ek het onlangs vir Max gelag, maar dit was eintlik nie regtig snaaks nie, eintlik bitter tragies en hartseer, soos hy oor selfbestuur en Flip skryf.

Orania laat my glimlag, veral as ek in die oggend my mense aan’t beweeg aanskou. Dit laat my soms dink aan die liedjie van Lucas; oor die volk en wolke en vuurkolomme. Ek glimlag ook met elke nuwe Klein Reus vlag wat bo op ’n nuwe dag wapper. Ek sien ook daardie vlag halfmas hang, en weet ons is armer; ook armer soos die Boeings vertrek, na Londen, Perth, Kanada, VSA. Ek glimlag, want ons verwys soms na die stede, en soms na die lande, so amper asof Kanada en die VSA net een plek is, maar Perth en Londen meer spesifiek in my gedagtes, êrens vêr; onder ’n halfmas vierkleur, voortbestaan.

Orania laat my glimlag, maar nie sommer lag nie, want ek sien hier die enorme verantwoordelikheid van en vir ’n volk wat sal moet oorleef. Orania laat my glimlag omdat dit darem effens meer as net oorleef is, eintlik heelwat meer. Ek praat natuurlik nie net oor finansiële oorlewing nie, vir dit is die halfmas bo Londen daar; kulturele oorlewing. Ons gaan selfs effens vooruit, soos wat ons nuwe woorde nodig kry, om dinge te beskryf. ‘Skermskoot’ gebruik ek sommer baie, ook soos ek onlangs moes beskrywe het dat my Britse kar eintlik nou ‘kragstuur-vloeistof’ nodig het. Een van my vriende het die kosbare, effens stoute, woord vir die Engelse ‘cleavage’; ‘pronkvoortjie’. Ek glimlag weer.

Ek herkou lank aan Leon se films wat nou verban word omdat dit so rassisties is; ek weet ook eintlik nie regtig meer wat nou gepas is vir die sosiale geregtigheidsridders nie. Die lyne word weekliks oorgetrek; en ’n gewone samelewing, met gewone mense word deur die absurditeite ge-Veto.  Maar die normale gaan voort om die normale te wees, want dit is die werklikheid van God se skepping.

Daar was dalk eendag ’n plek met mense met ‘n sin vir humor, waar hulle openlik vir hul eie en ander se idiosinkratiese lawwighede kon lag, selfs vriendelik kon spot; maar soos ek aan die begin gesê, hierdie sin vir humor het ek ook maar êrens, tussen Boetie gaan Border toe, Oh Schucks, here comes UNTAG en Invictus verloor.

Ag, liewe Heer, laat ons tog weer lag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui