Die Voortrekkermonument kom huis toe

Die Voortrekkermonument in Pretoria is tans besig om ‘n nuwe en hoopgewende fase in sy geskiedenis te betree. Sedert die hoeksteenlegging daarvan op 16 Desember 1938 kan mens van vier fases praat, wat hierna kortliks toegelig word. Die belangrikste is egter om die nuwe wending in die Monument se geskiedenis, wat gedurende die afgelope weke voltrek is, onder oë te sien en na waarde te skat.

Die eerste fase het in die teken van idealistiese nasionalisme gestaan. Dit kan formeel gereken word as vanaf 1938 met die hoeksteenlegging, tot 1949 met die inwyding van die Monument, maar dit het in werklikheid al in 1931 begin toe fondsinsamelings onder leiding van die FAK van stapel gestuur is. Dit is destyds as ‘n deurbraak beskou dat die Unieregering onder leiding van genl JBM Herzog tot die Sentrale Volksmonumentekomitee toegetree het en die fondse vir ‘n grootse monument sou voorsien. Die koste het £359,600 beloop, die grond het aan die staat behoort en die Beheerraad van die Voortrekkermonument is deur die Minister van Binnelandse Sake aangestel.

Daarmee is die patroon vir die tweede fase van die Monument se geskiedenis dan ook neergelê, ‘n tydperk wat van staatsvoogdyskap in ‘n gees van nasionalistiese beheer gespreek het. Die Beheerraad sou tipies onder voorsitterskap van die Administrateur van Transvaal funksioneer en die leier van die Voortrekkers sou onder andere deur die Minister daarop benoem word. Aangesien die destydse regering se prioriteite met die betrokke kultuurgemeenskap s’n ooreengestem het, is regeringsbeheer as vanselfsprekend beskou.

Die derde fase van die Voortrekkermonument se geskiedenis is deur ‘n sekere dubbelsinningheid gekenmerk. Aan die een kant is die monument en natuurreservaat waarop dit geleë is, aan die Afrikanergemeenskap self oorgedra – nie net as ‘n bate van onskatbare waarde nie, maar ook as ‘n baie groot finansiële verantwoordelikheid sover dit onderhoud en bestuur aangaan. Aan die ander kant is moeite gedoen om nie van die Monument ‘n simbool van die ou orde te maak nie en kan gesê word dat dit in die teken van entrepeneurskap en transformasie gestaan het. Buitelandse toeriste, veral uit China, en skoolgroepe uit swart gemeenskappe het ‘n belangrike deel van die Monument se besoekers (en gevolglik inkomste) uitgemaak en dit vanselfsprekend ‘n uitwerking op die aanbieding van die Monument as besoekersbestemming gehad.

Hierdie fase word dalk die beste uitgebeeld in die Erfenisstigting, ‘n wonderlike vrug van die entrepeneuriese bestuur van die tyd, se redding en plasing regoor die trappe na die monument self, van ‘n besonderse kunswerk van die beeldhouer Danie de Jager, wat vroeër in die Jan Smuts Lughawegebou vertoon is, maar intussen verwyder en gevandaliseer is. Aanvanklik onder die titel In Vlug, is dit hier met die onderskrif Quo vadis? vertoon. Dit verwys natuurlik na die woorde van dr DF Malan, destydse Eerste Minister, se rede by die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949, wat later as die Quo vadis-toespraak bekend gestaan het.

Die onvoorsienbare gebeure voortspruitend uit die globale verspreiding van COVID-19 het die Monument egter in ‘n krisis gedompel. Chinese én plaaslike besoekers aan die Voortrekkermonument het gedurende die grendelstaat tot stilstand gekom en het sedertdien maar stadig herstel. Hekgelde beloop maar nog ‘n fraksie van wat dit voorheen was en die vraag het ontstaan of die Afrikanergemeenskap inderdaad in staat is om self na hierdie kultuurskat om te sien. Die antwoord op hierdie vraag is nou besig om gegee te word.

Die vierde fase van die Monument se geskiedenis kan as ‘n tuiskoms in die gees van selfstandigheid en verantwoordelikheid beskryf word. Nie meer bemarking en toerisme nie – belangrik soos dit altyd sal wees, maar die eienaarskap en deelname van gewone Afrikaners, diegene wie se heldhaftige voorgeslagte daardeur gehuldig word, sal nou die Monument se toekoms bepaal. Daarin sal die FAK, wat reeds by die droom van so ‘n monument betrokke was en wat die laaste 20 jaar of wat sy kantore in die skadu van die Monument het, sal hierby ‘n sleutelrol speel, veral in die persoon van sy Hoof Uitvoerende Beampte, dr Danie Langner, wat voortaan ook die hoof van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting sal wees.

Fondse om vir die huidige tekorte te voorsien, sal in dié geledere gevind word terwyl ondersteuning by wyse van debietorders en besoek dringend verhoog sal word. Voorts sal die rykdom aan fasiliteite en geleenthede wat die terrein bied, op oorspronklike maniere benut word om daarvan ‘n ware Afrikanertuiste in Pretoria te maak.

Terug by dr Malan se Quo vadis-toespraak: die belangrikste deel daarvan is nie die vraag – Waar gaan jy heen? – nie, die belangrikste deel is die antwoord. Hy sê: “Waarheen? Kyk vorentoe en oordeel vir uself! Lê die Pad van Suid-Afrika voor u oog helder en ope tot gindse aanlokkende bloue berge van nog onbereikte Voortrekker-ideale? Of kyk u vas teen ‘n gryse misbank, waarop daar uitdagend ‘n groot vraagteken afgeteken staan?”

Ten slotte bou hy die beeld uit met verwysing na die Quo Vadis-kerk by die ingang na antieke Rome waar Petrus op vlug geskuil het teen vervolging. Daar ontmoet sy Heer hom met die vraag: waarheen? Hy sluit sy toespraak met die volgende antwoord af:

“… as daardie sieldeursoekende vraag hom dan aan u opdring: Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen? … staan dan stil, en draai terug! Terug na u volk; terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar; terug na die volksaltaar, waarop u u offers moet lê, en as dit geëis word ook uself as offerande; terug na die heiligheid en die onskendbaarheid van gesinslewe; terug na u Christelike wandel; terug na u Christelike geloof; terug na u Kerk; terug na u God!”

Dít is die sentiment waarby die nuutste wending in die Voortrekkermonument se geskiedenis aansluiting vind, al is dit onder heel nuwe en onvoorsiene omstandighede en uitdagings.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui