Die Kaapse Beraad van die Afrikaner-Afrika Inisiatief

Die openbare aandag wat die Afrikaner-Afrika Inisiatief se beraad in Kaapstad op 26 en 27 Februarie vanjaar geniet het, is dalk net so belangrik as die beraad self. Dit is die mening van Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting wat ook as spreker by die geleentheid opgetree het. Die gesamentlike byeenkoms wat deur die Konrad Adenhauer Stigting ondersteun is, is deur verskeie kleiner en gefokusde geleenthede voorafgegaan waar ‘n verstandhouding gevestig is wat tot ‘n gesamentlike verklaring kon lei.

Twee aspekte van die geleentheid word vanuit die Vryheistigting se oogpunt kortliks oorweeg. Die een is die ontvangs wat die geleentheid geniet het en wat duidelik van ‘n soort verrassingselement getuig, en die ander is die werklike inhoud van die insette en besprekings wat ter tafel was.

Eerstens: die ontvangs wat die beraad geniet het, bevestig die denkwyse wat agter die hele inisiatief om as Afrikaners met mede-Afrikane in gesprek te tree, lê. Dit kom eenvoudig daarop neer dat ons inderdaad ook Afrikane is en dat ons oor die wel en weë van ons tuiskontinent begaan is. Afrikaners oor ‘n breë front is begerig, maar ook reeds besig om op tallose terreine tot die land, die streek en die kontinent se welstand by te dra en bande met mede-Afrika te smee. Dit ten spyte van wat as miskenning en benadeling binne Suid-Afrika beleef word, iets wat aandag moet geniet as opbouende verhoudings inderdaad vir die meerderheid Suid-Afrikaners belangrik is.

Betreffende die normalisering van verhoudings is dit egter veelseggend dat die Afrikaners wat betrokke was, wat meestal maar nie uitsluitlik nie met die Solidariteit Beweging geassosieer is, ‘n besondere klem op selfstandigheid geplaas het. Die uitgangspunt kan opgesom word as dat goeie verhoudings ‘n funksie van selfstandigheid is en nie selfstandigheid ‘n funksie van goeie verhoudings nie.

Dit neem natuurlik nie weg dat die een die ander deurgaans kan versterk as ‘n opbouende gees eers gevestig is nie, maar dit onderskei die inisiatief van vergelykbare geleenthede soos die destydse ontmoeting tussen raadgewers en meningsvormers uit Suid-Afrika en verteenwoordigers van die ANC in Dakar voordat verbode politieke bewegings en partye nog ontban is. Daar het die kwessie van selfstandigheid nog min aandag geniet en het die Suid-Afrikaners ‘n groot behoefte aan aanvaarding getoon, dalk juis omdat hulle ‘n spesiale soort ongeliefde maghebbersklas verteenwoordig het.

Na die staatkundige omwenteling wat in 1996 voltrek is, het Afrikaners vir minstens ‘n dekade aan ‘n diepe selftwyfel gely en is hulle dienooreenkomstig deur die nuwe magselite gering geskat. Tallose pogings om by wyse van onmisbaarheid, aanvaarbaarheid en aanpasbaarheid die gety van transformasie te weerstaan, het intussen tot teleurstelling gelei en Afrikaners se sin vir eiewaarde en selfbehoud het ten spyte van hulle kil ontvangs in hulle geboorteland weer posgevat.

Nuwe organisasies en strategieë het weer tot nuwe kulturele selfvertroue bygedra terwyl die heersende Suid-Afrikaanse magsorde tydens die Zuma-bewind vinning aan legitimiteit en waardigheid ingeboet het. Toe die verstandhouding waarop die ’94-skikking gebou was, naamlik die erkenning van eiendomsreg, onder pres Ramaphosa finaal in die slag gebly het, het die besef onder Afrikaners algemeen inslag gevind dat ons na ons eie belange sal moet omsien. Vandaar dan ook – en heel anders as met Dakar destyds – die behoefte om ‘n hand van vriendskap na Afrika uit te steek.

Daarom dat die blote feit van ‘n Kaapstad Beraad, saam met die oorwegend positiewe ontvangs wat dit geniet het, op ‘n simboliese vlak so belangrik is. In dié opsig kan die hele onderneming tot dusver as ‘n sukses beskryf word.

Tweedens moet dit egter onder oë gesien word dat die inhoud van die beraad nie eweseer tot optimisme aanleiding behoort te gee nie. Goeie persoonlike verhoudings soos daar gevestig en bevestig is, is uiteraard baie belangrik, soms selfs belangriker as die ideologiese verskille wat bespreek word. Maar die verskille van uitgangspunt en oortuiging moet nie onder die mat ingevee word bloot ter wille van ‘n goeie beeld nie.

Die deelnemers wat op uitnodiging van die Thabo Mbeki Stigting, ‘n waardige instelling met hoogstaande ampsdraers en personeel, deelgeneem het, het byvoorbeeld deurgaans ‘n sterk Suid-Afrikanistiese inslag getoon en vereenselwig hulle moeilik met die Afrikaners wat daar was se selfstandigheidsdenke. As sodanig is dit nie ‘n probleem nie, want deur wedersydse blootstelling is daar in beide rigtings insigte gegee en geneem. As die eenstemmigheid oor onderliggende uitgangspunte egter oorskat word, kan die gebou, by wyse van spreke, hoër rys as wat die fondamente kan dra.

Terwyl werklike wedersydse erkenning ‘n hoë premie op openhartigheid en eerlikheid plaas, is dit belangrik om net soveel klem op die verskille as ooreenkomste van oortuiging en verwagting te plaas. Dan verras mens mekaar nie op ongemaklike tye en maniere nie.

Ten slotte kan mens nie na die Afrikaner-Afrika Inisiatief verwys sonder om Chris Opperman se onvermoeide ywer te vermeld nie. Ons het van die Vryheidstigting se kant al met hom ‘n videogesprek oor die Inisiatief gevoer en dit is op ons sosiale media-platforms beskikbaar. Met die voorgaande kommentaar in ag geneem, voeg die Vryheidstigting hom graag by almal wat aan hom, sowel as dr Vincent Maphai wat as sameroeper van die Mbeki Stigting se kant opgetree het, gelukwensing en dank te betuig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui