By die dood van ‘n koning

Die dood van Sy Majesteit, Koning Goodwill Zweletini van die Zoeloevolk het, soos min ander gebeure die afgelope dertig jaar, die ingewikkelde Suid-Afrikaanse samelewing met sy eie ingewikkeldheid gekonfronteer. Dertig jaar gelede was dit gewis makliker as nou om ‘n eenduidige oordeel oor sy rol en nalatenskap te fel, vandag het die ANC oudstryders soos Mondli Makhanya nodig om hom te herinner watse verraaier koning Goodwill destyds in hulle oë was.

Mens hoef nie tot Makhanya se oorwinnaarsgeskiedenis aangetrokke te voel om ongemaklik te wees as pres Ramaphosa vir Zweletini as ‘n geliefde, visioenêre monarg wat ‘n belangrike bydrae tot onder andere nasionale eenheid en die ontwikkeling van ons land as geheel gelewer het, beskryf nie. Of as die Thabo Mbeki Stigting na sy verbintenis tot nasiebou en die bevordering van ons demokrasie verwys en nog ander ANC-leiers sy eerbare en beginselvaste leierskap prys nie.

Inteendeel, hier is duidelik een of ander skroef los as die party met wie koning Goodwill – self óf as simbool vir sy volgelinge – vir minstens die dekade voor 1994 in ‘n bloedige burgeroorlog betrokke was, nou so van hom praat. Is die feit dat hy sedertdien “oorgeloop” het van die IVP na die ANC genoeg rede daarvoor? Soos Makhanya uitwys, is dit beginselvas of visioenêr om jou lojaliteit van die een dominante party na die ander dominante party te verskuif? Veral as jy materiëel daarby baat? Is die beste waarop sy nagedagtenis kon gehoop het, nie maar ‘n paar niks seggende huldigingswoorde nie? Dis nou as hy nie eintlik Makhanya se eie soort bedediging verdien nie?

Die siniese verklaring vir hierdie oënskynlik teenstrydige uitkoms, sou wees dat twee korrupterende kragte mekaar halfpad ontmoet het. Aan die een kant is die magsmarionet Zweletini bereid om enigeen wat sy uitspattige begroting te laat klop, te ondersteun en aan die ander kant is die party wat sy oortuigings sal prysgee om die koning se invloed en die talryke Zoeloevolk se stemme te bekom, bereid om die prys te betaal – tot selfs na sy dood in die vorm van valse eer.

Hoewel so ‘n ongure vertolking van ons erg gekompromitteerde werklikheid nie sonder meer onmoontlik klink nie, kom dit op ‘n té partydige oorvereenvoudiging neer en bly Suid-Afrika se wesenlike kompleksiteit in die slag. Partydig teen die kompromie-soekende koning en ANC om’t ewe, en partydig vir ‘n kompromislose fiksasie op ou ideologiese teenstellings wat met die koning se dood – én lewe – in die slag gebly het. Soos dikwels met ‘n radikale sinisme, versluier dit die ideologiese absraksies waarmee die ware gelowiges hulle teen die werklikheid verskans.

En wat is die werklikheid in hierdie verband? Dat die koning van die Zoeloevolk, soos talle ander tradisionele leiers teenoor wie die ANC tydens sy bevrydingstryd so ‘n afwysende houding ingeneem het, ‘n onomstootlike werklikheid geblyk te wees het. Tot dié mate dat die hele instelling van tradisionele leiers, selfs tradisionele regspraak in die uiteindelike Suid-Afrikaanse grondwet vervat is. Tradisionele leierskap verteenwoordig by uitstek ‘n element van die ingewikkelde Suid-Afrikaanse konstitusie wat nie anders kon as om in die Grondwet erken te word nie – dit is so naby as wat die Suid-Afrikaanse stelsel en ‘n federale element kom.

Ironies dat die ANC hom in die verband nóg van die Apartheidsbedeling, nóg van die Britse Indirect Rule onderskei deur tradisionele leiers nie soseer te bemagtig en erken nie, maar as ‘n onomstootlike werklikheid einde ten laaste te probeer koöpteer. Nie net die Zoeloekoning nie, maar dertien monargieë (waarvan ses na 2010 sou verval) en meer as 800 senior tradisionele leiers het in 2018 saam nagenoeg R250 miljoen rand ontvang vir dienste wat op die oog af meer simbolies as prakties van aard is. Sover dit van hulle grondwetlike rol afhang, is hulle net daar om nasiebou en stabiliteit te verseker.

Die punt is dat min dinge in die politiek so prakties is as simboliek. Watter praktiese rol speel die 90 lede van die Nasionale Raad van Provinsies nou eintlik? Of die voorsitters en lede van Parlementêre oorsigkomitees wat nie vinger verroer het  – óf omdat hulle nie kon nie, óf omdat hulle nie wou nie – om staatskaping te voorkom? Of ‘n minister van polisie wat op televisie gaan sonder om te weet of sy hoof van misdaadintelligensie afgedank is of nie? Simboliek is naamlik, meer as argumente, die dryfkrag agter politiek omdat mense en menseverhoudings nie uitsluitlik of selfs oorwegend rasioneel van aard is nie. Veral nie in die sin dat die werklikheid ten diepste ‘n rasionele konstruk, ‘n stuk abstrakte bewussyn is nie.

Nee, mense is gemeenskapswesens wat nooit die daglig sou aanskou het as dit nie vir die gemeenskap van twee ouers was nie, wat nie hulle eerste weke sou oorleef het as moederskap tot rasionaliteit beperk sou wees nie, wat niks sou verstaan of bekend maak as dit nie vir hulle taalgemeenskap was nie, wat nie hulle plek in die wêreld sou kon inneem as dit nie vir een of ander openbare orde is wat hulle beveilig en bemagtig het nie en wat soms, vreemd genoeg vir enigeen wat nie só grootgeword het nie, in die persoon van ‘n koning of koningin beliggaam word.

Die monargie is nie ‘n rasionele instelling nie. Of dit die Britse, die Zoeloe-, of die Pondo koningshuis of Modjadji s’n is, die monargie is nie in die eerste plek ‘n rasionele instelling nie. Mens sou egter kon aanvoer dat die monargie in baie gevalle rasionaliteit voorafgaan en moontlik maak. Dit is in elke geval ‘n unieke historiese uitdrukking van die lewegewende energie en wêreldordenende mites, wat uit diep godsdienstige bronne put en waarsonder mense vreemdelinge in die werklikheid sou wees eerder as om in ‘n vertroude wêreld tuis te kom. Vir wie daarmee groot geword het, is die monargie ‘n simboliese orde wat aan hulle die vastigheid gee om dit ook buite die bekende te waag.

In ‘n sosiale orde wat sy sin vir gesag verloor het – vir die moderne wêreld, dus – is die hierargiese aard van die monargie, wat per definisie tradisionalisties is, ‘n onverteerbare gegewe. Die werklikheid is egter dat slegs gemeenskappe wat hulle tradisies deur die Verligting van die Rede (die oorsprong van die moderniteit) laat deur-skyn het, maar nie laat vernietig het nie, daarin geslaag het om op hulle eie terme te moderniseer. Elke ander vorm van modernisering kom op ‘n vorm van kolonisering en verowering van buite neer. En dikwels dra die monarg die vlam van samehang tussen geloof én rede namens sy onderdane.

As buitestaander is dit my indruk dat, op ‘n manier wat nie vir my toeganklik is nie, Koning Goodwill Zweletini kaBhekuzulu die draer van so ‘n vlam was. Dat die Zoeloes in Suid-Afrika so ‘n hegte volksgemeenskap kon uitmaak terwyl hulle vir dekades, selfs oor eeue heen aan hulle voorvaderlike tradisies getrou gebly het terwyl hulle tegelyk die moderne wêreld van mynbou, industrie en politiek betree het en ‘n buitengewone groot rol in die vorming van die huidige Suid-Afrika gespeel het, moet iets daarmee te doen hê.

Vir wie modernisering ‘n rewolusie en ‘n afskeid van hulle tradisie is, is die dubbelsinnigheid wat ‘n monargie onafwendbaar in hom saamdra, ‘n doring in die vlees. Wie daarenteen beide die breuke én kontinuïteite van ons menslike bestaan na waarde skat, kan vir ‘n koning se rol waardering hê, al gaan dit met kritiek gepaard. Dit is waarom Zweletini, ten spyte van sy ooglopende tekortkominge, tog geliefd was en sy dood opreg betreur kan word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui