Kijkglas 3: Akkerblaarbootstories

deur Pieter Krige

Soos dit met almal van ons gaan, is daar ’n lewe voor die een wat ons tans leef. Ek bedoel natuurlik nie iets bo-natuurliks en hergeboorte-agtig  soos in van die Oosterse gelowe nie, maar die eenvoudige werklikheid dat daar vir elke mens ’n lewe voor vandag was. Dit mag dalk voor die hand liggend klink, en dit is eintlik, dus kom ek nie met ’n groot stuk wysheid of nuwe insig nie. Elke mens het ’n storie, een wat tot vandag geloop het, en in hierdie storie is daar soveel van ons menswees inverweef dat ons grootliks mekaar kan leer ken, deur na mekaar se stories te luister. Ek kry onlangs die vraag, van een van die studente hier op Orania, wat min of meer neerkom op ’n onskuldige en opregte: “Maar wie is jy?”

Ons het hierdie vraag anders beantwoord, ons as mensdom, oor verskillende tydperke heen. Nie dat een mens se antwoord dieselfde as ’n ander een sal wees nie, maar daar is ’n bepaalde fokuspunt, of dalk eerder vertrekpunt, in die vertel van jou storie, wat die inhoud daarvan anders inkleur. En na die “maar wie is jy?” sit ek en worstel met die “waar begin mens?”

Ek dink, in die gees van ons tyd, miskien ’n gees wat aan ’t sterwe is, sou die vraag beantwoord kon word met my ID-nommer. Dit is immers wat die banke en selfoonmense altyd wil weet; darem saam met my fisiese adres en gewoonlik my naam en van of wanneer daar debietorders afgaan; of salaris inkom. Dit is koue transaksionele identiteit. Ek wil nie daar begin nie, dit mis immers die punt, dit is nié wie ek is nié. Dan is daar natuurlik ook die handtekening, wat ’n langer geskiedenis het as die nommers en goed, en seker terug gevind kan word in die seëlring op dokumente; ’n tipe verklaring dat hierdie my naam is, en dat die egtheid van die dokument juis in my naam bevestig word, “Koning Louis IV”  vertel egter seker meer as wat Pieter Stephanus Krige sou vertel, omdat daar ’n tipe voorkennis benodig word om so ’n merk van egtheid te kan terugvind tot die naam van die een wat dit waarmerk. Die student het in elk geval my naam geken, en het steeds die vraag gevra. ’n Naam is natuurlik ook nie somaar net ’n leë ding nie, veral nie as ek die Bybel so lees nie, maar ek dink dat ons dalk minder van ’n naam maak, as wat ’n naam in die Joods-Christelike geskiedenis beteken en bedoel het; Abram, Abraham, Saulus, Paulus, Petrus… Hoeveel keer lees ons nie dat die babatjie juis ’n naam gekry het wat iets sê van die gebeure rondom daardie mens se wording. “Sy het gelag” Was dit Sarah? Ag, ek kan nie nou mooi onthou nie. In ieder geval, was daar nogal baie in ’n naam opgesluit. Ek lees egter my naam, wat ek nou hierbo geskrywe het, en vir my en my naby mense is daar ook meer in opgeskrywe. Miskien ook vir iemand wat ons volk se geskiedenis in kleine besonderhede ken. Dit was my Oupa se name en die van Krige het so effens na Jan in die Kaap, vanuit Brochterbeck, Duitsland hier aangekom. Natuurlik beteken hierdie ‘Jan’ vir ons ook sommer dadelik iets groots en anders. Dit is ons begin hier aan die Kaap. Ek kan ook steeds nie help om te glimlag as iemand homself voorstel, met ’n stewige handdruk en die duidelik “NAAM VAN” nie. Ek het al opgemerk dat van die ouer mense, veral die ooms natuurlik, sou groet met “VAN”, sonder die voornaam. Ek het nog altyd daaroor gewonder. Miskien ’n aankondiging van verbintenis? In elk geval, sien ek dat die jongere geslagte meestal net hul voornaam weer sal gebruik. “Ek is NAAM”.

Ek wil egter eintlik dit uitwys, dat ons NAAM VAN nie die vraag:“Wie” genoegsaam beantwoord nie, en ek dink die student sou teleurgesteld gewees het, of gedink het ek is besig om my varkies te verloor; of miskien vir haar vriendin kon sê: “Hoor hierdie verwaandheid.”  

Dit is hoekom ek aan mense se stories dink vanoggend, want hul stories gaan meer vertel van wie hul is. Ek gaan u nou nie verveel/vermaak met my lewensverhaal nie, wat meestal maar beige en pankoek-agtig is. Wel een herinnering deel, en dit is van ’n lentereën in die hoëvelde van die Ou Transvaal; en dit is van ’n seuntjie wat in die grondpad voor die huis, ’n akkerblaarboot stroompie-af begelei, met voortjies, walletjies, en soms ’n hand wat dit stuur. Stroom-af, onder die kaalvoetseun se wakende hand. Waar het die storie van die blaartjieboot begin? By die eerste akker? By die boom? By die tak? By die lente? By die reën? By die seun?

“Wie is jy?”

Ek is ’n akkerblaarbootjie, stroomaf onder die hand van die Seun, en ek trek nou híér.

PSK

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui