Die verterende vuur van revolusie

deur Pieter Krige

“But in days of blood as in days of peace the years fly like an arrow…” – Gorky

Alhoewel hierdie volgende woorde in ’n ander deel van die wêreld afgespeel het, as die sub-opskrif, met die begin van ’n ander revolusie, was dit in Rusland ook “…the best of times, and the worst of times.” – soos die bekende begin van a Tale of two cities van Charles Dickens. Ek het die afgelope tyd so ’n paar van die Russiese literêre werke gelees, ongelukkig nie in die Russies nie, maar wel goeie vertaalde weergawes, dit is nou as die boek nie in, byvoorbeeld Engels, oorspronklik geskrywe was nie. Ek het dit aangepak as ’n reis na ’n onbekende, maar wat ook in Suid-Afrika vir ons bekend moet wees, aangesien die raakpunte in die politieke gebeure, asook die heersende ideologie, te veel is om te mis. Die gedagtereis na ou Rusland het ook nie by Rusland begin nie, maar wel in die strate van Frankryk en La Guilotine wat die bloed van die adelstand tussen die modder, roet, as en ekskrement, onder dansende voete met die waansinnige klanke van La Carmagole, ingepars het.

Julle sal natuurlik dadelik kan kritiek lewer en sê dat die een revolusie veel anders as die ander was, dit is nou die Franse Revolusie en die Bolsheviks van Rusland (Tweede revolusie, maar eintlik maar die eerste een ook), en ek sal dit toegee, dat dit twee verskillende ideologieë was wat die dryfkrag was, maar die raakpunte en die aard van revolusie, maak dit, in ’n sekere sin, ‘vry, gelyk en broederlik’. Dit is ook só en waar dat die revolusies meer as ’n eeu van mekaar plaas gevind het, dus poog ek geensins om hier ’n tipe historiese stuk te skryf nie, maar een wat die aard van die mens en die aard van revolusie aanskou.

The tale of two cities is nou reeds vermeld, die ander boeke het begin met, en selfs my lees-kronologie is effens dof so tussen die Covid-koorse deur. Eintlik het die reis ook nie begin by die Twee stede nie, of selfs die Russiese verhale nie, maar by die werke van Thomas Paine, The Rights of Man en Common Sense, wat op die vooraand van die Amerikaanse vryheid, onder die Britse kroon uit, die weg na die hart van volk gevind het. Rusland het ek ontdek deur te begin met Tolstoy se Anna Karenina, eintlik by Marx se Communist Manifest, en weereens verwar die kronologie duidelik hier. Êrens tussendeur het Golding se Lord of the Flies ook ingeglip, saam met, seker die swakste boek wat ek nog gelees het, Mendelevski’s Box deur Swinde en Hitler se Mein Kampf; ook die bekende Wind in the Willows, twee skrywes oor die Boere-oorlog deur De Wet en Arthur Conan Doyle, wat ek sy aan sy gelees het… maar ek sal hierdie temas vir ’n latere skrywe laat. Terug by Rusland en Anna Karenina, Mother van Gorky en The White Guard van Mikhail Bulgakov. Laasgenoemde is ook die mees onlangse en dus seker die herroepbaarste in my Covid-19 koorsmis brein leeswerk.

Ek het ’n, bykans obsessiewe, begeerte om te verstaan. En vanuit hierdie leeslys, sal julle seker ook kan opmerk, dat dit ’n begeerte is om menslike gedrag te verstaan. Dan ook nie die individuele mens noodwendig nie, maar die Mens, as groepe, volkere en die omstandighede en invloede wat daar op gemeenskappe inwerk.

Die reis na Rusland begin dan in die Romantiek van ’n adelstand wat in die prag en praal van dekadente welvaart leef en die peasants (En ek kry nie ’n Afrikaanse woord hiervoor nie, want met ons geskiedenis was dit nooit ter sprake nie) wat in eenvoud die land van die grond-here bewerk het. Eintlik, met die industrialisering, is daar nog ’n groep/klas/tipe mens in Rusland gebore, die fabriekswerker. Tussen hierdie groepe, lees ek die spanningsvlakke raak, wat my aan vandag se social justice warriors herinner, met hul bleeding hearts en gelykheidsdroom/-begeerte. Ek sal dit later moet kwalifiseer, want hoe op dees aarde, jy kan tog mos nie teen gelykheid wees nie? Ek wil ook nie een van die boeke vir ’n toekomstige leser daarvaan breek deur te veel van die ontplooiinge te openbaar nie, dus gaan ek, miskien vaag, maar tog doelbewus, na die makro- en selfs metaverhaal verwys.

Anna Karenina speel af in die tydperk, net voor die groot omwentelinge wat seker met die gebeure van 1905 en 1917-1918 in Rusland tot ’n spits gedryf is, maar selfs daardie gebeure was binne ’n groter konteks, die voorspel tot die twee groot oorloë. Tolstoy begin die werk, wat hy tussen 1873 en 1877 laat verskyn het, met die aangrypende “Happy families are all alike; every unhappy family is unhappy in its own way.” – miskien minder bekend as die begin van Dickens se magnus opus, maar vir my selfs meer aangrypend; geluk, mense, familie, ongeluk, onderskeid en samehang. My gedagtes draal agter hierdie woorde aan.

Maksim Gorky begin sy Mother met ’n verbandhoudende, miskien minder treffende,“Every day the factory whistle bellowed forth its shrill, roaring, trembling noises…” en dan  “…into the smoke-begrimed and greasy atmosphere of the workingmen’s suburb; and obedient to the summons of the power of steam, people poured out of little gray houses into the street. With somber faces they hastened forward like frightened roaches, their muscles stiff from insufficient sleep.”

En in die ander verhaal, begin Bulgakov sy White Guard met : “Great and terrible was the year of Our Lord 1918, of the Revolution the second.” Die eerste revolusie sal dan natuurlik die een van 1905 wees, maar om eerlik te wees, “wat is 13 jaar tussen komrads dan nou eintlik?”Ek kan baie spekuleer oor wat geboorte gegee het, of eerder die vonk was, van die revolusionêre gees wat oor Rusland gebrand het, moontlik die nederlaag teen Japan, moontlik die werksomstandighede, moontlik die misbruik van mag, moontlik die koue en honger, moontlik die vodka… Ek dink egter, nee ek weet, dat al hierdie dinge die strooi en takkies, die alkohol en lap, die hout en gras was, droog en gereedgemaak, vir die vonk om wêreld aan die brand te steek. Die vonk was egter iets so eenvoudig soos woorde; ’n fluister, ’n blaadjie, ’n koerantjie, ’n stem, ’n bondel leesgoed. En woorde steek die ganse droë bos aan die brand. Dit was ook nie leë woorde nie, maar woorde, gebore in ’n idee en geplant in ’n hart, veel meer as ’n verstand. Miskien is ek nou dalk onredelik, oor die verstand opmerking, dit was nie somaar redelose emosie nie, daar was tog iets logies aan die inhoud ook, iets wat sin gemaak het.

Gorky bied iets van hierdie sin aan in die feit dat een van die meesters, wat seker maar die eienaars van grond, fabrieke en ook die landhere kan wees, maar een van hulle, wat ’n tekstiel fabriek besit het aan sy minnares ’n goue wasbak geskenk gegee het; dit terwyl ’n 28 jarige werker daar longskade opgedoen het wat sy vroeë dood laat nader kruip het. Dit is aangrypend dat hy, Gorky, die jongman beskryf as die “getuie” die getuie wat moet getuig teen die onreg. “Hoe kan jy dan teen gelykheid wees?” Dit is teen hierdie agtergrond, met derduisende getuies, wat die vonk van die ‘Werkersrevolusie’ oor Rusland, en eintlik die wêreld, begin spoel het. En iets van die romantiek van die ou klassieke Rusland, val tussen die staal, roet, olie en teer; tussen die trein en die spoor, in; om in ’n vermorselde hoop daar te lê. Ek spring nou natuurlik die verhaal vooruit maar soos alle dinge, was ook hierdie nie ewigdurend en altyd vermorseld nie.

Dit was hierdie selfde misbruike en ongelukkigheid wat die brandgoed vir die Franse revolusie was, bietjie honger, bietjie magsmisbruike, bietjie swaarkry, bietjie alkohol, bietjie armoede, bietjie verkragting van jong meisies, bietjie belastings… en in die verhaal van ‘twee stede’, ’n kind wat in die strate doodgery word.

Hierdie mense, wat misbruik voel, wat onwaardig voel, nie-menswaardig nie, vind hul identiteit in die broederskap van swaarkry, in die identiteit van ‘ons’ en ‘hulle’. In ’n eenvoudige en brutaal gevaarlike dualisme. Dit is natuurlik veel meer kompleks as dit, die mensdom is altyd meer kompleks as dit en Bulgakov kleur dit meer kompleks in in The White Guard, wat hier in 1918 rond afskop vanuit die Oekraine, Kiev. Daar was veel meer identiteite as die twee, wat die Marxisme en die Bolsheviks, met Lenin en Marx se woorde in die bevolking se harte ingebrand het, veel meer en divers. Maar omdat hierdie eenvoudige revolusie net kan werk as daar twee groepe in die klassestryd is, word die bevolking in die twee groepe ingehammer en ingesekel. En in hierdie eenvoudige vorme van identiteitspolitiek, word identiteit juis die hekkie waaroor dit struikel.

Miskien is dit hier waar ek met die oorsig oor die leeswerk wil anker gooi, vir eers, in ieder geval. Die ideologie van revolusie, het ’n eenvoudige verdeling van ’n ‘vir’ en ’n ‘teen’ nodig, dit het massas nodig om te slaag; en die massas moet eendragtig wees. Kultuur, taal, geloof, kuns, idees, talente… al hierdie dinge staan dan in die weg van die oplossing op wat inderdaad ’n noodkreet geword het. Die ongeregtigheid moes ophou, maar die antwoord se prys, die antwoord se koste was eintlik jou en jou mense se kosbaarste, hul identiteit, hul menswees. In die naam van regverdigheid, gelykheid, broederskap, moes jy of ‘vir’ of ‘teen’ wees; ‘ons’ of ‘hulle’. Die woorde van revolusie, is altyd een, nie vele nie, een; nie diversiteit nie, een; nie gemeenskappe nie, maar een.

Vandag hoor ek steeds die woorde van die sosiale geregtigheidskrygers; en ‘hoe op dees aarde kan mens dan teen iets wees soos sosiale geregtigheid?’ Ek hoor die woorde, en dit spreek tot die hart, en die woorde vat vlam, en die prys van revolusie is jou alles.

Daar was sekerlik grootskaalse mobilisering nodig om die onreg van die begin van die era van industrie reg te stel. Die koste, en dit het die geskiedenis bewys, is identiteit. Die sosiaal-demokratiese revolusie is ’n verterende vuur wat beloof om mense menswaardigheid te bring; dan identiteit op die altaar van woorde offer.

“That’s what a revolution does to the trains. Two hours’ delay for every hour on the move.’” – Gorky

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui