deur Carel Boshoff
Mary Eberstadt. Primal Screams. How the Sexual revolution Created Identity Politics. Templeton Press. 2019.
Die beeld van ‘n wolf verskyn minstens twee keer en op twee heel uiteenlopende maniere in ons Westerse politieke denkgeskiedenis. Die eerste keer het betrekking op die vestiging van Rome (750vC) en die tweede keer maak dit deel uit van Thomas Hobbes se beskrywing van iets soortgelyk, maar meer abstrak, naamik die vestiging van die moderne staat in sy boek Leviathan (1651).
In die ontstaansmite van Rome, soos deur Virgilius opgeteken in die eerste eeu voor Christus, ontsnap Aeneas van die brandende Troje en vestig hom, na vele omswerwinge, aan die Tiberrivier in Italië. Een van sy nakomelinge, Rhea Silvia, dien later as maagdelike priesteres vir die godin Vesta, maar kry ‘n tweeling seuns, Romulus en Remus, waarvan die oorlogsgod Mars die vader sou wees. Sy word tereg gestel en die twee babas word in ‘n rietmandjie in die rivier gegooi om te sterf, maar ‘n wolfin vind hulle en maak hulle groot.

As jongmanne vestig hulle Rome as polis, maar beland in ‘n stryd oor wie die stad sal regeer en sy naam daaraan sal gee. Romulus oorwin Remus en die stad word Rome. Opvallend is dat die verhouding tussen mense in hierdie verhaal deur naywer, moord en doodslag gekenmerk word, maar dat die wolfin, die Lupa Capitolina, die sorgende en selfs lerende rol speel.
By Hobbes is dit heel anders. Die wolf speel nie ‘n besondere rol in sy verhaal, naamlik dat mense oorspronklik in ‘n onophoudelike oorlog van almal teen almal gewikkel is totdat die staat soos ‘n magtige dier verskyn en hulle onderwerp deur aan hulle vrede in ruil vir vryheid te gee nie. Hierdie gedwonge wapenstilstand tussen mense is nodig omdat homo homini lupus – mense vir mekaar wolwe is deurdat elkeen net na homself omsien en mekaar met die kleinste aanleiding verskeur.

Dit is die agtergrond waarteen Mary Eberstadt in haar Primal Screams. How the Sexual Revolution Created Identity Politics (2019) ons siening van wolwe ondersoek voordat sy ons siening van mense in behandeling neem. Die beeld, wat by Hobbes s’n aansluit, van wolwe as aggresiewe jagters wat alleen of in losse troppe beweeg en in ‘n voortdurende stryd om dominansie en buit verkeer, is volgens onlangse navorsing heeltemal verkeerd.
Wat wel waar is, is dat wolwe in isolasie of vanuit isolasie in willekeurige groepe vrygelaat, só reageer – en dat dit binne dié onnatuurlike, mensgamaakte verband is wat wolwe tot onlangs meestal dopgehou is. Waar wolwe in hulle natuurlike verband verkeer, is hulle nie net aansienlik meer vreedsaam nie, hulle gedrag word deur familieverwantskappe en groepsleer bepaal. Wolwe lewe tipies in “gesinsverband” met ‘n “pa”, “ma” en “kinders”, met soms alleenlopende “tantes” ingesluit. Kleintjies leer hulle gedrag van die oueres en konflik is nie die oorheersende eienskap van hulle verhoudings nie.
Die moderne beeld van vegtende wolwe word inderdaad deur waarneming bevestig, maar dit is die waarneming van ontwrigte en ontwortelde individue wat nie die voordeel van hulle onderlinge verband en leergeleenthede gehad het nie. Saam met ander soortgelyk ontwortelde individue is voortdurende konflik aan die orde, maar dit sê meer van hulle omstandighede as van hulle aard. En dit neem mens terug na Lupa Capitolina wat twee babas vind en hulle grootmaak eerder as verskeur. Ongeag of die mite op waarheid gegrond is of nie, blyk dit dat die mense van die oudheid wolwe beter geken het as wat moderne mense hulle ken.
Daarmee is die grondslag vir Eberstadt se argument in werklikheid gelê. As dit van wolwe waar is – en sy noem nog talle ander voorbeelde in die diereryk ook – dat hulle familiale verbande deurslaggewend is vir hulle aanpassing en gedrag, waarom sal dit nie ook van mense waar wees nie? Wat laat ons dink dat individuele mense wat uit gebroke en ontwrigte gesinne kom nie aanpassings- en verhoudingsprobleme sal hê nie? En dat as sulke ontwrigting die norm in ons samelewing geword het, die samelewing nie in die geheel ontwrig sal wees nie?
Die belangrikste oorsaak, al sy dit dalk nie die enigste nie, van die endemiese gesinsverbrokkeling wat ons era kenmerk, is volgens Eberstadt die seksuele rewolusie wat saamhang met die algemene beskikbaarheid van geboortebeperkingstegnologie. Sy beskryf talle onbedoelde gevolge van die ontkoppeling tussen seksuele verkeer en prokreasie wat uiteindelik bydra tot ‘n algemene onvermoë om die vraag Wie is ek? met verwysing na tradisionele verhoudings en begrippe te beantwoord. Dit is dan ook waar sy die verband tussen die seksuele rewolusie en hedendaagse identiteitspolitiek trek.
Die merkwaardige van Eberstadt se ontleding is dat, ten spyte van haar eie konserwatiewe beskouings, sy die hele kwessie van identiteitspolitiek, wat deesdae die vreemdste vorme aanneem, op ‘n uiters deernisvolle en begrypende wyse benader. Sy stel die vraag Wie is ek? telkens teen die agtergrond van die ingrypende persoonlike en maatskaplike ontwrigting wat ‘n verbrokkelde gesinsorde vir mense meebring en mens kan eintlik nie anders nie as om begrip vir die vreemde antwoorde wat soms daarop volg, te ontwikkel nie.
Die vreemdste is egter hoe beperk die insig in die verband tussen die seksuele rewolusie, gesinsontwrigting en die algemene ontwrigting wat op die huidige identiteitspolitiek uitloop, is. Alle aanduidings is dat kinders uit gesonde gesinne beter presteer, minder tot kriminaliteit en dwelmgebruik geneig is, ‘n beter selfbeeld het, meer stabiele verhoudings aanknoop, ens. ens. ens. En tog sien mens in die openbare sektor programme teen dwelmmisbruik, teen jeugmisdaad, teen geweld ens. maar programme vir gesinsbehoud is naastenby tot konserwatiewe kerke en burgerlike inisiatiewe beperk.
Dalk omdat geen gesin van spanning vrygestel is nie en die perfekte vader, moeder, kind, oom of tante of wat ook al nie bestaan nie en omdat niemand persoonlik ongeraak is deur gesinsontwrigting nie, is mense geneig om terug te deins van kritiek op disfunksionele gesinne. As mens daarby in aanmerking neem hoe aansprake op “gesinswaardes” soms as rookskerm vir onderdrukkende verhoudings gebruik word, is dit duidelik nie so eenvoudig as om te sê herstel net ons gesinne! nie. Dalk daarom dat Eberstadt ook nie in haar boek met ‘n konkrete oplossing of voorstel vorendag kom nie. Sy verwys self daarna dat mens eintlik magteloos staan teenoor so ‘n omvattende en verreikende verskynsel, maar ‘n goeie greep op ‘n ingewikkelde probleem is al ‘n belangrike stap in die regte rigting. En daarvoor is Eberstadt se Primal Screams ‘n waardevolle gids.