Vryheid 2021: ‘n Strategiese inset

Verwagtings en beplanning vir Afrikaners in die komende jaar.
‘n Strategiese inset – 14 Januarie 2021

Inleiding

Die Vryheidstigting het dit goedgedink om 2020 (van alle jare!) af te skop met ‘n strategiedomkument wat “verwagtings en beplanning vir die komende jaar” in behandeling geneem het. Kostelik genoeg skuil daar êrens op die ses bladsye ‘n sinnetjie wat lui: “Omdat ons weet dat die onverwagse om elke hoek en draai wag om te gebeur, en dat die grootste verrassing soms is wanneer die verwagse gebeur, is hierdie nie ‘n poging om die jaar wat voorlê se gebeure te voorspel nie. Dit is eerder ‘n poging om tendense aan te stip en aan die hand daarvan voorbereid te wees op sowel die bevestiging as die afwyking daarvan.”

Hoe buitengewoon die onverwagse sou wees, kon niemand voorsien nie, want enkele weke na die bekendstelling van ons Vryheid 2020-dokument het die toneel in die wêreld en in Suid-Afrika dramaties verander toe dit blyk dat infeksie deur ‘n nuwe stam van die Coronavirus (Covid19) wêreldwyd voorkom en die moontlikheid van ‘n pandemie inhou terwyl daar nog geen teenmiddel beskikbaar is nie.

Die moontlikheid van groot lewensverlies, vergelykbaar met die Spaanse griep van 1918, kon nie buite rekening gelaat word nie en drastiese stappe is geneem om oordrag te beperk. In Suid-Afrika is ‘n ramptoestand afgekondig en ‘n volledige grendelstaat, met al die vernietigende gevolge vir ekonomiese en sosiale verkeer, is vir etlike weke ingestel waarna dit stelselmatig verslap is, maar onlangs weer verskerp is. Die grendelstaat en sy gevolge, wat geblyk het groter as die impak van die pandemie self te wees, het gou almal se aandag in beslag geneem en die Vryheidstigting se strategiese inset het ver op die agtergrond geskuif. Die moontlikheid is oorweeg om ons Vryheid 2020-dokument te herroep en ‘n nuwe

strategiese inset te formuleer, maar ons het daarteen besluit omdat die Vryheidstigting nie in die herhaling van gemeenplase wou verval nie en nie gou in staat was om met oorspronklike insigte vorendag te kom nie. Ons moes eers ‘n greep op die nuwe werklikheid wat besig was om vorm aan te neem, kry en dan ons verwagtings en beplanning daarby aanpas. Intussen was dit ooglopend duidelik dat elkeen moes poog om die impak op sy of haar lewe te beperk en op nuwe maniere so produktief as moontlik te bly.

Ons neem dan ook met dankbaarheid kennis dat Afrikaners op talle oorspronklike maniere daarin geslaag het om struikelblokke te oorkom en dat ons organisasies selfs voordeel uit die omstandighede kon trek. Dit spyt ons dat dieselfde nie van die Suid-Afrikaanse regering en samelewing gesê kan word nie, al het talle Suid-Afrikaners hulle bes gedoen om nie die slagoffers van dikwels onbekwame en irrasionele krisisbestuur te word nie. Dit het net weer bewys dat die “prosedurele republiek” waar waardes na die private domein verban word omdat die veelvolkige samelewing nie op waarde-inhoude kan ooreenkom nie, baie min tot die werklike welstand van sy burgery kan bydra.

Daarenteen is gemeenskapsgebaseerde inisiatiewe onder werklik uitdagende omstandighede veel meer belowend. Dit het dan ook daartoe bygedra dat, in aansluiting by ons Vryheid 2020-dokument, Afrikaners vandag die woord vryheid met meer vrymoedigheid gebruik en hulle nie langer in die ban van die Transformasioniste se monopolisering daarvan bevind nie. Veel moet nog gedoen word om positiewe en praktiese inhoud daaraan te gee, maar die belangrikste verandering het na ons mening reeds onder baie van ons mense plaasgevind: ons is opnuut gereed om op vryheid aanspraak te maak.

Agtergrond: Suid-Afrika in die 2020’s

Afrikaners se verwagtings en beplanning vir 2021 moet dus met die wêreldwye reaksie op en met die gevare van die voortgaande Covid19-verskynsel rekening hou, maar ons kan nie bekostig om uitsluitlik daarop te konsentreer nie. Terwyl goeie mediese leiding en gesonde verstand in die verband gevolg moet en sal word, kan ons nie nalaat om die politieke en maatskaplike tendense wat die Suid-Afrikaanse samelewing toenemend kenmerk, in oënskou te neem nie. Verder: terwyl die nuwe dekade onder vreemde omstandighede betree is en na verwagting steeds deur ‘n wêreldwye gesondheids- en ekonomiese krisis gekenmerk gaan word, gaan Suid-Afrika dit tegemoet sonder enige vooruitsig om die struikelblokke wat die pandemie meebring, te oorkom. ‘n Realistiese taksering van die situasie is noodsaaklik alvorens enige lewensvatbare antwoord daarop ontwikkel kan word. Enkele hoofpunte word uitgelig:

Eerstens beskik die Suid-Afrikaanse samelewing na jare van mislukte Swart Ekonomiese Bemagtiging, Regstellende Aksie en Transformasie nie oor die sosiale kohesie om enige ernstige uitdaging tegemoet te gaan nie. Die redes sluit in dat Tranformasionisme hoogstens ‘n verwyderde Swart elite geskep het terwyl die breë Swart bevolking se lot min verbeter en dikwels eerder verswak het. Intussen word die vorige Blanke elite, wat vir herverdeling geteiken is, verwyt vir hulle sukses om, kontra regeringsbeleid, hoegenaamd nog geslaagd na hulle eie belange om te sien. Die militante populisme wat voorspelbaar genoeg met die enorme gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika saamhang, word teen Blanke Suid-Afrikaners en Afrikaners gemonster. Van “eenheid in die verskeidenheid” is daar gevolglik geen sprake nie.

Tweedens bevind die Suid-Afrikaanse staat hom nou op die fiskale afgrond waarteen daar sedert 2014 gewaarsku is en wat meebring dat die regering eenvoudig nie meer die kontant kan vind om al sy lopende verpligtinge na te kom nie. Die gesondheidskrisis het dit natuurlik vererger en versnel en die gevolg is dat finansiële noodhulp toegepas sal moet word om humanitêre en politieke krisisse af te weer. Dit sal die regering se vermoë om outonoom op te tree ernstig aan bande lê. Suid-Afrika staan op die punt om, ter wille van oorlewing, sy soewereiniteit prys te gee en hom aan ‘n vorm van koloniale voogdyskap van internasionale finansiële instellings oor te lewer. Die noodsaaklike beleidsaanpassings wat dit mag meebring, sal egter deur die wrewel wat dit veral onder die nuwe elite wek, oorskadu word. Dit sal ook tot militante populisme bydra.

Derdens word die regering en die nuwe elite deur diepgaande en omvattende korrupsie en selfverryking geteister. Die ANC se eie uitsprake hieroor, wat met waardering bejeën moet word, stel hulle egter nog nie in staat om doeltreffend daarteen op te tree nie en ampsdraers van die laagste tot op die hoogste vlak kom skynbaar straffeloos daarvan af. Veral teen die agtergrond van sosiale verbrokkeling en fiskale onmag ondermyn korrupsie die staat se vermoë om enige groot uitdagings te oorkom. Selfs donateursfondse wat spesifiek vir die Covid19-krisis beskikbaar gestel is, is geplunder.

Vierdens het die regerende party die historiese skikking waarop die gedagte van ‘n “Reënboognasie” gebaseer was, vaarwel toegeroep deur bv. onteiening sonder vergoeding as beleid te aanvaar. Terwyl aanvaar moet word dat kragte in die samelewing aan die ANC geen ander keuse gelaat het as om hom opnuut en met oorgawe tot sy beplande Nasionale Demokratiese Rewolusie te verbind nie, kan nie ontken word dat dit ‘n belangrike sektor van die samelewing, naamlik Afrikaners en ander Blankes, in ‘n uiters ongunstige en dikwels onveilige posisie plaas nie.

Verwagtings vir 2021

Waar ons verwagtings verlede jaar van die plaaslike na die globale beweeg het, moet ons onder die huidige omstandighede by die globale begin. Dit is duidelik dat die voortgesette Covid19-pandemie en pogings om dit hok te slaan, sowel as die ekonomiese en sosiale impak wat dié pogings gaan maak, die toneel vir ten minste nog die volgende jaar sal oorheers. Dit is ook duidelik dat die laat-moderne illusies van globale grensloosheid in vrye beweging en handel, sowel as grenslose of onbeperkte ekonomiese groei onwillekeurig omver gegooi is.

Hoewel voorstaanders van grenslose globalisme sekerlik sal poog om die hoogbloei wat hulle ideologie die afgelope dekades beleef het, te herwin, is dit waarskynlik nie uitvoerbaar nie en sal selfs die nuwe regering in die VSA tot ‘n groter mate met die begrensdheid van ons menslike bestaan gekonfronteer word. Sonder om te weet wat die presiese verloop van die huidige gesondheidskrisis gaan wees, word algemeen aanvaar dat dit nie net ‘n globale impak sal hê nie, maar ook ‘n nuwe inter-nasionale of tussenstaatlike orde sal inlei. Dit sal, saam met die algemene stemming van ekonomiese afkoeling en inkrimping, by groter en kleiner rolspelers tot ‘n sterker beklemtoning van eie welstand en belang bydra.

Sover dit Suid-Afrika aangaan is dit moeilik om, gegewe hulle prestasie tot dusver, van die regering dinamiese en doeltreffende leierskap te verwag. Dit is wel opvallend dat spesiale maatreëls wat onder die vaandel van die ramptoestand ingestel is, skynbaar die gevoel wat onder die nuwe elite heers, naamlik dat hulle die regering oorgeneem het, maar nie in beheer van sake kan kom nie, te ruste gelê het. Ongeag die rasionaliteit al dan nie van inperkingsmaatreëls die afgelope jaar – of dalk juis danksy die irrasionaliteit van sommige daarvan – het die regering ‘n kommerwekkende aptyt vir totale beheer ontwikkel.

Onder hierdie omstandighede kan mens dankbaar wees vir die mate waartoe dit deur die regering se onvermoë om sulke beheer uit te oefen en vol te hou, aan bande gelê word. Gegewe die regerende alliansie se rewolusionêre inslag en ideologiese oriëntasie sou ‘n totalitêre sosialistiese orde nie ondenkbaar wees nie en met die regering se nuutgevonde vermoë om mense se lewens te reguleer, moet aspirasies om die Nasionale Demokratiese Rewolusie steeds verder te voer, nie onderskat word nie. Intussen blyk dit egter dat Covid19 die Suid-Afrikaanse regering nie net as probleem besig hou nie, maar ook as siekte affekteer en sy funksionering ondermyn.

Sover dit Afrikaners aangaan, is dit duidelik dat ons onder hierdie omstandighede op onsself aangewese is om ons belange in beskerming te neem. Ons belange sal deur regeringsoptrede bedreig en benadeel word – indien nie met spesifieke bedoelings nie, dan in die kruisvuur van gebeure. Daarby moet ons nie naïef wees oor die verband tussen gevestigde belange of historiese bevoorregting en rewolusionêre transformasie nie: transformasie se bedoeling is om gevestigde belange omver te gooi. Ons hoef nie persoonlik gehaat te word om in die weg van Transformasionisme te staan en die prys daarvoor te betaal nie.

Aan die een kant kan ons dankbaar wees dat baie Afrikaners nog daarin slaag om in die huidige ekonomiese stelsel ‘n bestaan te maak en selfs welvaart te skep. Aan die ander kant moet ons rekening hou met die feit dat groterwordende getalle Afrikaners nie deur die formele Suid-Afrikaanse ekonomie gehuisves word nie, deels omdat dit krimp en deels omdat dit aan Transformasie onderwerp word. Dit is geen nuwe verskynsel nie en verklaar deels hoekom soveel Afrikaners hulle in selfopgelegde ballingskap bevind. Met minder geleenthede om elders tereg te kom, dra dit tot toenemende uitskakeling en armoede by.

Soos plaasaanvalle wat almal nie gelyk tref nie, maar ‘n bestaanskrisis veroorsaak vir diegene wat wel daardeur getref word, breek die ekonomiese “nag van die lang messe” vir al meer van ons gesinne en families aan en kan dit net sulke verreikende gevolge hê. Die uitdrywing van minderhede is, in wêreldverband, nie ‘n onbekende verskynsel nie en dit neem by ons ook die vorm van ekonomiese uitdrywing aan. Dit stel ons voor die uitdaging om, soos tydens die groot verstedeliking van Afrikaners in die eerste deel van die twintigste eeu, ‘n heenkome vir ontwortelde volksgenote te skep. Hierdie tendens kan in die volgende jaar direkte en hoë eise begin stel.

Samevattend kan dus gesê word dat ons verwagtings vir 2021 onbelowend is: nóg die internasionale, nóg die Suid-Afrikaanse omstandighede bied rede tot optimisme en as dit nie was dat Afrikaners al in die verlede van sulke krisisse geleenthede gemaak het om buitengewone prestasies te behaal nie, sou dit ons tot hopelose moedeloosheid kon dryf. Daarenteen kan ons egter ‘n nuwe sin vir lotsverbondenheid, deursettingsvermoë en oorspronklikheid verwag. Ons kan ‘n oplewing van hoop verwag omdat hoop nie danksy gunstige omstandighede nie, maar ten spyte van ongunstige omstandighede posvat – ons kan hoop verwag as en in soverre die leierskap om dit te ontsluit na vore tree.

Strategiese fokus vir 2021

Die vyf terreine wat in die Vryheid 2020-dokument vir strategiese oorweging uitgelig is, het deurgaans na langer termyn doelwitte verwys. Ten spyte van – en soms danksy – die ontwrigting wat die grendelstaat tot gevolg gehad het, is goeie vordering op sommige terreine gemaak, terwyl ander minder aandag geniet het. Aangesien ons hier boonop oor die werk praat wat deur talle rolspelers wat in losse samehang funksioneer, gedoen word, is dit geen eenvoudige saak om vordering te meet of te bepaal wanneer doelwitte bereik is nie. Voordat ons egter na strategiese terreine vir 2021 verwys, oorweeg ons die voriges kortliks. Dit was:

  • Volhoubare energie- en voedselvoorsiening. Die grendelstaat het talle huishoudings en ondernemings in hierdie rigting gelei en belangrike vordering het in aanvang geneem.
  • Die versterking van interne netwerke, beide formeel én informeel, wat na ons mening ook by die grendelstaat gebaat het.
  • Die vestiging en versterking van eksterne netwerke is deur die grendelstaat benadeel, maar het nie tot stilstand gekom nie en nuwe vorme van skakeling word nou beter benut.
  • Algemene leierskapontwikkeling, veral by wyse van jeugontwikkeling en hoër onderwys, het ook merkbare vordering getoon as die groei van instellings soos Akademia, Soltech, Bo-Karoo Opleiding en talle ander in aanmerking geneem word. Die Vryheidstigting se eie eerste Jeugberaad in Orania kan ook vermeld word. Waar onderwys in Suid-Afrika oor die algemeen deur die grendelstaat ontwrig is, het dit onder Afrikaners tot nuwe energie en inisiatiewe gelei.
  • Die bevordering van diepgang is ook deur die uitsonderlike omstandighede van die afgelope jaar begunstig en talle persone en gesinne het die afsluitingstyd gebruik om bestek op te neem, prioriteite te bepaal en soms verreikende veranderings met die oog op ‘n volhoubare lewenswyse te maak.

Só beskou – en sekerlik nie net omdat die Vryheidstigting dit uitgelig het nie – het die Afrikaner kultuurgemeenskap op hierdie terreine vordering gemaak en sal vordering steeds voortgaan.

Met die oog op 2021 wys ons vier terreine aan en lig dit kortliks toe.

Eerstens moet dit beklemtoon word dat al ons strategieë deur ‘n sin vir selfstandigheid onderlê moet word, as benadering en as doel. Selfstandigheid is nie dieselfde as selfgenoegsaamheid of isolasie nie, maar verseker dat verhoudings op wedersydse erkenning en respek gebou kan word. Dit oorbeklemtoon ook nie die self bo die ander nie, maar verseker dat daar hoegenaamd ‘n self en ‘n ander kan wees om met mekaar in verhouding te tree. Elke poging om ons bestaan nie op selfstandige grondslag nie, maar aan die hand van aanvaarbaarheid, onmisbaarheid of selfs net diensbaarheid te verseker, is al telleurgestel en sal weer telleurgestel word. Veral sedert die 1990’s is Afrikaners suksesvol verdeel-en-benut sonder om deur hulle bydrae enige gesamentlike of samehangende en blywende voordeel te verwerf. Nie gesindheidspolitiek nie, maar realpolitik moet as riglyn vir ons verhoudings na buite dien en nie ons bruikbaarheid nie, maar ons selfstandigheid sal dit moontlik maak.

Tweedens en in aansluiting by die onderlinge netwerke waaroor Afrikaners beskik, moet ons opnuut ons lotsverbintenis besef en bevestig. Ons volk is soos ‘n groot familie – soms dink mens ons is ‘n groot familie – wat mekaar nie altyd gekies het nie, maar gekry het en wat eintlik nie anders kan as om vir mekaar in te tree as dit swaar gaan nie. Terwyl dit in volksverband nooit met almal tegelyk goed gaan nie, gaan dit gelukkig ook nooit met almal tegelyk sleg nie en kan ons mekaar deur krisisse dra. Hierdie sin vir onderlinge solidariteit het ons in die verlede al van ondergang gered en ons moet dit koester om in die toekoms weer daarop te kan peil trek. ‘n Volk met ‘n normaalverspreiding van talente verseker dat daar bv. werkgewers én werknemers is en as diegene met ondernemerstalent hulle aan die res sou onttrek, sal dit duidelik tot skade van ‘n belangrike deel van ons mense en van die geheel wees. Moeilik soos dit dikwels is, moet ons oor talle kleiner verskille heen ‘n groter eenheid en samehang nastreef en vestig sonder om te verwag dat elkeen “soos ek” sal wees.

Derdens en voortspruitend uit ons onderlinge lotsverbondenheid, moet ons nou en verderaan gereed wees om vir ‘n wesenlike en groterwordende deel van ons volk ‘n heenkome in ‘n eie ekonomie te skep. Dit sal sekerlik uit ‘n paralelle, soms informele ekonomie binne die Suid-Afrikaanse stelsel bestaan – die meerderheid ekonomies aktiewe Suid-Afrikaners bevind hulle immers in ‘n soortgelyke posisie – asook uit ‘n gebied of gebiede waar selfbestuur toegepas en vermeerder kan word. En hoe hoër die vlak van selfbestuur, hoe groter die vermoë om vir ons mense ‘n heenkome te skep. Die Mondragon koöperatiewe beweging in die Baskiese deel van Spanje is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe nie net oorlewing verseker is nie, maar ook welvaart geskep kan word. Sulke voorbeelde moet ondersoek en oorweeg word.

Vierdens wil ons weer na leierskap verwys, maar nou nie in die algemeen en met die oog op langtermyn ontwikkeling nie. Daar is tans ‘n dringende behoefte dat geïdentifiseerde leiers in ons gemeenskappe ‘n ooreenstemmende beeld van ons uitdagings kry en samehangende antwoorde daarop help ontwikkel. Die gedagte is nie dat almal oor alles moet saamstem of dat ‘n utopiese beeld van volkseenheid nagestreef moet word nie, maar dit is wel so dat hoe meer kragte in breedweg dieselfde rigting uitgeoefen word, hoe vinniger kan beweging bewerkstellig word. Leierskap moet ook nie soos ‘n skaars kommoditeit behandel word en leiersposisies moet nie jaloers bewaar word nie, dit moet eerder as iets oorvloedig beskou word wat, soos met vuur, meer eerder meer as minder word namate mens dit deel. Baie leiers op baie werksvelde en plekke, maar binne hoorafstand van mekaar, kan ‘n beweging bewerkstellig wat deur geen ideologie of opponent gestuit kan word nie. Maar daarvoor moet ons oop wees om met mekaar te praat en mekaar te hoor.

Ten slotte is ons van mening dat Afrikaners se ervaring van vryheid-in-praktyk inderdaad gedurende die afgelope jaar daadwerklik toegeneem het, al het dit nog nie op politieke of staatkundige terrein neerslag gevind nie. Ons glo dat dit op die regte tyd sal volg en dat dit onstuitbaar sal wees wanneer die tyd daarvoor ryp is. Niks is immers so sterk as ‘n idee waarvoor die tyd gekom het nie. Intussen moet ons doen wat ons kan om ‘n selfstandige en lotsverbonde bestaan te verseker en met behulp van breëbasis leierskap ‘n heenkome vir ons volk te vestig.

Dit kan ons doen in erkentlike afhanklikheid van die drie-enige God wat die lot van volke in sy hand hou en oor die geskiedenis van mense beskik.

Carel Boshoff
Hoof van die Vryheidstigting

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *