Kijkglas

Platgeslaan in die parkie…

Ons het altyd gepraat van ’n snotklap, so ’n skelmhou vanuit die bloute; die Ingelse praat van ’n ‘sucker punch’. Plat-gesnotklap in die parkie. 2020 het my gesnotklap, meestal omdat die onvoorsiene gebeure van 2020 vêr buite die norm van ’n gewone jaar se onvoorsiene geval het.  

Met die rooi stof van die parkie, lê ek met my bril effens skeef, soos die wêreld steeds nie wil fokus nie, selfs met die bril weer opgedruk met my regter-wysvinger, en ek sien hoe ’n magdom mense met vlae Kapitaal-heuwel storm in die VSA, dit terwyl ’n man in stywe rubber, op die strand geboei word omdat hy Suid-Afrika se gesondheid bedreig het deur in die see agter sy vlieër aan te ry… Vir meeste mense het die jaar 2021 aangebreek met soortgelyke onsekerhede as wat 2020 gebring het, miskien met minder angs, omdat ons darem al ’n jaar lank kon gewoond raak aan die distopia waarbinne ons leef. Dit is egter hierdie ‘gewoond raak’ wat my bekommerd my bril laat skoonvee; is dit die tipe dinge waaraan ‘n gemeenskap maar gelate gewoond moet raak? In baie opsigte is Orania bietjie anders. Ons het die Covid-19 vlakke oorleef, en selfs die virus het ons grootliks nie onder gekry nie, nie dat mense nie ook siek geword het nie, ons is immers nie ’n eiland nie, maar ons is genadiglik deur dit, en met dít bedoel ek die eerste vlaag. Die tweede vlaag raak my effens nader aan huis en daar is klaar leemtes van mense wat nie meer met ons is nie, ek hoor die nuus van regoor die land, eintlik die wêreld… Ek vrywe maar nog my bril skoon en hou nie altyd van wat ek so waserig aanskou nie. Dit is seker ook maar ’n werklikheid dat mense doodgaan, elke dag, en soms is dit aan ’n virus. Ag, mag julle ontslapenes vrede vind na die wanvrede, en mag die geliefdes daaraan getroos word. In elk geval wil ek eerder oor die normalisering van die abnormale praat. Miskien kan ek begin deur te vertel wat ek onlangs hier in ons eie dorpie beleef het.

Ek en Layla, my 12 jarige dogter, ry gou na die winkel toe, ek sit sommer in die kar terwyl sy inhardloop vir brood, melk en koeldrank. Daar is baie besoekers, baie GP-karre, en baie vreemde gesigte. Ek sit rustig en luister bietjie Boeremusiek op ons eie 95.5 FM, en met haar terugkeer uit die winkel, sien ek sy is ontsteld. Vir meeste tieners is dit seker die verstek houding, maar Layla is gewoonlik anders. Sy vertel heel driftig hoe die oom voor haar, heel ongeskik van agter sy masker, vir haar beveel om terug te staan tot agter die rooilyn op die vloer geplak. Na alle regte was die oom reg, maar nie billik nie; hier is iets aan ’t breek in ons samelewing, en wat besig is om te breek is gemeenskap. Dit is bykans of die anonimiteit, of die mate daarvan wat die maskers mense bied, hul die ruimte gee om meer ongeskik te wees. Dit mag dalk wees as gevolg van misverstande, want waardevolle liggaamstaal gaan verlore, en alhoewel ek liries sal kan skrywe dat ‘haar oë glimlag’ is dit nie die oë wat glimlag nie, maar die gesig, eintlik die mens, die hart. 2021 het begin, sonder veel van ‘n glimlag. Mense moes oppak, en weer in vrees vir die staat huiswaarts keer, na ’n strandlose see-vakansie, deur padblokkades en ’n aandklokreël. Die aankondiging van die nuwe-nuwe-nuwe vlak 3.2.1 het vir meeste van ons die afskeid na die feestyd sommer kort en angstig gemaak: “Ons moet by die huis kom voor die land weer toemaak!” Asof ’n land sommer net kan toemaak? En die lughawens is leeg, en die grensposte oorvol, en my 2021 bril wasem soos ek die chaos by die Limpopo aanskou.

Dit bekommer my egter meer dat ons in een jaar, verleer het om met mekaar in gemeenskap te treë; dat ons nóg verder agter mure en maskers kon in beweeg, en nóg minder aan die mense rondom ons se menswees kon vasbind.

Die vraag is seker nie hoe jy platgeslaan in die parkie opgeëindig het nie, maar hoe jy gaan opstaan en afskud. Ek is bekommerd oor die effek van die sosiale-afstand op ons mense se verantwoordelikheid teenoor mekaar. Dit is amper asof mens na elke medemens kyk as die vyand wat potensieël-noodlottige gevare vir jou menswees inhou. Ek is bevrees dat die liefde van Christus, teenoor ons naaste, maar moeilik agter maskers en afgemerkte sosiale-afstande uitgeleef kan word.

Soos ek opstaan na ’n onverwagse snotklap van 2020, is my soektog na vryheid net groter, want dít wat ek sien, dít wat ek beleef, selfs in die mees vrye plek vir die Afrikaner op aarde, is nog nie vry nie, maar gebind.

Ek weet dat die maskers seker ’n mate van gesondheidsvoordele inhou, miskien bloot omdat jy van agter jou masker alles en almal as besmet beskou, maar dit het vir my ’n teken van ons verlies aan vryheid geword… en ja, soos ek vanoggend hierdie skryf, met half gebuigde brille, lê my ou maskertjie hier neffens my op die lessenaar.

Mag 2021 vryer as dít wees.

PSK

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui