Die “Dapper Nuwe Wêreld” is nie so ver nie

Gedurende die 2020-warboel het boekwinkels gerapporteer dat lesers nuwe belangstelling in ’n paar interessante kategorieë boeke begin toon het. Een daarvan is godsdienstige boeke soos die Bybel. ’n Ander is rillers oor ongewone dinge soos virusse en zombies. Dan was daar natuurlik ook ’n nuwe belangstelling in distopiese verhale wat ’n donker prentjie van die toekoms skets.

Een boek wat in hierdie kategorie veral uitstaan is Aldous Huxley se legendariese verhaal, Brave New World. In die Suid-Afrikaanse konteks, met die regerende ANC se diskriminerende benadering tot gelykheid (teenstrydig, ek weet), herinner ons mekaar gereeld aan die bekende stelling in George Orwell se Animal Farm: “All animals are created equal, but some are more equal than others.” Daarmee saam is ons geneig om die neo-liberale, Marxistiese en “postmoderne” pogings om die wêreld volgens bepaalde ideologiese vooroordele te struktureer met Orwell se ander bekende boek, Nineteen Eighty-Four te vergelyk. Ek wil egter aan die hand doen dat die toekoms wat in Huxley se 1932-roman, Brave New World geskets word nader aan die werklikheid is.

Nineteen Eighty-Four skets ’n wêreld waar die mensdom se lewens met ’n ysterhand gemikrobestuur word (Orwell vergelyk die totalitêre regering met ’n skoen wat voortdurend op ’n mens se gesig trap). In Brave New World het die regering genoeg mag om dit te doen, maar is dit nie nodig nie, omdat die samelewing entoesiasties deelneem aan die owerhede se utopiese projek om die wêreld ’n beter plek te maak. Waar die lees van boeke in Nineteen Eighty-Four verbied word, is dit nie in Brave New World nodig nie, omdat die mense eenvoudig hul behoefte om te lees verloor het: hulle ag die lees van boeke onnodig, omdat hulle genoeg vertroue in die regering se wysheid en idees het.

Brave New World skets ‘n toekoms wat afspeel in die jaar van stabiliteit, A.F. 633′. Die A.F. staan vir “After Ford”, dus 633 jaar na die afsterwe van Henry Ford, wat natuurlik bekend is vir die Model T-voertuig, maar belangriker, massaproduksie. Die wêreldregering in Brave New World is stabiel, omdat die wêreldheersers (“world controllers”, soos Huxley dit noem) besef het dat ‘n mens slegs stabiliteit kan bereik indien deugde soos waarheid onderdruk word. Daarom word artistieke werke soos dié van Shakespeare en ook godsdienstige boeke soos die Bybel in ‘n kluis toegesluit – nie dat dit nodig is nie, want die mense is reeds so gekondisioneer om vir die kunste te gril. Dit is egter nie net die kunste wat vir die samelewing walglik geword het nie; ook gesonde konserwatiewe waardes soos, familiewaardes, die huwelik, monogamie, ouerskap, ’n soeke kennis… en natuurlik, God. Die samelewing is so gekondisioneer dat hulle ’n afkeur in hierdie dinge ontwikkel het, omdat hulle glo dat dit tot onstabiliteit sal lei. Godsdienstige simbole soos kruise word gebreek om ’n T te vorm (met verwysing na die Model T) omdat hulle meer vertroue het massaproduksie en verbruikbare goedere het as in God en geloof.

Die mense het nie ‘n behoefte om hulle met dinge soos idees en die soeke na wysheid besig te hou nie, omdat elke mens van kleins af gekondisioneer word om ‘n spesifieke rol in die samelewing te speel – opgedeel in verskillende kategorieë vir verskillende rolle. Hierdie kondisionering van klein kinders vind soms op wrede en selfs onsedelike maniere plaas, maar hierdie metodes word deur die samelewing geprys, omdat die kondisionering van die mensdom vir ‘n “goeie doel” is. Die samelewing word egter ontwrig wanneer ‘n “barbaar” (iemand wat nie gekondisioneer is nie) hierdie wêreld betree en hul manier van leef bevraagteken.

Brave New Word skets ‘n toekoms waar immorele gedrag die nuwe “moreel” geword het. Seksuele losbandigheid word aangemoedig, liefde in huweliks- of gesinsverband word verafsku, dwelms is vrylik beskikbaar en word algemeen gebruik om die mense beter te laat voel. Mense word ook gebroei, nie gebore nie, juis omdat ouerskap en familiebande so grillerig en outyds is. Om die publiek te laat inkoop op die regering se idees word die publiek deurlopend herinner aan die bose verlede en hoe die regering hulle bevry het. As jy teen die regering is, is jy teen die bevryders en… teen vryheid. Klink bekend?

So vergesog soos wat dit dalk mag klink, behoort ons tog te sê dat hierdie tipe distopie nader aan die werklikheid is as Orwell se Nineteen Eighty-Four. Die idee dat “stabiliteit” die belangrikste doelwit van die regering is, is natuurlik kodewoord om te sê dat die regering se idees nie bevraagteken mag word nie. Dit herinner sterk aan die Chinese regering wat deurlopend stabiliteit as hul belangrikste doelwit stel. Die tragiese gebeure in 2020, waar naïewe, onskuldige mense die regering se irrasionele inperkingsregulasies entoesiasties ondersteun en selfs hul bure by die polisie verkla het, herinner ook aan Huxley se idee van ’n skrikwekkende toekoms.

In die post–wêreldoorlog-era (waarin ons steeds vasgevang is) word ons deurlopend herinner van die bose dinge wat Adolf Hitler en die Nazi’s aangevang het. Dan word daar vir ons gesê dat ons om daardie rede nie eers gesonde konserwatiewe waardes mag bevorder nie, omdat die idees van die “koserwatiewe elites” kwansuis tot die volksmoord van miljoene gelei het. Die oplossing is verligting en liberalisme: ons moet ons oudmodiese idees oor dinge soos God, gemeenskap en familie agterlaat en die individualistiese agenda van die liberalisme aanvaar. Dit is waarom individuele regte, tot uitsluiting van die basiese beskerming van groepe, steeds as die enigste moreel-aanvaarbare manier van regering beskou word. Die mens word in die heersende ideologie as ’n losse individu beskou, afgesonder en maklik van sy gemeenskap afskeibaar beskou. Die Kanadese filosoof, Charles Taylor beskryf hierdie idee van die mens tereg as ’n ontkoppelde selfbeskouing (“disengaged sense of self”). Die individu wat los gemaak is van sy geloof, gemeenskap en familie is heel bo en alles anders moet die knie daarvoor buig. Die individu, ontkoppel van God, ontkoppel van die gemeenskap en ontkoppel van die werklikheid.

Die Val van die Berlynse Muur en die einde van die Koue Oorlog in 1989 is as ’n groot oorwinning in hierdie verband beskryf. Liberale kommentators het die oorwinning van liberale demokrasie as die “einde van ideologie” en die “einde van die geskiedenis” beskryf. Op 11 September 1990 (’n datum wat soms as “die ander 9/11” beskryf word) het die Amerikaanse president, George. H.W. Bush entoesiasties verklaar dat die “nuwe wêreldorde” op die punt is om aan te breek.

Die nuwe wêreldorde is nie een of ander ondergrondse, duiwelse samesweringsteorie nie. Dit is so eenvoudig soos dit: liberalisme. Dis nie meer die klassieke liberalisme van John Locke nie, maar ’n progressiewe liberalisme wat verstrengel geraak het met Marxisme aan die een kant en postmodernisme aan die ander kant. Daarmee saam die forsering van die samelewing om hierdie liberale waardes te aanvaar, met geweld en oorlog indien nodig. Meestal – maar veral in die Midde-Ooste – het dit tot groot bloedvergieting en min sukses gelei. In baie ander dele van die wêreld was dit nie nodig om bloed te laat vloei nie, omdat die mense entoesiasties ingekoop het op hierdie nuwe idee oor hoe die wêreld gestruktureer moet word.

Min of meer in 2010 het die liberale demokrasie se gewildheid begin afneem. Daardie ontnugtering het in 2016, met die BREXIT-stem en die verkiesing van Donald Trump, ’n spoed opgetel. Wat daarop gevolg het is ’n reeks konserwatiewe bewegings oor die wêreld heen wat skielik gewild geword het, hoofsaaklik omdat mense begin besef het dat hierdie “nuwe wêreldorde” nie so utopies is soos wat hul gehoop het nie.

As jy bekommerd is oor ’n distopiese toekoms, lees asseblief George Orwell. Maar wees gewaarsku, jy mag dalk meer ooreenkomste met die bestaande werklikheid in Aldous Huxley se Brave New World vind.

Ernst Roets
Ernst is Hoof van Beleid en Aksie by AfriForum

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *