Roger Scruton se ‘Culture Counts’

Annemarie Hoogenboezem

In ’n tyd waar ons Westerse kultuur onder streng kritiek deurloop van beide ons eie geledere en eksterne elemente, word Scruton se ‘Culture Counts’(2007) as ’t ware toenemend van belang. Elkeen wat homself ’n ware Westerling ag behoort hierdie boek te lees.

Wêreldbekende filosoof, Roger Scruton, spreek in hierdie boek vrae aan soos: wat is kultuur? Moet dit behou word en hoe moet ons te werk gaan met die bewaring daarvan?

Hy maak die punt dat die fisiese bewaring van ons kultuurskat, insluitend skilderye, klassieke musiekstukke en argitektuur, nie genoeg is wanneer ons nie die jeug voldoende opvoed om ’n waardering vir hierdie dinge te hê nie. Kultuur oorleef in ons, die waarnemers en gebruikers van hierdie dinge, meen Scruton. Wanneer hierdie dinge geen effek op ons het nie, wat bly oor van hulle betekenis?

Daar is egter steeds hoop. Scruton nooi lesers uit om vir hulself te soek na voorbeelde waar die klassieke Westerse kultuur moedig voort beur en hulself aan te wend tot die bevordering van hierdie pogings. Hy lig self voorbeelde soos, onder meer, die Judeo-Christelike nalatenskap, musiek en die Avant Garde en die behoefte aan die estetiese, uit.

Hy sê dat gedurende die donker dae van kommunisme in post-oorlog Europa was dit net soveel kultuur as geloof wat die hoop en ordentlikheid van jongmense lewendig gehou het en wat, te midde van korrupsie,  vir hulle die ‘kennis oor wat om te voel’ bewaar het, wat die kommuniste so graag wou blus.

Hierdie heroplewing in die teologiese en filosofiese denke het tot ’n groot mate nie plaasgevind in universiteite nie. Grootliks omdat universiteite in hierdie tyd in kommunistiese lande ’n instrument van die Party se indoktrinasie was en op so manier het die oordrag van kultuur begin staatmaak op ‘ondergrondse universiteite’ in privaat woonstelle. Maar dit is ook waar van die vry lande van Europa en Noord-Amerika waar ‘engaged thinking’ verskuif het uit die universiteite na privaat navorsingsinstellings, literêre sirkels en klein tydskrifte.

Hy spreek ook die kultuur van ‘repudiasie’(verwerping) aan wat in die moderne era posgevat het op verskeie terreine van die Westerse kultuur. Dit is die verloëning van die tradisionele waarin daar ’n besondere teenstelling lê wat Scruton aanspreek op ’n besondere wyse.

Hierdie boek pas in elke vrydenkende Westerling se arsenaal van philosofiese werke.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui