Kijkglas

13 Afrikaners,

en ek kan nou my huis van hier af sien.  

…op ’n hoë krans, soos daar by God se Venster, daar iewers naby die Wildtuin; die ‘ek kan my huis van hier af sien’, is nie ’n fluister nie, maar ’n angstige, hoogtevrees-benoude juigkreet: EK KAN MY HUIS VAN HIER AF SIEN!

Verskoon maar die growwerige en skielike begin van die skrywe, 2020 was ’n growwerige en skielike jaar en my politoer kom ook maar plek-plek af. In ieder geval; jy kan bitter vêr sien, die punt is eintlik nie die hoog nie, nie die vêr nie, maar die huis… soos ek sê, effens grof geskuur so tussen die grendels en maskers deur; huis.

Maar om huis te verduidelik, te verklaar, moet ek myself dertig jaar die verlede in probeer dink: Dáár is ’n reënboog met mooi beloftes verkoop, nogal in groen-en-goud rugbytruie met ’n bokkie op die hart, saam met pakkies biltong en pensioen met sulke helder strikkies omgebind;

 ’n reënboog wat heel piëtisties voetewas en “broeeeer” in so ’n temerige aansit stemmetjie, want, sien, ons sal tog maar eintlik steeds dieselfde voortgaan, né? Nee ‘broeeeer’, toe nie… toe nie.  

Ek verdwaal vanoggend in die woorde en klanke van Paul Simon en Art Garfunkel met hul ‘homeward bound’, die een wat regstreeks in Carnegie Hall in New York, New York opgeneem is… ek dink dit was 1972; ek was toe darem al -7 jaar oud.

Huiswaarts, huiswaarts…

Ek knip-knip aan soutwater in my oë soos ek die heimwee hoor, ten spyte van die lewe wat om my aangaan, dalk nie sal verstaan waarmee ek vanoggend stoei nie. Dit gebeur alles onsigbaar, in dieselfde plekkie waar nostalgie, verlange, geloof en hoop gebêre word; hier binne my gedagteswêreld, nee, hier binne my hart. Dit gryp my, soos ’n muse se skerp naels, en dit sny diep.

Dit broos my, as daar so ’n sinsnede kan en mag wees, dit broos my; nee ek dink dit is swak Afrikaans en mag eintlik nie. In elk geval, soos ’n Sarie wat in die Ou Transvaal wag, broos die duo se ‘huiswaarts’ my.

“Hoe op dees aarde gaan jy met 13 Afrikaners ’n Volkstaat bou?” grof en skielik, soos ’n 2020, kom die woorde.

Dit is nou bykans drie dekades later, en ek lig hul die hoed, daardie 13 mense, miskien moet ek liewers skryf, DERTIEN, want hulle het hoog gestaan, vêr gekyk en iets gesien wat meeste mense eintlik ewig na soek, hulle het huis gesien.

Ek staan op Orania se koppie en staar oor die bedrywighede, en dit is bedrywig!

‘homeward bound’, neurie ek…

Huiswaarts liewe Heer, huiswaarts.

PSK

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui