Hoekom die Vryheidstigting?

Hoekom doen mens dinkwerk? Soos enige werk ten diepste omdat dit nodig is. ’n Aktiwiteit wat nie nodig is nie, is spel eerder as werk en hoe belangrik spel ook al mag wees, kan dit nie die plek van noodsaaklike werk inneem nie. Die ongebonde intellek se denkspel mag van hoë beskawingsontwikkeling getuig, maar die aard van ons menslike toestand bepaal ook dat
sekere omstandighede en uitdagings ’n bepaalde soort werk, ’n onvermydelike inspanning vereis.

Net soos daar werk nodig is om kos en klere vir die liggaam te voorsien, is daar werk nodig om voedsel vir die gees te voorsien en net soos die liggaam daarsonder sou uitteer, kan die gees nie sonder sy besondere soort voedsel floreer nie. Geestelike armoede – wat méér as net ’n godsdienstig begrip is – is vernietigender as materiële armoede. Dit is nie sonder betekenis nie dat ons Redder ’n besondere deernis vir die armes van gees geopenbaar het, hulle behoeftes is groter as dié vir wie brood en wyn genoeg is.

Maar wat maak die dinkwerk so nodig? Die feit dat ons in die moeilikheid is. Dit is onnodig om die moeilikhede op te noem, want bo en behalwe al die spesifieke uitdagings waarmee ons mense vandag te kampe het, beskik ons nie oor die vryheid om dit self en op ons eie manier tegemoet te gaan nie. Elke poging om na onsself om te sien, stuit op tallose voorskrifte en vereistes van hoe ons dit mag en nie mag aanpak nie. Die groot maatstaf is transformasie en die ommekeer van alles wat in die geskiedenis vorm aangeneem het.

Sonder om te sê dat ons geskiedenis foutloos is, staan dit bo twyfel dat die eerste vereiste om ons voortbestaan te verseker, is om die vryheid van optrede wat nodig is te dink. Mens kan niks doen wat mens nie eers kan dink nie. Daarom is dinkwerk so nodig, daarom die Vryheidstigting: om vryheid te dink!

Daarom sê ons: lees, luister, skryf en praat – en dink … dit is wat ons doen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui