Die politiek van tuiskoms

Het die Afrikanervolk ’n toekoms?

En is dit belangrik?

Carel Boshoff

Het die Afrikanervolk ’n toekoms? Vandag sal lesers van respektabele boeke ’n vraag soos hierdie vreemd vind: Dit klink soos Geoff Cronjé of GD Scholtz, denkers van ’n ver en onbekende verlede aan die woord. Hoewel hulle nie die laaste was om dié vraag te behandel nie, lyk dit terugskouend nie asof daar ná Van Wyk Louw veel ruimte voor oorgebly het nie. Die verband wat hy gelê het tussen voortbestaan en geregtigheid en die historiese onvolhoubaarheid van die bedeling wat apartheid as kenmerk nie kon ontsnap nie, het hiervoor gesorg.

Vele denkende Afrikaners het, trots op hulle ontwikkelde sin vir moraliteit, begin vra Maar behóórt die Afrikanervolk voort te betaan? – waarmee hulle een van Louw se vrese in vervulling laat gaan het, naamlik dat te veel van ons beste geeste nie meer aan ons toekoms sou glo nie en hulle van ons volk sou afkeer. Bygesê dat daar stroom-af twee botsende sienings oor ons volk se voortbestaan na vore getree het – en dat altwee reg was. Die een was dat magsverlies, verlies van beheer oor die Suid-Afrikaanse staat, die einde van die Afrikanervolk sou wees. Die ander was dat die volk ook sonder staatsmag sou kon voortbestaan, selfs beter af sou wees omdat ons buitenstydse minderheidsbeheer ’n las eerder as ’n bate vir ons voortbestaan geword het.

Maar hoe kan altwee dié sienings reg wees? Deurdat nie net die verlies van mag nie, maar ook van die wil tot mag, die Afrikaner van die instrumente waarmee hy gedurende die twintigste eeu aan sy bestaan vorm en sekerheid gegee het, ontneem het. En soos die nuwe spreekwoord sê: waar die wil weg is, loop die pad dood. Vir ’n dekade of twee nadat die “nuwe Suid-Afrika” in werking getree het, het Afrikaners hulle dan ook in ’n omgewing bevind waar woorde soos “volk” en “vryheid” selde in goeie geselskap gehoor is. Die Afrikanervolk soos ons hom vir sowat vier politieke geslagte sedert die Tweede Vryheidsoorlog geken het, was iets van die verlede.

Só is die eerste siening reg bewys – baie soos verwag deur die aanhangers daarvan. En voeg daarby dat hulle, gegewe die verstaatliking van die Afrikaner gedurende die vorige eeu, nie ’n duidelike onderskeid tref tussen Suid-Afrika en die Afrikaner se lot nie, dan getuig die klaaglike verval van die staat wat Afrikaners so voortreflik opgebou en bestuur het, daarvan. Maar aan die ander kant het die verskynsel “Afrikaner”, ten spyte van selfontkenning, emigrasie en dalende natuurlike aanwas, nie verdwyn nie. Inteendeel, hulle het in groot getalle die onderliggende selftwyfel oorwin en op nuwe maniere gehergroepeer, beter toegerus om onder nuwe omstandighede na hulle belange om te sien.

Nou kan mens vra of die toekomsvraag nie daarmee afdoende beantwoord is nie. Is dit nie genoeg gesê dat Afrikaners hulle selftwyfel agtergelaat het en opnuut vir die bevordering van hulle wesenlike belange organiseer nie? Om negatief hierop te antwoord, is nie dieselfde as om negatief hieroor te wees nie; om te sê dat die toekomsvraag nie afdoende beantwoord is nie, is nie dieselfde as om te sê dat dit glad nie beantwoord word of kan word nie. Juis omdat daar tekens van sulke antwoorde is, of ten minste van ’n wyd gevoelde behoefte aan sulke antwoorde, kan die vraag op ’n meer genuanseerde manier gestel word en meer gesofistikeerde besinning daarop volg.

Maar dat Afrikaners (in die meervoud) wel die wil openbaar om oor hulle toekoms te beskik en selfs ’n sin vir die gesamentlikheid daarvan, vir onderlinge verbondenheid openbaar, is nog nie dieselfde as om te sê dat die Afrikanervolk se toekoms verseker is nie. Inteendeel, die meeste Afrikaners mag vra hoekom so ’n outydse stelling hierby betrek word, of die mate van selfvertroue wat ons mense herwin het nie ondermyn word deur so ’n beroep op ’n gediskrediteerde woordeskat wat kennelik uit die Apartheidsera dateer nie. ’n Toekoms goed en wel, maar die Afrikanervolk? Is dit nou regtig nodig?

Hoekom dan ’n toekoms en hoekom ons volk?

Dit sou ’n gemeenplaas wees wat kwalik verdien om herhaal te word, dat mense – veral jongmense – nie net ’n toekoms nie, maar ook ’n sin vir die toekoms nodig het. Om ’n toekoms te hê, beteken dalk nie veel meer as om te verwag dat die son môre gaan opkom nie, maar dit sê nog nie noodwendig meer as dat elke dag ook genoeg van sy eie kwaad bring nie. Die verskil tussen bloot ’n toekoms en ’n sin vir die toekoms te hê, kan mens dalk beskryf as die verskil tussen probleme te sien kom en kans te sien vir die probleme wat kom.

As mens ons jongmense betrag, is die verskil tussen ’n toekoms en ’n sin vir die toekoms dalk te sien in die verskil tussen die nihilistiese vergrype aan drank of die voorkoms van depressie wat beide naastenby epidemiese afmetings aanneem, en die sobere doelgerigdheid wat ouers sou wens om by hulle kinders aan te tref. Die eerste vraag wat natuurlik by mens opkom as jy oor hierdie verskynsels nadink, is watter voorbeeld van sobere doelgerigdheid dié ongelukkige jongmense aldag van hulle ongelukkige ouers kry. Want sin of betekenis word nie so suksesvol gepreek as gelewe nie, die ou spreekwoord sê immers woorde wek, maar dade trek en ouers wat self nie die probleme van die toekoms as opwindende uitdagings tegemoetgaan nie, kan kwalik verwag dat hulle kinders dit sal doen.

Om nihilistiese gedrag en ervarings egter te letterlik per kind en per ouer te probeer verstaan, sou natuurlik op ’n totale oorvereenvoudiging neerkom. Kinders en ouers oorstyg mekaar dikwels en daar is te veel spesifieke faktore wat op individuele gevalle inspeel om, sonder ’n omvattende en sistematiese studie, tot vaste gevolgtrekkings te kom. Maar selfs sonder so ’n omvattende studie is ’n ander vereenvoudiging of veralgemening tog moontlik, naamlik dat die ervaring van toekomsloosheid  se oorsaak nie in die eerste plek op individuele vlak gesoek moet word nie, al is die uitwerking daarvan individueel waarneembaar. Hier is van meer as kinders, ouers, gesinne of vriende sprake.

Dit het om verstaanbare redes in ons tyd meer populêr geword om, wanneer mens van groter en gesamentlike sake praat, na die gemeenskap te verwys. ’n Geslag of twee gelede sou die vanselfsprekende woord volk gewees het, maar dit het om verskillende redes minder gebruiklik geword. Aan die een kant bied “gemeenskap” meer betekenismoontlikhede en voel dit minder gefikseerd as wat die oorgebruikte woord “volk” geword het; dit kan na gemeenskaplikhede van plaaslike tot nasionale vlak verwys en maak dit makliker om te verstaan dat een mens tegelyk met meerdere gemeenskappe kan vereenselwig, van taal tot etnisiteit tot geloof tot professie, byvoorbeeld. Aan die ander kant is “volk” juis oorgebruik omdat dit as die enkele sleutelgemeenskap en identiteit van nasionalisme gedien het.

Die etniese lotsverbondenheid met behulp waarvan Afrikaners nie net staatsmag bekom het nie, maar dit dadelik ook gebruik het om hulle mense se nood te verlig en hulle op te hef, is as volksliefde en -lojaliteit aangebied. Bygesê dat die betekenis van “volk” teen hierdie agtergrond subtiel verskuif het van gewone, dikwels hulpbehoewende mede-Afrikaners na ’n lojale elite – al sy dit so breed gedefiniëer as wat ’n elite maar kan wees. Binne ’n geslag of twee was die volk nie meer hoofsaaklik die slagoffers van armoede, verstedeliking en vernedering nie, maar ’n opkomende middelklas wat danksy hulle (darem meestal) sobere doelgerigdheid besig was om ’n nuwe toekoms te ontsluit en in beskerming te neem. Dit was byvoorbeeld die gees van Republiekwording in 1961, maar ons kom later weer daarop terug.

Die belangrike punt is egter dat wat ons individueel en gesamentlik aan opheffing te danke het, ons aan die nasionalisme van die tyd te danke het en gevolglik aan ’n sin vir volksverbondenheid te danke het. As Orania se ontwikkeling byvoorbeeld vandag kop en skouers bo ander plaaslike en tradisionele gemeenskappe van vergelykbare grootte en met vergelykbare beskikbare fondse uitstaan, dan is dit redelik regstreeks aan die nalatenskap van nasionalisme en “die volk” te danke. Daarsonder sou ons nie oor die vermoë of die hulpbronne beskik het om so ’n nuwe en werkende gemeenskap te vestig nie.

Die voordele en geleenthede van lokalisme alleen is nie groot genoeg om lede van ’n plaaslike gemeenskap teen die gety van nihilisme te beskerm wanneer hulle ervaar dat die nasionale kultuurgemeenskap (lank vir “volk”) waaraan hulle behoort, nie meer ’n toekoms het nie. En dit ervaar hulle wanneer hierdie aspek van hulle veelkantige identiteit selfs op ander en oënskynlik ontoepaslike terreine, byvoorbeeld die wêreld van werk, ’n demper op hulle vordering en prestasie plaas. Hulle ervaar dit ook wanneer die geskiedenis van hulle mense as ‘n reeks wandade en vergrype uitgebeeld word, wanneer die prestasies van hulle voorsate misken, geïgnoreer of verkleineer word en wanneer hulle teenwoordigheid in die land van hulle geboorte en verbintenis gekriminaliseer word.

’n Geslag Afrikaners wat nog uit volle bors kon sing Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika! en sedertdien nie self onder die nuwe diskriminasie deurgeloop het nie, kan kwalik verstaan watter vervreemding van hulle leefwêreld en toekoms jong Afrikaners beleef en hoe ontoereikend die fokus op niks meer as persoonlike veiligheid, materiële voorspoed en individuele regte vir hulle moet wees. Andersom gestel: ’n geslag Afrikaners wat aan daardie frase uit Die Stem dink – indien hulle hoegenaamd daaraan dink – met tweedehandse nostalgie op die beste en met wrewel op die slegste omdat Suid-Afrika, soos deur sy Parlement en regering verteenwoordig, hulle graag uit die wêreld sou wou wens, vind min troos of uitkoms in kleinskaalse reëlings wat niks meer as hulle persoonlike veiligheid, materiële voorspoed en individuele regte probeer beskerm terwyl die groter ordes teen hulle gelaai is nie.

Toe dit nog aanvaarbaar was om te vra of die Afrikanervolk ’n toekoms het en toe dit nog moontlik was om daarop positief te antwoord, het ons voorgangers en ons die grootste uitdagings en teenspoed met durf en daad aangepak. Noudat dit lyk asof nóg die vraag, nóg die antwoord tot ons beskikking is, lyk dit of drank en depressie ons voorland is. Dit is op die oog af dalk ’n oordrewe stelling, maar daar is tallose klein, dikwels Bruin gemeenskappe waarvan dit skokkend waar is, gemeenskappe sonder ’n ontwikkelde nasionale verband en bewussyn en gevolglik sonder die vermoë om hulle lot in nasionale en internasionale terme te verstaan, te verduidelik en tegemoet te tree. Ons kan ook daar eindig as ons nie die taboe, wat ons in werklikheid vrywillig geïnternaliseer het, op die vraag na die toekoms van ons volk deurbreek nie.

Politieke denkbeelde, ons verlede en ons toekoms

Enige poging om vandag vir die toekoms van ons volk in te tree, sal by ons vermoë om toepaslike denkbeelde te vorm, staan of val. Om dit politieke denkbeelde te noem, is dan nie dieselfde as om ons hele lewe tot ’n eng definisie van politiek te reduseer nie, maar gee wel erkenning aan die feit dat die manier waarop ons aan verhoudings in die samelewing beslag gee, ’n uitwerking het op die manier waarop ons die toekoms ingaan. Letterlik verstaan is ’n denkbeeld seker dieselfde as ’n visie, een van daardie gunstelingwoorde van ons tyd, maar tegelyk is daar ook iets meer solied, dalk konserwatief aan om dit ’n “denk-beeld” te noem. Een manier om na ons plek in die groter geheel, in die verlede en nou, te vra, is dan ook om na die denkbeelde wat ons gebring het waar ons is te vra.

Vir die doel van hierdie oorweging kan ons by die twintigste eeu begin, by daardie baie onderskeibare deel van ons geskiedenis wat met die unifikasie van Suid-Afrika saamgehang het en daarop gebou is. Spore van iets so abstrak soos ’n denkbeeld is egter maar dof en vir verskillende vertolkings vatbaar. As mens die beeld van ’n gebou vir ’n oomblik verder voer, dan sal daar op die stofgetrapte bouterrein ook baie spore van verskillende stewels lê, met die gevolg dat elke poging om daarvan veel wys te word, altyd weer deur ’n ander vertolking uitgedaag kan word. Desnieteenstaande word hier gepoog om ’n sinvolle patroon te onderskei. Die verwagting is dan dat daar iets soos ’n denkwyse kenmerkend van ’n bepaalde era sal wees en dat verskillende era’s aan die hand van die eise van die tyd en die denkwyses in antwoord daarop onderskei kan word.

Eenheid en opheffing

Die eerste positiewe reaksie op die trauma van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) en die meegaande veranderings was waarskynlik dié van vereniging en opheffing. Beide Afrikaners en Engelse, beide Kolonialers en Republikeine het reeds voor die oorlog ideale van ’n groter Suid-Afrikaanse federasie gekoester, hoewel elkeen op sy eie voorwaardes. Die afloop van die oorlog het tot gevolg gehad dat republikeinse Afrikaners kwalik nog ’n voet gehad het om op te staan en hulle kon voortaan tussen Britse oorheersing van ’n gefragmenteerde landstreek of in Britse oorheersing van ’n verenigde Suid-Afrika kies. Ekonomiese, kulturele en politieke faktore het daartoe bygedra dat hulle vereniging voorgestaan het, iets wat ooglopend ook tot voordeel van die imperiale administrasie sou strek en wat binne die nuwe raamwerk van onderhorige selfbestuur vir almal meer sin sou maak.

Onder Afrikaners was daar wel twee mettertyd botsende denkrigtings sover dit die aard van opheffing binne die raamwerk van vereniging aangegaan het. Die Suid-Afrikaanse Party onder leiding van genls Louis Botha en Jan Smuts se konisliasiebeleid het ingehou dat Afrikaners die groot Britse uitnodging aan koloniale bevolkingselites, naamlik om hulle (na verdienste) in die Engelse kulturele kosmos tuis te maak en toegang tot die institusionele, kulturele en desnoods materiële rykdomme van die Imperium te verwerf, aanvaar. Ingevolge daarvan sou opheffing en ontwikkeling binne die Imperiale orde en volgens Imperiale prioriteite en belange plaasvind – soos gou uit die Suid-Afrikaanse deelname aan die Eerste Wêreldoorlog geblyk het. Daarenteen het die Nasionale Party onder genl Barry Hertzog tot stand gekom en die leuse Suid-Afrika eerste! aangehang, met die implikasie dat Afrikaners in Suid-Afrika (en hulle kon volgens hom ook Engelssprekend of Bruin wees) hulle eie opheffing aan die hand van hulle eie, besonderse belange bewerkstellig. Ingevolge daarvan sou Suid-Afrika nie ’n satelliet van Brittanje bly nie, maar tot ’n sentrum in eie reg ontwikkel. Soos Van Wyk Louw dit later gestel het, sou ons ’n eie stem in die koor van die mensdom hê eerder as om ’n blote verlengstuk van die eenselwige Engelse wêreldkultuur te wees.

Die eerste, sê maar, 20 tot 30 jaar van die Twintigste eeu het dus vir Afrikaners hoofsaaklik in die teken van vereniging en opheffing gestaan, hoe verskillend dit ookal ingeklee is. Politieke debatte en stryd is grootliks aan die hand daarvan verstaan en ingerig. Hierdie fokus het meegebring dat Swart politieke aspirasies nie juis deel van die destydse politieke diskoers uitgemaak nie aangesien daar onder beide Blanke groeperings konsensus bestaan het dat dit uitgesluit of ten minste aan bande gelê moet word. Daarmee was Swart leiers uiteraard nie gediend nie, maar hulle impak op die politieke toneel was beperk. Dit was eers hulle toetrede tot en groeiende deelname aan die stedelike mynbou-ekonomie en industrie wat dié stand van sake verander het, aanvanklik by verre tot hulle nadeel.

Apartheid

Die tweede 20 tot 30 jaar, sê maar van 1930 tot 1955, is deur interne krisisse onder Nasionaliste gekenmerk. Hertzog het weer met Smuts saamgesmelt en gevoel dat die Republikeinse strewe deur die Balfour-verklaring bevredig moes wees terwyl hy die vraag van Swart politieke aspirasies by wyse van die uitbreiding van hulle trustgebiede wou aanspreek. Daarteenoor het Nasionaliste van ’n volgende generasie en met ’n onverdunde Republikeinse strewe die druk van Swart verstedeliking en van veral ekonomiese kompetisie tussen Wit en Swart op myne en in fabrieke beklemtoon en hulle voorkeur vir rasseskeiding, wat in vele opsigte eintlik ’n gemeenplaas was, tot speerpunt van hulle beleid gemaak.

So het die Herenigde Nasionale Party in die 1948-verkiesing van Apartheid sy oorhoofse slagspreuk gemaak. Met die oorlogspolitiek en al wat tot die NP se oorwinning bygedra het, is dit deur vriend en vyand as ’n oorwinning vir segregasie oor integrasie beskou. Veel meer as segregasie was dit ook nog nie, want van breë ondersteuning vir tuislandontwikkeling was daar nog min sprake; dit was uit-en-uit ’n kwessie van Blanke belange wat deur ’n Blanke kieserskorps voorop geplaas en beskerm is, wat op grond van beskawingsverskille geregverdig is en wat boonop indertyd nie uit pas met wêreldwye tendense in dié verband was nie.

Nasionale selfbeskikking

Met die groot Republikeinse ideaal wat in 1961 verwesenlik is en ’n tyd van voorspoed wat daarop gevolg het, kon politieke aandag geskenk word aan die toenemend belangrike vraag van Swart politieke aspirasies – iets wat tot op datum meerendeels geïgnoreer en gefrustreer is. Denke wat toe al in instellings so verskillend (en eners) as die South African Institute for Race Relations (SAIRR) en die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse Aangeleenthede (SABRA) aan die orde was, het hulle weg na die politiek onder leiding van dr Hendrik Verwoerd gevind en die vorm van ’n bevrydingsagenda aangeneem. So het Harold Macmillan nie vir dr Verwoerd verras met sy Winds of Change-toespraak in 1960 nie, want Verwoerdiaanse “apartheid” was nie meer blote segregasie nie, dit was al afsonderlike ontwikkeling. Iemand het dit onlangs soos volg beskryf: ons het geglo dat die Suid-Afrikaanse staat ’n konstruk van Britse Imperialisme was en dat die spannings wat daarin opgesluit gelê het die beste opgelos kon word deur nasionale selfbeskikking langs etniese lyne toe te pas.

Abstrak genoeg gestel kan mens selfs vandag nog verstaan dat dié beleid die steun van respektabele denkers geniet het, selfs simpatiek deur die destydse Sekretaris Generaal van die Verenigde Nasies aangehoor is. Die praktyk was egter ’n ander storie omdat dit as polities noodsaaklik beskou is om gewone rassesegregasie te handhaaf, selfs lank nadat dit elders in die wêreld in onguns verval het, terwyl ekonomiese integrasie op groot en klein skaal eerder versnel as vertraag is. Terwyl tuislande soos die Transkei, Ciskei, Bophutatswana en Venda nominaal onafhanklik geword het en ander, soos KwaZulu, Lebowa, KwaNdebele, selfregerend geword het, is hulle burgers in Suid-Afrika op maniere behandel wat die hele skema ondermyn het. Voorts het groeiende getalle Swartmense in stedelike gebiede sulke afmetings aangeneem dat die gedagte van ’n “Wit Suid-Afrika” wat moes oorbly nadat tuislande onafhanklik geword het, niks minder as ’n hersenskim geblyk te wees het nie.

So het die denkbeeld van nasionale selfbeskikking en ’n Suid-Afrikaanse gemenebes van polities onafhanklike, maar ekonomies interafhanklike state in die loop van die 1980’s op die rotse geloop. Die enigste vraag was nie óf nie, maar waarmee dit vervang moes word. Uiteindelik het nie inhoud nie, maar vorm geseëvier toe besluit is dát onderhandel moes word, maar min duidelikheid of eenstemmingheid bestaan het oor wát onderhandel moes word.

Insluiting, demokrasie en minderheidsregte

Die laaste dekade van die twintigste eeu is ingegaan met ’n onverwags omvattende herstrukturering van die Suid-Afrikaanse staat. Middelpuntsoekende kragte soos verteenwoordig deur ’n bo-etniese Swart politieke bewussyn, bemiddel deur die ANC-alliansie en hulle ondersteuners in die internasionale gemeenskap, het die gedagte dat die land langs etniese lyne verdeel kan word, skielik totaal in die skadu gestel. Selfs ’n (onerkende) burgeroorlog in KwaZuluNatal kon dit nie stuit nie, deels omdat nie een van die twee kante dit wou stuit nie, maar elkeen darem sy besondere stempel op die nuwe eenheid wou afdruk. Bophutatswana en regse Afrikaners wat die nuwe vereniging inderdaad wou stuit, was egter ook nie in staat om dit óf polities, óf militêr te doen nie.

’n Binne- en buitelandse konsensus het ontstaan dat ’n inklusiewe skikking eenvoudig bereik moes word, dat dit vir beide verteenwoordigende demokrasie én minderheidsregte van ’n soort voorsiening moes maak en dat die ooreenkoms wat onderhandel sou word, in ’n bykans onveranderlike grondwet vasgegiet moes word. Daarom dat sommige rolspelers na die denkbeeld van hierdie era as konstitusionele demokrasie verwys. Dat enige vorm van demokrasie in ’n eenheidstaat nie anders kon as om die meerderheid in staat te stel om hulle belange te bevorder nie, is deur die verwagting dat minderhede in staat gestel sou word om hulle belange te beskerm, versag. Dat so ’n reëling noodwendig die meerderheid, veral gegewe hulle selfbeeld van voorheen benadeeldes wat regstelling verdien, op die voorvoet sou plaas en minderhede tot ’n reaktiewe toestand sou beperk, kon mens kwalik ontwyk – en tog het onderhandelaars hulle daarin berus. Selfs diegene wat dit teengestaan het, moes dit na implementering aanvaar met die gevolg dat dit die slagoffers van transformasie ’n dekade of twee gevat het om behoorlik (organisatories) tot verhaal te kom.

Transformasie teenoor selfstandigheid

Net soos Afrikaners se beeld van Suid-Afrika gedurende die twintigste eeu bepalend kon wees vir regeringsbeleid, maar nie ewe maklik deur Swart Suid-Afrikaners aanvaar is nie, weet ons vandag dat die huidige regering se denkbeeld van rasse-transformasie nie vir Afrikaners aanvaarbaar is nie. Die rede is nie noodwendig dat Afrikaners na die voorregte van die ou orde terughunker nie, maar eenvoudig dat hulle belange sistematies daardeur ondermyn en benadeel word en dat hulle min indien enige lewensruimte gegun word. Die oorhandiging van staatsmag wat deur sommige as ’n goue oomblik van versoening beskou is, het mettertyd geblyk ’n ontoereikende skikking te wees omdat wesenlike belangebotsings, soos toekomstige aansprake op grond, nie bygelê is nie.

Soos Swart Suid-Afrikaners hulle bly beywer het vir deelname, ongeag die Wit regering se verbete weerstand daarteen, so is Afrikaners nou besig om hulle eie selfstandigheid in beskerming te neem en uit te bou, ongeag die Swart regering se weerstand daarteen. Daar is dus nie nou van ’n enkele politieke denkbeeld in Suid-Afrika sprake nie en dit is te betwyfel dat daar ooit van so-iets sprake was, selfs toe die verwagting daarvan op sy hoogste was en almal mekaar, soms net by wyse van spreke, met drukkies gegroet het. ’n Selfstandige Afrikanergemeenskap is vandag net so ’n onomstootlike werklikheid as wat ’n Swart vryheidsbeweging was toe dit deur die vorige regering verbied is. Daarom moet ’n herskikking wat daarmee rekening hou, gouer eerder as later bewerkstellig word. Alle verantwoordelike Suid-Afrikaners behoort hulle daarvoor te beywer, nie net om onnodige konflik en die eskalering daarvan te probeer voorkom nie, maar meer nog om die beste potensiaal van Suid-Afrika en sy mense te ontsluit.

Vrede, welvaart, veiligheid, deelname, inspraak, geluk en vryheid is nie buite ons bereik nie, veral as mens in aanmerking neem dat Afrikaners se strategie nie op beheer oor die staat, selfs nie in ’n radikale sin op kompetisie om skaars hulpbronne gebaseer is nie. Die vraag is egter of ons as Afrikaners, maar ook as Suid-Afrikaners oor die woordeskat beskik om ’n nuwe en meer volhoubare vergelyk met mekaar te kan beding. Daaraan moet vervolgens aandag gegee word.

Meer as minderheidspolitiek

In ’n sin beoefen Arfikaners nog altyd minderheidspolitiek, ons is net die laaste drie of wat dekades baie meer bewus daarvan. Om beheer te neem en maniere te soek om dit te behou was oor eeue heen nie onbekende strategieë vir minderhede nie, vandaar die bykans neutrale term dominante minderheid. Ten minste sedert die poging om Swart politieke aspirasies territoriaal van gevestigde Wit politiek te skei, was eers die vraag van politieke selfbehoud oorheersend; sedert die poging om minderheidsregte in ’n konstitusionele demokrasie te verseker, het kulturele selfbehoud in verhouding tot die meerderheid, Afrikaners se groot politieke vraag geword.

Na 1994 het ’n paar kragte egter onverwags op die meeste Afrikaners se gemoed ingewerk en het hulle, soos nooit tevore nie, bewus van hulle minderheidstatus geword. Eerstens het ons mense (dié wat dit geglo het, maar hulle was genoeg om ’n referendum te wen) ontdek dat die beloofde magsdeling nie ’n vorm van magsbehoud is nie en dat dit in ’n eenheidsbedeling nie teenoor die wil van die meerderheid gehandhaaf kan word nie. Tweedens is hulle deur die gees van versoening en vergifnis, waarvan die goedgeaarde figuur wat mnr Mandela geslaan het die groot simbool was, oorweldig. Deur nie wraak nie, maar vergifnis in ontvangs te neem, het die meeste mense nie besef dat hulle besig is om ’n geïmpliseerde skulderkenning te internaliseer, wat hulle toenemend sou passifiseer nie. Derdens is nie net die politiek nie, maar ook die ekonomie aan snelle transformasie oorgegee en het Afrikaners hulle in geen posisie gevoel om dit te probeer verhoed nie. Ons was vir ’n geruime tyd lank selfs geïnhibeer om, anders as dalk in die mees individuele en ekonomiese sin, vir ons belange in te tree. Die woord “Afrikaner” het byvoorbeeld in die Afrikaanse media tussen 1995 en 2005 bykans in onbruik geraak.

Hoewel ’n toenemende mate van selfbevestiging tog oor die afgelope dekade of wat posgevat het, is dit meerendeels nog ’n reaktiewe beweging wat op ’n billike ruimte binne die magsorde van die demokratiese eenheidstaat aanspraak maak en nog nie op die heronderhandeling van ’n nuwe magsorde ingestel is nie. Afrikaners het, waarskynlik tot en met die onlangse wending om grond sonder vergoeding te wil konfiskeer, ingebind gevoel tot die mate dat hulle nie buite die orde kon dink nie. Eers toe die “orde” in die vorm van ’n besluit deur die Suid-Afrikaanse Parlement van Afrikaners nie meer ’n gewaardeerde bevolkingsdeel – hoewel onder sensuur – gemaak het nie, maar ’n misdadige oorblyfsel van koloniale vergrype wat niks verdien nie en dankbaar moet wees vir wat hulle gegun mag word, het dit begin verander. Nou kom ons voor die grondliggende voorwaarde vir volhoubare minderheidspolitiek te staan, naamlik dat dit méér as minderheidspolitiek moet wees.

Die identiteitsbehoud van staatkundige minderhede, met ander woorde etniese groepe wat nie oor hulle eie state beskik nie, is daarvan afhanklik dat hulle êrens in die meerderheid is. Hulle moet oor ruimtes en instellings beskik waarbinne hulle ongeforseerd hulle onderskeidende taal, kultuur en/of godsdiens kan beoefen, ontwikkel en aan opvolgende geslagte kan oordra. Sonder sulke streke, stede of dorpe,  sonder skole, kerke, universiteite, uitgewers, teaters, koerante, ensovoorts, en sonder organisasies en instellings wat hulle verteenwoordig en hulle belange en strewes na buite kan vertolk, kan ’n minderheid nie floreer nie. ’n Bedeling wat genoegsame ruimte en erkenning daaraan gee, kan vir so ’n minderheid bevredigend wees, maar ’n bedeling wat dit vir hulle misgun, sal altyd weerstand uitlok en moet verwag om voortdurend van onderdrukkende strategieë afhanklik te wees en om van tyd tot tyd drasties uitgedaag te word.

Selfs ’n voorheen dominante minderheid soos die Afrikaner verdien nie minder nie en sal nie op die duur met minder tevrede wees nie. Ons word wel deur bykomende faktore in ons aansprake aan bande gelê, soos ons yl verspreiding oor groot dele van Suid-Afrika en die feit dat ons bevolkingskonsentrasies altyd in hulle direkte omgewing deur ander bevolkingskonsntrasies oorskadu word, sowel as ons mense se ekonomiese vervlegdheid met ander bevolkings in hulle omgewing. Boonop maak ons fisiese herkenbaarheid ons onder konfliktiewe onstandighede uiters kwesbaar en dra baie Afrikaners se ekonomiese oorprestasie in verhouding tot hulle omgewing by tot afguns wat konflik aanwakker. Die ganse, veelkantige risiko wat hier genoem word, vind sy vergestalting in daardie kenmerkend Suid-Afrikaanse vorm van haatmisdaad, naamlik die plaasmoord. Daarom gryp dit elke Afrikaner op ’n diep psigiese vlak aan die hart, ongeag of daar van enige regstreekse verbintenisse sprake is. Daarom ook dat die regering se traagheid om dit as krisis te erken so diep vervreemdend op ons mense se gemoed inwerk.

Die punt is dat hierdie omstandighede – as ons nie self en beslissend daarop ingryp nie – nie net die Afrikanervolk van sy toekoms beroof nie, maar jong Afrikaners aan al die vernietigende gevolge van uitsigloosheid uitlewer. Andersom gestel: eers as ons binne breër volksverband die wil en vermoë begin openbaar om vir ons nageslag ’n billike ruimte vir vrye uitlewing te skep, sal ons hulle in staat stel om hulle van die heersende nihilisme te ontworstel. En ons geslag durf nie daarvan terugdeins nie. Watter vorm dit ookal aanneem en watter naam dit ookal kry, ’n materiële en geestelike plek vir die Afrikaner is onverhandelbaar as ons betekenisvolle inspraak in ons volk se toekoms wil hê.

Die politiek van …

Rondom die draai van die eeu het die gerekende Kanadese filosoof, Charles Taylor, die konsep van a politics of recognition ontwikkel en aangebied. Hy behoort tot die Engelse minderheid in Quebec, wat ’n Franse minderheid in Kanada huisves, en het hom boonop vroeër met die politiek bemoei. Minderheidsregte, selfbeskikking en selfs die gepoogde afskeiding van Quebec is die agtergrond waarteen sy denke in die verband ontwikkel het. Sy insig was dat wat ookal die omstandighede, hoe ookal die verhoudinge, met of sonder watter maatreëls en ooreenkomste ookal, waar partye mekaar erkenning gee, is daar hoop en waar miskenning seëvier, volg spanning en konflik. “Die politiek van erkenning” het sedertdien deel van baie van ons se woordeskat geword, deels omdat dit so logies is en deels omdat dit nie net een nie, maar twee ideegoed ingedra het.

Oor erkenning as konsep hoef mens nie lank na te dink om te besef hoe toepaslik dit op Afrikaners se situasie in Suid-Afrika is nie. Die wese daarvan is dat dit in twee rigtings gaan, mens kan eenvoudig nie erkenning verwag as jy nie ook bereid is om dit te gee nie. Wanneer ons dus, in alle billikheid, op erkenning vir ons behoefte aan lewensruimte en strewe na selfstandigheid aanspraak maak, kan dit geen eensydige verklaring of eis wees nie, maar moet dit met ten minste twee vrae van die ander kant erns maak, naamlik dié van erkenning aan die Swart meerderheid se reg en ruimte om ook hulle stempel op die samelewing af te druk, sowel as ons eie gebrek aan sulke erkenning in die verlede toe ons aan die stuur van sake was.

Om te erken en te verreken dat selfs ons beste pogings om vir ander se aspirasies voorsiening te maak, deur ’n ongemaklike mate van eensydigheid gekenmerk is, is nie dieselfde as om in die propaganda van Apartheid as “misdaad teen die mensdom” te berus nie of jouself aan berou oor ’n slegte verlede prys te gee nie. Sulke reaksies is selfverontwaardigend en selfontmagtigend en hoewel dit jou opponent goed pas, lei dit net tot tydelike magsverskuiwing en nie tot volhoubare herskikking nie. Daarvoor is wedersydse erkenning nodig.

Die ander deel van die storie, die politiek van … , was in opsigte selfs vrugbaarder. Die “politiek van erkenning” verwys byvoorbeeld na meer as net die ideologie van erkenning of na ’n politieke beleid waarin erkenning verpak is. Dit verwys ook na die hele dimensie van optrede en praktyke wat aan die gedagte van erkenning inhoud en uitdrukking gee. Dit is asof die woord “politiek” hier ’n nuwe betekenis verwerf het (of ’n ou betekenis herwin het) wat dit anderkant die gestereotipeerde en bedenklike politieke aktiwiteite van ’n politieke elite gaan neersit.

Om dit verder te voer: die politiek van selfbevestiging gaan oor meer as net selfbevestiging, dit gaan oor maniere om selfbevestiging deel van die omgang tussen mense te maak, om jouself as entiteit te bevestig sonder om dit te oordryf, om aanvaarding eerder as verwerping te bewerkstellig. Die politiek van konsentrasie verwys na meer as ’n blote noodsaak of plan, dit impliseer inderdaad die noodsaak en die plan, maar ook die implementering en aanvaarbaar maak daarvan. Die politiek van hulpbronne is nie net op die mobilisering van en beheer oor hulpbronne afgestem nie, maar bring die beheer oor hulpbronne binne die bereik van gemeenskaplike belang, van burgerlike betrokkenheid, van selfopofferende deelname, van persoonlike en gemeenskapselfstandigheid, van verantwoordelikheid.

Met die politiek van … allerlei sleutelsake, beginnende by erkenning, ontworstel ons in werklikheid die betekenis van politiek aan die liberale tegnifisering daarvan. Ons ontworstel dit aan die beeld van politiek as sou dit die terrein wees waar verkose verteenwoordigers op ’n neutraal rasionele wyse oor die toedeling van gegewe, dog skaars hulpbronne behoort te beslis – hoewel hulle dit in werklikheid meestal partydig en irrasioneel doen, wat aanleiding gee tot nog meer tegniese kontroles en burokratisering. Dit verlos ons van wat die liberale malaise (met Taylor in die agtergrond) genoem kan word.

Die politiek van tuiskoms

Hierdie hele besinning sou egter niks anders as ’n vingeroefening wees as dit nie op die politiek van tuiskoms sou uitloop nie. Alles tot hiertoe kan bykans opgesom word in die volgende vier woorde: Probleem: verstrooiing; oplossing: tuiskoms. Die enigste nut van al die res is om agtergrond te gee en woordeskat te ontwikkel. Maar so kragtig as wat die woord ookal is, help dit ons nie om tuiskoms te sê as ons nie weet wat om volgende te doen nie, en hoe. Ons moet nog die politiek van tuiskoms bemeester as ons van tuiskoms ’n werklikheid wil maak. Ons moet nog verreken waar ons vandaan kom, waar ons is en hoe ons hier gekom het voordat ons kan weet wat tuiskoms nou en vir ons beteken. Iets soos ’n tuiskoms in die verlede is byvoorbeeld nie moontlik nie en hoewel ons almal dit op een manier weet, is ons ook almal geneig om na een of ander goue oomblik in die verlede te verlang asof dit is waar ons tuiste lê. En of dié oomblik deur Mandela, Verwoerd, Smuts of Paul Kruger verteenwoordig word, dit sou dieselfde fout wees om te maak. Die toekoms lê vóór, hoe ons ookal die verlede nodig het om van die toekoms ’n tuiskoms te maak.

Maar wat is die aard van ons huidige tuisteloosheid? Is dit nie maar net ’n tydelike ongemak as gevolg van ons verlies aan ’n oorheersende posisie in Suid-Afrika nie? Sal ons nie, soos die nasiebouers aanvoer, tuiskom as ons ons nuwe, nie-dominante posisie aanvaar en omhels en op sterkte daarvan andersoortige verhoudings met ons landgenote aanknoop nie? Het Afrikaners regtig ’n spesiale bedeling nodig om te kan tuis voel tussen ander mense?

Dit is nogal moeilik om hierdie vrae te antwoord as jy die veronderstellings waarop hulle berus, ondersteun. Dit is veronderstellings soos die volgende: dat ons almal maar net vreedsaam en voorspoedig wil lewe of ’n beter toekoms vir ons kinders wil sien; dat die politiek ten diepste deur die ekonomie bepaal word; dat die Suid-Afrika wat ons ken ’n onbevraagtekenbare gegewe is; dat ons Suid-Afrikaanse patriotisme al ons ander lojaliteite oorskadu en daaraan ’n bepaalde rigting gee; dat versoening tussen individue die verskille tussen groepe prakties onbelangrik maak. Meer sou bygevoeg kon word, maar die punt is waarskynlik gemaak.

Die uitgangspunte wat voorheen samehang aan ons bestaan gegee het, was in vele opsigte die teenoorgestelde. Ons het nie in die groter geheel van die Britse Ryk en Engelse kultuur opgegaan nie omdat ons geglo het dat ons ’n aparte volk met ’n besondere identiteit en roeping is; dat materiële voorspoed nie alles is nie en dat ’n beter toekoms nie aan geld gemeet kan word nie, maar aan roepingsvervulling; dat Suid-Afrika ’n koloniale konstruk is wat mense saamgevoeg het wie se kulture en belange nie sonder spanning sal versmelt nie en dat demokrasie in ’n eenheidstaat op konflik sal uitloop; dat respek vir ander se menswaardigheid nie hoef te beteken dat verskille geïgnoreer of ontken moet word nie.

Daar was ook uitgangspunte wat die voorgaande in ’n slegte lig gestel het, soos dat ons vanuit ’n meerdere beskawing stam en met goedhartige voogdyskap na Swartmense moet omsien; dat ons beheer oor die Suid-Afrikaanse staat onbevraagtekenbaar is en selfs met geweld in stand gehou moet word; dat kontak tussen mense van verskillende rasse só ongewens is dat dit wetlik aan bande gelê behoort te word. Terugskouend verbaas dit ons nie dat sulke onaanneemlike houdings ons polities laat ondergaan en van ons selfvertroue beroof het nie, maar ewewigtig beoordeel hoef dít nie te beteken dat alles wat ons geglo het en wat ons volkslewe geanker het, onwaar was nie. Dis nou waar pres Kruger se wysheid inkom: soek in die verlede dit wat goed is en bou daarop die toekoms. Nie alles in ons verlede was goed nie, maar alles was ook nie sleg nie en alles wat sedertdien aan ons opgedis is, was gewis ook nie goed nie.

Moedertaalonderwys was die sleutel tot ons suksesvolle modernisering en dit kan ander moderniserende volke ook help om die brug tussen die oue en die nuwe te slaan. Ons maak geen onbillike aanspraak as ons dit wil behou en uitbou nie. Om die veiligheid van jou persoon en eiendom voorop te stel en te verwag dat die regering wat jou belasting eis, dit sal verseker, is ook nie vreemd nie. State wat dit nie kan verseker nie, word as mislukte state beskou en dit is ’n billike verwagting dat basiese dienste in verhouding tot belastings gehef, gelewer sal word. Minderheidsregte in ’n veelvolkige staat is verder nie ’n uitsonderlike verskynsel nie, daar is talle voorbeelde van suksesvolle state wat voordeel uit sulke reëlings trek en vir wie dit min indien enige nadeel inhou. Om te verwag dat jou geskiedenis nie gekriminaliseer word nie en jou teenwoordigheid in die land van jou en jou voorouers se geboorte nie ongewens sal wees nie, is seker ook nie te veel gevra nie? So sou mens kon aangaan …

Die punt is dat die samehang waarmee ons van ons verstrooiing versamel moet word, in die verlede én in die toekoms in ons volkskap opgesluit lê, in die lotsverbondenheid van ’n lewenskragtige nasionale kultuurgemeenskap wat opnuut aan sy eie bestaansvoorwaardes moet voldoen. Almal weet dat dit baie anders sal lyk as enigiets wat ons voorheen geken of beplan het, al weet almal nog nie dat ons daartoe verbind is nie – nie eers óns almal nie! Maar namate die nood onder ons mense toeneem, geestelik én materiëel, ontdek ons een van daardie ou waarhede wat voorheen ook tot ons redding gekom het, naamlik dat nood ’n vrugbare groeimedium vir idealisme is. Planne wat besig is om te ontvou, dinge wat voorheen onmoontlik gelyk het of vir baie steeds onmoontlik lyk, word moontlik wanneer die onstuitbare krag van idealisme daarop losgelaat word.

En wat meer is – ons weet dit uit ons geskiedenis en ons sien die tekens daarvan vandag ook – Afrikaners wat ervaar dat hulle ’n goeie toekoms kan verwesenlik, is nie selfsugtig of suinig of net op hulle eiebelang afgestem nie. Die beweging na binne, die politiek van tuiskoms, lê alreeds die voorwaardes neer vir ’n beweging na buite … maar dit is ’n storie vir ’n ander keer.

Junie 2018

Orania

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui