2017 – Verwoerd in die media en literatuur: Wat geskryf is oor sy filosofie en menswees tydens sy lewe en vandag.

Prof JD Froneman

Doktor H.F. Verwoerd is moontlik die mees gehate én geliefde politieke figuur in Suid-Afrika se geskiedenis. Hy word as die vader van Apartheid beskou, of ten minste van die post-1948-gedaante van statutêre rasseskeiding. Vir sommige mense was hy ’n visioenêre profeet wat Suid-Afrika se ‘rasseprobleem’ finaal sou oplos en daarmee wit mense se posisie veilig stel; vir ander persone was hy ’n demoon wat miljoene swart mense se lewens versuur het, hulle menswaardigheid afgetakel het en hulle van hulle regte gestroop het.

Tog is Verwoerd gedurende sy lewe nie altyd so skerp in die pers veroordeel nie. Met sy skielike dood in 1966 is uit alle oorde eer aan hom betoon as staatsman van besondere statuur. Vandag lyk die prentjie in die pers aansienlik anders. Dit laat vrae opduik soos hoe hierdie diskrepansies verstaan moet word en in watter mate populêre boeke en diverse akademiese navorsing ’n mens kan help om tot ’n betroubaarder, gebalanseerder siening ten opsigte van Verwoerd te kom.

Die fokus van hierdie lesing val daarom ten eerste op die wyse waarop Suid-Afrikaanse koerante by sy dood oor Verwoerd berig het en hoe hedendaagse persdekking daarvan verskil. Dit roep om bepaalde mediateoretiese verklarings. Ten tweede word ’n aantal voorbeelde uit die literatuur (akademies en nie-akademies) gegee waarin uiteenlopende oordele oor Verwoerd gevel word. Dit sluit belangwekkende resente werke van Hermann Giliomee in. Daar word ook gelet op J.J. (Ponti) Venter se artikel in 1999 in Koers gelet.

Sterk steun onder Afrikaners

Verwoerd het as leier van die regerende Nasionale Party uiteraard ’n sterk ondersteuningsbasis onder wit mense, met name die Afrikaners, gehad wat dikwels aan slaafse navolging gegrens het. Alreeds by sy aanwysing as Eerste Minister is die volgende voorbehoude deur die politieke kommentator van Die Burger, Dawie Louw, gestel:

Dr. Hendrik Verwoerd het dit in hom om een van Suid-Afrika se groot eerste ministers te word. Sy kritici sê hy het dit ook in hom om rampe te presipiteer. Dit is natuurlik die moeilikheid met briljante mense in magposisies. (Louw 1965:149)

Die opvallende is nie dat sommige mense voorbehoude oor Verwoerd gehad het nie, maar dat ’n regeringsmondstuk van hierdie tyd dit so openlik genoem het. Verwoerd was nie lank aan bewind voordat hy met nuwe denke vorendag gekom het nie. Daaroor skryf Dawie wel positief:

Ons het in die Eerste Minister se verklaring oor die naturellevraagstuk ’n duidelike nuwe geluid gehoor waarvoor ons gewag het. En ook nie net ’n nuwe geluid nie, maar ’n nuwe konsepsie: ’n nuwe manier van dink wat hoop bied dat die dooie punt in die politiek van Wit en Swart in Suid-Afrika sal beëindig [word]. (Louw 1965:155)

Dawie skryf elders dat Verwoerd sy politieke lewe in sy hand geneem het deur in die vooruitsig te stel dat swart mense ‘volledige politieke ontwikkeling’ kan hê (Louw 1965:159). Maar Die Burger prys dit in dieselfde asem aan as ’n groot daad’.

Verwoerd se status sou spoedig groei tot iets onaantasbaars. Volgens Van Rooyen (1971:115) was die algemene gesegde in Verwoerd se tyd: ‘Ons verstaan nie alles nie, maar dr. Verwoerd sal wel weet; as hy so sê, moet dit reg wees.’ Van Rooyen, ’n politieke verslaggewer en later mede-hoofredakteur van Die Transvaler, vertel ook van meningsverskille wat hy met Verwoerd gehad het. Maar: ‘Onnodig om te sê, Doktor het gewen’ (Van Rooyen 1971:56).

Dit het uiteindelik ook gegeld vir die botsings tussen Piet Cillié (redakteur van Die Burger en gereelde skrywer van die Dawie-rubriek) en Verwoerd. Daar was reeds vroeg in 1958 ’n krapperigheid tussen Cillié en minister Verwoerd, waaroor Phil Weber, besturende direkteur van Nasionale Pers, in sy dagboek aanteken: ‘Hy (Cillié) is nog jonk en Verwoerd oorweldigend’ (Steyn 2002:113). Later sou hierdie verskille in ’n volskaalse konfrontasie ontwikkel, onder meer oor die politieke posisie van die bruin mense, wat Steyn (2002:143–186) in detail beskryf. Cillié bied selfs aan om ‘baie stil te verdwyn’. Hy bly egter aan en word selfs deur sommige as ’n held beskou (Steyn 2002:185).

Cillié het egter versigtiger geword, meen Steyn (2002:187). Verwoerd se mag was immers aan ’t toeneem en nog botsings sou volg. Onder die opskrif ‘Laaste verset teen Verwoerd’, vertel Steyn (2002:219) dat Cillié hom teen Verwoerd se kritiek op N.P. van Wyk Louw se feesdrama, Die pluimsaad waai ver, verset het. Verwoerd het in sy rede by die Republiekfees van 1966 onder meer soos volg gereageer op die feesdrama, waarin kritiese vrae oor Afrikanerskap en sy geskiedenis gestel is:

O, kon dit vir ons gegee word, soos dit in die uur van roem van groot volke in die verlede was, dat daar diegene kon opstaan wat nie weifelend vra: wát is ’n volk? nie, maar wat sal uitjubel: dit is my volk, so is my volk, so kan hy ook wondere verrig, so is hy skepper van sy eie toekoms! (Steyn 1998:1041)

In sy biografie oor Van Wyk Louw, verhaal Steyn (1998:1034–1057) hierdie insident uitvoerig in ’n hoofstuk getitel ‘Botsing met Verwoerd’. Dit het die verwydering tussen Verwoerd en intellektuele soos Van Wyk Louw en Cillié onderstreep.

Hendrik F. Verwoerd was as minister verantwoordelik vir swart mense en later as Eerste Minister aan skerp kritiek onderwerp deur diegene wat ideologies van hom verskil het. So skryf die Johannesburgse koerant The Star op 21 Mei 1959 in ’n kommentaarartikel:

… We must face the fact that at the head of affairs there is today a man who, driven by the furies of his own ideological fanaticism, could do an infinite amount of harm until he is cast out beyond any further capacity for mischief …

Uit die buiteland het daar eweneens skerp kritiek gekom (vgl. Scholtz 1974:188). Enkele dae voor sy dood plaas Time vir Verwoerd op sy voorblad met die opskrif: ‘The delusions of Apartheid’ (Time 26 Augustus 1966). By sy dood het Afrikaanse en plaaslike Engelse koerante egter verenig (of ten minste respek betoon) in hulle hulde aan Verwoerd.

Van sommige van die Afrikaanse koerante wat Verwoerd sterk ondersteun het, kon lofredes verwag word. Binne ure na sy dood verskyn spesiale middagkoerante met die skoknuus van Verwoerd se sluipmoord. Kommentaar en berigte oor Verwoerd se lewe en werk het veral die volgende dag begin verskyn.

Die Transvaler, wat in 1937 deur Verwoerd begin is, beskryf hom in ’n hoofartikel as ’n man van ‘buitengewone formaat’ met ’n ‘skitterende intellek’ (Die Transvaler 07 September 1966). In dieselfde uitgawe word hy onder opskrifte soos die volgende gehuldig: ‘SA se grootste seun gehuldig’, ‘Man van durf en daad’ en ‘Sakelui buig hoofde vir ekonomiese held.’

Ander Afrikaanse koerante het dieselfde sentimente gereflekteer. Die Vaderland skryf ‘Treffende huldeblyke deur skole gebring’ (Die Vaderland 09 September 1966) en ’n hoofartikel wat sê: ‘… uit die smart wat in almal se harte skrein, begin nou die dankbaarheid vir sy groot lewe opdein.’ Daarmee beweeg die blad reeds verby die onmiddellike hartseer. Die Volksblad (07 September 1966) het op die dag ná Verwoerd se dood hom soos volg in ’n hoofartikel gehuldig en vorentoe gekyk:

Die Suid-Afrikaanse volk het ’n sekere beleidsrigting gekies en dit is veel meer as ’n politieke formule. Dit is ’n lewenswyse en ’n omvattende filosofie. In dr. Verwoerd het hy ’n besonder bekwame eksponent daarvan gehad.

Die Sondag ná sy begrafnis verwys Dagbreek en Sondagnuus (11 September 1966) na die feit dat Verwoerd die gewese voorsitter van Dagbreektrust en van die direksie van die Afrikaanse Pers (1962) was. Dit het hom nóú aan die blad verbind. Hoewel daar soms verskille tussen die koerant en Verwoerd was, was daar wedersydse respek. ‘Hy was ’n hoflike mens, ’n minsame leier wat nie gedryf het nie, maar oorreed en oortuig het, wat nooit te belangrik was om genaakbaar te wees nie,’ lui die berig. Die blad beweeg ook verby die persoonlike en onmiddellike, en verwys by implikasie na die morele dimensie van die ontplooiende rassebeleid:

Met Verwoerd se uitbouing van die tradisionele segregasiebeleid tot een van afsonderlike onafhanklikheid vir alle rasse, het hy ’n politieke filosofie daargestel wat voor die wêreld geregverdig kon word.

Die Beeld se politieke beriggewer skryf Sondag (11 September 1966) gloeiend onder die opskrif ‘Verwoerd: Die held wat nie gehuiwer het nie’ en die subopskrif ‘Sy verhaal sal deur die eeue bly lewe’. Daarnaas verskyn ’n artikel deur dr. Dennis Worrall (1966) onder die opskrif ‘He was the complete Afrikaner’  waarin hy stel: ‘We salute the memory of a splendid man, an exemplary husband and father, a great Afrikaner, and a fine South African.’  (Hierdie Engelse artikel in ’n Afrikaanse koerant was nie uitsonderlik nie, want dit was destyds die gebruik dat Die Beeld Engelse rubriekskrywers gehad het.)

Koerante soos die Rand Daily Mail en The Star het nie net uitvoerig oor een van die grootste nuusgebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis berig nie, maar ook sagter artikels geplaas waarin die mens Hendrik Verwoerd positief belig is (vgl. The Star 10 September 1966).

In hierdie omstandighede was voorbladbanieropskrifte soos ‘A nation mourns dr. Verwoerd’ [’n nasie rou oor dr. Verwoerd] (Rand Daily Mail 07 September 1966), of ‘The nation pays its homage’ [Die nasie betoon sy eer] (The Star 10 September 1966) nie buitengewoon nie. Die hele land was verslae en respek is betoon aan die dominante politieke figuur wat op ’n skokkende wyse aan sy einde gekom het. Tog is die Rand Daily Mail gekritiseer omdat sommige van sy lesers en redaksielede gemeen het dat die dik swart rande wat op die voorblad gebruik is onvanpas was vir ’n koerant wat Verwoerd so sterk teengestaan het (Pogrund 2000:245).

Berigte soos die volgende kan ook beskou word as die betoning van respekvolle simpatie by die dood van ’n belangrike leier, indien nie instemming met sy beleidsrigtings nie:

• ‘Bantoeblad salueer ’n staatsman’ (Die Transvaler 07 September 1966): Hierdie berig verwys na die koerant World wat geskryf het hulle ‘bloed is geroer’ deur Verwoerd en hoofman Leabua Jonathan van Lesotho se onlangse ontmoeting. Daardie hoop sal nie deur Verwoerd se dood uitgewis word nie.

• ‘Duisende Bantoes het ook hulde gebring’ (Dagbreek en Sondagnuus 11 September) : ‘Duisende stedelike Bantoes, asook Bantoes wat spesiaal vir die geleentheid na die stad gekom het, het gister die Staatsbegrafnis van die Eerste Minister in Pretoria bygewoon.’

• ‘Natalse Kleurlinge se telegramme’ (Dagbreek en Sondagnuus 11 September 1966): ‘Ons dank God vir hom. Die fenomenale groei en bloei van ons volk is aan hom deur genade te danke.’

• ‘Non-White VIPs were there’ [Nie-wit BBP’s was daar] (Sunday Times 11 September 1966): Die berig noem dat ’n hele aantal swart-, bruin- en indiërhooggeplaasdes by die begrafnis was, waar hulle in ’n aparte blok gesit het.

Die Rand Daily Mail (07 September 1966) wat hoogs krities oor Verwoerd se beleidsrigtings was, skryf ’n dag na sy dood in ’n prominente voorbladkommentaarartikel:

Friends and foes alike acknowledge his exceptional powers of leadership, his unusual intellect, his prodigious energy, his steadfastness of purpose, his political acumen and his utter dedication to the vision of South Africa that he held before him.

Dit was nie nou die tyd om politieke argumente teen sy visie te opper nie. Tog, daar was ook geen dwingende rede vir ’n opposisiekoerant om hierdie visie aan te prys nie. Daarom val die Sunday Times se redaksionele kommentaar op 11 September 1966 op. Die blad het onder meer geskryf:

The concept of Bantu homelands is one of the great legacies Dr. Verwoerd has left his country; and the tragedy for South Africa is that he was not spared to finish the job …

Die blad verwys ook na sy ‘astonishing capacity for friendliness’.

In ’n enkele berig is vreugde oor die moord gereflekteer. Die Volksblad (07 September 1966) berig onder die opskrif ‘Swartman juig oor moord’ oor ’n insetsel op die BBC-nuus waarin ’n persoon sê dit was die gelukkigste dag van sy lewe. Die berig fokus op kritiek wat teen die BBC uitgespreek is omdat hulle dit gebeeldsend het.

Die voorafgaande gedeelte weerspieël die direkte reaksie op Verwoerd se dood. In koerante wat krities teenoor sy beleidsrigtings gestaan het, het hy uiteraard vroeër heelwat kritiek verduur, soos met ’n enkele aanhaling uit The Star geïllustreer is. Tog is die omvang van die hulde wat vanuit verskillende dele van die bevolking aan hom betoon is opvallend.

Die gebrek aan kritiese stemme sou ook gelees kon word as ’n bewys van hoe onderdruk diegene gevoel het wat nie spyt was oor sy dood nie; ook hoe bang hulle was om in ’n hoogs-emosionele tyd enigiets te sê wat tot geweld aanleiding sou kon gee.

Die berigte rondom Verwoerd se dood kan dus nie as ’n akkurate prentjie beskou word van wat almal in die land oor hom en sy beleidsrigtings gedink, gevoel en beleef het nie. Dit verteenwoordig wel ’n hoogtepunt in die enorme respek en selfs liefde wat ’n deel van die bevolking (nie net wit mense nie) teenoor Verwoerd gevoel het. Afrikaners was, aldus Grobler (2007:170), op die dag van die begrafnis emosioneel verenig soos nog nooit tevore nie.

’n Meer openlik kritiese reaksie op Verwoerd se dood het in die buiteland voorgekom, soos B.M. Schoeman in sy boek Die sluipmoord op dr. Verwoerd (1975:139, 140) vertel. Schoeman verwys na ’n berig in Dagbreek en Sondagnuus (11 September 1966) wat vertel hoe ’n ‘gelag en gejuig’ in die Zambiese parlement losgebars het toe die dood van Verwoerd daar bekend gemaak is. In die tydskrif Life het ’n artikel na Verwoerd verwys as ’n ‘politieke fanatikus’ en die Toronto Star het opgemerk: ‘Die man is dood – sy monster (Apartheid) groei’ (Schoeman 1975:140).

Die skrywer Alan Paton se reaksie in die Johannesburgse Star was, aldus Schoeman (1975:141) die volgende: ‘Dr. Verwoerd het die liberaliste en liberalisme verafsku en dit openlik gesê. Liberaliste verafsku die beleid van Apartheid en sê dit openlik.’ Daarmee het Paton tog die man van sy beleid geskei.

Selfs 47 jaar na sy dood is Verwoerd steeds in die nuus en teken spotprenttekenaars hom nog steeds. Vandag is die oordeel egter oorweldigend negatief, met enkele uitsonderings. Aangesien apartheid deur sommige mense geredelik vir alle hedendaagse probleme in Suid-Afrika verantwoordelik gehou word, duik Verwoerd as die simbool van Apartheid met reëlmaat in die pers op. Giliomee (2012a) noem in ’n koerantartikel dat Verwoerd deesdae (deur ander) as ’n ‘bose genie’ gebrandmerk word. Trouens, hy was ’n ‘verskriklike mens’, aldus Jonathan Jansen (2011), rektor van die Vrystaatse Universiteit.

Verwoerd word op die hoogste vlak aangehaal en oor hom berig. President Jacob Zuma se beskuldiging dat Verwoerd eintlik verantwoordelik is vir die handboekkrisis in 2012 in Limpopo, het uiteraard die nuus gehaal (Rademeyer 2012). Senzo Mchunu, Lid van Uitvoerende Raad vir Onderwys in KwaZulu-Natal, het vroeër dieselfde argument geopper deur Verwoerd die skuld te gee vir die lae slaagsyfer in wiskunde en wetenskap in die provinsie in 2010 (Suidwester 2011).

Nog voorbeelde hiervan is die volgende:

Mail & Guardian: ‘Maties residence offers apology for Apartheid wrongs’ [Maties koshuis teken apologie aan vir Apartheidsonreg] (Underhill 2012).

Sowetan: ‘Democratic Sadtu is not like Verwoerd’ [Demokratiese Sadou is nie soos Verwoerd nie] (Choshi 2009).

Beeld: ‘Genoeg bekend oor Verwoerd om te weet dat sy intellektualiteit vals was’ (Naudé 2010).

Beeld: ‘As Verwoerd hom soos Zuma gedra het’ (Snyman 2012).

Verskeie politieke spotprenttekenaars gebruik Verwoerd as ’n simbool van apartheid (vgl. Brandan 2012), maar niemand doen dit met soveel venyn as Zapiro nie. In sy tekeninge word Verwoerd soms met ’n neus uitgebeeld wat aan dié van ’n vark herinner. Zapiro teken Verwoerd (saam met ander Nasionale premiers) in die ‘Apartheid hell’ [Apartheidshel] (met ’n of die duiwel wat oor hulle waak) (Zapiro 2000, 2001), in 2004 as ‘The greatest racist buffoon’ [Die grootste rassistiese hanswors] (Zapiro 2004) en meer onlangs, na aanleiding van ’n 1965-spotprent van Jackson (2010), as die een wat die gordyn op menseregte laat sak het (Zapiro 2010). Wanneer iemand waag om iets oor Verwoerd te skryf wat nie suiwer negatief is nie, word sterk gereageer. Giliomee (2012a) skryf in Rapport dat indien ’n mens oor Apartheid wil oordeel, jy inderdaad die ondenkbare moet oorweeg. Hy opper verskeie wedersyds-uitsluitende stellings wat impliseer dat Suid-Afrika dalk juis weens Apartheid ekonomiese groei en stabiliteit beleef het.

Dat Rapport hierdie intellektueel en politiek riskante standpunt hoegenaamd gepubliseer het, is waarskynlik te danke aan die enorme respek wat Giliomee oor die jare heen opgebou het. Dit het egter onvermydelik skerp kritiek ontlok, onder meer van Anton van Niekerk. Hy skryf in Rapport dat Giliomee heeltemal reg is indien hy daarop wys dat alle aspekte van Apartheid nie deur die Nasionale Party van 1948–1994 uitgedink is nie. Talle ‘erg diskriminerende praktyke’ het reeds voor 1948 beslag gekry. Hy verskil egter van Giliomee op bepaalde punte en brei uitvoerig daarop uit.

Te midde van oorwegend negatiewe beoordeling van Verwoerd se denke, verskyn die herinneringsboek Verwoerd: Só onthou ons hom, onder redaksie van Wilhelm Verwoerd, ’n seun van die ontslape premier, as kontemporêre uitsondering (vgl. ook Roodt 2011). Die resensent en historikus Alex Mouton (2001) kry die geleentheid in Beeld om die volgende alternatiewe perspektief in ’n resensie te formuleer:

Indien ’n persoon met geen kennis van die Suid-Afrikaanse geskiedenis hierdie boek moet lees, sal hy onder die indruk verkeer dat Verwoerd ’n unieke, wyse en verdraagsame profeet sonder enige foute was. Die indruk word ook geskep dat hy Suid-Afrika in ’n utopiese Apartheidstaat sou omskep het, was dit nie vir sy ontydige dood en die ondermynende aktiwiteite van geslepe kommuniste nie.

In die Afrikaanse pers kry Verwoerd nog soms steun van briefskrywers wanneer skerp negatiewe aanmerkings oor die gewese premier en sy nalatenskap gemaak word. Behalwe vir die mondstuk van die Herstigte Nasionale Party, Die Afrikaner, word egter geen redaksionele steun vir Verwoerd se denke in die Suid-Afrikaanse pers aangetref nie (vgl. Möller 2011).

Hoewel daar dus vandag nog hier en daar simpatie vir Verwoerd en sy denke bestaan, is hy by wyse van spreke persona non grata in die pers. Dit staan in skerp kontras met die verering wat hy vroeër geniet het.

Hoe kan die uiteenlopende dekking wat Verwoerd oor die tyd heen ontvang het nuusteoreties verduidelik word? Wat moet die navorser interpreteer van die vroeëre diverse raming van Verwoerd teenoor die huidige oorweldigend negatiewe raming? Kan daar enigsins sprake wees van ’n gebalanseerde persdekking oor ’n omstrede figuur soos Verwoerd?

Die voor die hand liggende antwoord op die eerste van bogenoemde vrae is dat nuus ’n konstruksie is wat binne die beleid van spesifieke koerante in ’n bepaalde konteks geskep word en neerslag in koerante vind (vgl. De Beer & Botha 2008:233). Die konteks word bepaal deur faktore soos die behoeftes van die gehoor (lesers) en die spesifieke sosio-politieke situasie. In McQuail (2010) se woorde:

… there is now more or less a consensus among media scholars that the picture of ‘reality’ that news claims to provide cannot help but be a selective construct made up of fragments of factual information and observation that are bound together and given meaning by a particular frame, angle of vision or perspective … (bl. 101)

Die persdekking van Verwoerd in die tyd voor en met sy dood kan in die lig van die volgende verklaar word: Afrikaanse koerante het (meestal) Verwoerd se beleidsrigtings en hom as leier ondersteun; Engelstalige koerante het hom (meestal) geopponeer. Met sy dood het die emosie van die oomblik en die afkeer van geweld selfs by opposisiekoerante aanleiding gegee tot ’n sagter hantering van sy begrafnis en nalatenskap.

Toe die mislukking van die Apartheidsbeleid mettertyd al duideliker geword het, het die oordeel oor Verwoerd skerper geword, selfs by daardie koerante wat vroeër sy beleid ondersteun het.

Met die aanbreek van ’n nuwe era in die negentigerjare van die vorige eeu wat lynreg in stryd met die ideaal was wat Verwoerd voorgestaan het en waarin kragte en stemme losgekom het wat in ’n vorige era nie gehoor is nie, is die kritiek al skerper verwoord. Hierdie teenstellende standpunte is bloot die gevolg van verskillende perspektiewe wat vanuit verskillende kontekste na vore gekom het. Die koerante was terselfdertyd weerspieëler as mede-skepper daarvan, aangesien koerante nie net nuus weergee nie, maar aktief daaraan konstrueer. Koerante interpreteer ook die gebeure vanuit hulle besondere politieke en lewens- en wêreldbeskoulike posisies en lewer daarop kommentaar, soms eksplisiet, maar soms ook implisiet.

Die pers se uitbeelding van Verwoerd was dus nooit ’n objektiewe of selfs gebalanseerde beeld nie; dit was altyd onderworpe aan die subjektiwiteit, vooroordele en lewens- en wêreldbeskoulike veronderstellings van die redaksies, eienaars en lesers. Dit was maar altyd verflitsende beelde, impressionistiese soeke na die waarheid, meer dikwels in die misleidende styl van die realisme.

Selfs die sogenaamde balans wat die lees van verskillende koerante oor die tyd heen sou meebring, kan egter misleidend wees en kan ’n optiese illusie veroorsaak. ’n Gebalanseerder persdekking van Verwoerd is moontlik in die sin dat ’n koerant standpunte van alle kante kan publiseer, of dat koerante individueel eensydig is, dog gesamentlik gebalanseerd is – maar dit bied dalk steeds nie genoeg diepte nie.

’n Ander rol wat koerante speel en wat genoem moet word alvorens die literatuur aan die orde kom, is dat sommige boeke wye dekking in die pers geniet en daardeur raak die kernelemente van die inhoud veel wyer bekend (vlg. Altbeker 2013 se onderhoud met Giliomee oor sy jongste boek, wat verder aan meer aandag kry).

Die beperkings van die pers laat die deur uiteraard oop vir meer deurdagte, beter nagevorste menings in die literatuur. Ná Verwoerd se dood is ’n groot aantal populêre boeke oor hom geskryf wat ’n mark gevind het by die deel van die bevolking wat hom vereer het soos seker geen ander wit openbare figuur van die twintigste eeu nie. In werke met akademiese pretensies is ook telkens na hom verwys en is sy beleidsrigtings soms aangeprys, maar meermale ook skerp gekritiseer.

Die vroeë herdenkingsboeke sluit die volgende in: Pieter W. Grobbelaar se This was a man (1967), die fotobiografie Hendrik Frensch Verwoerd (saamgestel deur N.F. Hefer en G.C. Basson s.a.) en Fred Barnard se 13 jaar in die skadu van dr. H.F. Verwoerd (1967). Hierdie boeke is vir Verwoerd se aanhangers van destyds geskryf.

Grobbelaar se boek (uitgegee in Afrikaans en Engels) begin met ’n voorwoord deur dr. J.S. Gericke, ’n bekende kerkleier van destyds, waarin hy Verwoerd aanprys as leier wat die land agter hom verenig het. Hy sluit die voorwoord soos volg af:

A century hence, though there may still be those who are unable to accept his views, the unanimous verdict of the world will be that he was a great man. [’n Eeu van nou af sal daar seker steeds diegene wees wat nie sy standpunte aanvaar nie, maar die eenparige oordeel van die wêreld sal wees dat hy ’n groot man was.] (Grobbelaar 1967:8, [outeur se eie vertaling])

Grobbelaar se teks is vry van emosionele waarde-oordele. Hy merk wel op dat van al die wêreldleiers net meneer Ian Smith van Rhodesië by die begrafnis teenwoordig was, asook die (swart) leier van die Transkei, hoofman Kaiser Matanzima (Grobbelaar 1967:168). Ten slotte haal hy ’n onbekende korrespondent van ’n Engelstalige koerant aan wat die volgende geskryf het:

For Henk Verwoerd no ordinary statue of bronze in public square or park. High on a krans of the Drakenberg chisel his likeness, large and bold, where it will be seen for miles and miles. His like will pass this way no more. (Grobbelaar 1967:174)

Hendrik Frensch Verwoerd, Fotobiografie 1901–1966 bevat hoofsaaklik foto’s met byskrifte. Die boek word egter ingelui met twee tekste, naamlik ’n huldeblyk wat deur Verwoerd se ou koerant, Die Transvaler, gepubliseer is, asook een deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Albei beskryf Verwoerd as ’n man van enorme intellek en moed. Die SAUK-huldiging eindig deur te stel dat ‘[b]y sy heengaan rou Suid-Afrika oor ’n leier van groot formaat wat die volk soos ’n Profeet en Rigter gedien het’ (Hefer & Basson s.a.:14).

Fred Barnard wat as private sekretaris lank saam met Verwoerd gewerk het, gee ’n persoonlike blik op Verwoerd, die mens, maar verwys tog ook verskeie kere na Verwoerd en sy beleid jeens swart mense. Barnard (1967) noem die volgende:

Dr Verwoerd het baie simpatie met die Bantoe gehad en as ’n persoon wat sielkunde bestudeer het, het hy die siel van die Swartman geken: sy swakhede, sy voortreflikhede, gebreke en verdienstelikhede! … In weerwil van die voortdurende beskuldigings uit die buiteland, was dr Verwoerd geen verdrukker van die Swartman nie. (bl. 46)

Hoewel onkrities, soos van ’n private sekretaris en geesgenoot verwag sou kon word, gee Barnard se boek tog belangrike insigte in Verwoerd se denke en hoe sy ondersteuners hom ervaar het. Hoewel in ’n veel meer formele (akademiese) styl, kan G.D. Scholtz (1974) se biografie in twee bande, Dr Hendrik Frensch Verwoerd 1901–1966, ook hier genoem word. Scholtz het as gewese kollega van Verwoerd en lewenslange bewonderaar ’n baie omvangryke maar onkritiese biografie geskryf. Daarin bestempel hy Verwoerd as ’n buitengewone man – iemand met besondere intellektuele gawes, leierseienskappe, selfvertroue en beginselvastheid. Hy was, aldus Scholtz, een van Suid-Afrika se ‘allergrootste figure’.

Hiermee het B.M. Schoeman, lank redakteur van die Herstigte Nasionale Party (HNP) se blad, Die Afrikaner, van harte saamgestem en in sy boek Van Malan tot Verwoerd (1973) ’n hoogs positiewe beeld van Verwoerd geteken. Onder andere weerlê Schoeman (1973:181) in hierdie politieke geskiedenis die gedagte dat Verwoerd ’n outokraat sou gewees het.

In Piet Meiring se populêre boek Ons eerste ses premiers word ook wydlopend en oorwegend positief oor Verwoerd geskryf, maar die vraag word tog (weer) gevra of Verwoerd ’n outokraat was. Meiring (1975:144) sê die meeste mense aan wie hy hierdie vraag gestel het, het beaam dat Verwoerd outokraties was, ‘maar met goeie bedoelings’. In ’n ander (outobiografiese) werk word etlike anekdotes deur Meiring vertel, onder meer van ’n skrobbering wat hy van Verwoerd gekry het omdat Meiring aan Verwoerd gerapporteer het dat ‘diskriminerende apartheid’ nie in die buiteland geregverdig kan word nie. Volgens Meiring het Verwoerd gesê: ‘Wil jy vir my beleid voorskryf? … As jy nie in staat is om die beleid van hierdie regering oorsee te verkondig en te verdedig nie, moet jy so sê’ (Meiring s.a.:153). Hierdie botsing was weliswaar nie vir Meiring ’n verrassing nie, want ten spyte van jarelange samewerking vroeër in die redaksie van Die Transvaler (wat weliswaar ook talle meningsbotsings ingesluit het) ‘het ek besef dat ons uiteenlopende benaderings tot die rasseprobleem vir my probleme vorentoe sou oplewer’ (Meiring s.a.:153). Die punt is dat Verwoerd, volgens Meiring, alle argumente gewen het. Al manier waarop ’n mens kon kry wat jy wou hê, was om juis die teenoorgestelde standpunt in te neem. Verwoerd sou dan ‘elke keer’ genoeg argumente vind om jou te uitoorlê (Meiring s.a.:103).

’n Soortgelyke boek deur ’n joernalis wat ook aan dieselfde kant as Verwoerd geveg het, maar soms drasties met hom verskil het, is Schalk Pienaar se Getuie van groot tye (1979). Pienaar vertel in detail hierin hoedat Verwoerd, wat ook voorsitter van Dagbreekpers en Voortrekkerpers was, die koms van die Sondagkoerant Die Beeld (uit die stal van die Nasionale Pers) aktief teengestaan het (Pienaar 1979:45–54). Dat Die Beeld desondanks gestig is, het nie bygedra tot die reeds stram verhoudings tussen Verwoerd en die senior mense van Die Burger nie. Verwoerd en die ‘Kaapse’ Nasionale Pers het mekaar bloot verduur. Pienaar (1979), wat later ook stigterhoofredakteur van die dagblad Beeld sou word, vat sy afkeer van Verwoerd soos volg saam:

Asof dit die natuurlikste ding in die wêreld is, het hy homself beskou as die leier van die Afrikaners en as arbiter oor wat vir die Afrikaners goed of sleg is. En dan het hy ook nie teruggedeins vir velde wat heeltemal buite sy oordeelsvermoë was nie. (bl. 50)

In die biografie oor Paul Sauer word vertel hoedat Sauer Verwoerd suksesvol genader het om stigtersredakteur van Die Transvaler te word (De Villiers & De Villiers 1977:120, 121). Verwoerd en Sauer sou weens Verwoerd se konserwatisme, koppigheid en hiper-ortodoksheid (aldus die skrywers) nooit persoonlike vriende word nie en het ook koppe gestamp oor die toekenning van bepaalde kabinetsportefeuljes aan Sauer (De Villiers & De Villiers 1977:123, 124). Tog ‘ontken Sauer nie Verwoerd se onbetwyfelbare briljantheid nie’ (De Villiers & De Villiers 1977:121, 122).

In verskeie biografiese versamelbundels (oor die twintigste eeu) en dergelike werke soos 50 People who stuffed up South Africa (Alexander Parker), kom skerp oordele oor Verwoerd voor. Parker (2010:190) skryf onder meer oor Verwoerd: ’He was the devil who even served the coffee cold …’ [Hy was die duiwel wat selfs die koffie koud bedien het …]. Die stuk bevat egter ook die volgende billike samevatting van Verwoerd se denke:

He believed that South Africa was not a nation, but a collection of nations defined by their race … Blacks were, according to this thinking, … further split up into eight ethnic subdivisions, each of which was assigned a ‘homeland’ … of which members of each division would then become citizens – even if they’d never been there in their lives. (Parker 2010)

In Hulle het ons eeu gevorm (1999:22–26) wat deur Human en Rousseau uitgegee is, word Verwoerd as een van die ‘invloedrykste Suid-Afrikaners van die twintigste eeu’ bestempel. Dit is egter nie as ’n kompliment bedoel nie. Die skrywer van die inskrywing oor Verwoerd, Hans Pienaar, noem Verwoerd Suid-Afrika se ‘politieke goëlaar van die eeu’, na aanleiding van Dunbar Moodie se opmerking dat die hele apartheidsprojek ’n ‘afgryslike bedrogspul’ was.

In ’n soortgelyke boek, Great South Africans, oordeel Boraine (2004) soos volg oor Verwoerd:

If greatness is measured not by worthiness but by actions and their consequences – for better or for worse – then the architect of ‘Grand Apartheid’ stands almost unchallenged in South African history. (bl. 90)

Boeke soos bogenoemde drie leen hulle nie tot genuanseerde besprekings van ’n onderwerp nie. Opname van inskrywings oor Verwoerd was in die tydsgees waarskynlik gedoem tot ’n hoogs kritiese bespreking van sy loopbaan. Minder verstaanbaar is die redakteurs van Die groot aanhalingsboek se keuse om net twee Verwoerd-aanhalings in te sluit – en nie een handel oor Apartheid of afsonderlike ontwikkeling nie (Claassen, Muller & Van Tonder 1998:293, 297).

In die Christelike Kernensiklopedie skryf Kapp en Gaum (2008: 1157, 1158) sober maar tog krities: ‘Vir die diepe onreg wat veral die stadswarte en die bruinmense … aangedoen is, het hierdie kolos uiteindelik ook nie ’n oplossing gehad nie.’

In omvangryker werke oor die opkoms van die Apartheidsbeleid en die era waarin Verwoerd ’n sleutelrol gespeel het, word noodwendig na Verwoerd verwys en soms skerp oor hom geoordeel. Hierdie boeke sluit dié in deur Ben Schoeman (1978), Allister Sparks (1992) en Helen Suzman (1994). Maar min oordeel skerper, dog met erkenning aan Verwoerd se ‘goeie bedoelings’, as W.A. de Klerk (1976) in sy boek The puritans in Africa. De Klerk (1976:260, 276) bestempel Verwoerd as ’n tragiese figuur, ’n man wat geluk vir almal wou hê, maar die onmoontlike ten alle koste nagejaag het. De Klerk se briljante analise van die opkoms van radikale Apartheidsdenke verduidelik waarom Verwoerd as ‘geroepe mens’, as leier van ’n volk met ’n ‘lotsbestemming’ die spoor so kon byster raak. De Klerk (1976) plaas dit ook betekenisvol in die groter konteks:

God’s appointed or elected have been called upon to perform a specific task. This task is automatically right, as God is in his heaven, and is on the side of the ordained (the saints). All hesitancy should be abandoned; and the way to the stars lies clearly ahead. (bl. 262)

Sparks (1992) se relaas van die opkoms en val van Apartheid gee minder aandag aan Verwoerd as wat ’n mens sou verwag. Anders as Sparks, wat Verwoerd konsekwent as koerantredakteur geopponeer het, het Helen Suzman dit as lid van die Volksraad gedoen – ’n veel intiemer konteks waar jy jou opponente gedurig raakgeloop het. In haar herinneringe, In no uncertain terms (Suzman 1994:65, 66), erken seker die dapperste parlementslid van haar tyd die volgende:

I have to admit Verwoerd was the only man who has ever scared me stiff … Here was a man who could stand up in Parliament and talk for more than two hours without a note, building up an argument so convincingly that one sat there nodding one’s head like a zombie, until one realised that his entire argument was built on a false premise … (bl. 65–66)

Die Amerikaanse skrywer Allen Drury se reis deur Suid-Afrika in die middel van die sestigerjare het op ’n boek (A very strange society, 1967) uitgeloop wat tot vandag toe nog aangehaal word – ook deur Giliomee in sy resente boek oor Afrikanerleiers (Giliomee 2012b). Drury (1967:407) het Verwoerd ’n uitsonderlike man gevind wat die gesag en intellek gehad het om Suid-Afrika na ’n menslike, akkommoderende bestel sou te kon lei.

Enkele boeke is in die geheel aan Verwoerd gewy. Kort na sy dood verskyn Hepple se kritiese werk waarin hy bevind dat Verwoerd oor groot talent beskik het, maar ‘they were put to a wretched cause’ (Hepple 1967:238). Kenney (1980:7) gee toe dat Hepple ’n ‘leesbare’ boek gekryf het, maar dat daarin onakkuraathede voorkom. In dieselfde asem sê hy dat Hepple Verwoerd as ’n ‘authoritarian racist who could not change’ [outoritêre rassis wat nie kon verander nie] voorhou, maar hy voer self aan dat die ‘hardkoppige’ Verwoerd nie in staat was om te verander nie (Kenney 1980:262). Tog plaas Kenney sy eie oordeel oor Verwoerd tussen Hepple en die vroeër genoemde biografie deur Scholtz.

Wanneer oor Suid-Afrika se huidige probleme geskryf word, word Verwoerd telkens betrek, oorwegend in ’n negatiewe lig (vgl. Pienaar 2012; Roper 2011; Sparks 2012). In die jongste tyd gee die Stellenbosse akademikus Hermann Giliomee al hoe meer aandag aan Verwoerd. In sy omvangryke werk Die Afrikaners (2004) verwys Giliomee wel verskeie kere na Verwoerd, maar in ’n hoofstuk getiteld ‘Apartheid: ’n ander blik’(in Geskiedenis van Suid-Afrika onder redaksie van Fransjohan Pretorius 2012) maak Giliomee die deur oop vir ’n meer genuanseerde beoordeling van Apartheid (en daarmee saam van Verwoerd). In dieselfde tyd verskyn Giliomee se omvattende herbesinning oor Afrikanerleiers (insluitende Verwoerd) (Giliomee 2012b).

Giliomee (2012b:15) meen die vernaamste plig van ’n historikus is nie om verskoning te vra nie, maar om te verduidelik. Vandaar sy belangrike korrektief op die selektiewe aanhaling van wat Verwoerd in 1953 oor swart onderwys gesê het; ook sy stelling dat Verwoerd se uitlatings in 1960 oor die historiese aansprake van grond deur swart en wit ‘nie so vergesog’ was as wat dit vandag mag klink nie; en dat Verwoerd ’n ‘pragmatiese kant’ gehad en soms met die onverwagte na vore gekom het (Giliomee 2012b: 57, 69, 83, 84).

Giliomee (2012c) brei effens hierop uit in Die enigma van Hendrik Verwoerd, wat die basis gebied het vir sy boek oor Afrikanerleiers. Hoewel die boek (wat as e-boek beskikbaar is) die lewe van Verwoerd saamvat en daarom ’n welkome toevoeging is, stel dit teleur in die sin dat diegene wat die ander Giliomee-boeke en -artikels oor die onderwerp reeds gelees het, min nuuts daarin sal vind. Die kern daarvan is egter dat maklike antwoorde oor Verwoerd afgewys word.

Diegene wat (tereg) groot waarde heg aan voorloper-denkers soos Erika Theron en Rykie van Reenen, sal, danksy Giliomee, ook moet kennis neem van hulle oordeel oor Verwoerd.

Boeke oor Verwoerd en verwysings na hom wissel dus van hagiografiese gedenkboeke tot hoogs insiggewende analises van Apartheid en spesifiek Verwoerd se denke. By bogenoemde voorbeelde sou nog ander akademiese werke soos Prinsloo (1979) se doktorale proefskrif oor Verwoerd se Johannesburgse periode, akademiese artikels soos dié deur Miller (1993) en Froneman (2000), ’n versamelbundel van Verwoerd se toesprake (Pelzer 1963) en een van sy republikeinse hoofartikels (Geyser 1972) gevoeg kan word.

Uit bogenoemde is dit egter duidelik genoeg dat boeke en akademiese artikels ook ’n beeld van Verwoerd skep wat net so uiteenlopend is as dié wat in die pers gevorm is. In alle gevalle speel die outeurs se lewens- en wêreldbeskouings, geplaas binne die immer veranderende konteks, ’n deurslag-gewende rol in die oordele wat oor Verwoerd gevel word. Hierdie oordele is meermale op denkbeelde gegrond wat self aanvegbaar is en wat onnadenkend (of moedswillig) vry van selfkritiek hulself teen Verwoerd opstel.

Daar kan ook na J.J. Venter se filosofies-begronde kritiek op Verwoerd verwys word asook W.A. de Klerk se diepsnydende analise van Apartheidsdenke. Saam onderwerp Venter en De Klerk Verwoerd se denke en optrede aan die mees fundamentele kritiek denkbaar.

Tog moet ook erkenning gegee word aan die agtergronds-inligting, kritiek en lof in die aangehaalde boeke asook koerantberigte. Alles dra by tot ’n komplekse prentjie wat oppervlakkige kontemporêre stereotipering sinneloos maak.

Behalwe dat duidelik tussen Verwoerd as persoon en sy filosofie onderskei sou kon word, moet tydgenootlike beoordeling deeglik verreken word. Andersyds moet ’n beoordeling vanuit die perspektiewe van dekades met omsigtigheid gedoen word. Die Britse historikus Herbert Butterfield noem immers ’n oordeel oor die geskiedenis ooreenkomstig hedendaagse morele oortuigings ’n yslike optiese illusie (Giliomee 2012a).

Altbeker, A., 2013, ‘Five shades of white’, Sunday Times Lifestyle, 02 June, n.p.

Barnard, F., 1967, 13 Jaar in die skadu van dr. H.F. Verwoerd, Voortrekkerpers, Johannesburg.

Boraine, J., 2004, Great South Africans, Penguin, Johannesburg.

Brandan, 2012, ‘Untitled cartoon’, The Sunday Independent, 16 September, n.p.

Choshi, T., 2009, ‘Democratic Sadtu is not like Verwoerd’, Sowetan Live, viewed 11 February 2013, from http://www.sowetanlive.co.za/sowetan/archive/2009/10/29/democratic-sadtu-is-not-like-verwoerd

Claassen, G., Muller, P. & Van Tonder, M., 1998, Die groot aanhalingsboek, Human & Rousseau, Kaapstad.

Dagbreek en Sondagnuus, 11 September, 1966, bl. 16.

De Beer, A.S. & Botha, N., 2008, ‘News as representation’, in P.J. Fourie (ed.), Media studies, vol. 2, 2nd edn., pp. 227–242, Juta, Cape Town.

De Klerk, W.A., 1976, The puritans in Africa, Penguin Books, Manchester.

De Villiers, J. & De Villiers, H., 1977, Paul Sauer, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Die Beeld, 11 September, 1966, bl. 11.

Die Transvaler, 07 September, 1966, bl. 8.

Die Vaderland, 09 September, 1966, bl. 10.

Die Volksblad, 07 September, 1966, bl. 12.

Drury, A., 1967, A very strange society, Trident Press, New York.

Froneman, J.D., 2000, ‘H.F. Verwoerd’s student years – Cradle of his political career and thought’, Koers – Bulletin for Christian Scholarship 65(3), 399–412.

Geyser, O. (red.), 1972, Dr. H.F. Verwoerd die republikein: Hoofartikels uit ‘Die Transvaler’ 1937–1948, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Giliomee, H., 2004, Die Afrikaners, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Giliomee, H., 2012a, ‘Apartheid: Was dit dan net boos?’, Rapport, besigtig 18 Februarie 2013, by http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Apartheid-Was-dit-dan-net-boos-20120623

Giliomee, H., 2012b, Die laaste Afrikaner-leiers, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Giliomee, H., 2012c, Die enigma van Hendrik Verwoerd, Tafelberg, Kaapstad.

Grobbelaar, P.W., 1967, This was a man, Human & Rousseau, Cape Town. PMid:6021085

Grobler, J., 2007, Uitdaging en antwoord, Groerie, Pretoria. PMCid:PMC1847430

Hefer, N.F. & Basson, G.C., s.a., Hendrik Frensch Verwoerd: Fotobiografie 1901–1966, Voortrekkerpers, Johannesburg.

Hepple, A., 1967, Verwoerd, Penguin Books, Harmondsworth.

Jackson, 2010, ‘Untitled Cartoon’, Mail & Guardian, 12 Augustus, n.p.

Jansen, J., 2011, ‘Soos ’n Tutu en Verwoerd’, Beeld, besigtig 25 Julie 2012, by http://www.beeld.com/Rubrieke/JonathanJansen/Soos-n-Tutu-en-Verwoerd-20110517

Kapp, P. & Gaum, F., 2008, ‘Verwoerd, Hendrik Frensch’, in F.M. Gaum, A. Boesak & W. Botha (reds.), Christelike kernensiklopedie, Lux Verbi, Wellington, bl. 1157–1158.

Kenney, H., 1980, Architect of apartheid: H.F. Verwoerd, Jonathan Ball Publishers, Johannesburg.

Louw, L., 1965, Dawie 1946–1964, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad. PMCid:PMC1552272

McQuail, D., 2010, McQuail’s mass communication theory, Sage, Los Angeles. PMid:20561717

Meiring, P., s.a., Dis my storie dié, PMP Uitgewers, Pretoria.

Meiring, P., 1975, Ons eerste ses premiers, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad. PMid:1209430

Miller, R.B., 1993, ‘Science and society in the early career of H.F. Verwoerd’, Journal of Southern African Studies 19(4), 1–29. http://dx.doi.org/10.1080/03057079308708377

Möller, P., 2011, ‘Tragiese verval na die dood van dr. Verwoerd’, Die Afrikaner, 08 September, bl. 8.

Mouton, A., 2001, ‘Boek oor Verwoerd eensydig’, Beeld, besigtig 25 Julie 2012, by http://www.beeld.com/Vermaak/Nuus/Boek-oor-Verwoerd-eensydig-20100616

Naudé, C-P., 2010, ‘Genoeg bekend oor Verwoerd om te weet dat sy intellektualiteit vals was’, Beeld, besigtig 11 Februarie 2013, by http://www.beeld.com/MyBeeld/Briewe/Genoeg-is-bekend-oor-Hendrik-Verwoerd-om-te-weet-dat-sy-intellektualiteit-vals-was-20101111

Parker, A., 2010, 50 People who stuffed up South Africa, Burnet Media, Johannesburg.

Pelzer, A.N., 1963, Verwoerd aan die woord, Afrikaanse Pers-Boekhandel, Johannesburg.

Pienaar, H., 1999, ‘Hendrik Verwoerd 1901–1966’, in Hulle het ons eeu gevorm, bl. 22–26, Human & Rousseau, Kaapstad.

Pienaar, H., 2012, ‘Verwoerd would be pleased – Apartheid is alive and well’, Business Day, viewed 23 October 2013, from http://www.businessday.co.za/articles/Content.aspx?id=171105

Pienaar, S., 1979, Getuie van groot tye, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad. PMid:533145

Pogrund, B., 2000, War of words, Seven Stories Press, New York.

Pretorius, F., 2012, Geskiedenis van Suid-Afrika, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Prinsloo, D., 1979, ‘Die Johannesburgse periode van dr. H.F. Verwoerd se loopbaan’, PhD-tesis, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.

Rademeyer, A., 2012, ‘Verwoerd se voet’, Beeld, 25 Julie, bl. 2.

Rand and Daily Mail, 07 September, 1966, bl. 1.

Roodt, D., 2011, ‘Liberale Rhodes en Smuts meer rasbehep’, Rapport, 13 November, bl. 2.

Roper, C., 2011, ‘Zombie Verwoerd stalks internet’, Mail & Guardian, viewed 23 October 2012, from http://www.mg.co.za/article/2011-01-04-zombie-verwoerd-stalks-internet

Schoeman, B., 1978, My lewe in die politiek, Perskor, Johannesburg.

Schoeman, B.M., 1973, Van Malan tot Verwoerd, Human & Rousseau, Kaapstad.

Schoeman, B. M., 1975, Die sluipmoord op dr. Verwoerd, Strydpers, Pretoria.

Scholtz, G.D., 1974, Dr. Hendrik Frensch Verwoerd 1901–1966, Band 2, Perskor, Johannesburg.

Snyman, D., 2012, ‘As Verwoerd hom soos Zuma gedra het’, Beeld, besigtig 11 Februarie 2013, by http://www.beeld.com/Rubrieke/Dana-Snyman/As-Verwoerd-hom-soos-Zuma-gedra-het-20121101

Sparks, A., 1992, The mind of South Africa, William Heinemann, London.

Sparks, A., 2012, ‘How Verwoerd’s Bantustans still live on in the new SA’, Business Day, viewed 23 October 2012, from http://www.businessday.co.za/articles/Content.aspx?id=168394

Steyn, J.C., 1998, Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal, deel 2, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Steyn, J.C., 2002, Penvegter, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

‘Suidwester’, 2011, ‘Verwoerd maak 2010-punte swak!’, Beeld, besigtig 25 Julie, 2012, by http://www.beeld.com

Sunday Times, 11 September, 1966, n.p.

Suzman, H., 1994, In no uncertain terms, Jonathan Ball Publishers, Johannesburg. PMid:8066226

Time, 26 Augustus, 1966, n.p.

The Star, 21 Mei, 1959, n.p.

The Star, 10 September, 1966, p. 1.

Underhill, G., 2012, ‘Maties residence offers apology for apartheid wrongs’, Mail & Guardian, viewed 11 February 2013, from http://mg.co.za/article/2012-08-30-odd-apology-for-apartheid

Van Rooyen, J.J., 1971, Ons politiek van naby, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Venter, J.J., 1999, ‘H.F. Verwoerd: Foundational aspects of his thought’ [Fundamentele aspekte van sy denke], Koers – Bulletin for Christian Scholarship 64(4), 415–442.

Worrall, D., 1966, ‘He was the complete Afrikaner’, Beeld, 11 September, n.p.

Zapiro, 2000, ‘Untitled cartoon’, Mail & Guardian, 27 January.

Zapiro, 2001, ‘Untitled cartoon’, Sunday Times, 03 January.

Zapiro, 2004, ‘Untitled cartoon’, Sowetan, 30 September.

Zapiro, 2010, ‘Untitled cartoon’, Mail & Guardian, 12 August.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *