2020 – Die Afrikaner op pad na vryheid

Vyf en veertigste HF Verwoerdgedenklesing

3 September 2020

Dr Louis Bothma

Die antwoord is in die geskiedenis

‘n Volk is die produk van sy geskiedenis. 

En sy geskiedenis is sy kompas. Wanneer hy ‘n krisis beleef, gaan delf ‘n volk in sy verlede vir antwoorde. Daarom sal sy vyande altyd probeer om ‘n wig tussen ‘n volk en sy geskiedenis in te dryf. 

So het die Afrikaner se vyande sedert die moord op dr. Hendrik Verwoerd daarin geslaag om sy geskiedenis as ‘n fout, ‘n sonde en ‘n misdaad teen die mensdom voor te hou – komende van ‘n regime wat flankeer met ‘n ideologie wat die dood van ongeveer 100 miljoen mense op aarde tot gevolg gehad het.

Dit verdwerg die geskatte 21 000 mense wat tussen 1948 en 1994 in Suid-Afrika én Namibië as gevolg van politieke geweld omgekom het, totaal en al. Hiervan het 14 000 in die laaste 6 jaar in die oorgang na die nuwe Suid-Afrika van 1994 gesterf. In 92 persent van die gevalle was dit as gevolg van swart op swart geweld.

Sedert die ANC die bewind oorgeneem het, het misdaad in al sy vorme handuit geruk. In die 25 jaar ná 1994 is meer as ‘n halfmiljoen Suid-Afrikaners vermoor. Dit is meer as 20 000 per jaar, teen ‘n gemiddelde tempo van 58 per dag. Misdadigheid onder die amptenary – regdeur van onder af tot bo by die president uit – het sulke afmetings aangeneem dat die toestand in die land nie anders as ‘n kleptokrasie beskryf kan word nie.

Daarom is dit te begrype waarom die huidige regime ten alle koste wil verhoed dat hy met die Verwoerd-era vergelyk word. Daar is net een toelaatbare weergawe van hierdie land se geskiedenis en dit is die narratief van die ANC, sy mutasies en bondgenote. Die een wat dit buite die parameters waag wat húlle afgebaken het, is ‘n rassis wat na Apartheid terugverlang. Die Afrikaner moet skaam en skuldig oor sy geskiedenis wees en in sy ewige tweedeklasburgerskap onder ‘n ANC-regime berus.

Van wanneer af kan ‘n regime wat sy eie mense gefaal het, die land in die afgrond bestuur en besteel het, en boonop deur sy eie kommissie van ondersoek by ‘n internasionale katnes van staatskaping betrek is, toegelaat word om die geskiedenis te kaap? Dit kan tog nooit in landsbelang wees nie, maar slegs om sy eie bekookte agenda van selfverryking ter wille te wees.

Geen politikus – nie nou nie en ook nie voor 1994 nie – kan met geskiedskrywing en die interpretasie van ingewikkelde historiese prosesse vertrou word nie. Dit is vir historici wat hul sout werd is, elkeen vanuit sy bepaalde invalshoek, om ‘n oordeel te fel.

As enigiemand in hierdie land ‘n slagoffer van Apartheid is, dan is ek dit ook, maar daarby het ek nie vasgesteek nie. As ek terugverlang na iets, dan is dit na vryheid, en dit lê nie agter my nie, maar iewers voor my in die toekoms. 

Ek het my nie deur die ou regime laat intimideer nie en ek sal my ook nie deur hierdie regime laat intimideer nie. Derhalwe gaan ek onbevange voort om vanuit die geskiedenis te oordeel of die Afrikaner homself uit die toestand waarin hy hom nou bevind, kan bevry.

Die nuwe Suid-Afrika van 1814

Die Afrikaner, wat die suidpunt van Afrika reeds vir meer as drie en ‘n half eeue bewoon en bewerk, het nie in 1994 die eerste maal met ‘n sogenaamde nuwe Suid-Afrika te doen gekry en sy vryheid verloor nie.

Daar was al nuwe Suid-Afrikas – gekenmerk deur rassevraagstukke – in 1814 en in 1910, en elke keer het die Afrikaner ‘n oënskynlik onomkeerbare situasie gesystap en sy vryheid herwin.

Toe Jan van Riebeeck in 1652 in Tafelbaai land, was dit nie om Suid-Afrika te koloniseer nie, maar om in opdrag van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie ‘n verversingspos vir verbygaande skepe te stig.

In Februarie 1657 is aan nege amptenare – waaronder my stamvader Steven Janz Bot(h)ma – toestemming verleen om die diens van die Kompanjie te verlaat en as “vrye burgers” te gaan boer. Reeds die volgende jaar het hulle in opstand gekom teen die Kompanjie se voorskriftelike regeringswyse. So was dit die vryburgers wat die grondslag gelê het vir die Afrikaner se ekonomiese en latere politieke vryheidsideale in ‘n nuwe vaderland. In 1795 het twee buitedistrikte, Graaff-Reinet en Swellendam, die juk van die Kompanjie afgewerp en hul eie regerings gevorm.

Toe die Britte dieselfde jaar die Kaap verower en almal trou aan die Britse koning moes sweer, het dit op ‘n rebellie uitgeloop. Uiteindelik moes die burgers van Graaff-Reinet en Swellendam hulle aan Britse gesag onderwerp. Die Kaap is in 1803 aan Nederland teruggegee, maar die Britte het teruggekom, die gebied in 1806 herower, en in 1814 het dit amptelik ‘n Britse kolonie geword. Wie ook al aan afskeiding van die gesag in die Kaap en Londen gedink het, moes opgaan in die groter geheel. Hiermee is ‘n nuwe era in die geskiedenis van Suid-Afrika ingelui wat in baie opsigte herinner aan die periode ná 1994.

In plaas van ‘n waarheids- en versoeningskommissie, was daar in 1812 die sogenaamde Swart Ommegang. Wittes aan die Kaapse oosgrens moes naamlik voor rondgaande howe teregstaan op aanklagtes dat hulle hul werkers en swart mense oor die algemeen, onmenslik behandel en vermoor het. Hoewel nie ‘n enkele geval van moord bewys kon word nie, en slegs ‘n paar aangeklaagdes aan mindere misdade skuldig bevind is, het dit gemoedere aan die Oosgrens kwaai opgejaag.

In Oktober 1815 het ‘n nietige arbeidsgeskil wat deur die owerhede met militêre ingryping hanteer is, tot die Slagtersnek-rebellie aanleiding gegee. Sowat 60 boere wat saamgesweer het om die gesag van die Britse bewind met die wapen uit te daag, en selfs die Xhosas oorkant die grens probeer beweeg het om by die opstand aan te sluit, moes vinnig die aftog blaas. Vyf rebelle wat aan hoogverraad skuldig bevind is, is op 9 Maart 1816 in die openbaar gehang. ‘n Paar ander is selfs tot harde arbeid sonder loon na Robbeneiland verban – 150 jaar vóór Nelson Mandela en die Rivonia-samesweerders, wat ook die staatsgesag in Suid-Afrika met die wapen uitgedaag en buitelandse ondersteuning gehad het, hulle lewenslange vonnisse daar uitgedien het. 

Die emosies wat die nuwe Suid-Afrika van 1994 by sommige Afrikaners opgewek het, het ook tot ‘n mislukte sameswering teen die staat aanleiding gegee. So is 22 lede van die Boeremag in 2002 in hegtenis geneem en na ‘n ellelange verhoor wat 11 jaar voortgesleep het, swaar gestraf. ‘n Paar van hulle wat Nelson Mandela wou vermoor, is tot 35 jaar tronkstraf gevonnis. 

Soos die Slagtersnek-rebellie destyds min steun geniet het en as ‘n onbesonne daad beskou is, so is dit ook met die Boeremag-sameswering. Maar hoe langer die Afrikaner onder die juk van die ANC-regime is, hoe seerder skaaf dit hom en hoe meer stoot dit hom weg. So was dit ook die geval met die boere op die Kaapse oorgrens tydens die Britse koloniale bewind. Die Britse regering het ‘n verengelsingsbeleid deurgevoer, soos wat die ANC-regime ook doen. Lord Charles Somerset het die boere se beproefde kommandostelsel – wat deur die Britse minister van kolonies as “brutal” beskryf is – afgeskaf. Dit is presies wat die ANC se Thabo Mbeki in 2003 ook gedoen het, “because of the role it (die kommandostelsel) played in the Apartheid era”. En as die Britte se rassebeleid (Ordonnansie 50 van 1828) die grensboere die harnas in gejaag het, des te meer is die Afrikaner vandag gebelgd oor die ANC se beleid van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie.

Uiteindelik, 20 jaar ná die Slagtersnek-rebellie, het ‘n komplekse sameloop van verskeie faktore die gespanne situasie aan die Oosgrens op die spits gedryf en tot ‘n rebellie gelei waarmee die Britse regering nie raad geweet het nie. Die strooi wat die kameel se rug gebreek het, was die Sesde Grensoorlog wat in Desember 1835 uitgebreek, in ‘n uitgerekte guerrillaoorlog ontaard het, en uiteindelik sleg vir die grensboere afgeloop het.

Nadat hulle maande lank alles in die stryd saam met die Britse leër gewerp het, en 161 000 skape en bokke, 114 000 beeste, 5 700 perde, 456 plaasopstalle en 58 waens verloor het, het die Britse koloniale sekretaris die skuld vir die oorlog op hulle gepak. Daarmee het sommige wittes finaal alle vertroue in die Britse regering verloor. Ene J. Boshoff het ‘n paar jaar later aan die Grahamstown Journal geskryf: … what was now wanting to confirm the suspicions which they (grensboere) had long entertained, that the total ruin or annihilation of the white population would be looked upon with indifference… What confidence could we longer have in such a government?

Dit herinner aan die huidige noodkreet, plaasmoorde moet stop! Wat is die kanse dat die ANC-regering die vermoë en die wil het om dit te doen?

Wat uiteindelik aan die Oosgrens gebeur het, word só deur die Encyclopedia Brittanica omskryf: The emigration of between 12 000 to 14 000 Boers in South Africa between 1835 and the early 1840’s in rebellion against the policies of the British government.

Dit was ‘n rebellie, nie met wapens en ammunisie nie, maar met osse en waens, waarteen die sterkste moondheid in die wêreld magteloos gestaan het. Die prokureur-generaal aan die Kaap, A. Oliphant, het hierop gevra: Would it therefore be prudent or just, even if it were possible, to prevent persons discontented with their condition, to try to better themselves, in whatever part of the world they please? The same sort of removal takes place every day in Great Britain to the United States. Is there any effectual means of arresting persons determined to run away, short of shooting them as they pass the boundary line? I apprehend not; and if so, the remedy is worse than the disease.

Dit was egter nie die meerderheid wat besluit het om die Britse regering die rug te keer en te trek nie, maar slegs sowat 20 persent van die wit bevolking aan die onrusgeteisterde Oosgrens. Die migrante het trouens slegs 10 persent van die totale wit bevolking van die Kaapkolonie uitgemaak. Dit was ook nie ‘n stap wat hulle oorhaastig en maklik geneem het nie. Die historikus, professor G.E. Cory, het in 1919 geskryf: There can be little doubt that a large proportion of those who eventually left the Colony were loath to do so, and tarried until they were convinced that there would be no change in the conditions of life they found so intolerable.

Die migrasie van duisende wit boere tussen 1835 en 1840 vanuit die nuwe Brits-Suid-Afrika van 1814, was nie ‘n vlugtelingkrisis nie, maar ‘n bloedlose rebellie. Dit was bekend as die Groot Trek en die wat daaraan deelgeneem het, is die Voortrekkers genoem. Deur hulle daad – hoewel dit sware offers gevra en daar baie verdeeldheid, dwarstrekkery en terugslae was – het die Kaapse migrante die inisiatief oorgeneem. Waar die toestand aan die Oosgrens vir dekades die sentrale fokuspunt was, het die Voortrekkers en hulle doen en late om hulself van ‘n onuithoudbare situasie te bevry, die Britse regering se grootste kopseer vir die res van die negentiende eeu geword.

Die gety het uiteindelik teen die Kaapse bewind gedraai en twee dekades ná die Groot Trek moes die Britte die onafhanklikheid van sy “onderdane” (soos hulle steeds volgens die Cape of Good Hope Punishment Act van 1836 beskou is) oorkant die Vaal- en die Oranjerivier erken. Twee onafhanklike Boererepublieke – die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrijstaat – het onderskeidelik in 1852 en 1854 tot stand gekom.

As die Afrikaner in 2020 ernstig is om die juk van die nuwe Suid-Afrika van 1994 af te gooi en sy eie lotgevalle te bepaal, moet hy ‘n blaai uit die boek van die Voortrekkers neem.

Die nuwe Suid-Afrika van 1910

Die pad na vryheid is ‘n lang en moeilike pad wat dure offers vra. Om vry te word is een ding, maar om vry te bly, is selfs moeiliker.

Dit het die Transvalers agtergekom toe die Britte hul republiek 25 jaar later verspot maklik geannekseer het. Hoewel die burgers by Majuba met die wapen geseëvier het, het die Britte by die onderhandelingstafel ‘n greep op die Boere gekry wat hulle nooit laat los het nie. In hierdie stryd met die Britte, wat ná die ontdekking van die Witwatersrandse goudrif jaar na jaar net verhewig het, het Paul Kruger as die sentrale figuur na vore getree.

Aan die een kant was daar Kruger as simbool van die Boere se republikeinse vryheid; aan die ander kant die mynmagnaat Cecil John Rhodes as die gesig van die groot kapitaal en Britse imperialisme in Afrika. Kruger die republikein; Rhodes die superryk premier van die Kaapkolonie wat die diamantmynbedryf gekonsolideer het en toe sommer die hele Afrika onder die Britse vlag wou konsolideer.

Toe Rhodes se geduld met Kruger opraak, het hy die ZAR met ‘n private leër – gelei deur sy vriend dokter Jameson – in ‘n blitsoperasie probeer kaap. Die Jameson-invallers en 64 uitlander-samesweerders in Johannesburg moes egter vinnig die aftog blaas. Kruger het as die groot staatsman uit die stryd getree en Rhodes het ‘n knou gekry waarvan hy nooit weer herstel het nie.

In Oktober 1899 het die ZAR en die Oranje-Vrijstaat, gesteun deur duisende Afrikaners in die Kaapkolonie, met die volle geweld van Brittanje en al haar kolonies te doen gekry. Nadat die uiters ongelyke stryd byna drie jaar voortgesleep het, moes die Boere op 31 Mei 1902 die wapen neerlê en trou aan koning Edward VII van Brittanje sweer.

Aan die einde van die stryd was daar net soveel swartes aan die kant van die Britte as wat daar Boere in die veld was. As die swart man egter gedink het hy kon iets meer as lone en soldy verdien deur die Britte te help om die Boererepublieke ongedaan te maak en in ‘n groter Suid-Afrikaanse geheel te laat opgaan, het die hoop beskaam.

Die swart man se lot is verseël deur die Native Affairs Commission – in 1903 aangestel deur lord Milner. Dié kommissie bestaande uit Engelssprekendes onder voorsitterskap van sir Godfrey Lagden, het naamlik in 1905 aanbeveel dat swart en wit permanent apart gehou moet word wat betref politiek, grondbesit en eienaarskap. Dit het die behoeftes van die dominante goudmynbedryf, wat nie sonder massas goedkoop, ongeskoolde swart arbeid winsgewend bedryf kon word nie, die beste gepas. 

Toe probeer is om die swart arbeidsmag met armblankes aan te vul (die sogenaamde “white labour policy”), het die president van die Kamer van Mynwese dit verwerp en gesê: “The white man will not, he cannot and should not, do unskilled labour side by side with the black man. In this country, as long as you have the black man working here – and I believe he will be here always – it is necessary to maintain a broad division between the scale upon which he lives and the scale upon which the white man lives…” So het die praktyk inslag gevind waarna die Carnegie-kommisie oor die armblankevraagstuk ook verwys het, naamlik dat sekere werk nie witmanswerk is nie, maar nét vir swartes bedoel is. Die swart man sou dus altyd daar moes wees om sekere onaangename en laagsbesoldigde werk vir die wit man te doen.

Die twee Boererepublieke het op 31 Mei 1902 Britse kolonies geword en op 31 Mei 1910 saam met die Kaap en Natal in ‘n nuwe Suid-Afrika opgegaan bekend as die Unie van Suid-Afrika. Almal binne die grense van die Unie was Britse onderdane, maar koning Edward VII se handtekening op die Zuid-Afrika Wet het bekragtig dat daar eerste- en tweedeklas onderdane in die nuwe Suid-Afrika sou wees. Die swart man wat aan die einde van die stryd aan die kant van die Britse oorwinnaars was, is van politieke regte uitgesluit, terwyl die land aan die verloorders – die wit minderheid – gegee is om namens Sy Majesteit te regeer.

Van daardie oomblik af het ‘n tydbom begin aftik. Generaal Hertzog, minister van Naturellesake in die eerste Uniekabinet, het reeds in 1911 oor die rassevraagstuk geskryf: It is with a feeling akin to horror that I look into the future with this question unsolved. Our children and their posterity will more and more feel the dead weight of a lower civilization dragging them to the level of their native environment, unless they abandon the country and emigrate elsewhere, or unless they suffer themselves to be completely extirpated.

Aan die een kant was daar die groterwordende rassevraagstuk wat dringend opgelos moes word; aan die ander kant die Afrikaner se hunkering om sy republikeinse vryheid terug te wen.

Soos met die verlies van sy vryheid en ‘n vreemde juk amptelik op sy skouers in 1814 (en in 1994), was daar in 1910 ook ‘n groep Afrikaners wat hul vryheid met die wapen wou terugwen. Toe Brittanje in 1914 oorlog teen Duitsland verklaar en die regering van generaal Louis Botha instem dat die Unie Duits-Suidwes-Afrika binneval en vir Brittanje verower, het die room van die Boeregeneraals besluit om eerder met die ondersteuning van die Duitsers die Vierkleur in Pretoria te gaan hys, as die Union Jack in Windhoek. Maar ook hulle het misluk om hul vryheid met die wapen te herwin. Hulle is ook aan hoogverraad skuldig bevind, beboet en tronkstawwe opgelê.

Met die rebelle dood en in die tronk, kon die Botha-regering en sy lojale Britse onderdane ongehinderd voortgaan en Duitswes vir Brittanje verower en beset. Waar die swart man gedurende die Anglo-Boereoorlog saam met die koloniale veroweraar geveg het en tweedeklasburgerskap daarvoor gekry het, het die Afrikaner nou op sy beurt ‘n kolonie vir Brittanje gaan verower. Daarvoor sou die Afrikaner in die toekoms ook stank vir dank van Brittanje, haar kolonies en die Westerse wêreld kry.

Hoewel die rebellie van 1914-15 misluk het, het die republikeinse vryheidsideaal voortgeleef. Soos die tyd egter aangestap het, die swart bevolking al sneller aangewas het, die Suid-Afrikaanse ekonomie ontwikkel en nuwe faktore in die spel gekom het, so het die rassevraagstuk al hoe duideliker na die oppervlak gekom. Die man wat by uitstek gemoeid sou wees met die armblankevraagstuk, die verwesentliking van die Afrikaner se republikeinse vryheidsideaal en ‘n dringende oplossing van die rassevraagstuk, was dr. Hendrik Verwoerd.

Verwoerd het sy oplossing vir die rassevraagstuk gebou op die fondament wat andere – die Britte en die Nasionale Party voor hom – gelê het, naamlik segregasie of apartheid. So het generaal Hertzog op 13 Oktober 1921 in Bloemfontein verduidelik: “Dit is ons vaste politiek dat segregasie sal moet plaasvind. Aan die swarte sal nie die reg gegee word om te woon waar hy wil nie, maar daar sal vir hom grond apart gestel word… Die naturel sal nooit rus om die stemreg te kry nie. Jy kan ‘n volk se politieke regte nie onthou nie… Die naturelle het nou ontwaak en besef dat hulle ‘n volk is.”

Die swart man se ontwaking het veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog tydens die bewind van die Verenigde Party stukrag gekry, toe die vervaardigingsektor die mynbousektor verbysteek en die vraag na arbeid skerp gestyg het. Waar die wit man se trek na die stede toe reeds ver gevorderd was, het swartes nou in hul duisende hul tradisionele gebiede verlaat en rondom die dorpe en stede gaan vestig. Op 21 Januarie 1942 het Jan Smuts hom só hieroor uitgelaat: “I am afraid segregation has fallen on evil days… You have this urbanization and the phenomenon of detribalization. What is taking place in our midst is as great a revolution as have ever happened on this continent.”

Ná die oorlog het ‘n rewolusionêre wind oor Afrika gewaai. Uitgeput en gedemoraliseer deur die verwoestende oorlog, het Europese moondhede uit Afrika padgegee. Die een na die ander Afrikastaat het in chaos onafhanklik geraak en diktature geword. Smuts se poging in 1946 om Suidwes-Afrika by die Unie in te lyf, het ‘n koue skouer van die Verenigde Nasies gekry – die begin van ‘n bittere diplomatieke en later ook ‘n uitgerekte militêre stryd om Suid-Afrika se “koloniale besetting van Suidwes-Afrika” te beëindig. 

In hierdie tydgees het die Nasionale Party in bondgenootskap met die Afrikaner Party gegaan, en as draer van die republikeinse vryheidsideaal en sy Apartheidsbeleid, die Verenigde Party teen die verwagting in op 26 Mei 1948 by die stembus verslaan.

Waar Smuts voor hom gehuiwer en die Afrikaner met sy gedienstigheid aan die Britse ryk verdeel het, moes Verwoerd nou, met die gety sterk teen hom, aan die werk spring. Op 3 September 1948 het Verwoerd in sy heel eerste toespraak in die senaat gesê: “Ons… is bereid dat die nie-blankes in Suid-Afrika ook vir hulself ontwikkelingskanse moet kry. Ons gun hulle ‘n deel van die land. Ons wil apartheid nie teweegbring met die swaard nie, maar met die goedgunstige hulp van die blankes wat in die land is.” In dieselfde asem moes Verwoerd egter erken dat dit in die praktyk nie “totale segregasie” sou kon wees nie, want “ons eie mense, ons boere en duisende en tienduisende andere, wat die naturel en Kleurling as arbeider gebruik, (sal) nooit daarin toestem nie”. 

Die grootste teenstand teen Apartheid sou egter kom van sakelui wat nie net van die swart man se arbeid nie, maar ter wille van groter markte en winste ook van die groeiende swart bevolking se koopkrag afhanklik was. Die Nasionale Party se beleid om Suid-Afrika te ontwikkel tot ‘n verskeidenheid swart state met ‘n staat tussenin wat deur wittes geregeer word, het lynreg gebots met sakelui se behoeftes. Daarom het hulle die Verenigde Party-beleid van integrasie ondersteun. Soos Cecil John Rhodes en die magte wat hy verteenwoordig het die Boererepublieke ter wille van ‘n meer ekonomiese werking van die mynbedryf in ‘n groter geheel wou sien opgaan, so wou sakelui die Unie van Suid-Afrika as ‘n eenheidstaat sien ontwikkel. 

Hierdie sakelui is deur die superryk Harry Oppenheimer verteenwoordig, wat na afloop van die parlementsitting in 1954 na Verwoerd verwys en gesê het: “When you have a man prepared to slow down his nation’s economic welfare on account of political theories, you are dealing with an impractical fanatic.” Hierin is Oppenheimer ondersteun deur die Engelse pers. In The Star is byvoorbeeld op 18 Februarie 1954 geskryf: Dr. Verwoerd and the modern industrial State are incompatible. One or the other will have to go.

Kruger must go – Verwoerd must go! Dit was dieselfde storie, net in ‘n ander era, in ‘n ander eeu.

Verwoerd het nie onder die geweldige druk, buitelands en binnelands – selfs vanuit sy eie party – geswig nie. In 1960 het hy, ondanks ‘n aanslag op sy lewe en pogings om Suid-Afrika onregeerbaar te maak, deur middel van ‘n referendum genoeg steun vir die Afrikaner se lang gekoesterde vryheidsideaal bymekaar gemaak. Op 31 Mei 1961 is onder sy leiding omgekeer wat op 31 Mei 1902 onomkeerbaar gelyk het – naamlik ‘n onafhanklike republiek vry van die Britse ryk.

Soos daar magte was wat nie kon wag om van Kruger en sy republiek ontslae te raak nie, so was dit ook met Verwoerd en sy republiek. En waar die wit man in 1815 die staatsgesag met die hulp van die swart man omver wou werp, het die swart man nou die wit man by sy stryd betrek. Net soos die Slagtersnek-rebellie en die Jameson-inval, het Nelson Mandela en die Rivonia-sameweerders se poging rampspoedig afgeloop. Die voorbokke is nie soos die Slagtersnek-rebelle in 1816 gehang nie, maar het soos Jameson en die uitlanders in Kruger se republiek, ook met hul lewens daarvan afgekom.

Waar Kruger ná die Jameson-inval as leier van die toonaangewende staat in Afrika rysig bo sy vyande uitgetroon en in 1898 met ‘n oorweldigende meerderheid as president herkies is, des te meer was dit so met Verwoerd ná Sharpeville en Rivonia. 

In die algemene verkiesing op 30 Maart 1966 het die Nasionale Party ‘n weghol-oorwinning behaal. Drie maande later het die linkse Rand Daily Mail geskryf: “At the age of nearly 65 Dr Verwoerd has reached the peak of a remarkable career. No other South African prime minister has ever been in such a powerful position in the country. He is at the head of a massive majority and he can command almost unlimited funds for all that he needs at present in the way of military defence. He can claim that South Africa is a shining example of peace in a troubled continent… he can snap his fingers at the United Nations…”

Kruger moes gaan omdat hy in die pad van die miljoenêrs gekom het en nie die uitlanders op een kieserslys met sy burgers wou plaas nie. Verwoerd moes gaan omdat hy ook in die pad van die superrykes se planne gestaan het en nie swartes (in terme van sy beleid uitlanders) op een kieserslys met wittes wou plaas nie. Op 12 Desember 1961 het Verwoerd gewaarsku: “Die beginsel van een man een stem moet op Bantoeheerskappy uitloop. Dit mag baie billik lyk in terme van die hantering van individue, maar sal dit billik wees teenoor die ander groepe? In so ‘n gemengde staat kan daar nie reg geskied aan al die ander groepe nie. Die ander word uitgedruk of ingesluit.”

Kruger en die Boererepublieke is deur middel van ‘n verwoestende oorlog verwyder. Verwoerd het aan die hand van ‘n sluipmoordenaar gesterf.

Die nuwe Suid-Afrika van 1994

Dit waarteen Verwoerd, en Hertzog voor hom, gewaarsku het, speel vandag soos ‘n riller voor ons oë af. Hoe het ons in hierdie nuwe Suid-Afrika – wat meneer F.W. de Klerk as “onomkeerbaar” in 1994 beskryf het, beland?

Vir die Afrikaner om vry te bly, moes die rassevraagstuk opgelos word. Verwoerd het nie net die internasionale gety teen hom gehad nie, maar sy eie kieserskorps wou die beste van twee wêrelde hê: enersyds Apartheid, maar andersyds die ewige teenwoordigheid van die swart man om houthakker en waterputter te wees. Die sakewêreld, in die eerste plek gedryf deur wins en geldmaakgeleenthede en nie deur patriotisme nie, wou grense afbreek en konsolideer om markte te vergroot. Integrasie, nie Apartheid nie, was wat die Engelse- en later ook die Afrikaanse sakewêreld wou hê.

Botha en Smuts se gedienstigheid aan Brittanje in 1914 om ‘n Duitse kolonie te gaan inval, te verower en as mandaatgebied te bestuur, het Suid-Afrika uiteindelik aan die hakskeen kom byt. Suidwes-Afrika was ‘n gebied met ‘n internasionale status en dit was die dun end van die wig om die Apartheidsregering in Pretoria by te kom. Toe John Vorster op 21 Augustus 1973 die eerste aanduiding aan die wêreld gee dat die gebied as ‘n eenheidstaat onafhanklik kan word as sy mense dit verkies, was die skrif in Suid-Afrika aan die muur. In 1975 het die Vorster-regering verder as die Smuts-regering in 1914 gegaan, en Suid-Afrika in die geheim saam met die Amerikaanse CIA by ‘n volskaalse militêre operasie teen Angola betrek, vanuit Suidwes-Afrika. Toe dit op die lappe kom, was die land en sy Apartheidsbeleid skerp in die internasionale kollig. 

Die tydsberekening vir die Soweto-opstand kon nie beter gewees het nie. Terwyl Vorster in die buiteland moes bontstaan oor Suid-Afrika se binnelandse beleid, het die waarnemende eerste minister, P.W. Botha, in die parlement aangekondig dat Suid-Afrika in die toekoms ‘n nuwe regeringstelsel kan kry. Hierna was Suid-Afrika in paaiemente op pad na ‘n eenheidstaat.

Uiteindelik moes Suid-Afrika – na ‘n teenwoordigheid van 75 jaar en ‘n uitmergelende oorlog wat 23 jaar voortgesleep het – aan Suidwes-Afrika onttrek sodat die Verenigde Nasies se skikkingsplan vir die gebied in werking kon tree. Hoewel die De Klerk-regering sy troepe as “die wenners van die oorlog” aangewys en in ‘n onrusgeteisterde Suid-Afrika terugverwelkom het, het hy die tafel klaar gedek gehad vir ‘n eenheidstaat en ‘n ANC-bewindsoorname in Suid-Afrika, met Nelson Mandela as president.

Ironies genoeg was dit die Nasionale Party, die Afrikaner se voertuig na sy vryheid, wat hom gedenasionaliseer, belieg, en aan die gesag van ‘n swart meerderheidsregering uitgelewer het. Waar die swart man in die nuwe Suid-Afrika van 1910 ‘n tweedeklasburger was, is die wit man in die nuwe Suid-Afrika van 1994 nou die tweedeklasburger. Sedert die Britte ‘n staat met die naam Suid-Afrika in 1910 geforseer het, was hier nog nooit ‘n situasie waar al die bewoners van hierdie staat eersteklasburgers was nie – ‘n resep vir eindelose moeilikheid.

Roemlose, oneervolle einde, het die grafskrif van die eens magtige Nasionale Party op 8 Augustus 2004 gelui. Op dié dag het Rapport berig: Die Nuwe Nasionale Party het gister formeel boedel oorgegee aan die ANC… Die NNP gaan voortaan onder die vaandel van die ANC aan verkiesings deelneem. Ons het dus nog steeds, elke dag, met die verloopte Nasionale Party, weggesteek agter die masker van die ANC, te doen.

In 1971, het G.D. Scholtz in sy monumentale werk oor die lewe van dr. Verwoerd geskryf: Teenoor die gees van kapitulasie en die proses van gelykmaking het die byna eensame figuur van Verwoerd gestaan. Hier was inderdaad geen staatsman wat aan ‘n gees van kapitulasie gely het nie, of wat die proses van gelykmaking as die ideale oplossing van allerlei moeilikhede gesien het nie… Hoewel die plek wat Verwoerd op die groot wêreldtoneel beklee het, nie groot was nie, was dit nogtans voldoende om hom beslis die mees gehate en verguisde man te maak onder die blankes wat met die gees van kapitulasie besiel was en onder dié nie-blankes wat verwag het dat die blankes voor hulle ‘n knieval moes doen.

So het die Afrikaner, wat die Brits-Suid-Afrika van 1910 in 1961 ‘n vrye onafhanklike republiek gemaak het, sy vryheid verloor, en verwag die wêreld in 2020 van hom om ‘n knieval voor die nie-blanke te doen.

Kan die Afrikaner hom uit hierdie toestand bevry?

Die geskiedenis leer dat hy dit nog elke keer reggekry het. 

Solank die Afrikaner ‘n historiese verwysingsraamwerk het, kan hy homself in terme daarvan oriënteer en sy pad vind. Dit is hoekom sy vyande hom skaam en skuldgevoelig vir sy geskiedenis wil maak, dit met hulle leuenagtige narratief wil vervang, om hom heeltemal te disoriënteer, te demoraliseer en uiteindelik te assimileer.

Die pad na vryheid volg min of meer ‘n patroon. Daar was nog nooit ‘n kitsoplossing of ‘n kortpad nie. By minstens drie geleenthede – 1815, 1914 en 2002 – het ‘n groep Afrikaners probeer om hul vryheid met die eerste en beste geleentheid met die wapen of deur een of ander sameswering terug te wen. Dit het elke keer rampspoedig afgeloop.

Wanneer die vryheidsvlam egter eenmaal aangesteek is, word dit nie weer geblus nie. Maar die pad is lank, vol struikelblokke en bittere teleurstellings. Baie raak ontmoedig, flouhartig, of laat hulle op dwaalweë lei. Dit is egter die harde kern – die minderheid – wat uiteindelik die deurslag gee. 

So was die Trekkersdaad ‘n minderheidsdaad wat op twee Boererepublieke uitgeloop het. Die Nasionale Party was ook ‘n minderheidsdaad reg vanaf sy stigting in 1914. Toe Hertzog in 1934 ‘n koalisie saam met Smuts – die aanhanger van holistiese imperialisme – vorm, het Malan en sy gesuiwerdes vasgestaan. Toe Smuts Suid-Afrika in 1939 vir ‘n tweede maal tot die beskikking van Brittanje se oorlogspoging stel, die Afrikaner versplinter het en duisende hulle deur die Ossewabrandwag, die Nuwe Orde en nuwe groepies laat verlei het, het die Nasionale Party koers gehou. In 1948 het hierdie party, in samewerking met die Afrikanerparty, met ‘n minderheid stemme aan die bewind gekom. In 1960 moes daar baie hard gewerk word om ‘n ja-stem in die referendum vir republiekwording te verseker.

Uiteindelik is dit die somtotaal van die foute wat die onderdrukker maak en die draai van die gety, wat die deur na vryheid oopmaak. Die keerpunt op die Oosgrens was die Sesde Grensoorlog. ‘n Eeu later was die Tweede Wêreldoorlog en Smuts se heksejag op die Afrikaner die keerpunt. 

Die foute wat die swart onderdrukker nóú maak, is die Afrikaner se gaping na vryheid. Geen toekoms kan op leuens, haat, gierigheid en misdaad gebou word nie. As ‘n stelsel nie volhoubaar is nie, is dit omkeerbaar. As ‘n wit minderheid nie onbepaald oor ‘n swart meerderheid kon regeer nie, kan ‘n groeiende swart meerderheid hulle ook nie onbepaald sogenaamd bemagtig op die sweet van ‘n krimpende wit minderheid nie. As die wit man onder apartheid nie sy brood aan albei kante kon gebotter hê nie, kan die swart man ook nie tot in lengte van dae die beste van twee wêrelde hê nie. As die swart man nie onbepaald ‘n tweedeklasburger wou wees nie, hoekom moet die witman hom berus in tweedeklasburgerskap? Dit is weereens ‘n tydbom wat aftik.

Daar sal diegene wees – die meerderheid Afrikaners – wat sal probeer uithou in die strukture en instellings van die onderdrukker, omdat hulle hoop hulle kan die nuwe Suid-Afrika maak werk, of omdat hulle geen ander uitweg sien nie, of om welke rede ook al.

As daar egter ‘n rebellie gaan wees waarmee hierdie Afrika-regime nie raad gaan weet nie, is dit daardie groepies Afrikaners wat besig is om hom – soos die Voortrekkers – die rug te keer om vanuit bevryde gebiede verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te neem. Hierdie keer is die voertuig na vryheid nie die ossewa of ‘n politieke party nie. Dit is die Afrikaner se eie arbeid, in bevryde gebiede, met sy eie instellings, waar hy hom nie as ‘n minderheidsgroep in ‘n massa probeer handhaaf nie, maar as ‘n volk by wie ander kan leer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *