Drie en veertigste HF Verwoerdgedenklesing
10 November 2018
Dr ALA Buys
Ooreenkomste en verskille tussen die tweede en die derde taalbewegingrakende gemeenskap selfstandigheid.
Inleiding
Dis nie maklik om op ʼn begrafnis ʼn doodsberig oor te bring nie; veral nie as die besigheid, soos ʼn Skotse lykwaak, besig is om in ʼn redelike vrolikheid te ontaard nie. Die derde taalbeweging is besig om te faal, ten spyte van die skynbare suksesse en groot getalle. Die derde taalbeweging is besig om die tweede een na te aap, met beter tegniek en groter getalle, maar met minder verbeelding. Die kulturele ruimte is besig om te verskraal, en dit sál vertaal word in verskraalde ruimtelike kultuur. Ons sirkuleer tans ou woorde met nuwe wysies, sonder om nuwe grond, letterlik, oop te maak. Ons is tans besig met variasies op ʼn tema.
Die bekende Amerikaanse sanger, Niel Diamond staan êrens op die hoeveelste vloer van ʼn New Yorkse hotel, die venster is oop en sy dogtertjie sê vir hom: ‘Daddy, listen, what a beautiful noise’ oor die stad se straat geraas. En hy hou daarvan, dis mooi vir hom en hy sit note by.
ʼn Afrikaner sou nie ‘a beautiful noise’ kon skryf nie, nie weens ʼn gebrek aan tegniese vaardigheid of musikaliteit nie, maar omdat die geraas van die stad nie mooi is nie. Die stadgeraas is nie mooi nie, want daar’s Checkers sakke op die sypaadjie, en ‘walkie-talkies’ in die swart pot kook en rook en ʼn haarkapper lag goedig onder ʼn geskeurde Gazebo, en drie Nigeriërs deel rookgoed uit in Bloedstraat langs die Nasionale Dieretuin in Pretoria – maar ek is nie ʼn rassis nie, ek kom net nie daar nie, want dis nie ʼn ‘beautiful noise’ nie; sit die liedjie as beton-boer harder in my kar, en tik selfs ritmies op die stuurwiel en neurie saam, dié Niel Diamond kan darem sing hoor, maar my venster bly toe in Bloedstraat en ek ry maar fluks verby want die stadsgeraas is nie mooi vir my.
Beeld en verbeelding
Ek wil vandag bietjie gesels oor die rol van die kunstenaar, veral met betrekking tot die derde taalbeweging, en twee blindekolle probeer uitwys. Oor die onderskeid tussen ʼn beeld van ʼn stad en verbeeldbaarheid. Die beeld van ʼn stad is iets anders as die verbeeldbaarheid van ʼn stad,
Eerstens natuurlik ʼn paar selfopgelegde beperkings. Met die kunstenaar word – vir die doeleindes van hierdie gesprek – nie soseer na die Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaar verwys nie. Die volksvermakers het ʼn belangrike plek – ook in die kulturele mobilisasie van die derde Afrikaner. Die vermaaklikheidskunstenaar word hier bietjie op die agtergrond gelos. Die tweede beperking is dat kunstenaar nie hier verwys na die hoipolloi wat ‘hogere’ kuns pleeg nie, eintlik uit ʼn minderwaardigheidskompleks groter as Kimberley se gat nie.
Aristokratiese ideaal
Die kunstenaar wat hierna verwys word, is eerder dié van die aristokratiese ideaal waarvan Van Wyk Louw gepraat het, en daar tog uitsonderlike voorbeelde van is in die Afrikaanse literatuur spoor tot hier. Dit is om met die klein, klein beiteltjie te tik wat ook klank laat klink wat dwarsdeur die sterre loop. Daar is ʼn eensame profetiese element betrokke by die kunstenaar wat die aristokratiese ideaal opneem. Die ware, die egte die goeie moet gesoek word, dis plig, dis roeping, wat vervals nie mag word nie. Inderdaad ʼn hoë en heilige taak van die kunstenaar, wat met woordorde kunstig nuwe ruimtes oopmaak en aanwys, bewoonbaar toon en vir ons belangrik – boubaar – uitwys.
Is dit nie ʼn onnodige, ontydige vraag na die rol van die aristokratiese kunstenaar met betrekking tot stadbou nie? As die sementmengers draai en dreun, en die bouers pas en draai leer en steen en staal moet voeg en heg tot ʼn tuis stad vir Afrikaners? Is dit nou die regte tyd om van kuns te praat? Ja, trouens, dit is ʼn wesenlike voorwaarde tot die stadbou. Die aristokratiese kunstenaar is nóg die binneversierder nadat die stad gebou is, nóg die buite versierder wat groot grou geboue meer menslik en verwerkbaar moet maak.
Die aristokratiese kunstenaar is die een wat die hoek paaltjies in die oop veld uit meet en mondelings aftree, en vlaggies plant van verbeelde oop ruimte wat met woorde begeerlik en toeganklik word. As die stad die Afrikaners se aandag nie opnuut, dalk vir die eerste keer, [en dìt is die uitdaging van die derde taalbeweging], die aandag boei en in verbeelding verbind aan begeerte nie, dan gaan die stad nie verskyn nie. Dalk gebou word, met steen en sement, maar ʼn spookstad van die begin af wees, vreemd, onbewoonlik en ver. Vreemd soos nog altyd. Die aristokratiese kunstenaar moet die verbeelding bewoord, en dan kan daar begerend gebou en verbou word. Verbeelding vir die verboude stad, sonder dat die derde taalbeweging die Afrikaner lief kan maak vir die stad, sal die stad verbeeldingloos verbrou word. Die Afrikaner moet normaliseer en vir die stad lief word.
Die aristokratiese kunstenaar se taak in die derde taal beweging is nie om flitsende vaal metro treine met graffiti te bespuit in ʼn poging om tuiskoms uit te spel of vervreemding uit te skel nie. Die kulturele ruimte moet vergroot, verbeeldend vergroot word, sodat die ruimtelike kultuur dit kan beset, besit en bewoon as huis, as stadstuiste en nie as voorstedelik versierde halte nie. Dit is die groot gevaar van die 20/30 anker stede en dorpe tans, dat hier ʼn kulturele Gaza strook kan ontstaan.
Die Afrikaners is verstedelik, maar hulle is nie stedelinge nie. Die derde taal beweging moet meer sê en sing as die sanik dat die stad bloei, of die plaasgoete soek op die straathoek en verlate middestad, of hunker na die Bosveld vuurtjie waar al die manne nou sit te same. Dan is daar nog Bokkie-Babe, met die pienk Bloubul truitjie, besig met die bykosse, wat oor en oor met 1000 liefie-liedjies kunstig vermaak word, nou gaan ons braai. Die Afrikaner moet vir die eerste keer in sy kort bestaan, normaliseer en ʼn stad soek, begeer, wat hy homself kan verbeel omdat sy woord kunstenaars sy verbeelding daartoe verwoord het. Dit sal die soeke na normaliteit doelmatig maak.
Wanneer ons van dié kunstenaar se taak in die derde taalbeweging praat, is dit dus meer as plesierige vermaaklikheid, en beslis nie groot doenerige kul-kunstigheid nie. ʼn Volk, so jonk soos ons sʼn, ken maar enkeles wat die taak verstaan en vervul, wat soos Eybers sou sê: die onderskeid ken hoe lenig die liefde is en hoe loodswaar plig.
Beperkings
Enkele raamwerk koördinate moet ook gegee word wat bedoel word met die derde taalbeweging. Twee sake is hier van belang. Hier word aangesluit by wat Carl Boshoff (IV) die derde Afrikaner noem. Verder word dit geplaas tussen die vyf groot epog tydperke van die Afrikaner, waarvan die apartheid projek die vierde, en gemeenskap selfstandigheid die – tot nog toe onverwesenlike – die vyfde epog is. Die derde Afrikaner binne die derde taalbeweging, besig met die verwesenliking van die vyfde epog: gemeenskap selfstandigheid, en gefokus op hierdie gesprek, gemeenskap selfstandigheid deur stadsbou.
Om die derde taalbeweging enigsins in perspektief te plaas moet vinnig na die basis kenmerke van die eerste twee taalbewegings gekyk word. Daar is hieroor baie besin en nagevors. Ons lig die relevante lyne uit.
Eerste Taalbeweging
Die eerste taalbeweging sou meehelp om die sluimerende nasionale gevoel by die Afrikaner verder wakker te maak en veral op skrif te stel. Dit was ʼn ‘inhuis’ beweging om tot innerlike erkenning te kom, dat die innerlike gevoelslewe van ʼn volk roep om geloofwaardig op skrif gestel te word. Die eerste taalbeweging het verklaar: kyk ons kan skryf soos ons praat. Die vroeë roersele van nasionalisme, veral na Rhodes se Jameson inval, word ʼn sterk vuurtjie.
Die Tweede Taalbeweging
Met die minerale rewolusie en die ramp van die ABO word die eerste taalbeweging verder uitgewerk en verdiep in die tweede taalbeweging. In hierdie fase gaan dit veral om eksterne erkenning en die amptelike erkenning en handhawing van Afrikaans. Rondom hierdie tweede stuwing bereik Afrikaner nasionalisme dan ook sy hoogbloei in die dertiger en veertiger jare van die vorige eeu. Nie net die formele deurbraak in 1925 met die Taalwet nie, maar veral die tweede groot trek na die Engelse stede, en die verowering en ordening van die stede na die modernistiese staatsraamwerk geld as hoogkonjunktuur. Sonder die tweede taalbeweging sou sulke groot spronge vooruit haas ondenkbaar gewees het.
Ontstaan van die Derde Taalbeweging
Die derde taalbeweging onstaan êrens in die vreemdste dekade vir die Afrikaner in die resente geskiednis. Êrens tussen 1963-1973 begin daar krakies kom in die mondering soos deur die tweede taalbeweging eendragtig voorgehou. As mens nou ʼn formele sigbaarheid van die kraak van die gletserskeur wil identifiseer, kan die Pluimsaad affêre ʼn goeie voorbeeld wees, waar Verwoerd en Van Wyk Louw trompop gebots het.
Die derde taalbeweging het sover baie dinge opgelewer wat van onskatbare waarde is en steeds sal bly. Daar is egter ook ʼn vlieg of twee in die aptekersalf ingemeng. Daardie ondinge het uiteindelik tot ontbinding aanleiding kan gee, en – dit is uiters belangrik – as daar nie erkenning daaroor kom nie, sal die ontbinding nie gekeer kan word nie, en sal beslis nie gebou kan word nie, allermins ʼn stad.
Soeke na normaliteit
Hierdie stelling is nie alarmisties gemik op kortstondige effek nie. Dit gaan in wese oor die herwinning van die werklikheid en ten diepste oor die republikeinse ideaal. Om die derde taalbeweging goed te kan plaas moet ons kortliks na ʼn paar eiesoortige kenmerke kyk. Waar die eerste taalbeweging gehandel het oor innerlike erkenning, die tweede oor uiterlike en amptelike erkenning, gaan die derde taalbeweging ten diepste oor die versugting na normaliteit, veral tydens en na apartheid.
Om die rede word die tydperk van die derde taalbeweging baie wyd geneem, sê dan van die vyfjarige Republiek viering met die Pluimsaad-polemiek as formele begin, tot en met die De La Rey fenomeen, as hoogtepunt, en dan die huidige kwynende eggo’s daarvan wat ons nou nog hoor, maar wat die dinamiek nie kon benut of behou nie.
Ons moet die derde taal beweging sien as ʼn tak met baie sytakke en lote. Ons moet dus verstaan dat skynbaar teenstrydige uitinge eintlik maar een en dieselfde tak is, naamlik die soeke na normaliteit. Die ligte luister liedjies, die musiek en liriek beweging, die Voëlvry beweging (in aanhalings tekens, want dit was met vuurspoegende drif te gou verby en was eintlik nie ʼn ‘beweging’ nie), die Oppikoppi’s en die Aardkloppe, Innibosse, die her-sing van Heidie deur Pieter Smit in die studente kroeë in Brooklyn, en ook De la Rey en die fenomenale weghol sukses van Ons vir jou, word alles gereken as deel van die derde taalbeweging se soeke na normaliteit.
Tyd ontbreek om die detail hier uit te lig, ons sou dit dalk in die bespreking kon doen, maar die republikeinse ingesteldheid van die vee-boer, die voor-trekkers, die voort-trekkers, en die twee Boere Republieke is op die driedeling van die puriteinse verbondgedagte geskoei. Naas die kerklike, die huwelik is die burgerlike, [of siviele] verbond erken waar ʼn nuwe samelewing met eedswering tot stand kom. Dit is hierdie inherente gemeenskapsbinding tot selfstandigheid, wat met die verstedeliking, die groeiende materialisme en die privatisering van godsdiens totaal in die slag gebly het.
Die Republikeinse ideaal is nie in 1961 herstel nie, inteendeel, dis ʼn nekslag toegedien. Die gemeenskapsidee, gebou rondom linguisties-religieuse motiewe (soos wat by die eerste en tweede taal beweging plaasgevind het) is nie voortgesit met die Republiek wording nie. Met die uittrede uit die Statebond het die Afrikaner geneem dat hy die Engelse Empire finaal verslaan het. Daar is nie besef dat die Engelse stadskultuur eintlik die oorhand behaal het nie, veral soos dit in die sosiale kontrak en die Engelse begrip van privaat besit na vore gekom het nie. Dit is op hierdie ander aanpak waarop Van Wyk Louw die soeklig laat val met die Pluimsaad, die vroeë waarskuwing teen nasionale selfvoldaanheid. Taal en kultuur, ʼn etniese aanpak, in plaas van ʼn chauvinistiese paternalistiese rasse aanpak was sy voorstel. Die Boere ridder wat die Engelse draak, die Empire, verslaan het, het soos ʼn tiener te gou groot kop gekry. Hy het ʼn mimiek kunstenaar geword.
Mimiek
Daar breek toe ʼn versugting tot modernistiese en post-modernistiese normaliteit aan. Wat, soos genoem, in verskeie onderlinge en selfs teenstrydige sytakke uiting vind. Hierdie deel van die derde taalbeweging se soeke na normaliteit noem ek “modernistiese mimiek.” Jy sien die daadkragtigheid, die selfvoldaanheid, ‘die wêreld-behoort-aan-ons houding’. Amper soos die liedjie in Annie get your gun: “Anything you can do, I can do better”. En die kuns word modern gepleeg. Die staatsteater vervaardig wat jy in Wenen se Volksteater of in die Metropolitan in New York of in Broadway sou kon kry. Selfs in die argitektuur kom hierdie modernistiese mimiek voor. Ons kan ook – is die slagspreuk. En die goudprys is hoog, Hector is nog nie geskiet nie, en die Angolese ligte ‘misktykie’ het nog nie plaasgevind nie, en ek en my Kubaan sou nog net ʼn sigaar aandui. En soos kunstenaars se werkplig is, begin hulle die trillings op die grond voel. Iets is nie reg, dis nog nie normaal nie, dis tog abnormaal. En die Sestigers skryf, Sewe dae by die Silbersteins, Magersfontein, O Magersfontein van Le Roux begin die kritiek inlui teen die amptelike Afrikaner nasionalisme se bo-toon en onderbou. En Brink se Kennis van die aand word as vuilbek gemuilband. Maar met reëlmaat val die houe van klomp beitels op die graniet, maar daar kom geen goeie beeld te voorskyn nie, net stukke stukkende stukkies rots.
Die soeke na normaliteit word byna geheel en al opgeneem deur die stryd teen die apartheid sisteem, dit kan doeksag geskryf word, soos Joubert se Swerfjare van Poppie Ngema, maar die klem bly val op die afbraak na normaliteit, met die klem meermale op die braak. En die grensoorlog kom om te bly en sou mondig word, en in die stedelike oorlog word die massas die eintlike bosoorlog. En die sanksies begin byt, dalk die hardste die kulturele boikotte, waarvoor daar geen rebelle toere gereël word nie. En die modernistiese staat, die Milner kar met die Boere enjin, word al hoe vrotter bestuur, met Vorster die pragmatis en Botha die sekurokraat. En die nood toestand word nie beleef as ʼn kulturele noodtoestand nie.
Die amptelike reaksie en deelse deelname aan die derde taalbeweging is ‘same old, same old’. En tannie Carike sing “Dis ʼn land vol kleure en klank” en die feeste word gevier en Bartolomeus Dias word singend opgevoer, selfs in bietjie Portugees. En Anton Goosen se kruitjie word nie geroer nie. En dis braaivleis, sonskyn en Chevrolet. En die Curriebeker stryd is nog steeds tussen noord en suid. En die tagtigs bring ʼn kulturele verstikking mee. Botha maak dit ʼn amptelike kultuur oorlog, nie oor die stryd van die reikwydte van die woorde nie, maar wie die stuurwiel mag vashou. En niemand wen nie.
En Bernuldus Niemand sing Hou my vas korporaal, en weier om diensplig te doen en dis hoogverraad. En Kerkorrel wil nie meer televisie kyk en elke Saterdag die militêre optogte op die dorpspleine sien nie. En FW maak Mandela ʼn vryburger. En niemand wil meer in die stede bly nie, want die Boere in beton besef die stad bloei alweer vanaand. Die Ferreira vat sy goed en trek ʼn entjie, na die gehokte gemeenskap met die veiligheidswag en toegangskaartjie, en daar’s ʼn Spar en ‘community school’ met ‘residents pool’ in die estates, bietjie Engels, maar is ʼn taal nou my veiligheid werd? Daarin kry iemand die blink plan saam met die vierde industriële rewolusie om kunstefeeste te hou. En volksbasaars trek los, en ons eet koeksisters en luister gratis na die volksvermakers in Beeld en Huisgenoot se tent. En ons eet ons Boerie-burger, en gesels oor die een ‘show’ wat darem nie te duur was nie, en stem kunstig kastig nie saam met die resensie in die feeskoerantjie. En soos ons uit die estates nou weer versit na die twintig of dertig anker dorpe toe, en ons beweeg ruimtes fisies kleiner word nie, besef ons nie dat die derde taalbeweging nog geensins vir ons normaliteit gebring het of kan bring nie.
Abnormaal verslaaf
Ons is nog steeds aan die abnormale verlaaf. Al sou die afbraak van apartheid en die klaagliedere van die WVK wel skaamheid wek, besef ons nie dat die derde taalbeweging nog steeds soek na wat nie-normaal is nie. Selfs toe De la Rey se meteoriet verby ons skiet en ons bo-oor die apartheidsbordjies van die museum by Die Fort spring, terug na die vorige epog van die Boere oorlog toe ons ook maar mag helde kon wees. En ons sing en ons huil, dat ʼn nasie weer op sal staan. En ons begin saam staan, en die taalstryd knars voort in die een na die ander universiteit wat “for English only” as naasteliefde opdis. En gemeenskap instellings ontstaan genadiglik, los van staatsgeld met moderne koeksister inbelsentrums se R 20 sms’e. Maar die water styg op die wit eilandjie. Die breek bly vinniger as die bou. En die kerke raak gryser. En ons wonder of skip-skop nie ook vir ons bedoel was nie: wanneer gaan die dinge eindig? Maar daar is darem nog ʼn fees wat wag en ons is nog nie normaal genoeg om te weet dat mens van fees beleef alleen nie leef.
Mobiliseer én mobiliteit
En hier sit ons nou, saamgetrek, of vasgetrek in die 30 anker dorpe, want wie kan nou weer bekostig om te emigreer? Die normaliteit wat die derde taalbeweging so tak vir tak na soek, bly onwykend ver, maar ons is darem nog nie weerloos en eensaam soos ʼn vrou voor ʼn spieël nie.
“Die Land” het mooi goed in, die kinders wat kom, die belofte, ek los vir jou die son en die land. Dis mooi, maar jammer, dis tannie Carike 40 jaar terug. En tóé het dit al nie gewerk nie. Dis nie normaal om ‘grond’ en ‘land’ met mekaar te identifiseer nie. Dis ruimtelike kulturele verwarring as gevolg van kulturele verwarring. ʼn Grondwet is nie ʼn konstitusie nie, nie in die republikeinse ideaal nie.
Die derde taal beweging is kragdadig, sterk op mobilisasie. Selfs die “Gospel-skouspel” is groot in Afrikaans. Maar hierdie mobilisasie, met al die sweet en moeite en baie goeie goed daarin, is nog niks anders as die tweede taalbeweging se mobilisasie nie. Maar hierdie keer is daar nie stede om te verower nie, en daar is geen staat om te verkry en as Republiek weer te verklaar nie. Die Afrikaner bou state, en nie stede nie, altans nie vir homself nie. Dis ons abnormaliteit. En geen kuns gaan dit normaal laat voel nie.
Uitdaag en opdaag
En dit is dalk die geweldige groot uitdaging van die derde taalbeweging en die van die aristokratiese kunstenaars se profetiese rol daarin. Is dit normaal om in ʼn stad te bou, jou eie stad, wat jy self gebou het, sonder inboekelinge, nie verower het, of vanaf weggevlug het nie, na virtuele volkstaatjies in ʼn rykmans enklave, op die rand van die stad, veilig opgepas en ʼn klipgooi van Mamelodi af nie.
Die land is jou land, die land is my land. Die oranje werkers van die vakbond skree vir sies-like Sasol: Gee ons ons deel en sing een keer mooi Suikerbossie. Ons is vasgekeer in ʼn kulturele Gaza strook. Die derde taalbeweging herhaal tans slegs die tweede taal beweging se bedoelings: erken ons ook nog amptelik binne die 1910 grense, oranje is mos ook ʼn deel van die reënboog. Maar die harde werklikheid is dat die reënboog ʼn kleur kort kom. Die derde taalbeweging is nie besig met die republikeinse ideaal nie.
Die republikeinse ideaal van die Afrikaner vertoon baie kenmerke en is kompleks. Een historiese element wat van groot belang is, en dit vind by elke trek of groot konfrontasie plaas, is die element van kennisgewing van verlating. Die afsweringsbeginsel binne die verbondsidee. Die stigting van ʼn nuwe samelewing, of dan selfs die behoud van die samelewing teen die opdringerigheid van ʼn nuut saamgestelde een, soos tans met die sosiale kontrak gebeur.
Geslaagd?
Die derde taalbeweging is nog nie geslaagd nie. Dit mobiliseer steeds om normaliteit te wil bereik, maar dit word – ironies genoeg – nog steeds gedoen rondom die inherente abnormale.
Wat sou die derde taalbeweging nog moet doen, naas hierdie mobilisering, sodat die oorwinning van normaliteit bereik kan word?
Gemeenskapshandves
Daar sal doelbewus die republikeinse ideaal herwin moet word. Dit beteken om die lyn op te tel, voordat Afrikaners tot die sosiale kontrak toegetree het. Die huidige sosiale kontrak, soos verwoord in die meerderheid diktatuur kultuur van die territoriale staat, het sy wortel, sy bron in ʼn handves, die “Freedom Charter”. Om die abnormaliteit uit te wys daarvan om van die Afrikaner te verwag om regte en pligte te hê binne die gemeenskapshandves soos verwoord in die Freedom Charter is, die derde taalbeweging se plig. As die stakers grapsgewys in die gedissiplineerde optog skree voor die JSE “Amandla” en “Viva” is daar meer op die spel. Die woordeskat is Freedom Charter woordeskat. Dis kulturele leengoedere, selfs die “wit”-woordjie misdaad in die uitsluiting van die Khayjisa skema. Dis abnormaal om met iemand anders se charter, sy vryheidsmanifes, jou eie vryheid te wil verwoord. Dit dui ten diepste op die kulturele armoede en hersirkulering binne die derde taal beweging.
Daar moet ʼn afsegging kom. ʼn Onttrekking voor die trek. Die kort trekkie anker stede toe, – sonder ʼn eie gemeenskapshandves – sal later ons modder laer word. Ongevulde slaggate en al. Vryheid vloei voort ook uit ʼn handves, ʼn ‘charter’, ʼn oktrooi. Die abnormaliteit en innerlike teenstrydigheid om ʼn gelykberegtigde staatsburger te wil wees, en ʼn republikeinse vryburger moet aangetoon word. Dit moet uitgedink, uitgeskryf en uitgesing word. Daarvoor is beitels nodig wat nuwe ruimtes oopmaak, wat die taal nuut orden om die ruimtelike kultuur van die Afrikaner te verwoord. Die Afrikaner se woordeskat, ten spyte van sy modernistiese mimiek is ʼn veld en ʼn plaas taal. Ons kan alles in Afrikaans vertaal. En kan droom en skel in my taal, soos Amanda Strydom sou sing. Maar die derde taalbeweging moet besef ons kan nog nie oor ons eie stad in Afrikaans praat nie. Die kulturele ruimte van die Afrikaner laat dit nie toe nie, weereens, nie omdat ons nie die tegniese vermoë of wat ook al het nie, maar omdat die stad kultureel nie vir ons mooi is nie. Ons kan sing vir Pretoria se verjaarsdag, was alles nou so sleg, maar ons kan nie in Afrikaans droom oor die nuwe stad nie. Die Afrikaners is verstedelik, maar hulle is nie stedeling nie. Hulle dink nie daaraan om hulle eie stad te bou nie. Hulle sê hulle hou van die stad, maar hulle bedoel die voorstad naby die ‘mall’. Afrikaners bou nie hulle eie stede nie, hulle dink nie daaraan nie, omdat hulle beskikbare woorde nie in gespan en georden word om die verbeelding daartoe te ontsluit nie. En as hulle hulle dit nie kan verbeel nie, kan hulle dit nie verbeeld nie. Hulle kan hulle dit nie voorstel nie. En as hulle hulle nie kan voorstel nie, kan hulle hulle nie voorneem nie. En voorneme is die eerste stap in die Afrikaner se ruimtelike kultuur. Hy moet kan begeer. Tans begeer hy veiligheid en werk in ʼn staat (die land) wat hy as sy eie beskou. Hy sal hierheen en daarheen trek, en daarvandaan weer wegtrek en ʼn nuwe uitspan plek loop soek, omdat hy dit nog nie normaal vind om in ʼn stad van sy eie te bly nie. Die Afrikaner is nog nie genormaliseer om vir die stad lief te wees nie.
Oor hoe lank dit sou mag neem om by die opstel en breë gemeenskaplike aanvaarding van die Afrikaner gemeenskapshandves te kom, spreek ek my nie uit nie. Dit is ander se strategiese roeping. Wat wel belangrik is dat afskeid moet kom van die sosiale kontrak, en nie aanhoudende herhaling van die abnormale soeke van aanvaarding binne die ruimtes wat die Freedom Charter vir ander geskep het nie. Soos die Spaanse koning afgesweer is met die Acte van Verlatinge, so moet die nuwe gemeenskapshandves ont-trek aan die sosiale kontrak. Voordat daardie ontrekking nie werklikheid word nie, kan daar nie ʼn sinvolle invulling van republikeinse burgerskap en vryheid plaasvind nie. Dit is ʼn absolute voorwaarde dat die derde taalbeweging die Afrikaner gemeenskap voorberei en begelei tot die versugting om – gewoon normaal – ʼn gemeenskaps handves te hê, ʼn oktrooi waarin die ruimtelike gesagsaansprake, beide kultureel en fisies as gemeenskapsplek duidelik verwoord word.
Vry stadshandves
Vanuit hierdie gemeenskapshandves moet dan na die handves stad beweeg word, letterlik getrek word, die “chartered city”, soos wat Paul Ramon van praat, maar dan nie bemagtig vanuit ʼn gas eerste wêreld land nie, maar met ʼn eie gemeenskapshandves vir gemeenskapselfstandigheid . As die gemeenskapshandves niè in plek is nie, is die enigste ander adres die “freedom charter” kamers, en dit gaan nie gebeur nie, nie sonder intense geweld nie. Die Afrikaner gemeenskapshandves is ʼn voorwaarde vir die Afrikaner vrystad handves. Die een kan nie sonder die ander realiseer nie.
Watter mondering het die derde taalbeweging reeds toegang toe? Watter leemtes en dringende noodsaaklikhede kort die derde taalbeweging.
Daar is baie voordele reeds inherent teenwoordig in die derde taalbeweging. Die klagstaat van die apartheid muishond dagvaarding, wat effektief terug gestuur is na die opstellers is ʼn pluspunt. Die Afrikaner beleef homself nie as die monster wat hy uitgekryt is om te wees nie. Daar is te veel onderlinge narratiewe wat dit deursteek en weerspreek. Die Afrikaner soek die normale aanvaarding van Afrika. Dit het hy nog altyd gehad. Hy fouteer egter tans om die aanvaarding – bykans ten alle koste – te wil bekom via die Freedom Charter.
In die plek daarvan – letterlik in die plek daarvan – moet die eie Afrikaner oktrooi aan gestalte gegee word. Alhoewel die aristokratiese kunstenaars nie die enigste aandeelhouers in die bou projek kan wees nie, is hulle aandeel onmisbaar. Hulle moet die verbeelding ontsluit vir die bouer. Selfs al kom die eie Afrikaner handves tot stand, dan is die stryd nog half gewin. Die brug, van gemeeskaphandves, na stadshandves is die werk van die kunstenaars. Hierin is ʼn groot leemte, bykans ʼn afgrond, wat oorbrug moet word. Die eerste twee taalbewegings het kerkmanne (of sê dan maar “die kerk”) nie net agter hulle gehad nie, maar voor hulle. Die aansporing, die leiding, die rigtinggewing, die vermanende beteuling, is ook teologies, openbarend bepaal. Die inhoud is kunstig vertaal.
Kerklike verraad
Selfs “die dieper reg” (wat geheel op sy eie bene kan staan) bring die transendente na vore in die oordeel vraag voor God en medemens. Tans is die skreiende kontras sigbaar, die Afrikaanse kerke het bykans geheel en al die Afrikaner volk verlaat en in die steek gelaat. Die motgevrete teologietjies van die neo-liberalisme word opgedis dat “liefde god is” en dat kulturele selfmoord die suiwerste vorm van naaste liefde is. Dit is goed as gemeentes traktementueel Afri-duet ondersteun, maar waar is die preke wat gemeenskap ook Trinitaries wil fundeer? Hierdie huidige volksverraad deur die kerke, (en die charismatiese lyn doen op hierdie punt nie veel beter nie, aangesien die charismatiese teologie nie sterk is op die verbond nie, en dus nie die verbinding insien wat skeppingsmatig daar is nie. Dink maar aan kulturele ondergrawing met die leengoedere uit die Angelsaksies stal van “praise and worship”, asof Afrikaans nie so geskik is of geheilig mag word om die Allerhoogste met lof te nader nie, asof sy soewereiniteit nie juis elke knie, èn elke tong insluit nie).
Ten spyte van die skande van die kerk se verraad teenoor die volk, omdat die kerke voor die [politieke korrekte] voet, die sosiale kant van die verbond minag, en dus die derde been van die puriteinse verbondsleer vergeet het, neem nie weg dat die kunstenaars wel – vanweë die profetiese aard van hulle kunstenaarskap – wel aangewese is op openbaring nie. Daarom moet die oproep tot die kunstenaars se aandeel in die derde taalbeweging, gelyktydig ʼn bekerings oproep wees vir die kerke om hulle verantwoordelikheid teenoor God se hele skepping na te kom. ʼn Profeet kan nie sonder die Woord profeteer nie. Dit sou slegs valse profesie wees. En valse profesie kan ook digterlik en musieklik klink. Maar dit sal – soos klokslag elke keer – slegs die dood voortbring.
Waarom mag die Afrikaner bestaan? Waarom moet die Afrikaner leef? Dit is dieper as ʼn blote oorleef in Afrika, of in ʼn kunsmatige verwydering skisofrenies probeer leef van die Afro-pole, hetsy in ʼn estate, of in ʼn netwerk anker stede en dorpe. Wat is die volksroeping en taak? As ons dan ʼn stad moet bou, waarom? Watter – na aanleiding Van Wyk Louw se dieper reg oordeelsvraag – watter oordeel sal ons tref as ons ons volksroeping versaak? Waarom het die wêreld, waarom het Afrika, die Afrikaner nodig? Nie uit selfsugtige oorlewings alliansies nie, soos wat die 1961 Republiek geblyk het te wees nie, maar uit die normaliteit van die lewe as geskenk.
Die derde taalbeweging moet die vyfde waagstuk help realiseer deur verby die blote, benoude en oer oorlewing, oor en voort te gaan na leef toe. En daarin het ons ʼn diep reservoir beide in ons kulturele ruimte en historiese ruimtelike kultuur. Die kunstenaar se lewenstaak, sy heilige roeping as brugbouer vir die stadbouer, is in die derde taalbeweging onmisbaar.
Die spelende Christus
As God in sy genade ʼn klein miserabele, verdwaalde, verskikte, verjaagde volkie, tog weereens sy goeie guns wil toon, omdat sy eer te groot is dat een mens, of een geslag of een volk dit na waarde sou uit sê en inleef, wie sal Hom weier as Hy sy seën wil sprei.
Maar is daar nog ore wat die oproep hoor. Wat gehoor gee en gehoorsaam aangee wat die hemel vir die aarde beteken. Daar is ʼn brug, daar is ʼn stad, al klaar, ons moet dit net vind, ons moet dit gehoorsaam ontvang – en bou dat God bly. Hoe lyk ʼn stad waar God tuis is?
Ons het die genade van die spelende Christus as Kunstenaar. Hy kan die aristokratiese kunstenaars sy taal leer praat. En hulle sal sê en sing. En die argitekte sal teken. En die bouers sal bou. En die oktrooie sal die politieke landskap plooi. En die derde Afrikaners sal dan eers trek en daar gaan bly. Maar nou eers moet die brug bedink word, ʼn dekade of dalk twee. Solank ons die spelende Christus bly ken. Dan hoef ons nie “a beautiful noise” te geskryf het nie. Maar ons mag ʼn kultuur heilig, woorde orden volgens sy ruim Woord-orde, dan kan en moet ons ʼn ruimtelike kultuur – ook stedelik – ontwikkel, wat nie maar net die onderskeid tussen privaat en publiek wil ken nie, maar ruimte erken, geskenkte ruimte as Rehobot, oopmaak, wat plek vir die heilige het, juis om vrugbaar te wees. Die oordeel van God gaan oor volke ook heen, ook oor hulle kunstenaar en predikers. Hoor dan kunstenaars, die Woord van diè Goddelike kunstenaar. Sy vreugde, sy begeerte, is na ‘die seuns van die mense.’ Hy het nog die hemel, nog die aarde verraai. Hy heilig die ruimte en die plek. Dit mag ons in die derder taalbeweging aandag aan skenk, dit met wye inkoop in ʼn oktrooi vasskryf, en ʼn stadshandves verkry, ʼn stad van mense, mens van God, wat die heiligheid van ruimte en plek ken, bely en beleef.
God se verlustiging was die mensekinders. Hoe lyk die brug, hoe lyk die handves, hoe lyk die stad, wat weet van so ʼn groot kuns as guns.
Derde Taalbeweging of dalk die vierde?
Die derde taalbeweging soek na normaliteit. Maar is ons nou al normaal? Wat gaan in die anker laer stede en dorpe kultureel gebeur? J.C. Steyn lê met sy slotwoorde in sy boek ‘Ons gaan ʼn taal maak’ die vinger op die senuwee:
“In ʼn polities onvriendelike omgewing probeer liefhebbers van die taal verseker dat Afrikaans bly voortbestaan in skole en ander opvoedkundige inrigtings, in die wetenskap, letterkunde en ander kunste, in die media en vermaak, insluitende kunstefeeste, in die kerk en soveel moontlik werkkringe. Hul metodes is dié van taalstryders orals ter wêreld – aktivisme en die skep van eie instellings. Akuut is die behoefte aan ʼn eie Afrikaanse stad of gebied waarin die gebruik van die taal in alle funksies vry en vanselfsprekend is (eie kursivering). Die ‘lesse uit die verlede’ is selde eenvoudig en eenduidig, maar ʼn paar sleutelwoorde uit verskillende fases in die geskiedenis van Afrikaans dui die koers aan: verset en opbou; Helpmekaar; sorg vir die ruimte van ʼn volledige lewe; behoud van die taal as die draer van lewensbehoeftes, en skep ʼn eie toekoms.” Steyn, (2014:524).
Miskien moet ons die derde taalbeweging as afgehandel beskou, met die normalisering na apartheid deur ʼn De La Rey van Bok as hoogtepunt. Die brug van apartheid na die vyfde epog is oorgesteek. Maar sal die vyfde epog wel aanbreek waar gemeenskap selfstandigheid – o.a. in ʼn eie Afrikaanse stad waar die taal vry en vanselfsprekend is. Dáár is ons nog nie. Daarvoor is ʼn vierde taalbeweging voor nodig. Daarvoor is nuwe verbeelding nodig, wat deur nuutskeppende woorde ontsluit is. Dit is o.a. die taak van die aristokratiese kunstenaars as brugbouers vir die stadbouers. Maar hoe kan hulle sê as hulle nie gehoor het nie?
Genadiglik ís die spelende Christus gestuur, en Hy is vanselfsprekend, ook as Kunstenaar. En Hy het erfbesit van al die volke, tot vrees en tot vreugde. Hy kan brûe en stede lieflik laat verbeel en dit laat bou. Ons gaan ʼn stad bou, nie na ons beeld nie, maar na sy verbeelding, sy Beeld.
Ek dank u.
Enkele wenke om die vierde taalbeweging te stimuleer:
- Afrikaans moet ʼn literêre adres hê. Daar moet onverpoosd gewerk word dat op Orania ʼn Hoër Onderwys Instelling gevestig word, wat ʼn volwaardige Afrikaanse departement het wat hierdie rol kan vervul.
- Die vierde taalbeweging moet Afrikaans normaliseer deur Afrikaners lief te maak vir hulle stad. Dit kan gedoen word deur o.a. hoorbeelde te laat opvoer in Orania se taalweek. . Sinvolle vennote hierin sou wees Pretoria FM, FAK en OKeR.
- ʼn Kunstenaars konferensie op Orania waar kunstenaars met die uitdaging bekend gestel word.
Bibliografie
Bell, T.W. 2018. Your next Government? From the nation state to stateless nations. Chapham University. Cambridge University Press.
Boshoff, C. 2014. N.P. van Wyk Louw en die derde Afrikaner. FAK. Pretoria.
Brink, A.P. 2000. Groot Verseboek. Tafelberg. Kaapstad.
Buys, F. 2015. Durf ons dit waag om ‘n vyfde waagstuk te waag? BST, (Jan):1 – 9.
Cloete, E. 1992. Afrikaner identity: culture, tradition and gender. Agenda Feminist Media, (13):42 – 56.
Dubow, S. 1997. Colonial Nationalism, the Milner Kindergarten and the rise of South Africanism, 1902-1910. History Workshop Journal, no. 43. Oxford University Press.
Du Pisani, K. 2004. ‘Ek hou van ’n man wat sy man kan staan’: Puriteinse manlikheidsbeelde in die Afrikaanse kultuur tot 1935. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, 18(1):80 – ??
Erasmus, P. 2003. Taal en die magsdinamika van die Afrikaner: ‘n antropologiese perspektief. Acta Academica Supplementum, (2): 83 – 103.
Freschi, F. 2011. From Volksargitektuur to Pretoria Regionalism: Afrikaner Nationalism, Architecture and the Imaginary of High Culture, 1948-1976. Colloquium Proceedings – Other views: Art History in (South) Africa and the Global South, 12-15 Januarie. University of the Witwatersrand.
Geldenhuys, D.J.C. 1985. Afrikaans in perspektief (Sestig jaar na amptelike erkenning). Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natiirwetenskap en Tegnologie, 4(2):42-43.
Giliomee, H. 2001. Voëlvlug van ‘n Afrikanergeskiedenis van 350 jaar. Historia, 46(1):5 – 24.
Giliomee, H. 2003: The Afrikaners: biography of a people. Tafelberg. Cape Town.
Giliomee, H. 2014. Die troebel toekoms van die Afrikaner en Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):571 – 595.
Grove, A.P. 1948. Die digter D.J. Opperman. Theoria: A Journal of Social and Politcal Theory, (2):38-44.
Grundlingh, A. 2004. “Rocking the Boat” in South Africa? Voëlvry music and Afrikaans anti-apartheid social protest in the 1980’s. International Journal of African Historical Studies, 37(3):483 – 514.
Hermann, M.N. 2017. Afrikaner grense. Zero Plus. Pretoria.
Hofmeyr, I. 1987: ‘Building a nation from words: Afrikaans language, literature and ethnic identity, 1902– 1924’. [In: S. Marks and S. Trapido (eds), The politics of race, class and nationalism in twentieth-century South Africa, 95– 124.] London: Longman.
Kannemeyer, J.C. 1986. D.J. Opperman, ʼn Biografie. Human & Rousseau. Kaapstad.
Kapp, P. 2002. Die VOC-tydperk en die ontwikkeling van identiteitsbewussyne aan die Kaap. Historia, 47(2):709 – 738.
Kriel, M. 2006. Fools, philologists and philosophers: Afrikaans and the politics of cultural nationalism. Politikon, 33(1):45-70.
Laubscher, L. 2005. Afrikaner identity and the music of Johannes Kerkorrel. South African Journal of Psychology, 35(2):308-330.
Marx, C. 2005. ‘The Afrikaners’: Disposal of history or a new beginning? Politikon, 32(1):139-147.
Miller, J.E. 2014. A dadiacal, subjunctive, political theology of resistance: On religion and community. PhD. Salve Regina University.
Opperman, D.J. 1972. En … die grootste is: N.P. van Wyk Louw.
Pienaar, E.C. 1919. Taal en poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. De Bussy.
Renders, L. 2011. And the greatest is … N.P. van Wyk Louw. Reshaping Remembrance. Critical Essays on Afrikaans Places of Memory. Hfst 16, (146-152). Rozenburg Publishers. Amsterdam.
Sisk, T. Democratization in South Africa: the elusive social contract. Vol. 4838. Princeton University Press.
Scholtz GD 1967-1984. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Johannesburg: V
Steyn, J.C. 1998. N.P. Van Wyk Louw: ‘n Lewensverhaal. Tafelberg. Kaapstad.
oortrekkerpers en Perskor. 8 bande.
Steyn, J.C. 1990. Die Pluimsaad-polemiek. S. Afr. Cult. Hist. 4(2):75- 87.
Steyn. J.C. 2014. ‘Ons gaan ’n taal maak’. Afrikaanse sedert die Patriot-jare. Kraal Uitgevers. Centurion.
Steyn, J.C. 2014. “Kultuur en krisis” vandag. STILET, XXVI (1):74 -93.
Steyn, A.S. 2016. A new laager for a ‘new’ South Africa: Afrikaans film and the imagined boundaries of Afrikanerdom. MA. University of Stellenbosch.
Suttner, R. 2006. Talking to the ancestors: national heritage, the Freedom Charter and nation-building in South Africa in 2005. Development in South Africa, 23(1)3-27.
Tymbios, M.A. 2017. Cementing belief: tracing the history of Modernist Afrikaans Church architecture. 1955-1975. Stellenbosch University.
Truscott, R. 2011. National melancholia and Afrikaner self-parody in post-apartheid South Africa. Psychoanalysis, Culture & Society, 16(1):90 – 106.
Van Coller, H.P. Het magisch realisme in enkele recente Afrikaanse romans. (In: Rhe Borders of Realism in 20th Century Narrative Literature. Proceedings of the International Conference (Louvain-la-Neuve, 1-3 Des. 2004).
Van Coller, H.P. 2006. Die representasie van plaas, dorp en stad in die Afrikaanse prosa. Stilet, (XVIII):1. Maart. 90 – 121.
Van der Merwe, A.S.P. 2003. Postkolonialiteit in die Twintigste en Een-en-twintigste-eeuse Afrikaanse drama met klem op die na-sestigers. D.Litt. Unisa.
Van Jaarsveld 1978 Suid-Afrikaanse houdings teenoor die stad
Van Niekerk, L. 2016. De eerste Afrikaansche taalbeweging en zijne letterkundige voortbrengselen. Swets & Zeitlinger. Amsterdam.
Van Wyk Louw, N.P. 1938a. Die ewige trek. (In: Louw, T. 1986. N.P. Van Wyk Louw, Versamelde Prosa I, p. 94 – 102.) Tafelberg. Kaapstad.
Van Wyk Louw, N.P. 1938. Die dieper reg. Tafelberg. Kaapstad.
Viljoen, L. 2012. Afrikaans literature after 1976: resistance and repositioning. (In: Atwell, D. & Attridge, D. (eds). The Cambridge History of Southern African Literature. Cambridge University Press. Cambrisdge.
Visser, W.P. 2003. Urbanization and Afrikaner Class Formation: The Mine Workers’ Union and the search for a Cultural Identity. (In: Falola, T. & Salm, S.J. (eds). Radical and Divided Space. African Urban Spaces in Historical Perspective. Boydell & Brewer.)
Visser, W. 2007. Post-hegemonic Afrikanerdom and diaspora. Redefining Afrikaner identity in post-apartheid South Africa. New Contree, (54):1-30.
Wasserman, H. 2009. “Ons is nie so nie”: Vryheid van spraak en die ontkenning van rassisme in die Afrikaanse pers. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(1):111 – 128.
Wolf, L. 2007. The rainbow blues of ‘De la Rey’. LitNet Seminars and Essays.
Wybenga, G. 2004. MER. Literator: Journal of Literary Critisism, Comparative Linguistic and Literary Studies, 25(3):43-81.
Zietsman, P.H. 1992. Die taal is gans die volk: woelinge en dryfvere in die stryd om die Afrikaner se taal. Unisa. Pretoria.