Die Kasteel en vryheid

Om ‘n stad te bou, en ek bedoel nie ‘n wolkekrabber koue betonoerwoud nie, maar ‘n stad as ‘n blyplek, ‘n woning, ‘n tuiste vir mense, is ‘n grootse taak.

Ek gaan dan ook minder histories, en dalk selfs nie wetenskaplik na die stad en kasteel kyk nie, maar miskien selfs bietjie romanties en filosofies.

Die een jagter moet elke dag uitgaan, en een bok of haas soek, dit slag, en dit die aand vir die groepie wie hy sy mense noem gaan voorlê. Môre herhaal hy, en oormôre ens… Sy vrou en kinders pluk bessies en skep water daar onder by die dam, of grou die waterwortels diep uit die sand. Soms pak ‘n klompie brawe jagters ‘n groter dier aan, en sterf of oorwin, maar die lewe bestaan uit hierdie eenvoud van jag en invorder en herhaal. So trek hulle maar aan, agter alle wyding en diere-migrasie aan, en bou maar tydelike skuilings en bly in grotte.

Soos dit egter met die mensdom gaan, is daar gewoonlik die een seun of dogter wat bietjie anders is, en ‘n plan maak. Ons noem dit vandag innovasie, en moedig dit dalk selfs in 2020 gans te min aan. Maar dit is die seun of dogter wat sien dat mens water kan gelei, en dat mens pitte kan plant, en die pitte gee kos en weer pitte, en die water vloei steeds, en die mis van die perde is goed vir die pitte, en dit groei mooi. En haar tuin lewer nou genoeg kos dat die beeste en die mense almal van die oorvloed pitte kan eet. Een plan, harde werk, en vooruitgang. Die seun sien dat ons die pitte kan stoor as ons dit droog maak, en ‘n ander man sien dat jy dit kan fynmaal en lekker geregte kan berei. Een sien selfs dat as jy dit bietjie laat staan, laat gis, dan maak dit jou vrolik ook.

‘n Nuwe wêreld word gebore, met die ontwikkeling van landboutegnologie. En om daardie suksesvolle plaas, word ‘n ystersmid opgerig, ‘n kroeg, ‘n meule, ‘n skrynwerker, en soldate om te help oppas. In plek van die ruilhandel slaan hulle ook munte, want dit is nie maklik om ‘n driekwart-hoender vir ‘n swaard te ruil nie. Die mensdom innoveer, konsentreer, en floreer, en ‘n stad word gebore in die vorm van ‘n kasteel.

Soos mens histories na die ontwikkeling van die mensdom kyk, was die oorgang van die jagter-invorderaar tyd, waar klein groepies maar eintlik in grot of skerm op hul eie aangewese was, die tyd toe landboutegnologie ontwikkel het tot op so ‘n vlak, dat een persoon vir meer as net hom en sy eie kon voorsien. Dit is die beginpunt van spesialisasie, maar dan ook noodgedwonge, beginpunt van konsentrasie.

En dit is die twee sleuteleienskappe van gemeenskap: Spesialisasie en konsentrasie.

Ek begin dus vandag, in alle eerlikheid, by die begin. By die begin van die mensdom as identifiseerbare entiteit, en waar groepe mense, rondom die spesialis landbouer kom vestig het, het hul ook hul eie kultuur en taal ontwikkel. Die spesialis landbouer, het as’t ware die ander inwoners en aankomelinge se hande losgemaak, vir ander take, en die tegnologiese ontwikkeling het weggespring, omdat een boer ‘n plan gemaak het; meulenaars, smede, bakkers, klerasie, leerprodukte, ysterwerke, myne, tuinbou, huisbou en argitektuur, sekuriteit, en die kunste…

En so het mense, met verskillende voorkeure en talente, getrek, saamgetrek, gekonsentreer, rondom wat begin het as spesialis landbou. Skole het ontwikkel tot universiteite, die skrywers se hande was los om te skryf en gedagtes was los om te dink, omdat die boer geboer het. Stadsbeplanning, riolering, mediese geriewe, selfs vermaak, het alles saamgetrek rondom die spesialis landbouer, omdat hy vir kos gesorg het, en hulle vir iets anders kon sorg.

Maslow se eenvoudige piramiede is eintlik net ‘n weergawe van die normale en spontane vooruitgang van die mensdom, vandat die spesialis landbouer vir meer mense kos kon produseer.

Hierdie korte oorsig bring my egter by my eintlike gedagte vanoggend: Die Kasteel.

Met die ontwikkeling en spesialisasie, het die voorspoed van die gemeenskap ook aanloklik geraak, en nie net vir diegene wat eerbaar wou bydra nie, en die gemeenskap het gekonsentreer in ‘n eenvoudige vorm van ‘n kasteel, en omdat my sketsvermoëns selfs my sportvermoëns ondertref bied ek hierdie eenvoudige prent aan.

Die Kasteel was die sentrum en die oorspronklike woning met muur, gewoonlik van die landheer. Dit het dan met konsentriese sirkels van woongebiede, besigheidsareas ens. uitgebrei tot by die muur, gewoonlik die eerste muur, waarbuite die landbou gebied was. Soos die gemeenskap gegroei en ontwikkel het, het die muur nog ‘n muur geword, met distrikte tussenin, en dan weer ‘n muur later, met die landbou weer op die rant ens. ens.

3 eenvoudige maar grondliggende stellings:

Tegnologie

Konsentrasie

Spesialisasie

Laat solank jul gedagtes gaan. Ons kan ook verder delf in die moderne kasteel as model vir volhoubare gemeenskap.

Ons weg na vryheid, lê in die uitbreiding en groei in en rondom die kasteel, die vryheid en veiligheid wat tegnologie, konsentrasie en spesialisasie ons bied. Trek, beset en word vry.

Dit is die normale en eerste tree na die groter staatkundige, dit is die groeipunt.

PSK

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui