Leviathan verslap sy greep op onderwys

Onderwys: Leviathan verslap sy greep – nie omdat hy wil nie, maar omdat hy nie anders kan nie

Die oorspronklike voorblad en titelblad van Thomas Hobbes se klassieke werk Levithan, or The Matter, Forme, & Power of a Common-Wealth Ecclesiastical and Civil (1651)

Die Leviathan

Leviathan, die sterflike god, die staat, wat die oorlog “van almal teen almal” met sy skerp swaard moes ontlont, het ’n swaar slag gely. Gelukkig, want ’n sterflike god moet sy plek ken. 

Die Leviathan maak sy verskyning in die Westerse beskawing deur die Ou Testament. Dié seeslang was aan Job bekend, maar Jesaja stel hom aan die magtige (en uit Judese oogpunt vernietigende) Babilonië gelyk. In die vroeë Christelike tradisie is Leviathan die antichris. 

Tydens die sestiende en sewentiende eeu vernietig burgeroorloë groot dele van Engeland en Europa. Dit word godsdiensoorloë genoem, maar ego’s, ou vetes en ander faktore is ook belangrik. Thomas Hobbes, Engelse filosoof maak die gevolgtrekking dat die mens se lewe op aarde kort en gewelddadig is, omdat die oorlog van almal teen almal niemand ontsien nie. ’n Sterk staat, wat individue en hulle ego’s te bowe gaan, wat die mag van die reg en die godsdiens in sy hand hou, is al wat dié oorlog kan beëindig. 

Politokrasie

Prof Koos Malan se studie Politokrasie. ‘n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ‘n antwoord daarop (2011)

In ons eie tyd het prof. Koos Malan in sy boek, Politokrasie, Hobbes se Leviathan aan Afrikaanse lesers bekendgestel. Nie omdat Afrikaners Leviathan nie ken nie, want hulle leef elke dag onder hom, maar omdat Leviathan so alomteenwoordig is dat mens hom heeltemal miskyk. 

Malan verduidelik hoe Leviathan eers ’n veraf en onbekommerde god was wat sy onderdane net uit mekaar se hare gehou het. Mettertyd het hy egter ’n oormatig versorgende, versmorende moeder geword wat onderdane verlam deur regte aan hulle toe te ken. Elke reg wat Leviathan toeken en verwerklik, neem die bevoegdheid om self te handel uit die onderdaan se hande.

As ek by Malan se uiteensetting my eie kan byvoeg, Leviathan as moeder kweek kinders wat oorgewig in sagte rusbanke sit en Playstation speel, terwyl sy chippies en koeldrank aandra. 

Leviathan en die onderwys

Staatskole is daar om die staatsideologie te bevorder

Een van Leviathan se magtigste instrumente is onderwys. Onderwys is nie die oortapping van kennis uit boeke na kinders se koppe nie. Onderwys is om kinders in die grootmenswêreld in te lei, met kennis en vaardighede, maar veral met ’n beskouing van die wêreld en elkeen se plek daarin. 

’n Gesentraliseerde skoolstelsel, soos die een in Suid-Afrika, pas Leviathan uitstekend. Dit gee die geleentheid om ’n volk na sy beeld te bou. Organiese samelewingstrukture, soos die familie, die stam, die gemeenskap, die volk, is alles mededingers vir die staat, die beeld van Leviathan. 

Leviathan sien in ander eenhede as die individu en die staat net die moontlikheid van twis, tweedrag en selfs oorlog. Daarom moet dit bestry word. Daarom moet almal dieselfde geskiedenis op skool leer, dieselfde voorgeskrewe boeke lees, dieselfde woordsomme in wiskunde doen. 

Elke illustrasie in elke handboek moet nie net die leerinhoud illustreer nie; dit moet illustreer dat ras, kultuur, gender en godsdiens alles toevallige sigbare onderskeide of voorkeure is, tussen mense wat wesenlik glad nie van mekaar verskil nie. 

Om te verseker dat hierdie waardes nie net in handboeke uitgebeeld word nie, maar die geleefde werklikheid in elke klas is, word ’n ouditkultuur in onderwys geskep. Onderwysers is nie meer professionele lui wat vir hulle werk voorberei, periodiek geïnspekteer word en gemeet word aan die afgeronde mense wat hulle klasse verlaat nie. Hulle is werkers wat deur vakbonde verteenwoordig word, soms staak, en gemeet word aan eindelose vorms wat hulle moet invul om kinders aan punte te meet en hulleself aan aksies om ’n nasie sonder onderskeide te skep. 

Onafhanklike en tuisskole

‘n Voorbeeld van onafhanklike onderwys by Volkskool Orania

Natuurlik bestaan die reg tot onderwys in onafhanklike en tuisskole. Mits Leviathan se gedetailleerde kurrikulumdokumente ook daarin beslag kry en ouditvoorwaardes nagekom word. Uit die oogpunt van selfstandigheid is dit beter as niks. ’n Oudit kan ook nie álles sien nie!

Onafhanklike skole ding net in sekere gevalle bietjie moeilik met Leviathan se onderwys mee. Daar is wel kapitaalkragtige ouers wat net die beste kos, speelgoed, fietse, motors, motorfietse, huishoudelike toestelle en onderwys koop. Die skole wat hulle kan bekostig, word hier buite rekening gelaat, want hulle bevraagteken die waardes van Leviathan nie, hulle voel maar net dat hulle dieselfde beter doen. 

Waarna ons hier verwys, is onderwys wat Leviathan en die volk-na-sy-beeld uitdaag. 

Onderwys is duur. Die vraag is wie die prys betaal. Dit kan die staat, die ouers en die onderwysers wees. In sogenaamde “no-fee schools” is dit net die staat. Ouers wat kan kies, se kinders is gewoonlik nie in hierdie skole nie. In departementele skole waar skoolgelde wel betaalbaar is, deel ouers en die staat die koste. Soms betaal onderwysers in “beheerliggaamposte” ook daaraan, want die tjekkie wat Leviathan teken is gewoonlik veel groter as die een wat hulle van die ouers kry.

In die onafhanklike skole waarvan ons praat, deel ouers en onderwysers die koste. Die deel wat onderwysers bydra is dikwels buite verhouding groot en dra daartoe by dat daar drie soorte onderwysers is: 

Die wat absoluut toegewy is en die werk ten koste van hulle eie belang doen; die wat na ’n ander, beter pos op pad is, maar solank hier skool hou; en die wat nêrens ’n pos sou gekry het nie, as dit nie was nie dat die onafhanklike skool desperaat is vir iemand wat vir dié geld sal werk. 

Wat tuisskole betref, het die staat op die oog af besluit om dit nie onwettig te maak nie, net onmoontlik. Tuisskole word immers aan dieselfde ouditvereistes as skole, met personeel wat net daaraan aandag skenk, onderwerp.

Sekere departementele skole (die sogenaamde model C-skole) kry dit reg om amper soos onafhanklike skole op te tree. Deur alles wat geoudit word nougeset na te kom, lei hulle die aandag van ander sake weg en gee onderwys soos hulle dink hulle moet. Mens kan maar sê by sulke skole kry Leviathan sy sin met inhoud, maar nie heeltemal in gees nie. 

Skolesport

Skolesport bind baie mense nog aan openbare onderwys

In onderwys, soos elders, is Leviathan uiters bedrewe in die aanwending van sport. Duisende leerlinge, wat voortreflike mense is, se talente is nie noodwendig akademies van aard nie. Om op die sportveld te presteer dra gelukkig net soveel eer en tussen die kinders dalk ’n bietjie meer. Die gevolg: mense wat andersins ’n bietjie opstandig teen Leviathan voel, verduur dit maar ter wille van skole se groot sporttradisies. 

Nou bring dit ons by die grendelstaat. Leviathan het op talle terreine meer mag toegeëien as wat mens kon dink moontlik is; en tog so half ongesiens sy greep op onderwys verslap. 

Om die Covid-19 verwante vereistes rakende sosiale afstand te handhaaf, is eintlik ’n onbegonne taak. Dit sal beteken dat ’n staat, wat nie eers onder normale ekonomiese omstandighede met skoolinfrastruktuur kon byhou nie, dit skielik drievoudig moet vermeerder. Elke kind wat nie in ’n skool gehuisves hoef te word nie, is skielik ’n genade. 

Vir die eerste maal hoor mens dat ouers aangemoedig word om tuisskool te ondersoek en dat klein skole oor ’n ander kam as groot skole geskeer sal word. Reeds vroeër het die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga, gesê dat, hoewel departementele skole gesluit moet bly, kinders na onafhanklike skole mag terugkeer, mits getalle onder 50 gehou kan word. 

Skolesport is vir 2020 afgestel en is vir 2021 nog in die weegskaal. In ’n poging om risiko’s van homself weg te kaats, kan die staat dalk besluit dat sport nie meer ’n bevoegdheid van skole sal wees nie. Klubs, waar kinders vrywillig en op eie risiko kan aansluit, kan dalk die norm word. 

Die Leviathan val terug

Die toekoms in … met onafhanklike onderwys

Die punt is dat hier ’n uitdaging op onderwysgebied is, waarvoor Leviathan vanuit sy sentralistiese benadering nie opgewasse is nie. Daarom word bevoegdhede na die gemeenskap teruggegooi. Dit is ’n keerpunt wat grootliks die openbare oog ontglip het. Die VF Plus het ’n verklaring hieroor uitgereik, maar het nie die media gehaal nie – nie eens Pretoria FM nie. 

Tog, tensy Leviathan met ’n wonderwerk vorendag kom, is hierdie dalk ’n belangrike mylpaal in sy ondergang. 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui