Vryheidstigting: Van waar en waarheen

Die Vryheidstigting is ‘n burgerlike instelling wat tegelyk nuut en oud is. Nuut omdat dit nou, in die laaste kwart van 2019, bekendgestel word en ‘n eietydse inslag het; oud omdat dit beide by die oudste motief van Afrikaners se selfverstaan, naamlik vryheid, aansluit én op instellings wat die toepassing daarvan oor dekades heen en onder uiteenlopende omstandighede nagestreef het, gebou is. Die Vryheidstigting wil hom opnuut daarop toelê om vanuit ‘n diep geestelike sin vir wat vryheid behels, op ‘n werklikheidsgetroue manier met die eise daarvan om te gaan.

Die hoofdoel van die Vryheidstigting is om die idee en ideaal van vryheid in die algemeen, sowel as die verwerkliking daarvan in die besonder, na te streef en te bevorder. Die idee en ideaal veronderstel sowel die geleentheid as die vermoë om betekenisvolle keuses uit te oefen en voortreflik te handel, terwyl die verwerkliking daarvan binne die verband van gemeenskap en kultuur en met behulp van toepaslike instellings en voldoende hulpbronne geskied. Mens kan dit dalk saamvat deur, teen die agtergrond van al die voorgaande, te sê die Vryheidstiging doen opnuut iets oud.

Nie dat ons vandag die eerste of die enigste is om ons daarmee te bemoei nie, inteendeel. Ons stel ons ook nie aan oor enigeen wat op een of ander manier daarmee besig is nie. Wat ons wel wil doen, is om samehang te soek. Samehang in die verskeidenheid van denke en van handeling wat onder ons mense vaardig is, eerder as enersheid en eenselwigheid. Samehang wat onderlinge aansluiting en aanvaarding berus, kan die soort krag ontsluit wat ons tans benodig om staande te bly – en, in belangrike opsigte, weer op te staan. Samehang en sin.

Daarom stel die Vryheidstigting hom in besonder ten doel om:

  1. Standpunte ter toeligting en uitbreiding van ons idee en ideaal van vryheid te ontwikkel en te verwoord;
  2. Verbande te stig en samehang te soek met diegene wat ons idee en ideaal van vryheid deel;
  3. Erkenning te gee aan en te verwerf van diegene wat deur ons idee en ideaal van vryheid geraak word;
  4. Publieke ruimtes vir die uitwisseling van idees en die vind van gemene grond op te soek, te benut en te help daarstel;
  5. Meningsvormers, beleidmakers en besluitnemers toe te rus met gunstige perspektiewe op vryheid en die vermoë om dit te bevorder; en
  6. Afrikanerselfstandigheid in ’n gemeenskap van gemeenskappe tereg te laat kom.

In die omgewing van die Vryheidstigting kan mens dus skakeling, besinning, gesprek, debat, leeswerk, skryfwerk, ywer en toewyding verwag. In die kern van die Vryheidstigting vind mens iets wat tegelyk kliphard én vloeibaar, vlugtig én vurig is; iets wat uit die gemeenskap van die elemente voortkom, die geboorte van ‘n tuiste; vryheid.

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

  1. Wel, ek dink dis goeie idee om op die SABRA tradisie, jeugkampe selfs in Orania te hou met tema van Selfbestuur as proses vir Selfbeskikking vs Staatsbeskikking oor alles.
    Dan ook die staatkundige ideaal van sesessie vs gewoon selfbestuur as proses in selfbeskikking duidelik te maak.
    Hierdie sal duidelik die sosiale deel ontwikkel, in totale omvattende strategie op sosiale, ekonomiese, politieke en sekerheid vlakke in proses van Selfbestuur vir Afrikaners in Ankerdorpe waarvan Orania deel is.

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui