Vryheid 2020: ‘n Strategiese inset

Verwagtings en beplanning vir Afrikaners in die komende jaar – 23 Januarie 2020

Inleiding

Die Vryheidstigting, ’n betreklik nuwe instelling in sy huidige formaat, stel hom ten doel om die woord én die betekenis van die woord vryheid opnuut en met vrymoedigheid te gebruik sover dit Afrikaners se huidige stand en status aangaan. In hierdie opmerking lê natuurlik die erkenning opgesluit dat ons dit vir ’n tydperk nie gedoen het nie en dat die gebruik van die woord die afgelope jare meestal met voorbehoude en kwalifikasies gepaard gegaan het.

Die rede is eenvoudig: daar het ’n breë, dikwels onuitgesproke konsensus ontstaan dat Afrikaners se beeld van vryheid nie net op onvaste fondamente gebou was nie, maar dat dit selfs op omgekeerde ongeregtigheid, op die herhaling teenoor ander van die soort onreg wat ons self in die verlede gely het, neergekom het. Dit het die vorm van Apartheid aangeneem – gebrandmerk as niks minder nie as ’n “misdaad teen die mensdom” – en diegene wat hulle daarteen verset het, het dit juis in die naam van vryheid, in beide ’n dekoloniserende én ’n persoonlike sin, gedoen.

Hierdie “vryheidstryd” en die “vryheidstryders” wat die demokratisering van ’n onverdeelde Suid-Afrika sou bewerkstellig, het in die stryd om idees mettertyd sterker as die verteenwoordigers van die ou orde vertoon en het die ou Suid-Afrikaanse maghebbers tot “onoorwonne oorgawe” oorreed. Die gevolglike magsoorname het dan ook met sulke grasie geskied dat dit tekens van versoening eerder as wraak vertoon het en ’n hoë mate van samebinding onder die voorheen strydende dele van die Suid-Afrikaanse bevolking bewerkstellig het. Selfs vir talle Afrikaners het die nuwe bedeling ’n eiesoortige bevryding meegebring, onder andere in die sin dat hulle nie langer deel van ‘n gediskrediteerde minderheidsbedeling sou wees of vir Suid-Afrika se sukses of mislukking verantwoordelik gehou kon word nie. (Altans, só het hulle gedink.)

Hierdie gebeure het Afrikaners se gevestigde beeld van vryheid, wat beheer oor die Suid-Afrikaanse staat ingesluit het, versplinter en verwar en Afrikaners kon hulle nie meer, soos in die voorafgaande dakades, eenduidig daarop beroep nie. Diegene wat hierdie oorgang na ‘n nuwe bedeling as bedreiging en verlies beleef het en in antwoord daarop ou beelde van vryheid opgeroep het, is (soms tereg, maar soms nie) as reaksionêr beskou en het nie volle toegang tot die hoofstroomdiskoers in Suid-Afrika, selfs onder Afrikaners, verkry nie. Dit het vir meer as ‘n dekade ná die vreedsame oorgang van 1994 gegeld.

Intussen het heelwat egter verander – beide sover dit die nuwe Suid-Afrikaanse orde én Afrikaners se vryheidsbegrip aangaan. Die nuwe orde is só openlik en volledig deur transformasie, die tweede of “nasionaal-demokratiese” rewolusie en korrupsie gestempel dat die “bevryders” wat dit ingelei het, se “vryheidsmantel” nie sonder meer op hulle opvolgers se skouers geval het nie. Gevolglik het Afrikaners (en ander blankes) wat, ten spyte van hulle verbintenis tot ’n nuwe Suid-Afrikaanse orde, onder tallose rassediskriminasiemaatreëls deurgeloop het, nou nuwe ervarings van vryheid en die gebrek daaraan om te verreken.

Daarom is die Vryheidstigting van mening dat die diepgewortelde en ryke tradisie waarby die begrip vryheid aanknoop, onder ons huidige omstandighede opnuut toegeëien en ontgin moet word – nie asof ons die verlede daardeur wil of kan herstel nie, maar op ’n eietydse wyse wat die onlangse sowel as die verdere verlede ter sprake bring by die vrae na ’n volhoubare toekoms vir ons mense. Met ander woorde: by die oorweging van Afrikaners se billike behoefte aan sekerheid en welstand kan ons nie langer aanvaar dat die meesters van ‘n bedenklike magsorde soos in Suid-Afrika vandag ‘n monopolie op die gebruik van so ‘n gewigtige woord soos vryheid het nie. Inteendeel.

Agtergrond: 2019

Die verwagtings teen die agtergrond waarvan beplanning vir 2020 en verder gedoen moet word, kan nie anders nie as om met verval en verlies gedurende die afgelope jaar en meer rekening te hou. Dit gaan nie net om praktiese en funksionele agteruitgang nie – dit is immers nie nuut nie, dit gaan ook en veral om die vertrouensverlies wat daarmee saamhang, en die telleurgestelde verwagtings in wat veronderstel was om ‘n nuwe era ná die uitgerekte Zuma-fiasko te wees. Enkele willekeurige vooorbeelde illustreer die punt.

Die aanbieder van ‘n klassieke musiekprogram op die openbare uitsaaier wens sy luisteraars byvoorbeeld ‘n voorspoedige nuwejaar toe deur iets te sê soos “slegter as 2019 kan dit seker nie gaan nie.” Die regerende party se nuwejaarsverklaring word uit eie en simpatieke geledere as oninspirerend en gekompromitteerd beskryf, wat min hoop bied dat vertroue uit daardie oord herstel sal word. Die hoopgewendste opmerking in hierdie verband lui dat “Suid-Afrika se storie soos Wagner se musiek is: beter as wat dit klink!” Nie juis tekens dat optimisme vir 2020 nie aan die orde van die dag is nie.

Die voortgaande verval van basiese dienste en van die munisipaliteite wat dit moet lewer, van veiligheid en wetstoepassing, van infrastruktuur en openbare geriewe, van gesondheidsdienste en onderwysvoorsiening, waaroor daar deurlopend berig word, is genoeg om enige hoop op ‘n beter 2020 in die kiem te smoor. En as daar vroeg in 2019 nog die moontlikheid was dat ‘n nuwe president en kabinet die tendens sal omkeer, beloof binnegevegte in die regerende party vanjaar die teendeel terwyl ekonomiese groei van onder 1% eenvoudig nie die vermoë kan skep om ‘n vinnig groeiende bevolking se behoeftes aan te spreek nie.

Eskom en die beurtkrag waarmee die oujaar uitgegaan en die nuwejaar ingegaan is, kan as die groot metafoor van Suid-Afrika vandag dien. Aan die een kant het ‘n gebrek aan beplanning en onderhoud ‘n nasionale bate wat enkele dekades gelede nog die dryfkrag agter globaal kompeterende ontwikkeling en produksie was, tot op die rant van ineenstorting gevoer. Beurtkrag word teen astronomiese koste vir die ekonomie al meer gereeld en sonder duidelik aantoonbare oorsake toegepas. Ironies genoeg word dit met groot bekwaamheid en goeie bestuur uitgevoer om te voorkom dat die nasionale kragnetwerk in geheel ineenstort. Dis die soort storie wat beter is as wat dit klink – al help dit min om vertroue te herstel.

Die punt is dat alles nie meteens daarmee heen is nie en dat die afnemende gehalte en betroubaarheid van dienste ons in staat stel om alternatiewe te ontwikkel. Dat die staat – al sy dit onvrywillig – sy monopolie op kragopwekking en voorsiening prysgee, skep geleenthede vir gemeenskappe en ondernemers om aan daardie tekorte te voorsien. Dieselfde geld ook vir ander dienste en talle Afrikaners is reeds daarby betrokke. Dié geleenthede kom egter nie sonder uitdagings nie, want die regering is geneig om sy mislukte planne met meer ambisieuse eerder as meer uitvoerbare planne te vervang en om private alternatiewe as bedreiging en kompetisie te beskou eerder as voorbeelde en groeipunte van sukses wat gekoester moet word. Dink byvoorbeeld aan onderwys en nasionale gesondheidsorg.

Wonderbaarlik genoeg sien mens dat al meer Afrikaners nie deur hierdie verwikkelinge afgeskrik word nie, maar eerder aangespoor word. En die rede is eenvoudig: dat hulle al minder na die bron van moedeloosheid, die Suid-Afrikaanse staat, kyk vir uitkoms en hulle tot mekaar en hulle gemeenskapsorganisasies wend om oplossings te vind. Dit is asof die ou gees van “‘n boer maak ‘n plan” op lewensterreine waar dit vergete geraak het, herleef en ‘n bron van energie en van vrye en voortreflike handeling word.

Verwagtings vir 2020:

Omdat ons weet dat die onverwagse om elke hoek en draai wag om te gebeur, en dat die grootste verrassing soms is wanneer die verwagse gebeur, is hierdie nie ‘n poging om die jaar wat voorlê se gebeure te voorspel nie. Dit is eerder ‘n poging om tendense aan te stip en aan die hand daarvan voorbereid te wees op sowel die bevestiging as die afwyking daarvan. Belangrike gebeure kan uit ten minste drie oorde verwag word, naamlik die Suid-Afrikaanse staats- en openbare orde, Afrikaners se eie optrede en tersaaklike globale tendense. Daar kan baie kortliks na verwys word beginnende by Suid-Afrika as direkte konteks.

Eerstens kan van die Suid-Afrikaanse staats- en openbare orde in die algemeen “meer van dieselfde” as die afgelope paar jaar verwag word. Die moontlikheid dat pres Ramaphosa ‘n kultuurverandering in die ANC en regering teweeg sou bring, het tot dusver nie veel opgelewer nie en die sprake van ‘n leierskapuitdaging deur diegene met ‘n belang in die status qou kan hom verder neutraliseer. Drastiese optrede van sy kant is seker ook moontlik, al lyk dit nie in lyn met sy geaardheid nie, maar wat soos ‘n paal bo water staan, is dat die kragte van orde, eerlikheid en deursigtigheid nie gereed gestaan en wag het om deur ‘n nuwe president losgelaat te word nie. Die oënskynlike ywer waarmee hy steeds onteiening sonder vergoeding propageer, welwetend watter vernietigende uitwerking dit op beleggersvertroue het, kan as aanduiding dien dat die retoriek en gesindhede van owerheidsweë jeens Afrikaners meer eerder as minder druk op ons gaan plaas. 

Tweedens sal Afrikaners sekerlik steeds op uiteenlopende maniere op hierdie voortgesette uitdagings reageer, onder andere deur toenemende selfopgelegde ballingskap en emigrasie. Hoewel mens uit die oogpunt van persoonlike vryheid nie sonder begrip vir hierdie reaksie kan wees nie, is die werklikheid dat ons as kultuur- en politieke gemeenskap ‘n baie hoë prys daarvoor betaal. Nie alleen ontbeer ons die meestal voortreflike bydraes wat diegene tot die heil van hulle eie gemeenskap en samelewing kon lewer nie, maar baie dikwels verloor ons ook die nageslag van sulke gesinne. Terwyl hierdie verlies dalk die sterkste deur die betrokke gesinne en families gevoel word, is dit op die langtermyn ‘n verlies vir die volk wat baie moeilik weer herstel kan word. Mensemateriaal, maar ook opleiding en kultuur bly so in die slag en ons wil Afrikaners aanmoedig om lewensvatbare alternatiewe te oorweeg en te help daarstel.

Sulke alternatiewe lê in die rigting van meer praktiese selfstandigheid en meegaande ondernemerskap; sterker netwerkvorming en onderlinge ondersteuning op ekonomiese en ander terreine; toenemende konsolidasie van belange en gesinne soos in ankerdorpe waarheen Afrikaners reeds besig is om te migreer; en in beter verteenwoordiging danksy groter ooreenstemming oor sleutelsake soos onafhanklike onderwys, selfbeveiliging, selfsorg sover dit mediese en maatskaplike behoeftes aangaan, erfenisbewaring en geskiedenisbesef. Dit is dus duidelik dat Afrikaners met ‘n sterker sin vir vryheid optree en dat, namate sulke optrede met sukses bekroon word, die ervaring van sinergie sal toeneem. Een beskrywing van positiewe vryheid, naamlik om te ontdek dat ons saam kan regkry wat elkeen apart nie kan vermag nie, vind hierin duidelik uitdrukking.

Derdens is daar globale tendense wat die handhawing van eie identiteit bo ‘n globale, Engelstalige verbruikerskultuur verkies. Dit is uiteraard geen eenduidige beweging met ‘n enkele ideologie of program nie en al die rolspelers wat op identiteitshandhawing aanspraak maak, sal mekaar nie altyd ondersteun nie, maar die liberale hegemonie waarop die globalisme berus, word doeltreffend en oortuigend bevraagteken. Die aansluiting wat ons daarby vind, is nie bedoel om vyandig jeens indivuduele regte, demokrasie en die vrye mark te wees nie, dit is eerder bedoel om ‘n vrugbare samehang tussen die drie faktore én die eg menslike behoefte aan en strewe na gemeenskap te vind. Daarin knoop ons by ‘n ou en erkende tradisie van federalisme en subsidiariteit aan en poog ons om betekenisvolle erkenning aan die werklike verskeidenheid wat die mensdom kenmerk, te gee. En as sodanig is ons nie alleen nie – ook in Suid-Afrika en Afrika is daar mense en gemeenskappe wat die krag van verskeidenheid by wyse van erkenning wil ontsluit en in veelheid en samewerking eerder as geforseerde eenheid hulle vervulling sien.

Strategiese fokus vir 2020:

Teen die voorgaande agtergrond wil ons vyf baie uiteenlopende, maar uiters noodsaaklike terreine wys wat gedurende 2020 (en daarna) Afrikaners se aandag verdien. Al vyf staan ook regstreeks in verband met ons gemeenskap se uitlewing van vryheid en voortreflikheid. Hier word dit eintlik net aangemeld met die vooruitsig om elkeen verder uit te werk, ook in afwagting op stappe wat binne die verband van verskeie instellings ten aansien daarvan geneem word.

Die eerste en mees praktiese terrein is die volhoubare voorsiening van energie en die versekering van voedselsekerheid. Daar kan byvoorbeeld geen sprake van betekenisvolle deelname aan die vierde industriële rewolusie wees sonder hierdie eenvoudige, maar bedreigde sekerhede nie. Gegewe beskikbare tegnologie op die gebied is dit ondenkbaar dat een van die sonnigste streke ter wêreld met energietekorte moet worstel. Sonder om voor te gee dat die oplossing eenvoudig of maklik is, kan kleinskaalse en plaaslike energieoplossings ‘n aansienlike bydrae tot ons welstand lewer. Verder: naas kommersiële landbou wat die ruggraat van voedselvoorsiening vir ‘n oorwegend stedelike bevolking is, moet  nuwe tendense van selfvoorsiening, permakultuur en “stedelike landbou” ook aandag geniet.

Die tweede terrein wat aandag verdien het presies te doen met die menslike werklikheid dat daar dinge is wat ons apart nie kan regkry nie, maar saam kan vermag. Ons moet naamlik ons onderlinge netwerke, ons gesinne, families, verenigings, kerke, skole, en wat meer versterk en deur sulke instellings aansluiting by mekaar eerder as uitsluiting van mekaar soek. So ‘n gesofistikeerde samehang vereis geduld met onderlinge verskille en maak voorsiening vir nouer en losser samehang van identiteite, sodat een persoon byvoorbeeld binne die verbande van etniese Afrikaners, Afrikaanstaliges en veeltalige Christene kan funksioneer. Teen hierdie agtergrond is dit na ons mening veral die netwerke van etniese Afrikaners wat ondersteuning verdien. Waarom etniese identiteit hier beklemtoon word, sal ook verdere aandag geniet.

Die derde terrein, wat by interne netwerkvorming aansluit, is die van eksterne netwerke, van vriende en bondgenote in ander gemeenskappe en plekke as ons eie – in Suid-Afrika, Afrika en elders in die wêreld. Die politiek van erkenning, waarop ons begrip van vryheid ook berus, kan per definisie nie in isolasie funksioneer nie. Maar nie net uit noodsaak nie, ook vanuit liefde vir die geheel en waardering vir die verskeidenheid soek selfversekerde kultuurgemeenskappe ander wat met soortgelyke uitdagings as hulleself gekonfronteer word op, selfs al lei dit soms tot onwaarskynlike verbintenisse. Hoewel klein volke dikwels van afsydigheid beskuldig word, is dit eintlik groot volke wat nie van hulle eie afsydigheid bewus is nie, wat hulle daaraan skuldig maak en in die proses klein volke se belange en regte vertrap. Klein volke is op mekaar aangewese om hulle teen die groot magte te beskerm wanneer hulle belange daarmee in botsing kom. Vriendskap en bondgenootkap het dus beide ‘n praktiese, strategiese kant én ‘n eksistensiële kant en ons moet beide ontgin.

Die vierde terrein waarop daar onverpoosd gewerk word en wat alle moontlike deelname en ondersteuning verdien, is leierskapontwikkeling. Daarby word nie bloot na opleiding in leierskapvaardighede deur ‘n selfbeskermende elite verwys nie, maar na die opvoeding en vorming van jongmense oor ‘n breë front volgens hulle belangstellings en vermoëns. Daarom is onderwys, veral hoër onderwys hierby ter sprake en moet, naas die bestuursvaardighede wat leierskap veronderstel, ook die denkvaardighede wat leierskap vereis, genoeg aandag geniet. Terwyl daar reeds waardevolle werk op die terrein gedoen word, moet rolspelers aangemoedig en bygestaan word om in onderlinge samehang op te tree.

Die vyfde terrein loop die risiko om tot prekerigheid te lei, daarom sal dit bykans net vermeld word. Dit kan egter nie verswyg word nie, want alhoewel dit nie tipies tot die wêreld van “strategie” behoort nie, behoort betekenisvolle strategie daaruit te put. Afrikaners se sin vir roeping en geloof, ons verbintenis met ons tradisie en geskiedenis en ons gehegdheid aan gesin, familie en herkoms moet gekoester en versterk word. Sonder hierdie fondamente kan ons dalk hoë torings bou, maar sal hulle maklik weer omval. Die bevordering van diepgang moet na ons oordeel onder die huidige, uitdagende omstandighede strategiese prioriteit geniet.

As ons as georganiseerde kultuurgemeenskap gedurende 2020 op hierdie vyf terreine sigbare vordering maak, sal Afrikaners se ervaring van vryheid-in-praktyk daadwerklik toeneem, selfs al vind dit nog nie op politieke of staatkundige terrein neerslag nie. Vordering met vryheid op dié terreine sal eers vordering met vryheid op ander terreine vereis.