Inspraak, konstitusie en Konstitusie

Boereduputasie na Kruger. (Oorspronklike skildery deur J Wichgraf)

Prof. Koos Malan se nuwe boek, There is no supreme Constitution, is sekerlik een van die belangrikste stukkies leeswerk oor die afgelope jare. Ek k lees tans daaraan en het ook ‘n bekendstelling bygewoon, waar hy sekere aspekte uitgelig het.

Dis veels te vroeg om met ‘n boekbespreking vorendag te kom, maar ek het een nuwe begrip aangeleer: Daar is ‘n verskil tussen “konstitusie” met ‘n kleinletter en “Konstitusie” met ‘n hoofletter. Met ‘n kleinletter beskryf dit hoe die politieke mag van ‘n staat/plek inmekaarsteek; om dit in Engels te stel, “how it is constituted”. Met ‘n hoofletter is dit die grondwet, wat poog om die konstitusie waarop op ‘n bepaalde tyd ooreengekom is, permanensie te gee.

Deel van enige konstitusie en Konstitusie is die hantering van teenstellende standpunte en groeperings wat daar rondom ontstaan.

Hantering van verskil

In die ou Boererepublieke was daar verskeie presidentskandidate en in elke kiesafdeling het kandidate aangedui wie hulle as president sou ondersteun. Geen formele partye het egter bestaan nie. Daar was wel Volksrade waarin heftig gedebatteer is en van dié debatte is rekord gehou.

Die Britse parlementêre stelsel, wat Suid-Afrika in 1910 geërf het en waarvan baie elemente in die huidige bedeling voortbestaan, is eintlik makgemaakte oorlog. Parlementslede word as lede van kompeterende partye verkies en die grootste een (mits dit ‘n volstrekte meerderheid kry) regeer. Opponerende partye ontmoet mekaar in die parlement, waar alles volgens partye se grootte gereël word, van kantoorruimte tot spreektyd. Strategie en taktiek word gebruik om mekaar se leemtes uit te wys, skade aan te doen, soms selfs saam te werk, alles om met die volgende verkiesing (oorlog) beter te vaar.

Tradisionele regering in Afrika werk anders. Wanneer regeringsake bespreek word, kom al die mans byeen en gee vryelik hulle menings. Wanneer die stamhoof oordeel dat die saak behoorlik deurgetrap is, gee hy sy “uitspraak”. As dit ‘n goeie uitspraak is, voel elke deelnemer dat sy eie standpunt ook daarin vervat is. Dit is dus nie die stamhoof wat sy eie mening afdwing nie, dis die stam se gesamentlike mening wat hy in woorde vasvat. Iemand wat dáárteen standpunt inneem, ag sy eie insig as hoër as dié van die stam en vesrteur die harmonie – en behoort gestraf te word. Daardie konstitusie maak nie werklik vir opposisie voorsiening nie, almal is dan een! 

Besigheid is nog ‘n terrein waar ‘n groot groep mense dikwels saam moet besluit, hoewel hulle glad nie ooreen kan kom nie. As dit daarop aankom, stem hulle, net soos in die politiek. Maar die eenheid wat stem is nie ‘n burger nie, maar ‘n aandeel. Dat ‘n minderheid aandeelhouers bo kan uitkom omdat hulle die meerderheid aandele het, is niks snaaks nie. Die maatskappywet en statute waarvolgens ‘n maatskappy bestuur word is daarop gemik om bestuur moontlik te maak en belange wat in die besigheid gestort is, te beskerm. As die direksie verkies en die bestuur aangestel is, is daar nie ‘n deurlopende platform vir opponerende aandeelhouers om hulle perspektiewe te debatteer nie.

Die huidige konstitusie van Orania

Dit bring my by die konstitusie van Orania. Orania is uit ‘n aantal regspersone saamgestel: Een aandeleblokmaatskappy (verreweg die grootste komponent van Orania, VAB) een eienaarsvereniging (Vluytjeskraal 272), een trust (Vluytjeskraal Noord) en een koöperasie wat binne, sowel as buite, die ander regspersone grond besit (Kambro). Die Orania Verteenwoordigende Raad het erkenning binne die Suid-Afrikaanse konstitusie, maar het geen belastingbasis of begroting nie en prakties baie beperkte mag.

Die gevolg is dat Orania se politieke proses hom in die handelsreg afspeel, grotendeels binne VAB. Om dit taamlik kras te stel, VAB se statute is geskryf om diegene wat in beheer is, in beheer te hou – soos dit algemeen in besighede die geval is.

Om dit anders te stel, Orania se konstitusie maak nie vir opposisie voorsiening nie. Opponerende aandeelhouers wat hulleself probeer mobiliseer, kom teen ‘n strukturele oormag te staan. Verder is daar oor jare ‘n kultuur gevestig dat opposisie nie ‘n erkende (hoewel dalk irriterende) deel van die konstitusie is nie. Dit word eerder as dislojaliteit gereken en so behandel.

Verskil, konflik en opposisie

Daar is ‘n vraag wat in Orania bespreek behoort te word, en tog gebeur dit nie: Hoekom is daar al om die drie of vier jaar ‘n opwelling van onredelike verset; en hoekom kry dit telkens genoeg steun om ‘n hele teenveldtog te verg?

Die antwoord is, na my mening, dat die rol van opposisie nie in die konstitusie van Orania erken word nie. En anders as in tradisionele Afrikaverband, word besluite nié geneem na omvattende deelname, sodat elkeen iets van sy eie mening in die resultaat herken nie.

Die huidige “ontbondeling” is ‘n gulde geleentheid om Orania se konstitusie grondig te hersien. As die waarde van opposisie raakgesien en ingesluit word, kan die destruktiewe episodes wat so gereeld as klokslag herhaal (al is dit telkens oor verskillende sake) positief gekanaliseer word.

Dit sal natuurlik vereis dat maghebbers binne Orania verstaan dat hulle deur lojale Oraniërs uitgedaag en geopponeer kan word. Dat elke teenstand nie as ‘n aanslag op die bestaan van ons gemeenskap gereken word nie.

Orania bied homself aan as die vrugbeginsel van hernude Afrikanervryheid. Vir vryheid is erkenning van en voorsiening vir opposisie ‘n noodsaaklike deel van die konstitusie. Anders kan ons maklik ‘n afspraak met die toekoms mis. Ons, Orania, maar ook ons, Afrikaners.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui