HF Verwoerd: “Man van die volk”

Vier en veertigste HF Verwoerdgedenklesing

26 Oktober 2019

Hendrik Verwoerd (seun)

Inleiding

Ek sluit aan by iets wat waarskynlik nie so bedoel was nie, maar in die terloopsheid daarvan die wesenlike van die mens, dr Hendrik Verwoerd, op nogal ‘n treffende wyse na vore gebring het en wat ek hoop om in my praatjie te illustreer met persoonlike herinneringe uit die tyd wat ek as kind in die Verwoerdhuis en –gesin beleef het. Dis dus ‘n poging om nie bloot te herhaal wat al tevore geskryf is of andersinds beskikbaar is en enigeen met vrug kan gaan opdiep nie.

Agtergrond

U moet dus nie ‘n diepsinnige, akademiese lesing verwag nie. Daarvoor het SABRA, AVSTIG en EPOG deur die jare gesorg met hoogstaande akademiese bydraes in die gedenklesings van die vorige jare deur uitmuntende geleerdes en betroubare medewerkers van Dr Verwoerd, asook die meer persoonlike herinneringe van familielede en my broers. As derde  jongste van ons gesin besef ek dat ek een van die min oorgeblewenes is wat nog oor die intieme ervaring van ‘n kind in die huis een en ander kan vertel.  En met die deeglike wete dat tyd nie vir ‘n mens wag nie, het ek ingestem tot hierdie taak waarvoor ek nie bekwaam voel nie, maar dit eerder nou moet doen voor dit te laat is.

My ervaring is dus maar beperk: Net dié van ‘n baba in 1940 tot ‘n jong, onervare 26jarige toe my pa in 1966 dood is.

Groot is die voorreg dat ek vir die eerste agt jaar van my volwasse lewe – juis die dinamiese agt jaar van sy Eersteministerskap – van huis uit kon beleef. Eintlik ‘n kort tydjie van ‘n mens se lewe, maar dit voel soos ‘n leeftyd, want natuurlik is dit voorafgegaan deur ‘n deurslaggewende tydperk in ons volksgeskiedenis wat ek en my twee jonger broers as opgroeiende kinders meegemaak het. Seker dikwels sonder begrip van die betekenis daarvan, aan die anderkant onvermydelik meegesleur  en met al groter begrip soos ons ouer geword het.

Die twee gelyklopende karaktertrekke wat rigting en kleur dwarsdeur  sy lewe gegee het

Dit bring my by die treffende karakterisering van Dr Verwoerd wat spontaan kort na sy dood na vore gekom het in die bekende foto-album van sy lewe deur Pieter Grobbelaar geskryf en saamgestel en gepubliseer is deur Human en Rousseau.

As titel van die biografiese album is gekies: “Man van die Volk.” So deel van die Afrikanervolk was Dr Verwoerd en so duidelik was sy hele lewe gewy aan die strewes en waardes en dieper ideale van onafhanklikheid in ‘n eie Republiek vir sy volk dat dit reg was om hom te noem: Man van die Volk.

Maar toe besluit is om die gedenkalbum ook in Engels uit te gee, is daar tereg besluit om die titel nie te vertaal nie. Vir die wêreld buite sy Afrikanervolk was dit nie die karaktertrek wat hulle soseer beïndruk het nie. Die Engelse titel “This was a Man” bring daarmee kort en kragtig na vore Dr Verwoerd se ander groot karaktereienskap wat sy lewe gekenmerk het: dat hy ‘n man van durf en daad was wat onverskrokke deurgevoer het waarin hy geglo het.

Die feit dat die twee boeke verskillende titels gehad het maar presies dieselfde inhoud het, is veelbetekenend. Hierdie twee eienskappe was deurgaans in sy lewe gelyktydig teenwoordig, en so onthou ek hom ook en wil in hierdie praatjie probeer aandui hoedat dit in praktyk deur sy hele lewe sigbaar was. Hy het die merkwaardige vermoë gehad om altyd reg te laat geskied aan albei hierdie twee groot eienskappe van sy persoonlikheid.

So gee dit ook ‘n betekenisvolle struktuur aan ‘n gedenk-geleentheid soos hierdie.

Waarde van hierdie herdenking na meer as 50 jaar

Want ‘n mens behoort jouself af te vra watter sin het dit dat daar uit die volk mense was wat vir 50 jaar lank ná ‘n leier se dood die behoefte gehad het om hom elke jaar te gedenk.

Ons het tog ook ander gedenkwaardige leiers gehad en nie almal word so in herinnering geroep nie. As dit iemand dan wel te beurt val,  moet dit wees omdat ‘n mens na 50 jaar nog iets met jou kan meeneem uit so ‘n leier se lewe wat nog vir vandag waardevol is.

Ek gaan probeer om aan te dui wat ons vandag nog kan meeneem uit Dr Verwoerd se lewe wat hom vir ons nog ter sake maak en wat ons kan gebruik op die pad vorentoe vir die volgende 50 jaar.

Die lang aanloop wat tot die hoogtepunt van sy lewe gelei het

Hoewel my persoonlike herinnerings net aan die laaste sowat 20 jaar van sy lewe gekoppel is, kan ek nie anders as om tog aandag te gee aan dit wat uit ander bronne en vertellings vir ons ‘n idee gee van wat bygedra het tot die vorming van sy karaktertrekke van sy geboorte af nie.

Dit is duidelik dat sy ouerhuis ‘n deurslaggewende rol gespeel het in sy denke en optredes En hoe dit van die begin af hom gevorm het as volksman en as ‘n man wat sy man kon staan in moeilike omstandighede.

Sy pa , en ons stamvader in Suid-Afrika, Wilhelm Johannes Verwoerd, was self ‘n merkwaardige man. Hy het ‘n drastiese besluit geneem toe hy in 1902 sy vaderland, Nederland, verlaat het, duidelik sonder enige gedagte om ooit weer daarheen terug te keer.

Dit was ook verseker nie ‘n impulsiewe besluit nie. Die feit dat hy die uitdaging aanvaar het, as jongman saam met sy vrou en twee kinders, die jongste waarvan net enkele maande oud, getuig van ‘n diepe oortuiging. Ons weet wel dat hy diep geroer was deur die lot van die Boerevolk in ‘n ongelyke stryd teen die Engelse Imperiale ryk en dat hy dit as ‘n roeping ervaar het om na die verre Suid-Afrika te gaan en die Boere te kom ondersteun. In Holland was daar ‘n sterk gevoel dat die Boerevolk ‘n broedervolk was.

Hy het dus sy koms hierheen gesien as ‘n verlengstuk van sy eie volk en dus was dit geen prysgawe van sy eie ter wille van vreemdes nie. Van die begin af het hy hom nie laat insleep nie by die Engelse oorwinnaar wat die gesag gevoer het toe hy in Kaapstad aangeland het sonder familie of vriende. Hy het doel-bewus en deurdag gesoek daarna om kontak te maak met Afrikaners terwyl hy ook moes planne maak om vir sy gesin te sorg. Hy het hom as bekwame bouer bewys en so ‘n onafhanklike bestaan gemaak.

Dis belangrik, want in hierdie ouerhuis het Hendrik sy verstand gekry. Hy is vroeg in ‘n Lutherse skool in Wynberg geplaas omdat sy pa , Wilhelm , hom nie in ‘n Engelse skool wou plaas nie.  So was sy volksgevoel van huis uit onvoorwaardelik ‘n Afrikanerbasis. Dit verklaar ook hoe dat hy van kleins af as Man van die Volk gevorm is.

Gesprekke in hulle gesin oor sy pa se besluite het sekerlik sy keuse om Afrikaner te wees, beklemtoon. So ook die geestelike roeping van Pa Wilhelm wat sy koms na S.A. vergesel het om sendingwerk te kom doen.

Na enkele jare kon hy hieraan voldoen toe hy met moeite toelating verkry het om teologiese opleiding te kry in die N.G. Kerk se sendingkollege te Wellington. Deur ‘n besondere sameloop van omstandighede word aan Pa Wilhelm die geleentheid gebied om die Afrikanergemeente in Bulowayo in die Engelse Rhodesie as “oefenaar” of hulpprediker te gaan bedien omdat geen gelegitimeerde predikant beskikbaar was nie.

Sy verblyf in Bulawayo

Selfs daar kan ‘n mens aflei dat Pa Wilhelm se invloed om deel te bly van die Afrikanervolk sterk was en dit ten spyte daarvan dat die kinders toe wel in die imperialistiese Engelse hoërskool moes onderwys ontvang. Dat Hendrik toe al as tienderjarige hom onherroeplik aan die Afrikanervolk verbind gevoel het, is dus merkwaardig en kan eintlik net aan sy ouers se stewige opvoeding te danke wees.

Die bewys daarvan sou op ‘n opspraakwekkende wyse gelewer word met ‘n voorval by die Milton Boy’s High wat een van die vertellings is wat ek onthou wat my Pa Hendrik later jare geamuseerd aan ons vertel het, soos hy ook aan verskeie mense gedoen het.  Op daardie stadium in sy skoolloopbaan het hy hom as uiters begaafd bewys om deur sy akademiese prestasies die Engelse aan hulle eie skool uit te stof.  Aan hom is, volgens hulle, die eer aangedoen om die gesogte Oxford-beurs te ontvang. Op daardie manier het die Engelse die beste studente uit hulle kolonies gelok om aan hulle ‘n deeglike imperiale opleiding te gee.

Dat iemand so ‘n geweldige eer van die hand kon wys, was ondenkbaar! Tog het die seun, Hendrik, die vaste oortuiging gehad dat so ‘n onderwysopvoeding direk sou indruis teen sy Afrikanervolksbelange. Vir ‘n seun in daardie tyd en veral binne die Engelse waardestelsel om allleen na ‘n skoolhoof te gaan en hom te konfronteer met die weiering om die beurs te ontvang, kan ‘n mens jou voorstel, het mannemoed geverg. ’n Mens kan aanvaar dat hy sy ouers se volle goedkeuring, dalk selfs aanmoediging gehad het, want hy het nooit iets laat val dat hulle ongelukkig was daaroor nie en sy latere lewe en die wyse waarop hy altyd met sy pa ‘n noue verhouding van wedersydse vertroue gehandhaaf het, oortuig my dat hy so iets drasties nie sonder sy medewete sou gedoen het nie.

Hy het dus sy saak aan die skoolhoof gaan verduidelik en dit sou sekerlik karaktergetrou van hom gewees het, soos ek hom ook al die jare geken het, dat hy dit op beleefde maar reguit manier die beurs van die hand gewys het; dat hy reeds besluit het om aan die Universiteit van Stellenbosch verder te studeer. Ek dink hy het nie die verbete reaksie verwag wat hom te beurt geval het nie – toe die hoof woedend gereageer het en hom met ‘n “You bloody Boer!” en ‘n skop op sy sitvlak die kantoor uitgejaag het.

Op hierdie jong ouderdom moes die optrede van die Engelsman sekerlik bygedra het tot sy vasbeslotenheid om sy eie taal, Afrikaans, telkens teenoor die venynige Engelse uit te bou. Ek glo dat hierdie hele ervaring bewys dat hy reeds as kind die karaktertrekke toon wat deur sy hele lewe so ‘n sleutelrol gespeel het.

Sy volksverbondenheid aan die Afrikanervolk, onbeskaamd “Man van die Volk”. En dat hy sy man gestaan het in die moeilikste omstandighede, onverskrokke! ‘n Man wat sy man kan staan. Dit wat die Engelse titel van sy Fotobiografie so gepas verwoord met “This was a Man”. Daarmee is saamgevat hoe buitestaanders, wit en swart hom gesien het en ervaar het wat hulle in hom bewonder het, soms wrewelrig beskryf het as Man van Graniet.

Hierdie twee eienskappe het nooit los van mekaar gefunk-sioneer nie, maar was altyd natuurlik en selfs vanselfsprekend inmekaargevleg – nooit teenstrydig of uiteenlopend nie, maar twee aanvullende en mekaar-ondersteunende lewensbeginsels wat ‘n gebalanseerde en doelgerigte koers aan sy lewe gegee het. Telkens kon ‘n mens dit waarneem in sy lewe. Ek gaan nou verder dit uitwys in spesifieke gebeure wat ek in herinnering wil roep en hier en daar selfs deur klein belewenisse illustreer. Hierdie insidente in sigself onbelangrik, maar binne dié raamwerk tog veelseggend.

Daar was sy besluit as jongman om na Stellenbosch te gaan – daardie tyd die bakermat van Afrikanerskap – om as predikant opgelei te word.

Dit het uitgeloop op ‘n toets vir sy integriteit deur ‘n direkte botsing met die kerkowerheid wat toelating tot die kweekskool moes gee. Elke kandidaat moes aansoekvorms voorlê waaronder getel het ‘n getuigskrif van sy predikant. Sy standpunt was dat hy die nodigheid van ‘n getuigskrif insien, maar dat hy glo dit moet ‘n betroubare getuigskrif wees wat die kommissie ‘n ware weergawe sou kon gee van sy geestelike lewe.

Hy het aan hulle verduidelik dat sy omstandighede uitsonderlik was aangesien hulle onlangs uit Bulowayo in Brandfort aangekom het. Hulle kon dus nog nie by ‘n gemeente inskakel wat hom goed genoeg geken het om ‘n betroubare getuigskrif te gee nie. In hierdie omstandighede meen hy dat om aan die bedoeling van so ‘n getuigskrif te voldoen, die eerlikste moontlikheid sou wees om ‘n medestudent wat hom goed ken en elke dag sy doen en late sien, vir ‘n getuigskrif te vra en die getuigskrif lê hy aan hulle voor. 

Hulle aanvaar dit nie omdat hulle meen dis teen die voorskrifte van die kerk. Hy moet dus ‘n getuigskrif bring van ‘n predikant. Vir hom kom dit neer op oneerlike gewetensdwang en hy kan nie sy bediening aan die kerk grond op ‘n oneerbare optrede nie. Hy sê dus dat hy sy aansoek terugtrek, en besluit om hom toe te wy aan vakke waarmee hy nuttige diens kan lewer met ‘n skoon gewete.

Sy universiteitsloopbaan

So beland hy op ‘n heel ander lewensbaan waar hy hom voluit aan sy volksideale kan toewy. Hy word ‘n uitgesproke stryder vir Afrikaans wat gou ‘n besondere bydrae lewer toe hy van die eerste studente word wat sy doktorale verhandeling in Afrikaans voltooi. Hierdie deel wees van ‘n verarmde volk wat moet stry vir erkenning, wys dus weer dat hy van die begin af Man van die Volk was.

So ‘n sterk volksverband word die beste gekweek deur ‘n gesonde en vaste gesinslewe. Ek het reeds verwys na die noue gesinsverhouding wat Dr Verwoerd in sy kinderlewe gehad het en dit vind ‘n mens as ‘n goue draad deur sy hele lewe. So het sy bou aan ‘n eie gesin reeds in sy studentejare begin toe hy Betsie Schoombee ontmoet het en dit ‘n onverbreekbare, lewenslange, hegte verbintenis geword het. Hulle sou altyd alles saam doen. Hulle lewe saam het op ‘n ongewone manier begin.

Sy akademiese belangstelling het  begin met ondersoek na wat prakties nodig was om sy veronregte volk weer selfvertroue te gee en te help werk aan ‘n vooruitstrewende toekoms. Daarvoor wou hy hom deeglik bekwaam en het besluit om homself ook goed op hoogte te kry van internasionale denke. Dit het hom na Duitsland laat vertrek. Gou het hy egter besef dat sy toekomstige vrou daaraan deel moet hê en hulle twee het besluit dat die wegwees van mekaar in die vreemde nie goed sou wees nie. Daarom doen hulle toe die ongewone ding om Betsie na Duitsland te laat gaan waar hulle kon trou in ‘n intieme seremonie met net intieme studentevriende as gaste en getuies en weens die praktiese omstandighede, sonder hulle ouers. Dit was tekenend van sy beskouing dat dit om die inhoud van dinge gaan en nie die uiterlike fieterjasies nie – die huwelik was die belangrike, nie die feestelikhede nie.

Daardeur het hulle gesinslewe ‘n belangrike begin gehad en het hulle kosbare herinneringe van hulle tydperk daar gehad waarvan hulle graag vir ons kinders van vertel het. Soos wanneer my pa my Ma se siel wou uittrek deur te sê dis sy wat nie kon wag nie en agter hom aangehardloop het Duitsland toe! Ná hulle terugkeer in Suid-Afrika het sy gesinsman- en volksmankarakter, wat altyd gelyktydig in sy lewe ‘n rol gespeel het, na vore gekom.

Baie vroeg in hulle getroude lewe het hulle ‘n pynlike ervaring deurgemaak wat hulle so goed en gelowig verwerk het dat hulle byna nooit daarvan gepraat het nie. Ek onthou die eerste keer dat ek daarvan gehoor het, toe ek omtrent 12 jaar oud was en ons vir die parlementsitting in die Kaap was. Ek was saam met my ma in die motor in Voortrekkerweg, Belville. Toe ons verby die groot Woltemade Begraafplaas verby ry, sê my ma dat daar die graffie lê van hulle eerste kindjie. Hulle eerste seuntjie het net na geboorte ‘n ernstige probleem in sy bloedsomloop gehad,volgens daardie tyd ‘n probleem van botsende bloedgroepe en die medici kon sy lewe nie red nie. ‘n Traumatiese ervaring vir twee jongmense wat hulle aanvaar het as ‘n voldonge feit en dat hulle daarvandaan eenvoudig die toekoms met geloof moet ingaan.  Daarna was hulle egter bedeel met ‘n gesonde gesin van vyf seuns en twee dogters wat hulle deur die jare met die grootste sorg en liefde grootgemaak het en elkeen op sy lewenspad gehelp het.

Ek onthou dat hy aan my gesê het hy weet nie of hy ooit aan ons ‘n geldelike erflating sou kon gee nie, maar hy het hom voorgeneem om aan elkeen van sy kinders ‘n volle universiteitsloopbaan as sy erfporsie te gee sodat elkeen sonder skuld ‘n beroepslewe kon binnegaan. So sterk het hy daaraan geglo dat ‘n pa self vir sy kinders moet sorg so ver hy kan – dat hy nie wou hê ons moes vir beurse aansoek doen nie. Sy beskouing was dat beurse bedoel was vir die mense wat eenvoudig nie universiteitsopleiding kon bekostig nie. Dus was ons sewe kinders bevoorreg dat hy dié voorneme kon nakom.

Sy toetrede tot die politiek

Dit was natuurlik in die tyd toe die wêreldwye depressie aangebreek het en die reeds erg gefolterde Afrikaner na die Tweede Vryheidsoorlog en die Eerste Wereldoorlog in ‘n bestaanskrisis gedompel was. As Man van die Daad het dr Verwoerd in hierdie tyd na vore getree as ‘n besielende pleitbesorger vir sy volk wie se toestand beskryf was as die Armblanke vraagstuk. ’n Groot deel van die Afrikaner het in die grootste armoede verval. Saam met ander bekende leiers het hulle die groot volkskongres oor die armblanke vraagstuk gehou en het hy die leiding geneem om te sorg dat daarna praktiese stappe geneem word om die volk op te hef.

In gesprekke het hy later vir ons as kinders verduidelik hoe hy die saak gesien het. Deur die kongres het dit vir hom duidelik geword dat die omvang van die volk se verval so geweldig was dat die hulp van kerke en ander organisasies net nie genoegsaam was om ‘n wesenlik verskil te maak nie. Dit het hom almeer oortuig dat die Afrikaner ‘n werklik eie regering nodig het wat met al die staatsmiddele tot sy beskikking ‘n deeglik beplande aksie moet loods wat ‘n blywende antwoord op die volk se nood behels.

By die regering van die dag, na die samesmelting van die NP van genl Hertzog en die SAP van genl Smuts het so ‘n visie ontbreek aangesien Genl Smuts die Afrikanerbelange ondergeskik geag het teenoor sy oorkoepelende ideaal van die magtige Britse Ryk. Hy het vir hulle ‘n waardevolle bondgenoot geword, gevlei om deel van hulle binnekring te wees. Genl Hertzog weer wou nie die brose samewerking binne die Verenigde party in gevaar stel nie en verloor so sy vuur vir die Afrikanersaak. Die inisiatief vir die Afrikanersaak het heeltemal oorgegaan na dr Malan en adv Strydom en daarby het dr Verwoerd reeds toe al homself hartlik geskaar.

In gesprekke met ons het my pa wel gesê dat hulle tog daarin geslaag het om die Hertzog regering te oorreed om ‘n Departement van Volkswelsyn te skep. Op ander terreine soos met die Spoorweë en Yskor is groot vordering gemaak en so is vir duisende Afrikaners eerbare werksgeleenthede geskep. In hierdie geselskap was hy voortdurend Man van die Volk.

As Man van die Daad het hy sterk na vore getree met waagmoed soos min: dr Malan en mnr Strydom het hom genader om redakteur van ‘n nuwe Afrikaanse koerant te word. Daarmee sou hulle die Afrikaners in Transvaal inspireer vir die Afrikkanersaak en uiteindelik ‘n Afrikaner Republiek. Dit was ‘n ingrypende besluit: Hy moes ‘n suksesvolle akademiese loopbaan met die stabiliteit van ‘n professorskap verruil vir ‘n onsekere politieke loopbaan wat uit feitlik niks opgebou moes word nie, en met vrou en kinders en verhuis na Transvaal wat hy nie geken het nie.

Hy was nie gedryf deur persoonlike ambisie nie. Aan ons kinders het hy meermale voorgehou dat sy besluite gedryf was deur hoe hy sy talente ten beste kon gebruik om die ideale waarin hy geglo het te bevorder. Wat hy vir ons gesê het was dat ‘n mens nie moet strewe daarna om ‘n hoë posisie te bereik en daardeur geëer word nie, want so ‘n ambisie verval gewoonlik in selfsugtige en egosentriese lewe en ‘n misbruik van mag.

‘n Mens moet dus nie gedryf word deur die begeerte om altyd beter as ander te wees nie. Watter werk of geleentheid op jou pad kom moet jy vasgryp om tot die beste van jou vermoë al jou talente daaraan te wy. Jou eerste werk moet jy aanpak asof jy dit vir die res van jou lewe gaan doen. As omstandighede dus verander dat jy geroep word na ‘n nuwe werk, moet jou benadering dieselfde wees – jy moet jou alles gee asof dit die taak is vir die res van jou lewe.

Hierdie soort lewensbeginsels het hy nie aan ons by wyse van sedepreke geleer nie. Dit was so prakties bewys in hulle eie lewe as ouers, dat dit vir ons vanselfsprekend geword het. Soms het my pa wel ‘n situasie gebruik om so half ongemerk vir ons lewenslesse te leer. Toe ek so ongeveer tien jaar oud was, het so ‘n geleentheid opgeduik wat my tot vandag toe helder bybly.

Ons het in Johannesburg in Onderparkrylaan 17 in Parksig gewoon toe hy as senator in die Parlement gedien het. Ek en hy het een aand saam in die badkamer hande gewas voor ete, toe hy so terloops sê: Jou pa gaan dalk ‘n minister word. Ek het waarskynlik net gesê O! Ek het toe darem al meer begin kennis neem van die politieke wêreld maar nie mooi geweet wat ‘n minister is nie, behalwe dat dit seker belangrik was, anders sou hy dit nie so vertroulik vir my gesê het nie. Sy hele houding was egter beskeie met ‘n atmosfeer van “moet dit nie kop toe vat nie.”

Die volgende dag kom ‘n goeie maat van my, Heinie Luttig, opgewonde na my en sê: “Jou pa gaan minister word!” Sy pa was dr Hendrik Luttig met wie my ouers huisvriende was en wat ook deel van die Afrikaner-leiergroep in Johannesburg was. Gedagtig aan die vorige aand voel ek dadelik ek moenie hieroor hoogmoedig word nie en sê: “Ag nee wat!” Hy sê ,”Ja ek wed jou!” Ek sê, ”Ag man, dit sal nie gebeur nie” en hy antwoord drifting “Ek wed jou vir ‘n tiekie hy gaan!” Ek is ook nie links nie en sê “Goed, ek wed jou ook vir ‘n tiekie hy gaan nie!”

Daardie aand sê Pa met so ‘n skalkse glimlag, ”En toe jong, ek hoor jy skuld vir Heinie ‘n tiekie” Hy vroetel in sy sak, gee my ‘n tiekie. “Ek sal jou maar help, gaan betaal jou skuld aan Heinie.” So het hy ewe terloops goedkeuring gegee aan my gebaar van beskeidenheid en ‘n lewensles vasgelê beter as wat woorde dit sou kon doen.

Gedurende ons grootwordjare het hy dit by ons ingeskerp: ons moes nooit by hom kom spog oor prestasies nie. Om die waarheid te sê hy het ons nooit aangemoedig om beter as ander te presteer nie of bv. eerste in die klas te staan nie. Hy wou net weet of jy jou bes gedoen het. As hy ons skoolrapporte deurgaan sou hy van jou swakker resultate vra, is dit die beste waartoe jy in staat is? So nie moet jy jou plig volgende keer beter doen. “As dit wel jou beste is, is ek tevrede. Ek wil nie hê julle moet die bestes in enigiets wees nie. Dit sal vir my genoeg wees as julle almal julle plek in die samelewing kan volstaan deur pligsgetroue, harde werk.”

‘n Aandoenlike oomblik wat die opregtheid van hierdie lewensbeskouing vir my die mooiste illustreer, het ek eers na sy dood van my ma gehoor. Nie lank na sy dood nie, het ons in ‘n intieme gesprek ‘n terugblik oor sy lewe bespreek. Sy sê toe hoe merkwaardig dit in terugskoue vir haar was om ‘n gesprek te onthou wat hulle twee in Groote Schuur gehad het, enkele weke voor sy dood, waarin hulle gesels het oor hoe geseënd hulle lewe tot op daardie stadium was.

Met ‘n uitdrukking van volle genoegdoening sê hy dat as hy nou moet sterf, hy dit met gerustheid sal aanvaar, want wat hulle gesin betref het hy tevredenheid dat elkeen van hulle kinders reeds ‘n vaste rigting het waarmee hulle selfstandig kan voortgaan en nie meer van hom afhanklik was nie. Ook wat sy volk betref het hy die oortuiging dat hulle op ‘n vaste pad is. Die Republiek was toe reeds vyf jaar oud en op ‘n hoogtepunt. So het Dr Verwoerd weereens sy gesin en volk as een saak gesien – die man van die gesin was vanselfsprekend ook die man van die volk.

Selfs vir so ‘n nugter politieke denker soos hy was die veranderinge van die volgende 50 jaar ondenkbaar. Vir ons vandag is daar ‘n sekere bemoediging in die feit dat ‘n skynbare onveranderlike politieke situasie vorentoe tog vir die Afrikaner kan verander: nie terug na wat was nie, maar in wese steeds na die vryheidsideaal.

Van 1940 tot 1950

My gesinsherinneringe was gebind aan hierdie tydperk van my kinderjare in Johannesburg. My pa was toe redakteur van Die Transvaler. Dit was ‘n veeleisende werk. Hy het dikwels nie saans huis toe gekom nie omdat dit sy beleid was om die hoofartikel van die koerant eers die aand te skryf sodat hy al die politieke gebeure tot so laat in ag kon neem en die kommentaar vir lesers die volgende oggend vars en ter sake sou wees. Ons was dus al aan die slaap as hy snags tuisgekom het. My ma het egter altyd wakker gebly om vir hom ‘n liefdevolle tuiskoms te verseker. Tot by sy dood was dit vir haar ‘n beginsel om altyd wakker te bly totdat hy opdaag. Dus het hy ook dikwels soggens laat geslaap en ons het hom eers na skool by middagete gesien. Ek het dit nooit as gebrek ervaar nie, want hy het altyd tussenin tyd gemaak vir sy kinders sonder dat ons ooit gevoel het hy doen dit geforseerd. Hy was eenvoudig die ware Pa.

Toe ek so vyf jaar oud was kom ‘n smous by die huis aan wat geweet het om net die regte snare by so ‘n seuntjie te raak met ‘n begeerlike houtkarretjie wat jy met ‘n lang paaltjie kon stuur. Vir my het dit onmoontlik duur geklink maar ek het ook te sleg gevoel om nee te sê. Die groot moeilikheid was egter dat dit presies die tyd was dat my pa sy noodsaaklike middagslapie geneem het voordat hy weer verfris terug kantoor toe gaan vir die aand se werk. Dit was die vaste gebruik dat ons hom glad nie mag steur nie en hulle slaapkamerdeur was sulke tye bot toe, gordyne toegetrek en my ma het saam met hom gerus sodat alles doodstil was.

Hoe ek die moed bymekaargeskraap het weet ek nie, maar ek het dit tog gewaag om saggies aand die deur te klop en dit suutjies oop te maak net om te sien hoe my ma in die halfdonker haar kop oplig, my kwaai aankyk en beduie ek moet stilbly en weggaan. Onverwags hoor ek my pa slaperig vra: ”Wat is dit nou?” Geduldig luister hy na my beskimmelde storie van die karretjie. Sy ou seuntjie se pleidooi moes sy vaderhart geroer het, want hy sê toe vriendelik en sonder verwyt: “Mamma gee tog maar my beursie” en hy haal die halfkroon (dis so vyf sjielings) daaruit, gee dit vir my en sê: “toe, gaan koop maar vir julle die karretjie!” Hy kon toe ongesteurd verder rus en ek en Christiaan opgewonde buite gaan speel.

So was hy altyd as vader beskikbaar vir sy kinders, onder alle omstandighede. Ja, later jare toe ek al in die hoërskool was en my ouer broers en susters al uit die huis was, onthou ek dat hy dikwels van die Uniegebou huistoe gekom het met lêers wat hy nog moes deurwerk vir die volgende dag. Dan het hy in sy studeerkamer by sy lessenaar gaan sit en werk.

Hoewel hy dus veronderstel was om met rus gelaat te word , was dit ook ongelukkig die enigste tyd dat ons hom persoonlik kon raadpleeg oor vir ons belangrike sake of besluite waar ons sy hulp nodig gehad het. Hy het dit begryp en verwelkom en geweet ons sal hom nie steur oor beuselagtighede nie. Almal het sekerlik my ervaring gedeel dat as ek klop en by die deur inkom, hy die papiere voor hom opsy skuif, rustig terugsit en al sy aandag aan my gee en iets sê soos: “Nou goed, waarmee kan ek jou help?” Eers as hy en jy voel julle het die onderwerp deeglik deurgepraat, sou hy ewe kalm weer met sy werk voortgaan en jy met ‘n ligte gemoed uitgaan, tevrede dat jy weer rigting gekry het. In uitsonderlike gevalle sou hy verskonend aan jou gevra het: “Is die saak so dringend dat ons nou daaroor moet praat, want ek is nou ernstig gedruk om hierdie voor môre klaar te kry – kan ons dalk ‘n afspraak maak om later jou saak te bespreek?”

Oor taal en volk vir ons kinders.

Terugdenkend het ek bewus geraak hoe vormend my ouers se spontane invloed op ons kinders ingewerk het net deur die alledaagse lewenswyse waarop hulle ons deel gemaak het van hulle ideale. Om Afrikaans suiwer te praat en te handhaaf was outomaties deel van ons lewe. My pa het goed besef watter invloed ‘n koerant kan hê op die suiwer gebruik van Afrikaans en was altyd oop oë vir geleenthede om dit te doen.

Ek kan nog onthou hoe ingenome hy en my ma gepraat het oor bydraes van die skryfster M.E.R. Haar skepping van die woord “toebroodjie” in plaas van die reeds aanvaarde Engelse “sandwich” is ‘n voorbeeld. Tot vandag is die woordjie sandwich uit ons taal geweer, maar op daardie tydstip was dit die algemene gevoel dat dit tog onmoontlik was om so ‘n algemeen-aanvaarde leenwoord te verdryf. Dit wys jou net – doelgerigte samewerking van Afrikaners kan vandag dieselfde bereik!

Die volksideale het ons kinders ook nie onaangeraak gelaat nie. Dis bekend dat die Smutsregering sy bes gedoen het om tydens die Tweede Wêreldoorlog en daarna Suid-Afrikaners Engelsgesind te maak. Daarom het hulle die Britse koningsgesin genooi om Suid-Afrika in 1947 te besoek. Ware Afrikaners het dit as ‘n uitdagende klap in die gesig ervaar. Dr Verwoerd het die ongehoorde stap geneem om te besluit dat Die Transvaler die hele koningsbesoek totaal gaan ignoreer.

Ons kinders is daarby betrek toe die Smutsregering besluit om ‘n spesiale gedenkmedalje ter ere van die Britse koningsbesoek uit te gee en aan elke skoolkind te skenk. Sonder omhaal van woorde het my pa aan ons kinders verduidelik dat dit ‘n laakbare  ondergrawing van ons volkswees was en sonder om dit onverbiddelik te verbied, ons laat verstaan dat hulle sou bly wees as ons weier om dit te ontvang! Ek was maar sewe jaar oud, maar het dit so goed verstaan dat ek tot vandag toe trots is dat ek een van die kinders was wat die medalje, wat vir baie kinders so aanloklik was, geweier het!

In daardie Johannesburgtyd het sy sterk volksgebondenheid op ‘n ander interessante manier na vore getree. Deel van die diepgewortelde Bybelse struktuur waarop die volk gebou is, was om jou vader en moeder te eer. So belangrik was dit dat God dit vasgelê het in sy gebooie. Dit het treffend neerslag gevind in die gereformeerde tradisie om kinders na ouers en grootouers te vernoem. So is my oudste broer vernoem na Oupa Wilhelm Johannes Verwoerd, die tweede seun moes dus Oupa Schoombee se naam kry, wat my ouers ook graag wou doen, maar Oupa Schoombee wou om een of ander rede nie vernoem word nie (Dalk omdat die naamdraer nie ‘n Schoombee sou wees nie?)

My ouers het sy begeerte eerbiedig maar wou tog nie die sinvolle tradisie van familiebinding van geslag tot geslag verbreek nie en noem hom toe Daniël, en as tweede naam die Wynand van Oupa Schoombee.

Toe kom ek, die derde seun en moet my pa se naam kry, maar Afrikaner soos hy was, besluit hulle om die Hollandse Frensch te verander na Afrikaanse Frans en ek word in 1940 Hendrik Frans gedoop, die jaar wat my ouma Anje Verwoerd oorlede is. Ek het haar dus nooit geken nie. Tog het ek altyd ‘n besondere gevoel van verbondenheid aan haar behou bloot omdat my pa my later jare vertel dat sy, wat toe al ernstig siek was, baie sterk gewens het dat sy nog voor haar dood die nuwe baba sou sien. Dit is haar toe wel vergun.

Later het hierdie onsigbare band tog ‘n wesenlike draai gehad. Ek en Alida is bevoorreg om vier dogters te hê, die oumas, susters en ma was toe reeds met die eerste drie vernoem en so is die besondere Oumagrootjie Anje met haar nooiensvan Strik vernoem tot Anje Strik wat u hier in Orania goed ken. So kan ‘n naam ‘n unieke verband tussen geslagte smee.

Deel van hierdie tradisie was dat, toe my jongste broer in 1947 gebore is, my oupa toe tog graag  vernoem wou word. Vandaar dat my jongste broer Wynand Schoombee Verwoerd gedoop is.

Afrikaans ons normale lewenswyse

In die gesin was Afrikaans ’n vanselfsprekende deel van elke dag. Ons was voortdurend besig om mekaar te betig as iemand ‘n anglisisme sou gebruik. Ons adres in Johannesburg het my ouers van die begin af aangegee as Onderparkrylaan 17, Parksig, teenoor die amptelike naam: 17 Lower Park Drive, Parkview. En die posdiens het maar daarby aangepas en ons pos by die Afrikaanse adres aflewer! Daardie dae het ‘n posman nog per voet of per fiets die pos van huis tot huis in die posbus gesit. 

Ons huise het altyd mooi Afrikaanse name gehad, soos Padlangs in Johannesburg, Stokkiesdraai, die naweekhuis langs die Vaalrivier by Vanderbijlpark, Blaas-’n-Bietjie en Dons-maar-op in Bettiesbaai.

Ons gesinslewe in Johannesburg was rustig en huislik. Ons ouers was nie sosiaal bedrywig nie en het veel liewer tuisgebly waar hulle dikwels smiddae op die groot grasperk sit en tee drink het terwyl ons kinders daar rondspeel, altyd vergesel van ons groot, geel kolliehond. Leeutjie en Pa het dikwels saamgespeel.

Hulle het net ‘n paar persoonlike vriende gehad met wie hulle gereeld oor en weer gekuier het, dikwels daar met teetye op die grasperk. Tante Babs en Oom Andries Theron was so ‘n egpaar. Sy was ‘n kunskenner en my pa het graag met haar daaroor gesels. Sy het hulle aangemoedig om werke van minder bekende goeie kunstenaars aan te skaf van wie sy seker was later waardevol sou word. Pa het haar goeie oordeel vertrou en twee mooi Pierneef skilderytjies aangeskaf waarop hulle altyd trots was.

Oom en Tannie Marie Stegman was nog goeie vriende en Tant Sannie Theron en haar drie oujongnooi dogters het ook daar naby gewoon. Ons het ook dikwels by my pa se suster, Tant Lucy en haar man Jasper Cloete in Melville gekuier. Hulle twee kinders was my en Christiaan se maats. Oom Jasper was ‘n regte platjie en daarvan het gehou om my suster, Anna, se siel uit te trek. Sy was ‘n ernstige meisie en kon onwelvoeglikheid nie verdra nie. Oom Jasper kon maar liederlik swets en het dit alte graag met opset gedoen as Anna naby was en hom dan verkneukel as sy hom kwaai berispe en vererg wegloop. My pa het sy swaer natuurlik goed geken en hom nie daaraan gesteur nie.

Boerdery op Wonderfonteint

‘n Belangrike gebeurtenis in hierdie jare was toe my pa ‘n plasie “Wonderfontein” naby Devon gekoop het. Hy het ‘n lewendige belangstelling in boerdery gehad en het ook gevoel dat teenoor die onsekere politiek en koerantwese die plaas meer vastigheid sou gee.

Die plaas het nuwe opwinding in ons lewe gebring. Die rit plaas toe het ongeveer twee2 ure geduur en vir jare was dit ‘n heuglike avontuur, want dit was ‘n gesinskuier soos min! Ons kon daar onbeperk gesels en vrae stel en my pa het rustig en volledig geantwoord. Om hom te help wakker hou, moes die een wat agter hom in die motor gesit het, sy hare deurmekaar krap en sy kop masseer. Ek het daarvan gehou om dit te doen en hy het dit sigbaar geniet. So met lekker lang geselse is ons goed op hoogte gehou van hoe hy oor dinge dink.

Vir ons was die plaas natuurlik ‘n wonderlike ervaring en dit het ons leer deelneem aan die boerdery wat hy met sy erkende deeglikheid en goeie beplanning geesdriftig onderneem het. Dit was hoofsaaklik ‘n melkboerdery waarvoor hy stelselmatig ‘n Frieskudde opgebou het, met elke koei ‘n naam en ‘n ingerigte stal. Daar was ‘n skuins tafel met ‘n groot vel papier en soos die melkemmers ingekom het word dit aan ‘n skaal gehang en elke koei se produksie elke oggend en aand aangeteken. Hy het self daardie syfers verwerk en sy koeie ge-evalueer om te keur of uit te skot. Hy het ‘n vennoot gehad met wie hy lekker saamgewerk het en ons het gereeld naweke daar gaan bly en die boerdery waargeneem om hom ‘n ruskans te gee. My pa het die boerderywêreld sorgvuldig bestudeer, graag die Landbou-weekblad gelees en ook graag nuwerwetse idees toegepas. So was hy van die eerste boere in daardie omgewing wat groot kuilvoertorings gebou het. Hy het van sy eie mielieoes in kuilvoer verwerk vir die wintermaande.

Aanvanklik het ons die romantiese ervaring gehad om in die oorspronklike effe vervalle plaashuis te gaan woon met kerse, lanterns en ‘n koolstoof waarop ook ons badwater verwarm is. Die water moes ons buite met ‘n handpomp self gaan pomp. Die toilet was ‘n entjie van die huis af, ‘n tipiese “kleinhuisie,” ‘n term wat ons jare gebruik het, selfs in die stad met sy spoeltoilette.

My pa se stokperdjies was boerdery en hengel. Tot in sy later jare was dit vir hom heerlik om veral by die see vanaf die rotse te gaan hengel.

Kabinetsminister en Kaapstad

Sy aanstelling in die kabinet van Dr Malan het uit die aard van die saak groot veranderinge in ons gesins- en familielewe meegebring. Maar my pa en ma was egte boeremense wat nie van ‘n glans- en afwyswêreld gehou het nie. Hulle het probeer om sover moontlik nog hulle eenvoudige huislike lewe te bly handhaaf. Maar ons het nou ‘n dubbele lewe moes ly: ses maande in die Kaap vir die Parlementsitting in ‘n ministeriële ampswoning en ses maande in Pretoria, ook in ‘n ampswoning.

Die eerste jare het ons altyd met die trein heen en weer gereis, ‘n stukkie luuksheid wat vir ons almal baie lekker was. Daar was spesiaal ingerigte treinwaens met groot kajuite en ‘n eie sit- en eetkamer waar ons etes bedien is en ons die hele reis op ons eie kon kuier en uitkyk en speletjies speel sodat die lang reis nooit vervelig was nie. Ons almal, Pa ingesluit, het daarna uitgesien. Boonop het hy dit as ‘n goeie geleentheid gebruik om by sy pa op Brandfort te gaan kuier. Hy het met die Spoorweë gereël dat die privaat treinwa op Brandfortstasie afgehaak word en ons het dit dan vir ‘n dag of twee as woonplek gebruik. Dan kon ons rustig by my Oupa aangaan en hulle twee kon land en sand gesels en kuier. So het my pa sy familiebande heg kon hou en kon ons kinders ons oupa in sy normale lewe goed leer ken – merkwaardige joviale oupa met sy wit hare en sy sigaar en sy – vir ons – aantreklike Hollandse aksent. Hy het byvoorbeeld altyd van “melek” gepraat, ek het gedink hy kon nie “melk” sê nie.

Twee maal ‘n jaar het ons daardie voorreg gehad om ‘n familiebyeenkoms in die kleine te hê en self te ervaar met watter liefde en agting my pa teenoor sy pa opgetree het. Tant Lucy en haar gesin het daardie tyd daar naby gebly en hulle kinders was ook daar – vir ons almal ‘n kosbare herinnering.

Ons eerste Kaapse woonhuis was “North Riding” in Rondebosch, pragtig geleë aan die voet van Tafelberg. Daar het ons vir eers ‘n normale lewe gelei. Pa het sy eie motor, ‘n Chrysler, per trein laat kom sodat hy ons self kon rondry soos hy wil. So ry ons dikwels op ‘n Saterdag- of Sondagmiddag al met die kus langs verby Seepunt en Kampsbaai sommer vir die mooi daarvan. Oppad terug dan by die geskiedkundige Groot Constantia verby sodat ons heel vertroud geraak het met die Kaapse Skiereiland waar hulle twee vroeër, voor daar teerpaaie was, aan studente-uitstappies deelgeneem het.

Om ons kinders darem die plesier van die see te laat geniet, het hy ons soms Muizenberg toe geneem waar jy amper tot teen die see kon ry waar al die voertuie geparkeer het. In daardie dae was dit nog baie stil en rustig daar en ons kon op ons eie lekker in die see baljaar tot hy ons geroep het om terug te gaan. Soms het hy in Wynberg gery om ons te wys waar hy begin skoolgaan het. En hy kon lekker vertel van die kattekwaad wat hulle daar aangevang het!

‘n Besondere herinnering van hierdie tyd was hoe my pa my by North Riding leer swem het. Daar was ‘n klein swembad van ongeveer 5 meter lank en al was ek 11 jaar oud, was daar tevore nooit geleentheid om te leer swem nie. Hierdie swembad was te diep vir my om in te staan. My pa het in die swembad gaan staan en my op sy arms laat lê en my beduie hoe om te skop en my arms te gebruik. Dan het hy stadigaan die ondersteuning van sy hande onder my verminder tot hy dit eendag kon wegneem en ek self tot by die kant kon swem. Daarna het ek vinnig goed leer swem en het hy dikwels saam met ons kinders gaan swem om af te koel.

In die vyftigerjare het veiligheid in die land begin afneem en het die Polisiediens dit op hulle geneem om ministers se huise te bewaak. Ons moes dus daaraan gewoond raak dat daar altyd twee polisie-ooms om die huis ronddwaal. Elke oggend het ‘n staatsbestuurder met ‘n ampsmotor my pa kom haal na die Parlement en sy kantoor. Vir my pa het dit toe prakties die beste gewerk om op dieselfde rit vir my en Christiaan by die Jan van Riebeeck Laerskool in Kaapstad af te laai en weer in die etenspouse op te laai sodat ons saam met hom kon huis toe gaan vir sy haastige middagete en kort middagslapie voor hy teruggaan parlement toe.

Pretoria

In Pretoria was dit ‘n ander storie. Ons eerste ampshuis was Goewermentslaan 850, wat naby die Uniegebou was en ons moes self met ons fietse taamlik ver na Pretoria Oos Laerskool ry. Afdraande soontoe opdraand terug! Ons moes oral self kom waar ons moes wees. 

Dan weer die lekker treinreis Kaap toe na ons volgende ampshuis “Highstead” in Nuweland en ses maande daar skoolgaan. Die heen en weer skoolgaan het nie gepla nie, want die leerplanne se verskille kon ons gou baasraak en so kon ons dus ons hele laerskoolloopbaan vanuit ons ouerhuis voltooi.

Daar in Highstead het ek self ervaar dat my pa nie ‘n bang man was nie. Hy was ‘n man wat sy gesin beskerm het soos hy ook ‘n man van die volk was. Hy het hom nooit laat afdreig of bangpraat nie, self toe die land almeer onrustig raak. Een aand na ons al gaan slaap het, hoor ek ons hondjie kerm in die agterplaas. Ek staan toe saggies op en gaan maak hom rustig, saggies om nie my ouers wakker te maak nie. Toe ek deur die kombuisdeur die eetkamer wou binnegaan, staan my pa skielik daar voor my met sy een hand vooruit gestrek. Dis dadelik vir my duidelik dat ek hom sien met effe lig wat oor hom skyn, maar dat hy my nie sien  teen die donker agtergrond nie, want hy staar bo- oor my. Hy vra: “Ja, wie’s daar?” Toe ek vinnig antwoord, “Dis ek, Pappa,” is daar verligting maar ook kommer op sy gesig. “O dis jy, Hendrik – jong, jy moet oppas dit het my geklink hier’s ‘n inbreker en kyk” – hy bring sy ander hand van agter na vore en ek sien dis ‘n gebalde vuis. “Ek was net reg om hom te slaan, dit kon maklik jy gewees het!”

My hoërskooljare het aangebreek en toe kon ons nie meer skole verwissel nie. Van toe af het ons die eerste ses maande privaatloseer en die res van die jaar dan weer tuis. Enkele kere het hulle van hul jonger vriende gekry om in ons huis te kom bly en ons so te versorg tot hulle weer terug is. In Johannesburg reeds het my ma ‘n dame gekry om met die huis en kinders se versorging te help. Sy het nooit swart bediendes gehad nie hoewel hulle soms ‘n swart man gehad het om in die tuin te help. Toe reeds het hulle volkseie arbeid gebruik.

Nog ‘n verandering wat heuglike herinneringe meebring, het in hierdie tydperk aangebreek. Die treinryery, hoe lekker ook vir ons gesin, was te tydrowend sodat my pa al hoe meer van vliegtuigritte gebruik gemaak het. Die passasiers-vliegtuie van ons Suid-Afrikaanse Lugdiens was die betroubare Skymasters. Nou kon ons gereeld my pa lughawe toe neem om hom af te sien en hom te gaan haal as hy terugkom. Gereeld moes ons dan vroeg opstaan en so met sonsopkoms by die Johannesburgse Lughawe (toe Jan Smuts) aankom en eers na die BBP sitkamer gaan waar ons met die heerlikste koffie en roostertoebroodjies bedien is. Dat dit deur Afrikaners gedoen is en alles net Afrikaans was, het ‘n huislike atmosfeer vir ons gesin geskep wanneer ons dit so gesellig saam met my pa daar geniet het.

As dit tyd geraak het dat die vlug moes vertrek, het ‘n kelner dit kom sê en stap ons saam deur die groot glasdeure wat na die aanloopbaan lei. Dan gaan staan ons by die klein heining waaragter toeskouers kon kyk en vir oulaas waai terwyl hy die kort entjie na die vliegtuig stap en met die trappies opklim. Sommer daar naby staan jy dan en kyk hoe die vliegtuig statig aankruie na die aanloopbaan, regtrek, sy enjin eers toets en dan begin voortsnel tot hy begin opstyg, sy wiele intrek en al hoër die lug in opstyg. Watter avontuur was dit nie vir ons nie om die wonderwerk elke keer van so naby te kon beleef! Geen versperrings en glasvensters waardeur jy vandag amper niks kan sien nie!

Die gogga om met vliegduiwe te boer het my gebyt en my pa met sy boerehart was ingenome daarmee en het my aangemoedig, maar met die duidelik voorwaarde dat ekself in elke opsig die volle verantwoordelikheid daarvoor moet neem.

Dit was ‘n wonderlike stuk opvoeding. Ek was twaalf jaar oud en moes self die hele ordentlike hok bou, hy sou al die material verskaf en raad gee. Ek moes self die grond gelykmaak, onder sy toesig die beton meng en die vloer gooi. Dit was vir my moeilik om dit mooi gelyk te maak en ek was self nie baie tevrede met die resultaat nie, maar my pa het dit aanvaar as dit waartoe ek in staat was en my bly ondersteun. Ek het weekliks die hok deeglik uitgewas, broeikaste gemaak, elke dag vir kos en water gesorg en later duiwe weggestuur vir wedvlugte waarvoor my pa vir my spesiaal ‘n rottangmandjie by die werkswinkel vir blindes laat maak het.

Sy sin vir regverdigheid, wat so ‘n inherente deel van sy politieke beleid was, was ook vir hom in sy gesin ‘n beginselsaak. Hy wou enige sweem van voortrek by voorbaat vermy. Dus het hy byvoorbeeld oor al die jare sekuur boekgehou van alles wat hy aan elke kind spandeer het om seker te maak die een kry nie meer as die ander nie. 

Met my duiwe-episode was dit weer so. Hy wou seker maak dat my broer, Christiaan nie afgeskeep word nie en het hom gevra waarin hy sou belangstel. Vir Christiaan het hy dus gehelp om ‘n konynboerdery op dieselfde voorwaardes op die been te bring en selfs ons gesin, homself ingesluit, sover gekry om sy eerste kliënte te wees. Ons het begin konynvleis eet wat Christiaan dus ook self moes leer slag. (Dalk het dit hom op die ou end voorberei om chirurg te word!)

Wat eet betref, was my pa avontuurlik. Hy het enigiets geëet wat vir hom voorgesit is, tot die grootste vreugde van die amptelike kok van die Eerste Minister. My pa het die uiters begaafde sjef Bosch aangemoedig om sy talente vrye teuels te gee en so het my pa sy geregte smaaklik geëet: van pikkewyneiers van Robbeneiland af tot perdevleis en allerlei eksotiese of tradisionele geregte. Van ons gesin het minstens ek dit altyd terdeë saam met hom geniet!

Ek het altyd groot waardering gehad vir sy gawe om balans te behou tussen sy rol as vader wat sy kinders gesonde lewenswaardes wou leer en terselfdertyd klein gebare gemaak het om ons tog deel te maak van die volksaak wat tegelyk al sy aandag geverg het. Een klein staaltjie van my ervaring daarvan is die volgende: Ons het goed begryp dat my pa ‘n besondere posisie beklee het wat ons moes respekteer deur onder andere ons skaars te hou as ministers of ander belangrike mense hom kom besoek.

Ons het dus min kans gehad om hulle persoonlik te ontmoet. Daarom was dit vir my so verrassend toe my pa sommer so terloops ‘n spesiale uitsondering gemaak het. In my hoërskooljare het ek ‘n gier gekry om met my figuursagie fyn patrone in drielaaghout te begin saag en so geskenke te maak. Ek het pas ‘n oulike pypstaander gemaak wat ek netjies afgerond en vernis het. Ek het dit vir my pa gewys en gesê ek wonder net vir wie ek dit kan gee. Hy glimlag en sê – wat van Oom Blackie Swart, hy kom môre hierheen en hy verjaar!

Nouja, Oom Blackie Swart was natuurlik al die jare een van ons voorste Afrikanerleiers en saam met my pa ‘n minister in adv Strydom se kabinet. Watter eer om dit persoonlik aan hom te gee, en hy het dit vriendelik van my geneem! Ek dink nou nog met genoegdoening daaraan terug, veral omdat hy net ‘n paar jaar later die eerste Staatspresident van ons nuwe Republiek geword het!

Dr Verwoerd word Eerste Minister

In 1958, my Matriekjaar by die Afrikaans Hoër Seunsskool, is my pa as Eerste minister verkies en ons lewe verander weer op baie nuwe maniere. Ons huis word nou die skilderagtige, historiese Groote Schuur in die Kaap en die luukse, indrukwekkende Libertas in Pretoria. 

Ek moes dus in 1959 universiteit toe en ons kon kies na watter een ons wou gaan. Ek kies Stellenbosch en kon dus saam met my ouers Kaap toe gaan en ‘n rukkie by hulle in Groote Schuur vakansie hou tot die universiteit begin.

Dit was my voorreg om die Parlementsopening by te woon. Dit was ‘n gesogte voorreg as jy per uitnodiging binne-in die gebou die hele prosessie van naby kon dophou en daarvoor het my pa vir my ‘n kaartjie gekry. My ma moes natuurlik saam met hom instap. Dis toe dat hy sy seun se hart geraak het met ‘n onopvallende maar vir my kosbare gebaar van erkenning. Ek het gelukkig ‘n goeie staanplek reg langs die paadjie gekry waar hulle op die rooi mat sou verbystap. Met die plegtige verbystap sien my pa my raak, rol sy program op en gee dit met ‘n goedige gebaar aan my so in die verbygaan – ‘n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie. Man van die volk wat steeds ook man van die gesin bly!

Nog ‘n gebeurtenis wat so ontsaglik betekenisvol was, soos ek al by vorige geleenthede vertel het, wil ek nogtans hier vermeld. Dit illustreer so goed hoe die Man van die Volk selfs in die oomblik van sy grootste volksdiens, sy gesin daarin wou meeneem, al was dit net moontlik om sy vrou en een seun teenwoordig te hê. Dit was by sy uiters geskiedkundige aankondiging dat die volk in ‘n volkstemming gevra gaan word om vir ‘n republiek te stem. Die NP koukus en kabinet het die ongelooflike reggekry om dit absoluut vertroulik te hou sodat die verrassing vir die opposisie en die publiek volkome moes wees.

Soos dit natuurlik hoort het my pa self absoluut streng daarby gehou. Hy het my nie die minste aanduiding gegee dat daar iets spesiaals gaan gebeur nie. Ek was gelukkig weer by hulle in Groote Schuur vir ‘n paar weke voor die universiteit sou open vir die nuwe jaar. Met jeugdige onbegrip het ek dit vir hom dalk half moeilik gemaak. Ek was taamlik opgewonde omdat hy toe net toegestem het dat ek kon aansoek doen vir ‘n bestuurslisensie. Hy het sy amptelike motorbestuurder gevra om my met my ma se Volkswagen kewer touwys te maak. Ek het geslaag en my pa se begrip het my verstom toe hy pas daarna sê ek kan maar vir my noointjie op Hermanus gaan kuier met die Volksie, want dit sal goed wees om selfvertroue te kry.

Ek sou net vir die naweek gaan en dan terugkom. ‘n Naweek is maar kort vir verliefde jongmense en ek waag dit toe huiwerig om te bel en vra of ek maar langer kon bly, dis mos nog vakansie. Sy antwoord was heel vriendelik: Nee, ek dink jy moet maar terugkom, ek het boonop vir jou en Mamma kaartjies gekry om die Parlementsitting by te woon op die gallery – sonder enige aanduiding van iets besonders, want hy het meermale vir ons so ‘n geleentheid geskep om sittings by te woon. So kry ek toe die buitengewone voorreg om ooggetuie te wees van ‘n uitstaande hoogtepunt in die geskiedenis van ons volk, danksy my bedagsame pa!

Later het ek hierdie merkwaardige gebeurtenis in verband gebring met ‘n stelling wat hy op ‘n vraag van my gemaak het. Dit was in die tyd na die eerste aanslag op sy lewe. Ons het sommer gemoedelik gesels. Soos gewoonlik was dit maar ‘n baie bedrywige tyd vir hom en die veeleisende van sy taak was ter sprake. Op die ingewing van die oomblik vra ek hom toe “Hou Pa van Pa se werk, is dit vir Pa lekker?” Nadenkend kyk hy op en sê: “Lekker is nou nie die regte word nie. Ek doen my werk want ek doen dit vir julle.” Vir my was dit duidelik hy bedoel vir ons, sy kinders, en vir die jongmense van sy volk. ‘n Gedagte wat hy in verskeie toesprake  meer volledig toegelig het. So het sy optrede om my die kans te gee om die referendum-aankondiging te beleef, nuwe betekenis vir my gekry. Hy was duidelik in alles toekomsgerig. In sy agterkop was hy voortdurend toegespits op die bou van ‘n veilige toekoms vir sy en sy volk se nageslag en hy wou dat hulle dit moet begryp en omhels.

Nog so ‘n persoonlike voorval wat my nog altyd met deernis bybly, was toe ek student word en ek my pa-hulle op die treinstasie groet voor my vertrek. Ons familiegewoonte was van kleinsaf dat ons my ma en pa op die wang soen en hulle ook vir ons. Dit was dus die natuurlike ding om by ‘n groetery mekaar te soen. Maar skielik daar op die stasie in die openbaar, voel ek ‘n oomblik se huiwering toe ek hom wou soen. Vinnig van begrip soos hy was, wil hy my verleentheid spaar en hy steek sy hand uit en sê: “Ag, jy’s nou groot, jy hoef my nie meer te soen nie.”  Oombliklik skaam ek my vir die gedagte: hoekom sal ek my nou skielik skaam voor ander mense om my pa te soen. En ek voeg die daad by die woord en  soen hom soos altyd tevore. So het ons dit behou vir die res van sy lewe. Ek weet werklikwaar nie wat die geval met die res van my broers was nie.

Oor ‘n ander ding het ek ook baie gevlei gevoel deur my pa. Ek en drie studentemaats wat in ons koshuis, Dagbreek, kamers langs mekaar gehad het, het sommer gou besluit dat om haarkapper toe te gaan, vir ons glad te duur is. Ons het eenvoudig mekaar se hare begin sny sonder om ons daaraan te steur of dit goed lyk of nie. Met oefening het ons egter al hoe beter geraak. Op ‘n dag vra my pa of ek nie sy hare sal sny nie want hy voel dit ‘n beslommernis om haarkapper toe te gaan. Ek huiwer effe maar sê darem ek sal probeer as hy die kans wil vat. My eerste probeerslag het hom so tevrede gestel dat hy toe aanbied om ‘n ordentlike elektriese snyer aan te koop. Watter lekker intieme geleentheid was dit nie daarna tussen ons twee nie.

In hierdie tyd volg die gebeure wat die land tot stilstand skok.

Die eerste aanslag op Dr Verwoerd se lewe

Hoe het hy dit verwerk? Watter invloed het dit op ons gesin en die Afrikanervolk gehad?

Hoewel onstuimig was die gang van sake in die land en die vordering van dr Verwoerd en sy regering se beleid bestendig tot dit wreed met ‘n donderslag onderbreek word. David Pratt skiet hom op ‘n openbare byeenkoms en in ‘n skare met ‘n pistool in sy gesig.

Ek was student op Stellenbosch en het gelukkig eerste van my ma daarvan gehoor toe sy so tipies sorgsaam na Dagbreek koshuis gebel het en ‘n student my in my kamer kom haal het. Kalm het sy my dadelik gerusgestel en gesê sy wou my self sê voor gerugte my dalk bereik, maar Pa leef nog en is in die goeie hande van prof. Hennie Snyman en sy mediese span. Sy is vol hoop en sal my laat weet wat verder gebeur. Intussen moet ek maar normaal voortgaan met my studies.

Soms bring sulke situasies ondenkbare ontaktvolle optredes na vore. Dagbreek is in ‘n vierkant gebou met ‘n oop binnehof in die middle. Die studente het dikwels vir mekaar deur die vensters geskreeu, want dit was ver om na mekaar te loop. Ek was skaars terug in my kamer toe een van die ruwe manne met ‘n bulderende stem roep: “Verwoerd! Verwoerd!” Ek kyk toe maar uit en sê : Ja? “Het jy gehoor,” skreeu hy “hulle het jou pa geskiet!”

Soos bekend het my pa wonderbaarlik herstel. By die eerste geleentheid wat hy weer normaal kon praat het hy teenoor sy volk sy geloof bely deur te sê as die Here jou lewe so spaar dan weet jy Hy gee jou nog ‘n kans om jou taak voort te sit. Die gebeure het oor die algemeen ‘n verdiepende invloed gehad. Ook in ons familie is daar baie oor gepraat en het almal opnuut besef dat God regeer en mense met hulle planne onder die Bose se invloed nie die oorhand het nie. 

Vir my is onvergeetlik betekenisvol my pa se eie weergawe aan ons by ‘n geleentheid toe ons hom gevra het hoe hy dit beleef het, wat het hy gedink toe dit gebeur. Sy antwoord was: My eerste gedagte was dat dit nou my einde is en ek het gevoel dis goed so, as dit God se wil is. Maar toe ek besef ek is nie dood nie, ek leef nog ten spyte van die pyn en die erns van my beserings waarvan ek deeglik bewus was, toe kry ek die oorweldigende drang dat ek met alles wat ek het, moet veg om te bly lewe. En dis wat hy in die dae wat gevolg het gedoen het al was hy van buite gesien in so ‘n magtelose posisie. Die dokters het agterna getuig dat sy vasberade wil om te leef ‘n deurslaggewende rol gespeel het in sy onverklaarbaar vinnige herstel.

Sy geloofsvertroue is beslis deur die ervaring versterk. ‘n Mens sou kon dink dat hy daarna in vrees moes gelewe het, maar die teenoorgestelde was die geval. ‘n Mooi gewoonte van my pa en ma was om in die middag as hy van kantoor af kom hand om die lyf in die tuin te gaan stap en vir mekaar van die dag se gebeure te vertel. Wanneer ons kinders by die huis was, was dit ‘n kosbare ondervinding om by hulle in te val en so geselsende saam te stap. Dan kom daar sommer so spontaan dinge ter sprake waaroor mens nie noodwendig spesiaal sou gesels nie. Ek en Alida het die voorreg soms meegemaak. By een so ‘n geleentheid waar ons tussen die bome en die klofie by Groote Schuur met sy weelderige krismisblomme gestap het, met ‘n ent agter ons die lyfwagte wat oral gevolg het ,sê my pa: “Ag, die mense moet nou maar hulle werk doen, maar kyk nou net hier rond hoe onmoontlik is dit vir hulle om ‘n mens werklik te beskerm.  Hier is so baie plekke waar ‘n boosdoener sou kon wegkruip en sy aanval beplan en dis oral so. As jy jou hieroor die heeltyd wil kwel, hoe sal jou lewe dan nie wees nie!” Hy het geglo as dit jou tyd is, kan mense jou nie beskerm nie en as dit nie jou tyd is nie sal niemand se bose planne om jou dood te maak, slaag nie. Ons lewe is mos nie in ons hande nie, maar in die Here s’n en daarin berus ‘n mens jou.

Dit het my so gerus gestel om te weet my pa is gelowig realisties gereed vir die dood. Meer as sy woorde egter het sy lewe hierdie geloof bevestig – hy het tot aan die einde werklik geleef sonder vrees. Die Man van Staal self ten spyte van doodsdreigemente wat hy onder andere in die vorm van briefies gekry het wat die polisie vir hom gewys het sodat hy ingelig kon wees en hulle kommer verstaan.

So het hy elke dag voluit geleef soos tevore, selfs in sy gesinslewe. Hy het steeds probeer om sy privaatlewe in stand te hou, soos wanneer ek en ‘n studentemaat of twee af en toe gedurende ‘n naweek  vanaf Stellenbosch gaan kuier het as hulle daar was. En altyd is ons vriendelik ontvang. Soms het ons trein gery en soms met ons fietse die lang pad afgelê. Hy het selfs ‘n keer of wat self vir ons met die VW kewer terugevat koshuis toe op ‘n Sondagmiddag om nie al die aandag te trek wat die groot Cadillac sou veroorsaak nie. Vir ons was die onopvallende vertroulikheid ook baie lekker. Tot Sersant Pelser (later brigadier) wat toe sy motorbestuurder en lyfwag was ons agternagesit gesit het, voorgekeer het en my pa beleefd beveel het om oor te klim in die Cadillac terwyl een van sy assistente ons verder Stellenbosch toe geneem het met die Volkswaentjie. Met hierdie episode was dit ek en Alida wat daar gekuier het.

My pa het my later vertel dat, tot sy groot teleurstelling, hy maar moes aanvaar hy kan nie meer sulke dinge doen nie. Hy het besef dat dit onbedagsaam was om sy lyfwagte in so ‘n groot verleentheid te stel. Hy het self van die top offisiere ‘n vermaning ontvang! Hoe hy ookal ingeperk voel en nie werklik oortuig was dat die oppassery regtig effektief was nie, het hy besef hulle doen hulle plig deeglik en hy moet hulle daarvoor respekteer.

Ons almal het dus gewoond geraak aan die lyfwagte en hulle was later maar soos familie, veral Maj. Richter en Sersant Pelser wat goeie visvangmaats was as hy soms by Bettiesbaai gaan ontspan het. Omdat hulle altyd by moes wees het die polisie vir hulle verblyf ‘n houthuis daar opgerig en ook op Stokkiesdraai. My ma kon na sy dood die huise by die polisie oorneem tot groot nut vir haar groeiende familie van skoonkinders en kleinkinders.

Die twee uitspanplekke was maar enkele jare vir hom daar, maar ontsaglik baie werd vir ontspanning en om gees en liggaam te verfris in sy besige en spannende lewe. Hy het die gawe gehad om heeltemal af te skakel en onbesorg sy tydjies daar te geniet. Dit het die vorige plaas, Wonderfontein, vervang wat hy nie meer kon behartig nie en dus maar verkoop het. Vir ons kinders het dit twee wonderlike kuierplekke geword. As familie kon ons sy genot deel. Almal het kosbare herinneringe daaraan, van Familie-Kersfeeste en heerlike somerdae met speletjies en wandelinge op die strand. Stokkiesdraai was waar ek en Alida ouers gevra het. Bettiesbaai het ons twee ook tot stand sien kom.

Nadat my pa ‘n erf op Bettiesbaai sorgvuldig uitgesoek en  gekoop het, het in Groote Schuur ure van geesdriftige beplanning van sy huis, Blaas-‘n-Bietjie gevolg. Hy het self die planne daarvoor geteken. Ons het ‘n paar keer daar gekom dat hy ons roep en haarfyn wys en ons mening vra. ’n Skot wat op Bettiesbaai gewoon en gebou het, het my pa beïndruk met sy werk en sy kennis van die weer en stormwinde en die dakkonstruksie en fondamente wat dit sou moes weerstaan. So word my pa toe eintlik eienaar-bouer. Hy was baie in sy skik met die deeglike werk en tussen hulle is die huis in ‘n kort tyd voltooi en stewig staan daar tot vandag ‘n kosbare familie-erfenis wat ons wye familie nog steeds verbind. Al was sy belewing hiervan maar enkele jare, het ons ‘n ryke herinneringsskat oorgehou daarvan. En wat het nie alles gebeur nie!

Die Republiekwording op Kerkplein: in die ligte reën was ek ook een van die volksmassa wat nie omgegee het vir die natword nie, die bruisende oomblik was te groot! Wat ‘n belewenis om te aanskou toe my pa met trots daar op die balkon van die regsgebou die eerste Staatspresident van die nuwe Republiek, die waardige oom Blackie Swart, namens die skare verwelkom en hy sy eerste toespraak as Statspresident lewer.

Dit was ‘n volgepropte tyd – ook die uittrede uit die Statebond, die volgehoue aanslag teen Suid-Afrika soos onerd andere in die wêreldhofsaak oor Suidwes-Afrika. Engeland se Eerste minister MacMillan se omstrede besoek aan SA en deur alles heen die onverbiddelike voortgaan van SA op sy pad tot voortdurende ontsteltenis van ons vyande.

En ons, as kinders, ervaar agter die skerms, die voorreg om by te wees by al die rigtinggewende gebeurtenisse en hom steeds as onverstoorbare vader te sien terwyl hy sy rol as Man van die Volk speel en so ook die rol van die standvastige man wat nie wyk voor die wêreld nie, want hy weet sy koers is reg.

Klein herinneringe uit dié tyd lewer daarvan getuienis.

Op ‘n keer was ek toeskouer op die openbare gallery tydens ‘n Volksraadsitting. Oom Hans Abraham, NP LV was aan die woord. Hy het altyd met blomryke taal, gebare en aansteeklike geesdrif gepraat, lekker om na te luister. Op pad huis toe sê ek vir my pa dat hy darem ‘n goeie spreker is. Sy kort antwoord was vir my ‘n waardevolle riglyn vir my hele lewe daarna. Hy sê ja, maar jy moet goed luister as iemand praat. Dit help nie dat hy ‘n meevoerende spreker is wat eintlik geen inhoud oordra nie. Sulke sprekers gebruik dikwels allerlei populêre algemeenhede en slagspreuke waarmee hy jou dalk kan opsweep, maar as jy daaroor nadink het dit geen duidelikheid of rigtinggewende gedagtes bevat nie. Luister fyn na die inhoud van ‘n toespraak. Die inhoud is veel belangriker as die lewering daarvan.

Dit het hy natuurlik self voortreflik toegepas met die besoek van die Engelse MacMillan en sy toespraak voor ons Parlements-lede. Na al die lof wat my pa gekry het met sy antwoord aan MacMillan vra ek hom hoe hy dit reggekry het om so goed te antwoord. Sy verduideliking was vir my merkwaardig:

“Ek het oor ‘n lang tyd die Engelse manier van toesprake en hoe hulle dit gebruik om hulle doel te bereik, bestudeer en opgelet dat hulle altyd met vleitaal begin en dan hoogdrawend en met omhaal van baie woorde en ingewikkelde sinne en populêre uitsprake jou aandag aflei van wat hy werklik wil sê. So verberg hy die angel wat jy eers agterna sal agterkom en daarmee het hy jou gevang. En toe MacMillan en sy span die diplomatiek onbeskofte ding doen om nie, soos gebruiklik, vooraf  aan my ‘n geskrewe kopie van sy toespraak te laat kry nie, toe merk ek al klaar onraad. Ek het dus verwag dat sy toespraak ‘n angel gaan bevat wat ‘n mens fyn moet luister om dit te hoor. Dus het ek aandagtig op my hoede sit en luister en duidelik die angel raakgesien naamlik dat sy boodskap is dat die witman uit Afrika moet abdikeer en Afrika aan die swartman oorlaat. Dis hoekom ek hom dadelik moes konfronteer daarmee dat ons ‘n wit volk in Afrika is wat net soveel bestaansreg het as enige swart volk en nie van plan is om ons te laat uitfasseer nie.”

Hy vertel ons later so ‘n bietjie geamuseerd hoe hy MacMillan in ‘n privaatgesprek bygekom het. MacMillan spreek in ‘n onbewaakte oomblik sy verbasing uit dat Pa so kalm en bedaard bly te midde van soveel vyandskap en ingewikkelde probleme, wat ‘n mens mos dikwels laat twyfel oor wat die beste antwoord is. My pa sê toe “Ja, dis die verskil tussen julle en ons. Ek hoef nie oor elke probleem wakker te lê en wonder watter antwoord die meeste mense tevrede sal stel nie. Ons het die saak op beginselgronde vir onsself uitgemaak en het daarom vaste rigting in ons denke. Ons hoef nie ons seile gedurig te span na die winde se giere nie en dus twyfel ek nie, want ek weet wat ek doen is reg; daaroor het ons vir onsself eerlike sekerheid gekry. McMillan het net in onbegrip sy kop geskud – in sy denke werk politiek nie so nie!”

Daar was ook die vyfjarige Republiekviering by die Voortrekkermonument ‘n paar maande voor sy dood. Toe was ek darem ongeveer 26 jaar oud en het meer volwasse gevoel. Dit gee my toe die vrymoedigheid om na die fees, die volgende dag by die huis, toe alles rustig was vir hom te sê: “Dankie, Pa. Ek wil net vir Pa sê vir my was Pa se toespraak die beste wat Pa nog gemaak het.” Hy sê “Ek is bly as jy so dink. Ek wonder soms of ek tot my kinders deurdring.” Dit was duidelik dat my opmerking hom opreg geraak het en waarskynlik omdat ons so ‘n soort beskroomdheid gehad het om komplimente aan mekaar te gee – sy reaksie het gemaak dat ek bly was dat ek dit gesê het.

Vir my en Alida was ons troue twee maande voor sy dood vanselfsprekend ‘n absolute hoogtepunt in ons lewe. Een voorvalletjie bly in my geheue vassteek. Hy was die pa wat sy kinders bystaan om ‘n mooi nuwe toekoms te hê, al hou sy pligte hom hoe besig. Die oggend van die troue het hy nog gehelp om ons ou studentemotortjie blink te vryf, en sy aanstaande skoondogter het hom die opdrag gegee om asseblieftog te sorg dat Hendrik betyds is vir sy troue! Wat hy getrou gedoen het.

Saam met my en Alida se ouers het ons besluit ons troue sal ‘n intieme familietroue wees. My skoonouers was lidmate van die Bellville-vallei NG Gemeente waar die huweliksbevestiging plaasgevind het en gelukwense het ook net daar plaasgevind. Ons privaatonthaal was net ons familie en ‘n paar vriende in die romantiese Groote Schuur en die personeel en sjef Bosch het ‘n spoggerige ete aangebied. Ek was die enigste wat ‘n kort toesprakie moes lewer en self in daardie intieme atmosfeer was ek maar senuagtig en na my eie mening hopeloos onbeholpe. Maar toe ek klaar is sê my pa onverwags met tipiese parlementêre gewoonte  Hoor,hoor!

So het die tyd verbygevlieg en nou staan ons iets meer as 50 jaar later hier om ons self te vergewis van wat daar is wat ons steeds voerentoe met ons kan meeneem, wat so ‘n gedenk-geleentheid sinvol maak.

Dus wat neem ons nou na die volgende 50 jaar?

As ons net sou terugdink aan hierdie Man van die Volk wat gevorm is deur die boustene van ‘n volk, dit is die gesinne oor geslagte heen, en as die Man wat nie wyk as die storms om hom woed nie, dan is dit net ‘n nostalgiese terugkyk na wat verby is. En dit was nie die Man wat Dr Verwoerd was nie.

Nee, hy het juis altyd geleef na die toekoms toe. Daardie vergesig van hom kan ons vandag voortsit en so betekenis put uit wat ons van hom in herinnering roep. Feitlik profeties het hy in sy laaste jare daarop klem gelê sonder om te weet hoe kort sy laaste jare sou wees. Sy loskopdam toespraak voor die Nasionale Jeugbond kongres in 1965 is dalk die beste voorbeeld daarvan.

Hy wou vir die jongmense sê dat as hy en sy werk net toegespits sou wees op die probleme van die dag, sou dit min beteken. Hy wil saam met hulle kyk na wat hulle kan verwag in die volgende 50 jaar. Dis waarvoor hy werk, dat die huidige geslag nog sal koester wat aan hulle oorgegee word. Hy neem hulle op ‘n verbeeldingsvlug en verduidelik dat, om dit te bereik, daar sekere waardes is wat tydloos is. Hy weet dat die tydsomstandighede sal verander en ‘n mens nie vooruit kan sien nie; sekere dinge sal altyd ‘n bedreiging vir ons volksbestaan wees en kan alles wat tot stand gebring is ondergrawe. Dit moet hulle leer ken en doelbewus teenstaan of die gevolge gaan hulle meesleur.

As jy vandag daardie Loskopdam toespraak lees en besef dat daardie geslag nie sy raad gevolg het nie, sien ons ook die noodwendige gevolg vandag.

Ons staan nou weer aan die begin van ‘n volgende 50 jaar. Wat gaan die huidige geslag daarmee maak?

Ons behoort moed te skep uit die praktiese bewyse van die geskiedenis wat onsself meegemaak het en by so ‘n gedenk-geleentheid die beginsels wat tot ons volk se voortbestaan sal lei, terugvind in Dr Verwoerd se beoordeling van sy tyd. 

Die hoofsaak van sy strewe was dat sy Afrikanervolk in sy eie land sy eie toekoms sou bepaal sonder oorheersing deur ander. Dis ‘n geldige beginsel vir alle tye en alle volke en dit kan ons as steeds geldige nalatenskap van hom huidig met ons meeneem.

Dan neem ons met ons mee sy geloofsvertroue dat God steeds die lotgevalle van volke en nasies in sy hande hou en daarom kan ons dan ons kragte en talente gebruik om met volharding aan ons eie toekoms te werk.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui